
Die prent is afkomstig van Canva.
Hierinhou
vir F.
Hy vra nog nie waarom nie.
Hier is genoeg vir rede,
skaars gevorm in klank of sin,
volaanvraag.
Hy benoem goed
—trok, maan, Tlaba—
nie om dit te bepaal nie,
maar om dit te seën
met sy uitademing.
Kyk—
hy buk oor om te luister
na die miere,
waar hulle dalk—
te moeisaam vir ons—
klein kodetjies karteer.
Sy weet is nie
geanker in sekerheid nie,
maar in die oor-en-oor:
selle boek, selle fopspeen,
selle spel waar die walvis
altyd wen.
Hy lag of die kosmos
so pas vreugde ontdek het—
miskien het dit wel.
So leer hy:
deur alles twee keer aan te raak,
deur planloos op te klouter,
deur af te val soos gebed.
Hy glo nog nie in toekoms nie.
Hy is immers die bewaarder daarvan.
Ek weet
sy goue logika
gaan gou opvou.
Vrae gaan verhard.
Oë gaan meet.
Wete gaan verdraai
na kennis.
Maar hierinhou—
word hy in ’n wêreld
wakkervol werkwoord.
Aliswriemel.
Alisbeteken.
En ek
staan in die deurkosyn,
daagliks langsamer,
deurweek met rou,
dankbaar ook,
en ek probeer
so hard onthou
wat dit was
om te leef
soos hy—
en nou.


Kommentaar
Skitterend.