Hiernamaals op toortapyt

  • 0

Jy is op Sondag, 30 November 2014 oorlede.

 Vandat ek ’n verstand het wou ek vir jou skryf. Oor jou skryf, Mamma. En ek’t nooit gedroom dit sal die eerste woorde wees nie.

 Jy was op pad om by ons te kom woon in die Kaap. Al die planne wat ons gehad het. En toe piekel ek en Ockie terug Jo’burg toe om jou te gaan haal. In ’n klein boksie. Dinky, soos jy. Maar verbasend swaar. Swaar.

 Jou assies is oorhandig deur ’n man in ’n wit jas. Sy lessenaar was vreeslik chaoties. Ek het dadelik sy oë herken. Jesus. Dieselfde salige en onmoontlike helder oë van jou houtskool skets wat ek vir Manolo gestuur het. Hy’t nie ’n clue wat hy met daai skets gedoen het nie! Mens raak seker te cool om om te gee as jy heeldag in jou ma’le se posh woonstel op die Retiro sit en hoog raak op Mediese marijuana. Ek het net jou werk oor. En ek soek el Jesús de mi madre terug! Tsk ...

 Elke keer wat ek met Strand se hoofpad langs ry, nou al ’n jaar en ’n half lank – wil ek ’n foto neem van die Oranje. En dit vir jou mms, want jy kon nie whatsapp kleinkry op jou foon nie. Jy was beslis nie ’n silver surfer nie, Moeder. Maar jy kon wel Melissa se iPad baasraak vir die mooiste kiekies van ’n perfekte dag.

 Ek het uitgesien om jou soontoe te neem en oor die pad te stap en die duisendste keer te hoor hoe jy en jou maatjie vakansie gehou het daar in die ‘60s. Dat julle dieselfde bikini’s gekoop het en elke dag van sonop tot sononder in die see gespeel het met julle bootjie, wat aanhoudend bly kapseis het. Julle bene vas. Dan lag julle só, julle verdrink amper van water sluk. Almal het julle Arlene en Lulu gedoop. Ek het nooit gevra waarom nie. Wie was dit?

 Four sheets to the wind ... dis makliker om te huil na ’n paar glase Stellar Organics. Ek luister na al jou musiek. Kompulsief. Asof die liedjies jou sterstof oor my gaan laat reën soos Pixie- stof wat vasklou aan my vel. My hare. My oë. Sterstof is te subtiel. Diep ruimte te donker...

 It’s a cold and it’s a broken Hallelujah.

 Toe ek by die Goethe verby ry ... het ek in bittere trane uitgebars. Jy het vir Shashi opgepas, sodat ons vir Antjie Krog kon gaan hoor lees daar. Ek het vir jou vertel sy het ’n sigaret by my gebum. Maar weet jy wat val my toe eers op, terwyl ek blind aftrekplek soek en almal toet en skreeu vir hierdie ex-Jo’burg meisie wat vergeet het hoe goed mens moet spartel in hierdie braaipan?!

 Ons literêre heldin het so met my en Alber se koppies gesmokkel, Ma. Vir ons vertel sy’t haar geliefde Kroonstad vir Kaapstad verruil, want "dis so ’n gemors daar deesdae, jy weet.." Ek was verward.

 Versigtig nou, Sjeherazade!

 Ek en ’n kitsch boks gevul met my ma se oorskot en my skielike openbaring sit langs Jan Smuts.

 BWAA HAHAHAHAHAHAHAHA UHHH HAHAHAHAHAHAHAHAHAHAHA UHH HAHAHAHAHAHAHAHAAAAAAAAA!

 (Lag jy saam met my.)

 Ek het nie geweet hoe siek jy was nie. Mamma! So seer want Shaman is deur ’n ouer kind verlei. So hard besig om vir Shashi hulp te soek. Hard besig om ander ouers van kleutertjies teen hierdie gebreekte kind te waarsku. Ek sien jou vir die heel eerste keer in 38 jaar in drie dimensies, Ma. Jy’t my gegun om die geveg te begin vir my kind se heel word waarvoor ek jou soveel jare lank verwyt het, jy het nie vir myne geveg nie. Maar Mamma! Dit kon wág. Jou tydjie hier was só amper om!

 Volstrek geweier dat enige iemand ons bel, vir amper twee weke. Ag Ma, ek het die reg gehad om jou te groet! Jou hand vas te hou. My vel is honger vir jou sagte hande, jou krul hare. Jou lyfie styf vasdruk. Hoe onbesonne is ’n Ma se liefde vir haar kind, gereeld. Maar dit is liefde. Ek ervaar vir die heel eerste keer in my lewe werklik jou liefde vir my. Jy kon nooit werklik vir my beskryf wat dit was om sonder ’n ma groot te word nie. Want sy’s so vroeg uit jou lewe. Jy’t net goed gepraat van haar. ’n Vrou wat julle al vyf aan die kerk en die genade oorgedra het. Toe jy skaars vier jaar oud was.

 Onthou jy die notaboek wat ek saamgebring wat van Amerika af? Die een wat agterstevoor begin en die koki-pen wat nie smeer nie, maak nie saak hoe vinnig mens skryf nie. Daar was ’n klok teen daardie winkel se muur en Pa het gesê: “Hmmm, kyk! Dis interessant.” Ek het gekyk. Goud op wit met ’n vinnig-vloeiende sekondewyser. Ek kyk vir die winkelassistent en haal my skouers op. Pa het gedink ek probeer snaaks wees. Die assistent giggel en verduidelik, “Sirrr, lefties rilly can’t see what’s wrawng with the clock.” En eers toe sien ek dat dit anti-kloksgewys loop, soos Alice in Wonderland s’n ...

Ma, jy kon sien jou ma was ’n vrou wat op 15 begin babatjies kry het saam met ’n man wat al klaar ’n vrou en kinders in Swede agtergelaat het. Hy’t alles onder julle sewe uitgesuip. En sy’t die beste vir haar kinders gedoen. Ek het my voorgeneem ek sal nooit ’n Ma wees soos joune nie, nooit soos jy nie. My blinde kolletjie is vol lig. Ek sien jou. Ek sien haar. ’n Fibonacci-spiraal van oneindige liefde.

 Ek bel jou voicemail gereeld. Shaman sê jy’t ’n feetjie geword. Hy dra vir my die ongelooflikste blomme en veertjies aan. Ek is so dankbaar jy was daar toe Sufiye hierdie reis begin het, sy’t so min van jou beleef! She of wit and wisdom, ’n toortapyt koningin, met haar unicorn, Moe. Altyd besig met ’n verfkwas, ’n reënboog en sagte woorde. Net soos jy. toor4

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top