
Die prent is afkomstig van Canva, onderhewig aan hierdie gratis lisensie-voorwaardes: https://www.canva.com/policies/content-license-agreement/.
vir F
Hy vra nog nie waarom nie.
Hier is genoeg vir rede,
skaars gevorm in klank of sin,
vol aanvraag.
Hy benoem goed:
trok, maan, Tlaba
nie om dit te bepaal nie,
maar om dit te seën
met sy uitademing.
Kyk –
hy buk oor om te luister
na die miere,
waar hulle dalk
te moeisaam vir ons
klein kodetjies karteer.
Sy weet is nie
geanker in sekerheid nie,
maar in die oor en oor:
selle boek, selle fopspeen,
selle spel waar die walvis
altyd wen.
Hy lag of die kosmos
sopas vreugde ontdek het –
miskien het dit wel.
So leer hy:
deur alles twee keer aan te raak,
deur planloos op te klouter,
deur af te val soos gebed.
Hy glo nog nie in toekoms nie.
Hy is immers die bewaarder daarvan.
Ek weet
sy goue logika
gaan gou opvou.
Vrae gaan verhard.
Oë gaan meet.
Wete gaan verdraai
na kennis.
Maar hierin hou
word hy in ’n wêreld
wakker vol werkwoord.
Alles wriemel.
Alles beteken.
En ek
staan in die deurkosyn,
daagliks langsamer,
deurweek met rou,
dankbaar ook,
en ek probeer
so hard onthou
wat dit was
om te leef
soos hy –
en nou.

