’n Resensie van Out of mind deur Barbara Townsend

  • 5

Titel: Out of mind: A story of Robben Island
Skrywer: Barbara Townsend

Uitgewer: Selfpublikasie (Tea Pot Publishing)
Te koop by: Graffiti Boeke

Regoor die wêreld assosieer mense Robbeneiland met die tronk waar Nelson Mandela en ander politieke gevangenes deur die apartheidsregering in gevangenisskap gehou is. Agter geslote deure en hoë heinings, onder streng bewaking, binne sig van Kaapstad, maar met gevaarlike seestrome wat die eiland van Tafelbaai skei. Afgesny van die samelewing, waar mense heen verban is in die vorige eeu.

Barbara Townsend se historiese roman, Out of mind: A story of Robben Island, is haar tweede roman. Dit volg op Ida’s line (2020), ook ’n historiese roman wat in Oudtshoorn gesetel is tussen 1930 en 1948, gedurende ’n periode van groeiende fascisme en rassehaat.

Out of mind speel af in die jare 1908–1913 teen die agtergrond van ’n ander vorm van verbanning as die bannelinge wat al in Van Riebeeck se tyd na Robbeneiland verban is. In die 1800’s en vroeë 1900’s was daar nog geen mediese geneesmiddel vir leprose (melaatsheid) nie. Om die verspreiding van die gevreesde siekte te voorkom, het die Britse koloniale regering in 1845 nedersettings op die eiland gestig om mense wat aan leprose ly, in volkome isolasie te hou. Teen 1908 het die omstandighede al in ’n mate verbeter, maar die meeste pasiënte wat daarheen gestuur is, het nooit teruggekeer na hul families nie. Die eiland het ook ’n psigiatriese afdeling gehad, asook ’n klein strafkolonie.

...
Dit is ’n lywige werk met ’n stadige pas, in lyn met die tydsgees. Soms wil die leser gefrustreerd raak met die ontwykende, subtiele maniere en die stadige pas waarteen verhoudings ontwikkel, maar dit is hoe outydse hofmakery was.
...

Out of mind is geensins ’n politieke roman of ’n geskiedenisles nie. Alhoewel die skrywer se grootouers in die vroeë 1900’s op die eiland gewoon en gewerk het, is die verhaal nie gegrond op hulle eie ervarings of ware gebeurtenisse nie, hoewel hulle oorvertellings deel vorm van die navorsing om die agtergrond so getrou moontlik te behou.

Sover bekend, is daar nog nie ’n roman met hierdie verhaalgegewe wat daardie jare op Robbeneiland afspeel, geskryf nie. Jan Rabie het wel ’n boek, En Oseaan, in 1985 gepubliseer wat handel oor melaatse persone. Dit speel af in die Hemel-en-Aarde Vallei naby Hermanus in die 1800’s, voordat die mense met leprose verskuif is na Robbeneiland. Daar was ook Ena Murray se gewilde Plekkie in die son oor ’n melaatse vrou, wat op die fiktiewe Genadendal afspeel. In Dalene Matthee se Pieternella van die Kaap word Krotoa-Eva na Robbeneiland verban. In Dan Sleigh se Eilande word die lewe van sekere karakters verbind met Robbeneiland. In François Loots se Die kapokdokter kom die melaatse kolonie ook ter sprake – hoewel skrams. Sowel Totius en ID du Plessis het gedigte oor melaatses op Robbeneiland geskryf.

Net soos Marinda van Zyl se Veldhospitaal 12, is Out of mind ook ’n fiktiewe verhaal wat afspeel teen die agtergrond van ’n minder bekende stuk geskiedenis op Robbeneiland.

Die verhaal skop af in 1908 gedurende ’n boomplant- en verfraaiingsveldtog wat die koloniale owerhede begin het om koelte te verskaf en die lewens van hul pasiënte aangenamer te maak. Hulle doel was om ’n tuin te skep so mooi soos enige in Engeland, en hiervoor is duisende bome en blomplante na die eiland verskeep. Die tuinier met kennis van die weerstoestande en plante wat aard op die eiland, se mening is ongelukkig nie gevra nie.

Om die ekstra korrespondensie en rekordhouding wat daarmee gepaard gaan te bestuur, is ’n nuwe senior klerk, Reggie van Riet, aangestel. Alhoewel dit nie vir hom ’n ideale posisie is nie, sou dit lei tot bevordering in die staatsdiens, en hy het op die eiland aangekom met vasberadenheid om ’n sukses daarvan te maak.

Op sy eerste dag ontmoet hy vir Vera Godwin, die terughoudende teatersuster, wat sy aanbiedinge om hulp twee keer bedank wanneer hulle van die veerboot af klim. Reggie laat hom nie daardeur afskrik nie. Gou hoor hy gerugte dat sy ’n reputasie het, maar tipies van die tydsgees word niks by name genoem nie.

Die verhaal word vertel uit die oogpunt van die vier hoofkarakters wie se werk hulle in kontak met mekaar bring. Reggie, Vera, Harris, die junior klerk, en Leentjie. Leentjie se ma is een van die mense met leprose, en haar pa is Jacob die tuinier.

Leentjie verteenwoordig alles wat nie geag word nie, sy is ’n kind, vroulik en bruin. Sy is ’n blote besitting vir haar pa en “onsigbaar” in die huishouding waar sy help.

Onderweg ontmoet ons die ander inwoners van die klein eilandgemeenskap waar almal mekaar dophou en stories volop is. Ons ontmoet ook families in Kaapstad en Oudtshoorn.

Die karakter Cicely herinner sterk aan die onvergeetlike Belle Watling in Margaret Mitchell se Gone with the wind. Ook sy is ’n randfiguur, ’n uitgeworpene.

Die titel is uitstekend gekies. Robbeneiland as sodanig is “out of sight, out of mind” vir die mense op die vasteland. Deur die karakters se optrede, sien ons dat bruin mense, mense met geestesversteurings, leproselyers, vroue wat hulle nie onderwerp aan manlike gesag nie, jong meisies – almal is randfigure en verstotelinge. Die melaatses self speel nie ’n aktiewe rol in die boek nie, dit is eerder hulle omstandighede en gebrek aan voedsame kos wat onder die loep kom. Hulle lot as uitgeworpenes word onderstreep, deurdat hulle selfs in die boek huiwer op die agtergrond.

...
Die patriargale sisteem en koloniale onderdrukking is baie sterk temas in die boek. Townsend slaag baie goed daarin om die karakters die praatwerk te laat doen.
...

Die patriargale sisteem en koloniale onderdrukking is baie sterk temas in die boek. Townsend slaag baie goed daarin om die karakters die praatwerk te laat doen. Die stille verset wat voelbaar is uit interne dialoog, doen die praatwerk. Die boek is nie dialooggedrewe nie, dit is in pas met hoe die mense was in daardie tyd, baie gereserveerd. Juis daarin lê die krag van die boek. Dinge is nie sommer by die naam genoem nie, oor skandes is gefluister en geheime is bewaar.

Vroue het tipiese Victoriaanse maniertjies en die skrywer beeld dit goed uit. Hulle laat ’n dokter kom as ’n karakter haar ontstel deur haar eie vooroordeel en dan flou word. Naaldwerk en handwerk word as ’n deug beskou en vroue moet hulle plek ken.

Dit is die era waar ’n patriargale samelewing as die norm beskou word, maar tog is die vroue wat hulle plek geken het, deur galante gebare met groot respek deur mans behandel. Reputasie was alles. Mense word op hulle plek gehou deur dreigemente en inboeseming van vrees. Die skrywer slaag besonder goed daarin om Vera haar stempel te laat afdruk, deurdat sy haar eie opinies vorm en besluite neem.

Ons leer dat karakters wat as minderwaardig beskou word, ook dié met ’n swak reputasie en ’n geskiedenis van onregmatighede, steeds goeie mense kan wees. Net so is gesagsfigure nie noodwendig van goeie inbors nie. Dit is egter met die uitbeelding van die hoofkarakters met al hul foute en onsekerhede dat die skrywer werklik uitblink en besondere vaardigheid toon. Sy vermy oormatigheid en sensasionalisme en skryf met groot deernis oor wat dit beteken het om geïsoleer te wees in so ’n samelewing, soos ervaar deur verskeie randfigure. Townsend is ’n sterk, geloofwaardige stem met ’n feministiese toon wat erkenning verdien in die literêre wêreld.

...
Soms is ’n selfgepubliseerde werk ’n juweel. Hierdie een skitter. Dit word hoog aanbeveel.
...

Die verhaal word vertel in besondere taalgebruik, met ouderwetse woorde en terme, soos Vera wat dokter Saunders se “ward” is. Daar is ook woorde soos “scourge”, “inveterate”, “querulous”, “blustery”, “dictum”, “recondite”, “harangued” en “in the family way”. Dit is ’n lywige werk met ’n stadige pas, in lyn met die tydsgees. Soms wil die leser gefrustreerd raak met die ontwykende, subtiele maniere en die stadige pas waarteen verhoudings ontwikkel, maar dit is hoe outydse hofmakery was.

Ten spyte van die harde historiese konteks, vertel die boek ’n menslike verhaal met groot deernis wat afspeel in wrede tye, op die sinistere eiland met sy donker verlede waar geheime bewaar en begrawe word.

Soms is ’n selfgepubliseerde werk ’n juweel. Hierdie een skitter. Dit word hoog aanbeveel.

  • 5

Kommentaar

  • Christine Coates

    'Out of Mind' is 'n wonderlike, goed geskrewe, fassinerende verhaal oor 'n stukkie Kaapstadse geskiedenis wat in 1909 afspeel.
    Die openingstoneel is filmies. Kaapstad in 1909, die Boereoorlog is verby, die Britte het die oorlog teen die Boererepublieke gewen, hulle heerskappy het geseëvier, maar Uniewording is op die punt om te kom. Die sosiale toestande in Kaapstad word deur Engeland beïnvloed, alles word deur die Engelse beïnvloed; modes en selfs hoe verstandelik gestremdes en mense met melaatsheid behandel word.
    'Out of Mind' pak hierdie kwessies aan, kwessies wat nie onder die deftige samelewing van Kaapstad verlang word nie, word (letterlik) buite sig, buite die gedagte geplaas.

  • Wat 'n juweel van 'n boek! Sensitief, alternatief, eg - en dit alles in 'n heerlike skryfstyl!

  • Dankie Trisa

    On the one hand, I've nothing to add. You've said it all. Thank you.

    My response to the book, and to your review is something like this ...

    * I just want to go back to the cottage in Oranjezicht that Charl and I lived in for a while, and look out of the back window to see if I can still see the Island, one more time. And then think about it some more. Particularly what has become of it, and whether the 'pretty-fication' (sorry, I don't have another way of saying it) of the Island that failed so spectacularly at the time of 'Out of Mind' is rearing it's head again.

    * When our housekeeper from Garankuwa, Lena Mabe, came to our wedding, we took her up Table Mountain to see the view. When she looked around from the top, she said: "Oh, so that's Robben Island". I never asked, but I think that that was at least as important for her as coming to our wedding. Die 'meegevoel' spoke volumes.

    * So, 'Out of Mind', for me, reaches out, and gets under my skin ...
    Particularly as both an ex-activist, and ex-medical student - who attended leprosy patients at the hospital down on the Wild Coast from Holy Cross Hospital, outside Lusikisiki.

    I still wonder what became of that place, of those people, many of whom had been away (hundreds of kilometres) from their families for so long that they were not sure they could ever go back 'home', even if they were cured of leprosy. And I wonder if anyone even knows it's name ...

    In an understated way, that's (for me) what makes 'Out of Mind' such an important book. It deals with people who have to contend with what it means to be 'lost' or 'found', or 'sent away', or just 'deurmekaar' - in more than one sense ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top