In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

’n Duitser, ene Franz Friedrich Stellmacher, het tussen 26 en 29 Oktober 1992 in die hooggeregshof in Windhoek tereg gestaan op ’n aanklag van moord. Hy is daarvan aangekla dat hy in Julie 1981 te Rehoboth in die destydse Suidwes-Afrika ’n man met die naam Paul Albert Freyer vermoor het.
By die aanvang van die saak het die staatsaanklaer aansoek gedoen dat Stellmacher ingevolge die bepalings van die destyds geldende strafproseswet na ’n inrigting verwys moet word om vas te stel of hy nie dalk op grond van ’n moontlike geestesongesteldheid of geestesgebrek ontoerekeningsvatbaar was nie. Sou dit die geval wees, sou hy nie verhoor kon word nie en sou hy in ’n inrigting of fasiliteit vir sielsiekes aangehou moes word solank dit die staatspresident behaag. Dit was byvoorbeeld Dimitri Tsafendas (wat dr Verwoerd in 1966 om die lewe gebring het – ek sê met rede nie "vermoor het” nie) se lot tot aan die natuurlike einde van sy lewe.
Nou wat het op daardie noodlottige Sondagmiddag in Rehoboth gebeur?
Die beskuldigde was vir etlike weke voor die voorval op ’n streng dieet om gewig te verloor. Op die betrokke Sondag het hy niks geëet nie en harde fisieke arbeid op sy plaas verrig. Hy het ongeveer sesuur die middag na die plaaslike hotel gegaan, waar hy ’n halwe bottel brandewyn bestel het. Terwyl hy laatmiddag in die kroeg sit en drink het, was die laaste wat hy kon onthou ’n sterk weerkaatsing in sy oë van die ondergaande son deur ’n leë drankbottel. Hy het eers die volgende oggend toe hy in sy bed wakker word, weer tot verhaal gekom. Van wat tussenin gebeur het, het hy totale geheueverlies gehad – en daar was mediese getuienis wat dit gestaaf het.
Stellmacher was nie die enigste persoon wat daardie middag die kroeg in Rehoboth besoek het nie. Daar was verskeie ander persone wat almal in wisselende mate onder die invloed van drank was. Op ’n stadium was Stellmacher aan die bedienkant van die kroegtoonbank, waar hy met ’n kêrel met die naam Nissan gestaan en gesels het. Nissan het agtergekom dat daar iets fout is met Stellmacher en het weggedraai om liewers met iemand anders te praat. Sonder enige rede het Stellmacher sy pistool te voorskyn gebring en op Nissan geskiet. Die skoot het gelukkig net deur die skulp van sy oor gegaan sonder om verdere skade te veroorsaak. Stellmacher het daarna nog skote afgevuur en onder andere ’n bottel en ’n drinkglas flenters geskiet. Die ander besoekers in die kroeg het hulle daarna, te begrype, met bekwame spoed uit die voete gemaak.
Die oorledene, ‘n mnr Freyer – self ook onder die invloed van drank – het egter, ondanks waarskuwings, die kroeg binne gegaan omdat hy ’n bottel wyn wou koop. Hy het Stellmacher agter die toonbank gesien en wou ’n bottel wyn by hom bestel, maar dié het geantwoord dat hy nie aan die oorledene wyn kon verkoop nie, want dit is nie sy hotel nie. Freyer is toe uit die kroeg uit, maar het weer teruggekom omdat hy steeds graag ’n bottel wyn wou hê. Daar was weer ’n skoot en Freyer het net daar in die kroeg in sy voetspore inmekaar gesak en nooit weer opgestaan nie.
Regter Mouton van die hooggeregshof in Windhoek[1] moes beslis of Stellmacher aan ’n geestesgebrek of ’n geestesongesteldheid gely het, wat sou beteken dat hy ontoerekeningsvatbaar was en – soos reeds verduidelik – waarskynlik vir die res van sy lewe ’n staatspresidentspasiënt in ’n inrigting vir sielsiekes sou wees.
Stellmacher is deur ’n hele span neuroloë en psigiaters ondersoek en hulle het uiteindelik namens hom getuig dat sy optrede in die kroeg heeltemal motiefloos, onbeplan, impulsief en irrasioneel was. Die mees waarskynlike oorsaak vir sy sogenaamde outomatiese gedrag, gepaard met geheueverlies, was te wyte aan gedeeltelike epilepsie. Daar was ook ’n moontlikheid dat hy hipoglukemies was – ’n toestand wat deur alkohol veroorsaak kan word as dit deur gesonde mense ingeneem word na ’n vasperiode van ongeveer 48 tot 72 uur.
Volgens die getuienis was Stellmacher dus ’n gesonde persoon wat op die dag alkohol gebruik het en daarna outomaties met amnesie (of geheueverlies) opgetree het. Die volgende dag was hy weer in ’n gesonde toestand. Wat hom dus oorgekom het, was ’n tydelike verstandelike beneweling wat nie aan ’n geestesabnormaliteit toe te skryf was nie, maar te wyte was aan uitwendige prikkels soos, onder andere, alkoholiese drank. Stellmacher het dus nie aan ’n geestesgebrek of ’n geestesongesteldheid gely nie en was gevolglik nie permanent ontoerekeningsvatbaar nie; daar was dus geen rede om hom in ’n hospitaal vir sielsiekes of ’n gevangenis te laat aanhou solank dit die staatspresident behaag nie.
Die hof het egter bevind dat die getuienis wat namens Stellmacher deur die neuroloë en psigiaters aangebied is, daarop gedui het dat hy tydelik ontoerekeningsvatbaar was, welke toestand die volgende oggend weer heeltemal opgeklaar het. Hy het dus onwillekeurig opgetree, al was dit net tydelik. In enige beskaafde regstelsel is slegs willekeurige gedrag strafbaar.
In die strafreg word daar ook na onwillekeurige handelinge verwys as ’n toestand van "outomatisme". Daar word verder onderskei tussen "sieklike" en "gesonde" outomatisme. Laasgenoemde verwys na Stellmacher se toestand, waar ons te make het met ’n geestesgesonde persoon wat slegs vir ’n beperkte tydperk en om bepaalde redes onwillekeurig optree.
As ’n persoon ontoerekeningsvatbaar is – selfs al is dit net tydelik – wanneer hy ’n misdaad pleeg, kan hy nie aan daardie misdaad skuldig bevind word nie, omdat hy nie ten tye van die misdaad tussen reg en verkeerd kon onderskei nie. Stellmacher is gevolglik onskuldig bevind en ontslaan.

