Hierdie tyd

  • 0

In die hemel is dit anders
Yonelisa, Zandile,
julle mammas is daar
en julle grootma, langbeen in die son,
sy vertel van die skilpad en die olifant,
die stem in die kalbas en die gees in die slang
en julle kleinma’s
hulle bring water en bondels hout en wys
as julle só groot is kan julle saamkom
en die vroue werk rustig
op die land of in die boord
of by die maalklip by die huis
of weef die dak dig
of verf die mure nuut met ou patrone
hulle agterse oë kyk vir al hulle kinders.
Die seuns bring bokmelk en eiers
en die jong mans kom terug met die beeste
en roep laggend
ons sien die vettetjie se voete wil al dans!
En julle pa’s, ai julle pa’s is daar
hulle is trots
hulle kyk wanneer die seuns met stokke baklei
hulle kyk sylings wie kan baie beeste betaal.

Yonelisa, Zandile, Anelisa, Thandeka, Bongiwe,
Kgomotso, Nkosazana, Nomhle, Buyiswa,
slaap sag liefstes,
hierdie tyd sal verbygaan
Diepsloot sal verbygaan
Nooitgedacht sal verbygaan
Soshanguve sal verbygaan
Thaba ’Nchu, Lulekani, Tembisa,
Kliptown, Eldorado Park,
Olifantsfontein, Lyttelton,          
Ivory Park, Alexandra, Daveyton sal verbygaan.



  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top