Hibridiese aanbod van Secret Namibia ondervang nie leemtes nie

  • 0

Titel: Secret Namibia
Outeur: Lily and Marcel Jouve
Uitgewer: Random House Struik
ISBN: 978-1-77007-694-5
Bladsye: 152 


Daar het al baie koffietafelboeke oor hierdie uitgestrekte land tussen die drie groot riviere (Oranje, Kunene en Okavango) en die twee woestyne (Namib en Kalahari) verskyn. Fotograwe, skilders en digters is ewe lief vir die wydsheid en ongereptheid van Namibië. En dit is veral die barre maar eindeloos wisselende landskap wat fotograwe inspireer. Die egpaar Jouve se boek sit hierdie tradisie voort.

Marcel Jouve is ? gebore Fransman en ? opgeleide landbou-ekonoom wat eers vir die Franse ministerie van omgewingsake gewerk het voordat hy by die Franse departement van buitelandse sake aangesluit het. Sy vrou, Lily Yousry, is in Kaïro gebore en het al reisboeke oor die Filippyne en Thailand geskryf. Marcel en Lily het vier jaar lank in Windhoek gewoon en elke geleentheid gebruik om die land te verken. Hulle ken hierdie fassinerende gebied waarskynlik beter as die meeste Namibiese burgers self. Daarom kan hulle sonder aanmatiging praat van “secret Namibia”, hoewel nie al die plekke ewe onbekend is nie.

Hulle koffietafelproduk verskil wel van soortgelyke boeke deurdat dit nie net asemrowende foto’s bevat nie, maar ook natuurwetenskaplike gegewens – die geologie, fauna en flora – van die verskillende landstreke. So word onder meer die sogenaamde “fairy circles”, wat aan die rand van die Namib voorkom, gewys en verklaar. Agterin die boek is ? uitgebreide bibliografie van wetenskaplike werke oor die land. Een daarvan is ? artikel geskryf deur vyf (!) mense oor “Mysterious circles in the Namib Desert”.

Die boek behandel 18 natuurstreke – van die Etosha Nasionale Park in die noorde en Swakopmund in die weste tot by die Visrivierafgrond in die suide. Tussenin lê die eintlike verrassende ontdekkings: Wüstenquell Farm, Palmwag, Etendeka, Hartmann Vallei, Marienfluss Vallei, Zarisbege, ens.

Dit is opvallend dat die mense van Namibië glad nie in die boek figureer nie – met die uitsondering van die Himba van Kaokoland. Dit is mense wat nog ? oeroue tradisionele leefwyse voer. As “natuurmense” word hulle inderwaarheid gelykgestel aan die flora en fauna wat in die res van die boek uitgebeeld word. Hierdie indruk word versterk deur die volkome afwesigheid van menslike bedrywighede. Behalwe die hout-en-modder-hutte van die Himba is daar nie ? pad, spoor, telefoonpaal, landery, gebou of dorp te sien nie. Dit skep ? erg eensydige beeld van ? land wat, ondanks sy yl bevolking, wemel van interessante tale en kulture.

Hierdie leemte ondermyn die derde doelwit van die boek: naas fotogalery en wetenskaplike handleiding wil dit ook ? toeristegids wees. Vir elke landstreek word ? verblyfplek aanbeveel. Daar is ook uitgewerkte roetes wat in Windhoek begin en eindig en wat wissel tussen drie en 12 dae. Die voornemende toeris kry egter nêrens ? fotografiese blik op die aanbevole hotelle, lodges, ruskampe en kampeerterreine nie. Webadresse word wel verskaf waarop dan die fisiese voorkoms van die blyplekke beoordeel kan word. Maar hoe misleidend hierdie soort bemarking kan wees, het elke gereelde toeris al tot sy spyt ontdek.

Die hibridiese aard van die boek kry gestalte in die ongewone formaat: kleiner as ? tipiese koffietafelboek, maar te groot, luuks en swaar vir die paneelkissie van ? viertrekvoertuig.

Daar is geen twyfel oor die hoë kwaliteit van die fotografie en die noukeurigheid van die inligting van Secret Namibia nie. Dit is net nie duidelik vir wie presies die boek bedoel is nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top