Hierdie jol is stampvol

  • 0

Jors Troelie word die strate ingesleep. Sy vrou se vriend en ’n vriend soek geselskap. Die omelet het sy of haar bekorings al ontbreek die voëls. Meneer of Mevrou Eierkop se vernuf natuurlik. Dalk bluf. Die hondjie hou alleen wag oor die huis. Die weeskindkyk en lyftaal skeur Jors se hart in twee. Lê die spoorlose rowers weer op loer vanuit die donker grasse dink hy met die wegry.

’n Uitsondering tot die reël is soms ’n goeie ding behalwe as ’n suiplap die volgende verkeerslig verontagsaam.

By die eerste kroeg pryk twee oranje blanje bloue. Wat sê Christian op Nip/Tuck nou weer oor gister se hoer en vandag se nuffie ... Jors en die vriend se vriend het al in die verlede liederlik haaks geraak oor die groot Boek. Die vriend se vriend glo in die standpunte van mense. Jors belowe sy vrou om alleenlik met twee vragies die pap verder aan te dik. Oor wie eerste bloed gegiet het en hoeveel daar teenwoordig was ten tye van die Laaste Awendmaal beroep die vriend se vriend hom op sy reg tot stilswye. Nog taboe onderwerpe: politiek, rugby, die weer. Die hoogtepunt van die geselsies handel oor sywurms. Die name van die gedig en digter wat geskryf het oor die sterre as prikke in die skoendoos ontgaan hom. Hy maak ’n knoop in die tou met ’n gebedjie: “Ek wil net dankie sê aan die Groot Sywurm daarbuite wie ons wys wat is kak en wat is blare.” Almal lag versigtig. (Is kennis nie die alewige sifting van kak en blare nie?)

Die vriend en sy vriend raak angstig oor die yl talent. Daar word besluit om aan te beweeg na die heks se volgende driepoot.

Hierdie jol is stampvol. Oral skarrel werkertjies met glase feromoon van die een of ander distillering. ’n Oomblik “verlos” van die rytjies. Solank jy jouself gedra ingevolge die crooked cowboys se verordeninge, die geesteswêreld se Gestapo met hulle beleid van verskroeide siele ... En hulle totempale streel indien jy die piramied wil oogdruppels gee. Deesdae se jong seuns is werklik koddig. Karikature uit ’n strokiesprent: bewersterte op die kop, breë borsies, gespierde voorarms en kierietjie-bene in algehele chemiese wanbalans. Miskien spuit hulle perdepis om eendag die range te klim tot soldaatjies. Jors wonder hoeveel vroue swymel voor hierdie formidabele vertoon van windbuksies. En wat sal hy sê van die ouer garde? Elke troep het sy boep! Die eendimensionele dans het hom totaal platkop. Stormdronk drommels wat om en om die drinkgat skommel geheel en al oortuig dat dit is waar daardie skugter nagapie genaamd liefde haar dors les. Foei tog! Weereens geluk Meneer of Mevrou Eierkop. Die resultaat van u wyshede spreek boekdele. Of in die woorde van die kwaksalwer in The King’s speech: “That makes it official.”

Gou is almal hoog op die fopspeen. Selfs Jors met sy droë boudjies drink die mense mooi. Lank lewe Mammon se omelet! Hoe fraai die plastiekvere en ystersnawels. ’n Konfrontasie met ’n spieël in die toilette bevestig aan hom dat ongeag hyself die mooiste man in die plek sy vrou se vriend is.

Die vriend en sy vriend tjak-tjak en tjommel op die dansvloer. Jors sit en raas saam, hoewel met wysigings tot die geluide: “... i’m stupid an’ i show it ... i cop out ... i cop out ... i’m stupid an’ i show it ...”

Oplaas, veilig tuis danksy Jors se doodnugter vrou, pols ’n nuwe dag die oerou babbelaas: Who broke the silence? Who made a noise? Little girls and little boys, it’s hotdog day! The pope of obese ho’  ho’  hopes wiener first. Come come, aren’t all flowers of the sun ...

 
Adriaan

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top