Foto: Openbare domein, Wikimedia Commons |
|
“Seks in ons letterkunde is nie verkeerd nie, maar as daaroor geskryf word, moet dit so natuurlik wees soos ’n ooi wat lam. Daar is vandag (1964) groter gewaagdheid in die Afrikaanse letterkunde, maar die seks daarin is te selfbewus.” (Dagbreek en Sondagnuus, 7 Junie 1964) In 1964: “Ons land is die enigste waar ’n vrou nie alleen die estetiese genot van die veld mag geniet nie. Ek oorweeg dit sterk om ’n roman met dié agtergrond te skryf.” (Dagbreek en Sondagnuus, 7 Junie 1964) “Sentimentaliteit in ons land word tans nog net in die godsdiens toegelaat – nie meer in die kunste nie.” (Dagbreek en Sondagnuus, 7 Junie 1964) “Talent is soos ’n klein fonteintjie wat wil uitkom. Jy kan dit nie onderdruk nie.” (Dagbreek en Sondagnuus, 7 Junie 1964) Oor jong skrywers: “Nou nog, as iemand ’n roman of gedig skryf, dan kan jy hom nie kwalik neem as hy geesdriftig raak nie. Dit is in al die kunste so. Die kritici wil hê ’n mens moet besadig, verlep, goed en gereformeerd wees. Die geworteldheid in ons bodem moet Afrikaans wees, en Afrikaans beteken nie pornografie nie.” (Dagbreek en Sondagnuus, 7 Junie 1964) Oor die roman in 1964: “Ek glo sterk dat die roman nog sal uitsterf. Mense stel nou meer in die toneel belang. Hulle wil sien wat gebeur. Hulle het nie meer tyd om ’n roman te lees nie. Alles moet nou korter wees. In onnodige beskrywings stel hulle nie meer belang nie.” (Dagbreek en Sondagnuus, 7 Junie 1964) “Musiek kom by my eerste omdat dit soos ’n blits uit ’n mens se siel kom – wanneer jy dit hoor, self speel of komponeer.” (Dagbreek en Sondagnuus, 7 Junie 1964) Oor modes in 1964: “Ons skel die modes uit, maar die vrou doen net haar plig om haar so fyn uit te vat. Sy moet ’n man na haar toe aantrek, anders kan sy mos nie haar plig doen om ’n gesin te hê nie.” (Dagbreek en Sondagnuus, 7 Junie 1964) In 1970: “’n Vrou moet nooit laat blyk dat sy intelligent is nie. Voor my man is ek so dom soos my domste leerling.” (Transvaler, 12 Junie 1970) “Ek was nog my hele lewe lank ’n vrou wat liewer ’n plaat as ’n mooi rok koop. Want ’n plaat is altyd bestand teen die mode.” (Transvaler, 12 Junie 1970) “Stokperdjies is die medisyne vir ’n gebroke hart. Dit is ook die versekering teen die ouderdom.” (Transvaler, 12 Junie 1970) |
Gebore en getoë
Hettie Smit is op 21 November 1908 in die distrik Venterstad in die Noord-Kaap gebore. Sy het grootgeword op Koffiefontein en het skoolgegaan op Brandfort in die Vrystaat, waar haar vader prokureur was. Sy het ’n suster, Romie, gehad.
Hettie het maar langtand oor haar jeug gesels, maar het tog aan John Moody in Dagbreek en Sondagnuus (7 Junie 1964) vertel: “Ek is in die Dopperwêreld – op Venterstad – gebore. Eendag kan hulle maar ‘yes, I’ve got a cold’ op my grafsteen skrywe, want ek is met ’n hees stem gebore en dikwels vra mense wat my nie ken nie of ek ’n verkoue het. Toe ek die eerste keer skool toe gaan, het hulle ook vir my gevra of ek verkoue is en toe het ek maar geantwoord: ‘Yes, I’ve got a cold!’ Na ’n week of twee het hulle aan my stem gewoond geraak.”
Toe sy ’n kind was, het sy altyd gedink Jesus is ’n Hollander, het sy aan John Moody vertel. “Dit was omdat die Bybel in Hollands was en ek moes opsê: ‘Ek ben ’n kindjie klein en teer, Jesus maak my hartjie rein.’ Ek het gedink die ‘ben’ is ’n man wat in die tuin gewerk het. Ek het ook gedink: as ek doodgaan, word ek ’n engeltjie en dan moet ek vir ewig Hollands sing.
“Ons is van kleins af kerk toe gedwing. Ek het in my gedagtes altoos pop gespeel met die orrelpype. Die grotes was ma’s en pa’s en die kleintjies hul kinders. Of anders het ek my bene heen en weer geswaai omdat ek nie op die vloer kon bykom nie en dan my kêreltjie se name uitgespel.
“Eenkeer moes ek Psalm 23 opsê. Ek was nog baie klein en my ouma het betraand geraak. Ewe onskuldig vra ek haar toe: ‘Is ouma se pop ook stukkend?’”
In Jonger skrywers oor eie werk het Hettie Smit vertel: “Op skool was die enigste een wat ’n liefde vir taal en literatuur geopenbaar het, die onderwyser wat Engels gedoseer het – en toe het my Engelse fase gevolg.” Ook het die plattelandse ouerlike omgewing hom nog nie in sy eie nasionale karakter gevind nie. Die oorblufte geslag na die Boere-oorlog het nog baie gedink: om beskaafd te wees is om te kan Engels praat, word in ’n voetnoot in Hettie se BEd-verhandeling by ’n Engelse stuk uit die dagboek genoem.
Verdere studie en werk
Na skool is Hettie na die Universiteit van Kaapstad waar sy haar inskryf vir die BA-graad en later ook haar MA- en B Ed-grade (in 1933) behaal. Haar B Ed-verhandeling was getiteld “Belangrike aspekte van die jeugdige sielelewe met toeligting uit die dagboek van ’n Afrikaanse meisie”. Hierdie proefskrif word allerweë beskou as die voorloper tot Sy kom met die sekelmaan en op ’n hele aantal punte kon in hierdie verhandeling die groeipunte ontdek word wat later so verrassend in haar roman sou uitbot. Hierdie verhandeling dien as ’n belangrike wegwyser na die literêre en sosiokulturele kodes van die roman.
Oor haar stem het sy uit haar studentedae onthou: “Ek was nog ’n student en net soos die ander het Langenhoven simpatiek gevra of ek dan verkoue is dat ek so hees praat. Ek het nee gesê, ek is so gebore. En toe leun hy vertroulik oor na my terwyl hy sy hand skuins voor sy mond hou en hy antwoord: ‘Ek wens my vrou het ook so suutjies gepraat!’ Ek het dit vreeslik waardeer.”
Terwyl sy in Kaapstad gewoon het, het sy musiek geleer onder Charlie Weich en het die klavier met buitengewone gevoel bespeel, volgens SJ Pretorius in Die Ruiter van 6 Februarie 1948.
Hettie se eerste onderwyspos was op Prins Albert waar sy vanaf 1932 tot 1936 onderwys gegee het. Calvyn Lategan, een van haar leerlinge, vertel dat sy Duits en Letterkunde aan die Swartberg Hoërskool doseer het. “Sy het vir my Duits en Letterkunde gegee en omdat ek redelik goed Duits kon praat, het sy my altyd gestuur om die Duitse inspekteur by die hotel te gaan haal.
“Ek onthou haar as ’n natuurmens. Menigmaal het sy my kom haal om saam met haar die Karoovlaktes in te stap en saam die wonderlike skepping van God te geniet en waardeer. So kon sy minute lank ’n populierboom in die herfs bewonder, ’n Karoosonsondergang, die Swartberge met miswolke wat soos wit branders oor die berge rol, ’n skilpadjie, miskruiertjie, ja, elke insektetjie het sy bewonder. [...] In my drome onthou ek haar nog so goed, die hees stemmetjie, brilletjie en yl krulhaartjies. Sy was ook ons Voortrekkerspannetjie se leidster. Sy het ’n groot invloed op my jong lewe gehad.” (essay oor vriendskap met Hettie Smit in NALN se besit)
Daarna het sy ook onderwys gegee op Wellington, Hennenman in die Vrystaat, Bloemfontein en aan die Diamantveld Hoërskool in Kimberley. In die 1950’s het sy Afrikaans gegee aan die Hoërskool Pretoria-Wes, waar sy probeer het om die skrywersaanleg van die leerlinge te ontwikkel deur hulle stories in plaas van opstelle te laat skrywe. Sy het gemeen dat daar kinders onder haar leerlinge was met besondere skryf- en musiektalent.
In 1937 is Sy kom met die sekelmaan gepubliseer en dadelik het die boek opslae gemaak. Dit was die eerste biegroman in Afrikaans en letterkundiges se menings oor die boek was uiteenlopend.
Amanda Botha skryf in Insig van November 2001 dat Sy kom met die sekelmaan ’n boek is wat geslagte Afrikaanse vroue sou beskou as een van dié mees romantiese tekste in Afrikaans. “Meer: dit was die weerloos eerlike, aggressief openlike, liriese eerstepersoonsverslag van ’n jong vrou se smagting na die liefde van ’n jong man wat haar die rug toegekeer het. Toe al is (dit) raakgesien as die literêre vonds wat dit vandag nog ’n ereplek in die Afrikaanse kanon gee.”
Sy kom met die sekelmaan was nooit ’n manuskrip nie. Dit was letterlik ’n “bondel briewe”. Hettie Smit het hierdie “kammabriewe” – haar eie verwysing daarna – op Prins Albert geskryf toe sy in die 1930’s daar onderwys gegee het. In hierdie briewe, skryf Amanda Botha in Rooi Rose (Februarie 2003), het die personasies Johan en Marié, wat sy later self “karikature” sou noem, haar diepste verlangens verwoord. Die “kammabriewe” was ook nie posbriewe nie, maar is in dagboekvorm gehou. Daarnaas bestaan ’n tweede stel briewe tussen die “lewende” karakters, Hettie en die jong digter Gladstone Louw.
Amanda Botha skryf verder in Rooi Rose as jy die twee stelle briewe saamlees, is dit dikwels moeilik om te onderskei waar die een opgehou en die ander begin het. Hettie en Gladstone se vriendskap het in die laat 1920’s geblom toe albei studente aan die Universiteit van Kaapstad was. Teen die begin van 1932 het die verhouding van sy kant begin afkoel en teen die einde van 1935 was dit duidelik dat daar min van die vriendskap oorgebly het.
Einde 1934 het Hettie haar dagboek se “kammabriewe” aan “Johan” vir Gladstone gestuur. Hy het teruggeskryf en gevra wat sy voorstel daarmee “gedoen” moet word, vertel Botha verder. Hierop antwoord sy: “Jy het my darem ’n swaar vraag gevra: wat ek met die briewe sal ‘doen’? Dis eerlikwaar anderkant my denkvermoë.”
Louw het voorgestel dat dit in boekvorm uitgegee word. Dit was juis die tyd toe die Vereniging vir die Vrye Boek (VVB) tot stand gekom het waarvan hy en sy ouer broer NP Van Wyk Louw redaksielede was. Hettie was verbaas en gevlei: “Wat gaan ek dit noem?” skryf sy in ’n brief aan hom. “Een waar verhaal door Katrina van Blerk?” maar twyfel daarna: “Kan ’n mens so ’n fragmentariese hardop-dink as ’n boek, ’n roman beskou? Is dit nie te rou, te onryp en vormloos nie? En wat van al die lewendige en bekende mense wat ek daarin koelbloedig ten toon stel? Waar sal ek al die skuilname kry om alle dinge te bedek?” (Rooi Rose, Februarie 2003)
Sy kom met die sekelmaan was die eerste boek wat deur die VVB uitgegee is en die publikasie daarvan het die jakkals in die literêre hoenderhok gegooi, met die vermaarde Fransie Malherbe wat weens sy vete teenoor die boek gedwing is om uit die VVB te bedank.
Malherbe het sy kommentaar in die kantlyn van die manuskrip aangebring, skryf Joan Hambidge in “Op my literêre sofa”, en opmerkings gemaak soos “Wat ’n gesanik!”, “Niksbeduidend” en “Mislik op die duur”, “maanmalheid” en “sieklike jeugdige Schwärmerei”. Sy verslag was vir die VVB en Hettie Smit het toe ’n “brandnetel” teruggeskryf, want sy laat nie met haar speel nie. Sy is immers verantwoordelik vir die mees ongelukkige titel in die Afrikaanse letterkunde.
Hambidge skryf verder: “Hoewel die brief aan Malherbe net vir Van Wyk Louw en sy vrou, Joan, se oë bedoel was, publiseer Kannemeyer dit op bl 45 tot 51 in Die dokumente van Dertig.
“Die brief begin: ‘here, Frans Malherbe, vanáánd bars jy! Ek wil nie eers geniaal skel nie. Ek wil sommer onbeskaamd en takloos en kleinsielig, net soos jy, persoonlike belediginge soos valke op jou kop afsmyt dat jy sterre daarvan sien, vir dae aaneen.’
“Sy skryf verder: ‘Ek wil jou stilletjies in jou slaap bekruip soos ’n kat, ’n tier, en jou skielik in die donker met skerp woordkloue hap in jou gesig – in jou koue inkpotbakkies dat die inkbloed ten minste daaruit tap. Of met my woordstringe soos ’n skuifoog om jou keel vir jou wurg tot jou deeglike tong uithang, en jou kalm asem opraak van soebat in benoudheid.’
“’n Paar paragrawe verder: ‘Ek twyfel of jy daartoe in staat is. Boepens Jood met koerant onder die arm! Opperster inkpot, Owerste van die Boekwurms, stowwerige woordeboek, Fransvandale, stof-my-af! Speldekussing!’
“Sy praat verder van Malherbe se ‘vernufte mansverbeelding’ en soos ’n egte Dolle Miena vertel sy vir hom waar hy kan afklim. Hierdie is ’n geskel wat die meeste ánder kritici na beginners sal laat klink. Veral as sy verwys na die ‘siedaar-retoriek’ in Malherbe se wetenskaplike werk Humor. En sy ‘koekvorm-kortverhaal’ en ‘broodvorm-roman!’”
WEG Louw was self vooraan die kopstampsessie met Fransie Malherbe. Die publikasie was uiteindelik aan NP van Wyk Louw te danke. Sy kom met die sekelmaan sou gepubliseer word op voorwaarde dat sekere passasies aangepas, ander gesny en – die belangrikste – die laaste hoofstuk weggelaat word.
Die eerste tekens van ’n toonverandering in die briefwisseling tussen Hettie en Gladstone kom met ’n brief wat sy in Februarie 1932 aan hom geskryf het: “Dis ’n brief, ’n brief, ’n brief! Dis sommer ’n nuusberiggie wat terloops geskryf moes word, anders sal dit darem snaaks lyk ... Waar is jy? [...] Sout, sout, sout, wil ek hê. Wilde sout, uitasemse Ikey-woorde wat ’n mens raakvat en omsmyt en toesmoor soos die Suidoos by die see – rolwoorde, sangwoorde, bitterwyn-woorde, vonkspatsels, hamerslae, haelkorrels ... en droef-verre snikwoorde, sypelwoorde soos siffende doureën ...” (Aan die begin het Hettie vir Gladstone Ikey genoem.)
Net ’n week voor hierdie brief het Hettie haar “ou Ikey” bedank vir die “pragtige brief” – “daardie brief met sy koring-ruik en voertaal en sy wydheid. Ek kan jou stem daarin hoor en dit het naby en bekend geklink – net soos in al die mooi en babbel-wandelings daar by die see of onder die hoë dennebome.”
Ses maande later, ná ’n brief van hom wat gesê het dat sy gevoelens verander het, het sy aan hom geskryf: “Jy moet stil wees as jy my brief lees. Stil en vriendelik soos ’n ou wilgerboom in ’n windlose skerming. Want ek wil vriendelik praat, en saggies soos iemand wat glimlag en ou, ou dinge in die skemering onthou. Mooi ou dinge waarby ’n mens jou hoed afhaal en jou hande vou, en dink: hoe kleinlik is alles hierby ... Onthou jy nog daardie lui ou droomwoorde van Omar Kayjam: A little while there is talk of the thee and the me, and then no more of thee and me?
“’n Mens vergeet hulle partymaal, weet jy. Ek het hulle ook vergeet toe ek daardie dag nie meer my hartseer kon inhou nie en sommer enigiets gesê het. Enigiets om tog maar dadelik ’n einde te maak aan die lang, lang sterwe van jou vriendskap. Maar die ou Persiese digter se woorde het weer teruggekom. Ek onthou hulle as dit baie stil is om my heen. Ook ander woorde het weer in my dowwe gedagtes deurgesypel soos helder reëndruppels [...]
“En al die ander mooi dinge het weer na my teruggekom, en my hand kom vashou, en my verseker dat niks, niks eintlik (HS se kursivering) belangrik is, behalwe hulle (nie). Ek weet dat dit nog elke dag in waarheid sal groei tot ’n fyn blom met wit-wit wasblare – om heeldag aan te ruik – en rond te dra soos ’n geurige rosekrans. Maklik het ek hiertoe nie gekom nie. Lewendige kole het dit gekos om kaalvoet oor te loop ... Maar ek weet nou dat skoonheid dit dubbeld werd was.
“Toe weet ek meteens. Toe breek al die ou mooi dinge wat ek saam met jou leer ken het, soos ’n somerbui oor my los. Handevol, emmersvol, dammevol, het hulle op my afgereën soos in die ou volop dae: kleure wat laat-middag in die woud-dieptes induik, of stilletjies die see se vloer verperlemoer, of droewig in die verte dool; en klank wat soos ’n reënboog wegsif of kopspeel uit die verte soos malkop brander-rye, en ou bekende woorde soos kerkklok-klanke op die lou aandwind [...]
“My ou-skatkamer-van-stilte het ek weer ontdek. Jy ken die ligte somerbui met die breë swaai en sy wapperende water-rafels, en die stil skatkamer wat altyd met oop arms wag [...] En jy weet ook dat hierdie dinge belangriker is than shooting oneself; dat kleinlike woorde gesê word in groot verdriet. Ek weet dat jy hierdie dinge weet, omdat jy nog na die mooi klanke luister.
“’n Stywe handdruk van Hettie.”
Hierdie “skatkamer” waarvan sy geskryf het, volgens Botha in Rooi Rose, het die ruimte geword waarin sy die res van haar lewe sou bly. Dit is vandaar dat sy hierdie “kamma”-briewe geskryf het wat later Sy kom met die sekelmaan geword het en hierin het sy haar “kerk” gevind.
“Dis kerk. Kerk van musiek, lees, letterkunde, skilder, filosofie en gesels met my soort mense. Hier leef ek in my eie wêreld. En as dit aand word – as die maan en die sterre geselskap word – dan lééf ek!” het sy in ’n laaste persoonlike gesprek aan Amanda Botha gesê.
In 1934 het Hettie nog ’n paar briewe aan Gladstone geskryf waarin sy die pyn van die beëindigde verhouding probeer besweer. Intussen het hy aan haar geskryf oor die ontvangs van sy bundel en ook om haar aan te moedig om kreatief te skryf. Die verhouding is beëindig, maar hy wou nog graag met haar bevriend bly. Hierop het sy op 28 Junie 1934 geantwoord: “Liewe Gladstone, jou briefies was vir my so onmiddellik en so vreemd vanselfsprekend soos die onlogiese gebeurtenisse in ’n droom. Maar ek kan nog nie daarop antwoord nie omdat ek die oorgang van leegte en dorheid so anders belewe as jy; en sulke ander name daaraan gee, omdat al die mooie dinge vir my nog so onafskeidelik verbonde bly aan die lewende mens, as simbool, as middelpunt.
“Maar vir my het [...] blou see, wind en reën en wolke, ook ’n totaal ander betekenis gekry, hoewel ek dit nie as armoede voel nie; dis ’n sifting van waardes wat ontstaan het deur hartseer, deur vernedering, ’n onbewuste onnaspeurbare oorgang tot die duistere stad waar die mense is. Groete, Hettie.”
Die korrespondensie oor die volgende twee jaar het hoofsaaklik oor die uitgee van die “belydenisgeskrif” gegaan (WEG Louw se naam vir die briewe). Hettie het haar toestemming gegee vir die publikasie: “Gladstone, jy kan dit noem wat jy wil ... En uitsny en aanlas as jy so dink. (Net Hessie se sê-goed moet maar so bly, want ek dink nie sy het ooit gejok nie.)”
Gladstone was egter van mening dat Johan nie genoeg om die lyf gehad het nie en toe hy dit aan Hettie genoem het, was haar reaksie: “Hoe om van ‘Johan’ ’n mens te maak, weet ek nie. Hy is ’n mens, en hy’s Johan en sy hande is nie sommer net hande nie. Die maan is net so moeilik om weg te neem, want dit is die oorsaak en die oorsprong van die hele gesanik. Maar eintlik is dit tog maar sommer briewe – sover. Hettie.”
Op 8 November 1935 het Hettie vanaf Prins Albert waar sy skoolgehou het, die manuskrip van Sy kom met die sekelmaan aan Gladstone gestuur met die volgende briefie: “Ek stuur vir jou die Sekelmaan soos ons afgespreek het. Maar Gladstone, die naam bly nog my brief aan jou, en nie ’n boek nie. En wat hulle ook mag sê of wat ook daarmee mag gebeur, jy moet dit nie by jou slimboeke hou nie, maar in die bliktrommeltjie by ander outydse goeterkies bewaar. Hoor?
“En jy sal tog skrik as ek weer opreg sou wees en bv skrywe: Liewe Gladstone, jy dink verniet jy is weg. Gisteraand het jy saam met my onder die maanlig deur die wapperende koringlande geloop. Op die bultjie waar ’n mens wyd oor die waaiende sade kan sien, het jy stilgestaan ... Dan sal ek maar sluit met fatsoenlike groete van jou vriendin Hettie.”
In Rapport van 3 April 2005 skryf JC Kannemeyer oor Ek ken jou goed genoeg – die korrespondensie tussen die Louw-broers vanaf 1936 tot 1939 – en vertel meer oor die uitgeegeskiedenis van Sy kom met die sekelmaan.
Uit die korrespondensie is dit duidelik hoe angstig WEG Louw oor die roman was en hoe traag Van Wyk Louw was om hom daarby te betrek. Kort na sy aankoms in Nederland (Mei 1936) vra Gladstone: “Wie is die persone wat dit al deurgelees het en met die suiwering meehelp?” Hy vra dat Van Wyk hom op hoogte van sake hou omdat hy niks van Hettie hoor nie. Van Wyk het egter nie hierop gereageer nie, sodat Gladstone moet aandring: “Maar skryf vir my [...] veral hoe dit met Hettie se ‘Sekelmaan’ vorder. Dis seker uitgeslote dat ek die ms nog kan sien voor die publikasie daarvan. Ek voel my so afgeslote, so magteloos.”
Van Wyk laat kripties weet dat Smit eersdaags haar boek kom bespreek, maar gee geen nader inligting nie, en Gladstone raak al hoe heftiger: “Hoe ver is julle nou daarmee? Ek sou graag wou weet [...] watter veranderings julle oor die algemeen aangebring het. Gaan dit uiteindelik onder haar naam verskyn, en wat gaan die titel wees? Het julle die laaste gedeeltes [...] weggelaat? [...]Afgesien van my VVB-lidmaatskap, het ek die veel dieper persoonlike belang daarin, ek kan byna sê reg om te weet hoe sake staan.”
Die gepubliseerde slot lui:
“Dankie, my niggie: dis dan die poskantoor daardie, oorkant die kerk gebou. Ek sal hom kry, dankie. Dis baie vriendelik van jou om so ver met ’n vreemde ou oom saam te stap. Goeiendag, my kind. Maar wat is die naam, as ek mag vra? Theron? En werk my dogter ook hier by die winkels? O, nie? En wat se werk doen jy as ek mag vra?
“Ek droom sommer Oom; en ek het lief, Oom.
“Ja, droom en liefhê het ek gesê Oom. Partymaal hou ek skool, Oom. Vyf uur op ’n dag. Maar as die vyf uur verby is, dan het ek lief, en droom maar sommer. Ja, Oom. Ja-nee, dit was glad nie moeite nie. Middag Oom.”
Hier is die oorspronklike slot van Sy kom met die sekelmaan – as Hettie Smit kon gepubliseer het wat sy wou:
“Vir Johan se bruid.
“Ek het maar net gehoor van jou wat hy liefhet, en jy is vir my vaag-mooi soos ’n pêrel, soos ’n feë-prinses met ’n wit sluier uit ’n goue koets. In my drome snags het jy deftige name met groot goue krulletters: Amelia van Deventer of Wilhelmina Josephina Malherbe. Ag, jy moet regtig mooi wees hoor om by my liefste te pas as jy langs hom sit by die vername mense.
“En jy moet jou hande bleek en salf en mooi oppas dat hulle fyn en wit is, as jy vir hom koffie inskink in die ligte middagson of onder die sagte lamplig ...
“Syerig moet jou hare wees, en blink soos goue spinnedrade in die son, met baie meer krulle daarin as myne. Jou neus moet mooi wees hoor – baie reguiter as myne, want my liefste is baie vernaam, en hoe sal jy anders by hom pas.
“Jy moet mooi loop soos ’n koningin, en jou mooi lyf lig-lig dra soos ’n aronskelk wat swaai in die wind, want my liefste is ’n koning en hy verdra niks lomps nie. Soos vereduifies in die bome moet jou stem klink, soos koel fonteinwater wat val, want my liefste se ore is twee bekers van kristal wat alleen ligte, helder wyn kan dra. Ek ken jou nie, maar ek wil jou vir my liefste met duur koningsklere aantrek en in fyn geplooide sluiers vou dat jy soos ’n blom in die son voor hom kan staan, soos ’n wit papawer op ’n ligte stengel.”
Kort na die publikasie van Sy kom met die sekelmaan is Gladstone na Amsterdam vir verdere studie en hy het eers in 1938 teruggekeer. Hy is in 1944 met die komponis Rosa Nepgen getroud.
Elize Botha het in Tydskrif vir Letterkunde van November 1973 geskryf dat Sy kom met die sekelmaan begin met die eerste nog onsekere optekeninge van die gewaarwordinge van die liefde. “Sy wat die dagboek skryf, is Maria, ’n student, en dit is ’n mede-student, Johan, wat sy liefhet. Ons verneem hoe die liefde gegroei het by haar, uit wat ’n vriendskap was, en ’n saam-belangstel in die mooi dinge wat in die studiejare ontdek word, die byna religieuse eerbied vir die skoonheid van musiek en literatuur wat sáám ervaar is; die wandelinge in stad en omliggende natuur wat ontdekkingstogte van die uiterlike dinge én die gees wat dié dinge beleef, geword het. Maar ons leer ken hierdie Maria as tweeledige wese; en hoe verder die verhaal vorder, hoe ingrypender sal die stryd tussen die twee kante van haarself word: Maria die intellektuele, en Marié, wat met die sekelmaan kom, wat eenvoudig en hartstogtelik en naïef en glad nie slim is nie, wat net aanhanklik en sonder vraag of besinning wil liefhê, en haar nie wil laat bedwing deur die koeler oorwegings en nugtere saaklikheid van Maria nie, wat ook nie, soos Maria, tevrede is met die skoonheid van die mymerende liefde nie, maar dit bloedwarm wil ervaar.
“Die besonderhede van die eerste en grootste gedeelte van die verhaal is, opsommend gestel, dat Johan hom uit die vriendskap begin onttrek wanneer dit by haar begin verander; dat hy daarby nog ’n nuwe vriend ontmoet wat in ieder geval haar plek van kameraad inneem in gesamentlike skoonheidservaring, dat sy al hoe meer vereensaam in haar liefde.”
“Die eerste beweging van die boek eindig wanneer sy een stormagtige aand besluit om na Johan te gaan, maar lank voor sy sy huis bereik, het die geweld van die storm haar vermurwe en word sy as ’n ‘hopeloos-ineengestorte wesentjie die huis binnegedra, as ’n sieke’.
“Die volgende dagboekinskrywings word geskryf vanaf Rietvlei, die naam van haar ouers se plaas in die Karoo waarheen die dokter haar gestuur het, asook op Kruitfontein waar sy vir ’n kwartaal met groot plesier skoolhou, omdat dit ’n manier is om, soos sy dit in ’n brief aan haar vriendin Anna stel, ‘’n mens te wees, met ’n vrye wil en verstand, met eie menings en ’n eie seggenskap oor my innerlike gemoedsrus’.
“Maar,” het Elize Botha geskryf, “tussen geesdriftige uitweidings oor die belang wat sy het in die onderwys en die kinders, kruip die naam van Johan, en verwysings na hom weer terug; en as die kwartaal verby is, is sy die ‘simpel plaasniggie’ in haar briewe aan Anna, en kom selfs Marié, sy van die sekelmaan, weer voluit aan die woord in een van hierdie briewe. Marié wys ‘die slimgeit en die geleertentheit’ ten enemale af – ‘As, as ek tog maar my baas was!’ is Marié se versugting. ‘Sal ek nie sonder ’n kaartjie netnou op die Kaapse trein spring nie? Wat kan hulle maak as vir hulle uitlê? Het hulle nie elkeen ook ’n mens lief nie?’”
“Die volgende tydperk in Maria se stryd om met Marié volgens haar eie voorwaardes saam te leef, is dié waarin Maria besluit om eenvoudig haar papierliefde vir Johan te aanvaar; briewe nou aan hóm te skryf sonder dat hy hulle ooit sal hoef te lees; haar liefde te koester in dié een weg wat sy ken: die weg van die woord. Maar ook dit misluk, want sy ontvang weer eendag ’n briefie van Johan waarin hy haar na die bekendstelling van sy digbundel nooi – ‘’n aand wat sy met ekstatiese vooruitsig tegemoetgaan, maar dit is met ’n ander dat hy ná die fees ingehaak by haar verbygaan’. En dit is hierna nie net die hopelose liefde vir hom waaraan sy moet leer om ’n plek in haar lewe toe te ken nie, maar ook die feit van sy wreedheid.”
Elize Botha het afgesluit: “So word Sy kom met die sekelmaan ’n roman oor die allesoorheersende man van die liefde in die lewe van die vrou Maria; word dit bowe-al geen blote karakterstudie en geen bieg nie, maar ’n roman van die liefde.”
Fransie Malherbe het Sy kom met die sekelmaan vir Die Huisgenoot (7 Mei 1937) beskryf as die “brandende uiting van ’n na liefdesgeluk en bevrediging smagtende jong vrou”. “Naas die jeugdige kultus van die smartbewussyn, met sy tiperende verslingeringe, is te stel vir Afrikaans geheel nuwe analise van lyfsbegeerte en liefdesgebrokenheid, soos dit tot ons kom in hartstogtelike aanbidding van die geliefde en veragting van ander, of in smagtende weemoed en tere verlange – ’n weelde van liefdesverlange en hartstog in ’n ooreenstemmende weelde van nuwe beelde.
“Die epiese band wat die verskillende dele aanmekaar hou, is uit die aard van die saak nie te strak nie; wel is daar ’n sekere ontwikkeling in die stemminge, met die tog altyd terugkerende dualisme: Maria wat bewus bo die ‘putgedagtes’ wil uitstyg en selfstandig word, en Marié met haar primitiewe, elementêre drange. Oplossing van die konflik is die skryfster nog nie gegee nie. Wel is aan Maria gegee ’n wonderlike vermoë om vir Marié te peil in naakte eerlikheid; dit gee die artistiek nodige ewewig aan die hartstogtelike kamma-briewe van Marié, soos die dualisme self die spanning aan die geheel gee.”
Malherbe het egter teen die einde van sy resensie gewaarsku teen die gevaar wat daar by “dergelike selfekspressie –selfrepresentation – is, nl om behaagsieke smartvertroeteling te word, te ondiepe Schwärmerei, omtower met literatuur. Waar dit die geval word, ontneem die Schwärmerei aan die belangrikheid van die lewenstryd, omdat dit afdoen aan die heroïese karakter daarvan. Dit is ’n lewende gevaar by dergelike werk – veral as swakker skrywers hierdie voorbeeld gaan navolg – dat dit lig in blote of bloedlose estetisisme verval. Daarheen mag die pas opgewekte bekentenisliteratuur in Afrikaans nie so gou weer verloop nie: dit het nog eers ’n diens om te verrig.
“Intussen aanvaar ons met groot dankbaarheid die sterk en skoon gedeeltes in haar moedige werk as aanvulling in prosa by die indiwidualisme en gebrokenheid van ons jongste digkuns. En ek meen dat die publiek baie geredelik hierdie artistieke versorgde uitgawe van die Vereniging van die Vrye Boek sal verwelkom.”
Die resensent van Die Burger (12 Junie 1937), AC Celliers, het gemeen dat daar van die mooiste stukke prosa in ons literatuur in Sy kom met die sekelmaan is en die bekentenis van ’n jong meisie word dikwels so eg en innig gegee dat niemand die boek ongelees mag laat nie. “Daar is nog dinge wat te slap aandoen en groot kuns, met sterk opstrewende lyn, waar skoonheid uit wysheid opstraal en verkwik, is die werk nog nie en wil dit ook nie wees nie. Maar dis ’n welkome bydrae in sy werklik vormgewende gedeeltes van ’n geslae innerlike.”
AC Celliers het verder geskryf: “Die werk is nog individueel en na binne gekeerd. Maar die skryfster bou haarself daardeur uit. Sy sal nie weer so ’n werk kan skrywe nie. Die volgende werk sal voller en omvattender wees met ’n bietjie meer wêreldwysheid en ’n bietjie minder wêreldsmart. Sy sal haarself dan meer in die mense om haar heen kan projekteer. Waar sy nou estetiese genot skep, in haarself en in ander uit selfbeskouing, sal sy haar blik dan meer na buite rig; as deelnemende toeskouer sal sy dan vir ons toon, agter die masker van die alledaagse lewe, die verborge skoonhede van die wêreld om ons heen.”
In Die Burger van 29 Mei 1937 het Gerrit Dekker as volg oor die boek geskryf: “Met Sy kom met die sekelmaan skyn die vernuwing wat daar in ons poësie gekom het met die werk van die gebroeders Louw en andere, ook sy intog te doen in ons prosa. Dié prosakuns was tot nog toe in die eerste plek en heelbewus, nasionaal-maatskaplik en tot onlangs sterk didakties. [...]
“Met Maria Theron doen ‘die individu’ wat in die, helaas onvolgroeide, konsepsie van Van Bruggen se Bromberg, vaag opgedoem het, sy intrede in ons roman. Hierdie uiters verwikkelde en bewuste, maar tegelykertyd so primêr funksionerende vrou is nie meer, soos die mens tot nog toe in ons kuns was, ’n uit die daaglikse ervaring tot ware menslikheid gegroeide tipe in die skerp geobserveerde werklikheid van sy milieu nie, sy is ’n individualistiese ‘karakter’, geskape deur die diep skouende verbeelding van die skryfster. Selfs al sou hierdie werk ’n outentieke dagboek wees, dan sou dit hieraan niks af of toe doen nie: dan het ons hier die verbeeldingryke vertolking van haar sielservaring deur ’n vrou wat kunstenares is – juis die siening van haar self is dan haar skepping.
“In hierdie skepping lê die dramatiek, die sentrale skoonheid van die boek. Deur haar geestelike verbeeldingskrag het sy van die antiteses, die dramatiese konflik tussen die ewewigtige Maria en die bandelose gevoelsmens Marié, gekom tot ’n sintese. In ’n minder suiwer kunswerk sou ons dit noem knappe tegniek, ’n geniale greep – hier is dit die kern, die siel van die boek, en al die skoonhede van hierdie verhaal vloei daaruit voort, is die noodwendige vergestalting van die Idee. Deur hierdie siening van die antitese-sintese, wat so ryk is aan selfkennis en humor, kan die skryfster uitstyg bo haar skerp introspeksie, wat daardeur nie kon verloop in vervelige gesponnenheid nie. Haar boek het daardeur ook nie geword die sentimentele, lang aangehoue klag van ’n slagoffer wat die lewensleed slegs passief ondergaan nie – trouens, daarvoor is die skryfster te veel verwant aan haar eie skepping, die temperamentele, voortvarende Marié.
“Uit dié sintese groei die groot komposisievermoë en artistisiteit van hierdie dagboek, wat so eenvoudig van bou lyk. Op pragtige wyse is gebruik gemaak van die hoofkonsepsie om direkte weergawe van gemoedstoestande af te wissel met subtiele suggestie van gebeurtenisse waarvan die nugtere vertelling of dramatiese uitbeelding die fyn balans van die boek sou verstoor het, maklik sou kon gelei het tot sentimentaliteit of selfs dwaashede. [...]
“Wat ’n frisse, natuurlike vlotheid, wat ’n onweerstaanbare uitbeelding van die telkens wisselende stemminge van hierdie beweeglike, impulsiewe vrouesiel. Hoe fyn sielkundig en geestig kan sy tussen liriese gedeeltes in, ineens voor die dag kom met ’n raak gekose platjiesagtige spotwoord van Marié! Haar stemminge vervloei van self tot woordmusiek, waarin die natuurbeelde in tere prag helder of droewig versluierd gedroom of in angswekkende grootsheid meesweep met die hewige aksente. Ook in die natuurlikheid, die beeldende krag, die ritmies-musikale vermoë, die fyn gevoel vir die toonwaarde van die woord bring hierdie prosa iets nuuts.”
Hettie is in 1940 getroud met Sarel van Vuuren, wat by die Departement van Landbou in Pretoria werksaam was, en hulle het twee seuns gehad. Haar vader is oorlede voordat Hettie in die huwelik getree het. Hulle is in die NG Kerk Bloemfontein-Noord deur ds AJ Olivier getroud. Sarel se ouers was van Worcester.
Nadat Hettie getroud is, het sy uit die openbare oog verdwyn. Die Van Vuuren-gesin het hulle in Pretoria gevestig. In 1948 het SJ Pretorius ’n besoek aan haar gebring en met die intrapslag het sy hom verras toe sy hom meegedeel het dat sy nie meer goed oor skrywers en skrywery lees nie: “Dit word nou alte vervelig. Ek lees deesdae Reader’s Digest!” (Ruiter, 6 Februarie 1948)
Dit het moeilik gegaan om haar aan die praat te kry oor die letterkunde: “Op die oomblik is ek te besig met my huishouding en my kinders, Danie en Schalkie, wat al my aandag in beslag neem. Elkers kom hier iemand om ’n kortverhaal of so iets te vra, maar as Danie eers met sy Cowboys begin of met Tarzan of die Skim en hy is die held en ek die skurk, dan vergeet ek my hele voorneme om te skryf. Miskien is ek nou in wat Van Wyk Louw genoem het die ‘vet middeljare’!”
Sy het ’n groot voorliefde vir musiek gehad en het aan Pretorius vertel: “Behalwe my baba, is daar nog twee ander dinge wat tel in die wêreld en dit is: eerstens Mozart en tweedens die digter Rilke.” Haar liefde vir musiek kom voor kos en voor godsdiens. Sy het ook musiekklasse by haar huis gegee.
Op ’n vraag van Pretorius hoekom sy die boek geskryf het, het sy geantwoord: “Waarom val die water uit as jy die glas omkeer?
“Ek kry vandag groot lag as terugdink aan daardie dae. Dit was die jeug. Ek sien nie kans om weer so iets te skryf nie. Ek sou vandag baie meer in karakters insit, in die trant van Dickens. Ek het nou my verstand gekry!
“Driekwart van die boek was verdigsel. Jy weet mos wat hulle sê: ‘Art is exaggeration.’ Wat aanleiding gegee het tot die ontstaan van die boek, was ook die feit dat ek ’n proefskrif geskryf het oor die dagboeke van meisies en veral die sielkunde van Spranger het my beïnvloed. Die kritici het baie rondgetas en sommige het beweer dat sekere Nederlandse skrywers van wie ek nog nooit gehoor het nie, my beïnvloed het. Net een persoon het raak geraai!”
Oor die letterkunde het Hettie in 1948 aan SJ Pretorius gesê: “Daar is myns insiens net vier boeke in Afrikaans geskryf, naamlik Ampie, Uit oerwoud en vlakte, Skaduwees van Nasaret en Somer. Ons het vier boeke in Afrikaans. Van die skryfsters moet ek MER noem. Sy is werklik baie simpatiek en sosiaal-belangstellend. Van die ander moet ek eerlik beken ...”, maar verder het sy stilgebly.
“As ek ooit weer iets skryf, sal dit miskien prosagedigte wees. Daarvoor het ek ’n besondere liefde, maar dié lyk my is vandag uit die mode. As ’n kritikus jou wil slegsê, dan sê hy jy is liries.” Van die neiging tot duister skryf in die Afrikaanse poësie hou sy nie. Sy verkies gedigte wat oop en helder is en direk spreek, soos Elisabeth Eybers s’n.
Sy het ’n groot bewondering vir Boerneef en Langenhoven. “Hulle ‘stink’ van die plaas – hul land en hul mense. Langenhoven is verreweg my gunsteling, maar Boerneef se jongste digbundel is wonderlik. Jy kan die plaasmis daarin ruik en die hekkie sien waaroor hy skryf en hy gebruik die stoutste boerwoorde soos ’n mens dink. Hy vermy woorde soos ‘inderdaad’, ‘trouens’ en ‘nogtans’ – dit is spoggerige goeters! Ek is ook maar lief om sous op die taal te gooi.”
In 1964 het sy aan John Moody vertel dat haar boek bo verwagting goed verkoop het, hoewel dit nooit voorgeskryf was nie. Sy het juis van haar outeursfooie ’n duur vleuelklavier gekoop. “Die kinders was kwaad omdat ek ’n klavier en nie ’n motor gekoop het nie, maar ek is hartstogtelik lief vir musiek – veral die komposisies van Bach. Is dit nie wonderlik dat Bach, Beethoven en Brahms alfabeties in waarde is nie? Ek stel nie in ’n motor belang nie, want ek ry met my musiek hemel toe.”
Hettie het in ’n skilder ontwikkel na haar huwelik, maar oorweeg dit beslis nie om ’n uitstalling van haar skilderye te hou nie. Sy het aan John Moody vertel dat sy dikwels die skilderye na ’n goeie vriendin neem om haar raad en ’n eerlike mening te kry.
Hettie het ook ’n hoë dunk van Dolf van Niekerk gehad omdat hy sy vroulike karakters soos vroue kan laat praat, wat nie alle manlike skrywers kan regkry nie. “Mans mis die intieme sêgoed in die kombuis, ook dié van kinders en bediendes. Maar hulle kan darem lekker oor politiek en ekonomie praat!” het sy aan John Moody in Dagbreek en Sondagnuus gesê.
Vir sy proefskrif oor die poësie van die dertigerjare waarmee hy in 1952 die graad D Litt aan die Universiteit van Kaapstad verwerf het en wat in 1953 as Digters van Dertig gepubliseer is, wou DJ Opperman ook graag kennis maak met Hettie, wie se roman stilisties ten nouste aangesluit het by die belydenisverse van die twee Louw-broers en dié van ID du Plessis. Hierdie ontmoeting het in September 1951 plaasgevind in Waterkloof, Pretoria, waar Hettie en haar man gewoon het, vertel John Kannemeyer (Die Burger, 7 Oktober 2000)
Hettie het dadelik aan Opperman gesê dat sy nie meer skryf nie en van die agtergrond van Dertig weet sy nie veel nie: “Ek was slegs vir ’n kort tydjie op die literêre toneel en was in elk geval ’n randfiguur.”
Met die verskyning van Raka en Gestaltes en dier van NP van Wyk Louw, was sy geruime tyd weg van Kaapstad en ’n gewone huisvrou. Hoewel sy nog poësie gelees het soos Opperman se Joernaal van Jorik en Engel uit die klip en groot waardering daarvoor gehad het, het sy nie meer geskryf nie. Sy het gedurende daardie tyd eerder geskilder, maar sy het gehoop om eendag weer te skryf, hoewel sy nie haar man se goedkeuring weggedra het nie: “Met Sy kom met die sekelmaan het ek die boek van die liefde gelewer, maar ek wil nog die boek van die haat skryf!”
Opperman se reaksie was: “Maar dan is dit nog nie uit jou sisteem nie.” Hy het haar aangemoedig om weer te begin skryf en gevra of sy nie iets vir Standpunte, die literêre tydskrif waarvan hy die redaksie-sekretaris was, wil lewer nie. Met ’n vae belofte van Hettie is Opperman daar weg.
By ’n latere geleentheid, vroeg in 1952, was Opperman weer met haar in verbinding en stuur hy aan haar ’n eksemplaar van sy Heilige beeste. Van Hettie Smit se vaag-beloofde bydrae vir Standpunte het egter niks gekom nie.
Op 31 Maart 1952 skryf sy aan Opperman: “My man het my oor die skrywery so lastig geval soos ’n ouderling wat fondse insamel. Ek het hom toe eindelik gerusgestel met die belofte om aan julle ook een van die Mapogger meide wat ek nou verf, te stuur (die Amandebeles hier by Onderstepoort en Derdepoort). Die een wat ek aanstuur, het ek (min of meer) van een van prof Meiring se foto’s af geteken, en is dus nie heeltemal oorspronklik nie. Dink jy so ’n meid wil stilsit as ’n mens haar verf? Ek neem hulle nou maar ook eers af voor ek begin teken.
“Die skryfwerk is almal te dit en te dat vir ’n tydskrif soos Standpunte. Noudat ek alle sentimentaliteit en ‘mooiskrywery’ en onrypheid en adolessente geesdrif uitskakel, is ek so dor soos Van Lennep. Ek sê weer baie dankie vir die groot eer van die versoek om ’n bydrae vir Standpunte, en vir Heilige beeste wat vir my die hele wêreld weer in die regte perspektief laat sien het. Dit het vir my die tronkdeur oopgesluit!”
Opperman het haar kortliks baie hartlik dankie gesê vir die skildery. Hy het geskryf: “Die Mapogger-meisie lyk lieflik, die glimmende kop en vlammende kombers. Hulle laat haar tans raam en wag nuuskierig op haar terugkeer. Met die versending het sy effens ’n knak gekry en een hoekie is beskadig, maar ’n mens sal dit nie kan sien nie. Die tekening waaruit die Mapogger-meisie so skamper loer, is mos ’n vyeblaar of moet ek eerder sê ’n herfsblaar waaragter jy wegkruip.”
Wat van daardie bydrae? Wil sy nie tog maar iets vir Standpunte skryf nie? “Sodra jy iets skryf,” gaan Opperman voort, “moet jy die vrymoedigheid besig om dit dan aan my te stuur.”
Hierdie herhaalde versoek ontlok van Hettie Smit die reaksie: “Jy het nou jou Mapoggermeidjie gekry. En daarmee basta, Dirk Opperman!”
Behalwe vir enkele jeugstukke in Die Huisgenoot, ’n artikel oor “Noodwendigheid (as) vereiste van ’n kunswerk” in Die Brandwag, ’n lokale dorps- en plaasverhaal (“Oom Gawie”), ’n vermaaklike brief (“Oorle’ Breggie skryf aan Jan”) wat opgeneem is in Van mens tot mens (gekeurde briewe) (APB, 1950), ’n bydrae tot PJ Nienaber se Jonger skrywers oor eie werk (1951) en enkele resensies, het Hettie Smit nooit weer gepubliseer nie. Haar literêre roem berus uitsluitlik op Sy kom met die sekelmaan, die unieke belydenisroman van die dertigerjare oor die onbeantwoorde liefde van ’n vrou. Die “boek van die haat” het helaas ongeskryf gebly.
In 1972 is Sy kom met die sekelmaan verwerk tot ’n eenakter met Katinka Heyns wat die rol van Marié “meesterlik” vertolk het. (biografiese skets by NALN)
Oor “Oorle’ Breggie skryf aan Jan” skryf Hennie Aucamp in Die Burger van 1 Junie 1989: “Blithe spirit van Noël Coward vertel die verhaal van ’n man wat deur ’n nogal onnutsige spook, naamlik sy eerste vrou, Elvira, besoek word. Elvira versteur die harmonie van sy tweede huwelik, wat tot die soort komplikasies lei wat so essensieel is vir ’n lekker speelbare komedie.
“’n Mens wonder of Hettie Smit se weergawe van ’n soortgelyke geskiedenis hoegenaamd bekend is. Vir die meeste lesers is Hettie Smit die skryfster van Sy kom met die Sekelmaan; die enkele los dinge wat sy daarna geskryf het, is haas vergete. Ten onregte, sou ek sê. Háár ‘Blithe Spirit’-stuk is uitstekende voordragmateriaal, en kan gerus deur ’n ondernemende dramastudent oorweeg word. Dit heet ‘Oorle’ Breggie skryf aan Jan’ [...]
“‘Oorle’ Breggie skryf aan Jan’ is in briefvorm, soos die titel dit dan ook stel. Dit is terselfdertyd ’n dramatiese monoloog, behalwe dat die woord ‘dramaties’ hier effens uit die pas val, aangesien die teks uitbundig en aards is, met fel satiriese trekke.
“Oorle’ Breggie neem onder meer vanuit die hiernamaals wraak op haar pedantiese man, maar hierdie wraak is eweseer van toepassing op almal wat ’n ontmensde Afrikaans praat en aan die holier than thou-sindroom ly. Hier volg ’n gedeelte wat Smit se satiriese aanslag ten beste illustreer: ‘Die ander hier, veral dié wat lankal hier woon, het nogal iets van jou gebare en stembuiging: die irriterende kalmte en gebrek aan openlike geesdrif vir enigiets, die verlammende beterweet en waardige stilte. Die taal hier kom opvallend baie ooreen met joune. ’n Mens word byvoorbeeld so aangespreek: ‘Talle geeste alhier, het aanvanklik in dieselfde toestand as u verkeer. Ter bekwamer tyd sal u ook dermate vergeestelik dat u alle herinneringe soos ’n kleed sal afwerp en in ’n nuwe gedaante te voorskyn sal tree.’ (Waar ek sou sê: Baie spoke hier was vroeër ook so koppig soos jy. Later sal jy ook so spook word dat jou flennienaghemp vir jou soos ’n chiffon-aandrok sal lyk.)
“‘Weet jy Jan, die lang wit naghemde wat hier gedra word, sal jou, met jou bleskop, mooi pas. Vir my is dit besonder lastig wanneer ek wil gaan stap, want oprol tot by die knieë en vasbind, is hier uit die kwessie. Nouja, hoe moet ’n mens nou vinnig stap met so ’n gewaad om jou bene? Swewe, sê hulle; maar ek is glo nog te jonk en te verknog aan die vastheid van die aarde om sommer so in die lug rond te trap. Nou stap ek maar saam met jou, as die stilsit my partymaal baasraak - en dan wil jy nie eers my voetstappe hoor nie!’ Met dié passasie is én Breggie én Jan ten voete uit geteken. Breggie is lief vir die aarde en sy geneugtes; Jan is nagenoeg afgestomp vir al die sintuiglike weelde om hom.
“Breggie voel ’n enkele keer besorg oor Jan, byvoorbeeld waar hy ‘soos ’n groot, moeë kind’ na musiek sit en luister. Maar haar eintlike besorgdheid is oor haar kinders, selfs oor die enetjie wat nie haar eie is nie, maar Jan se kind by sy nuwe vrou. Jan se nuwe vrou is ’n aktrise. Breggie verwys spottend na haar as Desdemona en as Lady Macbeth. Wat sy die aktrise nie kan vergewe nie, is dat sy die kinders en die werfhond so verwaarloos. Die kinders se klere is verslete en hulle eet nie genoeg nie. Die hek lê oop sodat hulle op straat speel, waar Breggie in haar spookgedaante moet ingryp, of een kind was onder ’n motor. ‘Oorle’ Breggie skryf aan Jan’ het, naas robuuste humor, ook teer momente, soos in die toneeltjie waar Breggie van haar verlange na haar seun Pietie vertel: ‘Ek moet my tot die uiterste inspan om saans te wag totdat hy slaap voordat ek sy handjie vashou of sy haartjies streel of die liewe, dowwe droëperskegeur agter sy oortjies diep inasem en opsnuif.’
“Soos Elvira in Blithe Spirit, is ook Breggie ondeund; maar anders as Elvira, is sy desperaat ondeund. Sy steek ’n brief onder haar man se kopkussing weg; sy stap langs hom, sodat haar voetstappe hom kan ontstel. Maar al wat sy wil sê, is dat dit nie goed gaan met haar kinders nie. Nee, dis ook nie heeltemal al nie. Dié teks sê, soos min ander in Afrikaans, dat die lewe goed is en die aarde en sy doodgewoonste mense en dinge wonderbaarlik. Iemand soos PG du Plessis behoort ‘Oorle’ Breggie skryf aan Jan’ vir TV te verwerk. Daar lê ’n Blithe Spirit opgesluit in hierdie lewenskragtige teks.”
Hettie Smit is op 13 September 1973 in Pretoria oorlede.
Na haar dood het Kalie Heese aan Joan Kruger van Die Vaderland (15 September 1973) vertel dat hy die man was wat haar aangemoedig het om Sy kom met die sekelmaan te skryf: “In 1932 het ek Hettie as ’n jong tweedejaarstudent aan die Universiteit van Kaapstad leer ken terwyl ek aan die Teologiese Kweekskool gestudeer het. Ons het mekaar leer ken deur middel van ’n briefwisseling wat binne ’n paar weke sou uitloop op die uitpraat van die mees intieme gedagtes van twee jong vriende. Kort daarna het ons persoonlik ontmoet en was dit wedersyds vir ons duidelik dat ons nie verlief sou raak op mekaar nie. Maar ons platoniese vriendskap het uitgegroei tot ’n dieper meelewing wat deur die jare gebly het.
“Sy was hartstogtelik lief vir alles wat mooi en goed en opreg is, en het baie vroeg begin dweep met mense wat hierdie dinge vir haar kon ontsluit. As skooldogter het sy reeds dagboeke geskryf waarin sy dweep met haar onderwyser in Engels en hom plegtig in die nag gaan begrawe toe sy verneem dat hy gaan trou.
“Op universiteit het sy die jong student WEG Louw ontmoet en geleidelik het ’n tweestryd in haar ontbrand. Sy het heelhartig opgegaan in sy soeke na skoonheid in musiek en skilderkunde en veral in die egte, die gelouterde woord. Maar spoedig het sy gewaar dat sy ook ’n dogter, ’n wordende vrou is en het as sodanig ’n eenvoudige, maar sterk liefde vir hom ontwikkel.
“Teen hierdie tyd was ons twee se verhouding en korrespondensie van so ’n aard dat ek, die jong student in sielkunde, kon dien as biegvader vir haar. So het dit gekom dat ek ‘Anna’ in Sy kom met die sekelmaan geword het. [...] Ons het huisvriende geword toe ek met Hester de Swart en sy met Hannes van Vuuren getroud is en het mekaar af en toe deur die jare gesien. En altyd was dit vir my ’n wonder van die vriendskap dat ons verhouding so natuurlik en menslik kon bly.”
Ook na haar dood in 1973 vertel J Smuts in Die Huisgenoot van 26 Oktober: “Ek was destyds as vertaler verbonde aan die Sentrale Vertaalburo van die Staatsdiens en sy het lid van die personeel geword. Dit was ’n ander vrou as dié Marie van Sekelmaan. In die huwelik en moederskap het sy klaarblyklik bevrediging en geluk gevind.
“Hoewel teruggetrokke van geaardheid het daar tussen ons spoedig ’n vriendskap ontwikkel. Moontlik het die feit dat ons oud-studente van dieselfde universiteitsdepartement was, daartoe bygedra. Ons gereelde gesprekke op kantoor het vir my veel beteken en ek het haar leer ken as ’n vrou met ’n skerp intellek, ’n fyn ontwikkelde gees en ’n wye belangstelling. Veral die letterkunde en musiek was vir haar ’n hartstog.”
Smuts het geskryf dat haar openhartige ontboeseminge vir hom interessant was. “Ná sy sowat twee maande by die Vertaalburo was, het sy eendag aan my gesê: ‘Weet jy, hierdie werk is vir my ’n openbaring. Ek het gedink ek ken die Afrikaanse taal, maar ek besef nou dat ek maar ’n klein gedeelte van die woordeskat ken. Ek kry ’n nuwe insig in die struktuur van die taal. Dis ’n ware leerskool.’ ’n Paar maande later het sy weer by my gebieg. ‘As gevolg van hierdie vertaalwerk kan ek nie meer ’n letterkundige werk in Afrikaans geniet nie. Ek is so krities ingestel op die taal dat ek oral taalfoute raaksien of onbeholpe taalgebruik.’ Is dit miskien waarom sy afgesien van enkele kortverhale niks meer geskryf of altans gepubliseer het nie?
“Ek het ’n ander sy van haar karakter leer ken. Sy was glad nie so selfbewus as wat ek gedink het nie en kon met haarself spot. So vertel sy my op ’n dag dat toe haar eerste kind gebore is, sy baie bekommerd was oor die moontlikheid dat hy haar ‘gansstem’, soos sy dit genoem het, geërf het, maar anders as die gewone pasgebore babatjies het hy geen geluid gemaak nie. Toe sy die spanning nie meer kon uitstaan nie, het sy hom toe geknyp.
“‘Dit het die verlangde uitwerking gehad,’ vertel sy my, ‘maar ongelukkig het hy nie weer opgehou huil nie.’
“Ek het ontdek dat sy prakties aangelê is. Ná ’n rukkie by die Vertaalburo het ek opgemerk dat sy elke dag met ’n kardoesie werk toe kom. Toe ek haar eendag vra wat daarin is, sê sy dat daar sand in is. ‘Tog seker nie vir gebruik in plaas van kladpapier nie?’ vra ek. ‘Nee, dis my ammunisie in my stryd teen die skoonmakers. Ek het verskeie kere gekla dat my lessenaar nie afgestof word nie. Dit het nie gehelp nie. Nou strooi ek sand oor my lessenaar aan die end van die werkdag, dan moet die skoonmaker my lessenaar behoorlik skoonmaak anders is dit darem te in die oog lopend.’
“Toe sy haar tweede kind verwag, het sy die diens verlaat. Ek het na die Boland teruggekeer en tot my spyt nooit weer met haar in aanraking gekom nie.”
In 1996 het FIJ van Rensburg Volksblad van 17 Julie geskryf dat Sy kom met die sekelmaan een van die mees miskende boeke in Afrikaans is. In sy artikel konsentreer hy op die rol van die weerhouding van ’n literêre prys, en wel dié van die Hertzogprys wat nie aan Sy kom met die sekelmaan toegeken is nie. “Enigeen wat al met literêre prys-toekenning te doen gehad het, weet hoe moeilik literêre beoordeling in werklikheid is. Wesenlik gaan dit om ’n vergelyking van unieke individue, dus van ongelyksoortiges, wat jou in laaste instansie sonder norm en daarmee slegs met ’n persoonlike wiggelroede laat. As die basies moeilike taak egter nog met faktore van ’n meer persoonlike aard, soos vooroordeel teen die skrywer, of met dinge soos ideologiese oorwegings verstrengel raak, is mistasting byna onvermydelik. In 1939 moes Sy kom met die sekelmaan die Hertzogprys vir prosa gekry het. Dis nie ’n geval van dat sy die prys ‘verdien’ het nie. Dit het aanspraak daarop gehad. Die Akademie se letterkundige kommissie het dit naamlik vir bekroning by die Akademieraad aanbeveel. Die Raad het egter bedenkinge gehad en wal gegooi, sonder dat die presiese besware ooit amptelik bekendgemaak is.
“In die eerste plek was daar die klaarblyklike gevoel: Dit is ’n debuutwerk. Hoe weet ’n mens of dit dalk nie by die een enkele boek gaan bly nie? Met die Hertzogprys wil die Akademie immers ook aanmoedig. (Dit was nog voor die Eugène Maraisprys ingestel is.) ’n Skrywer is dus in hierdie geval in oorweging geneem, nie ’n boek nie. In die tweede plek: Dis ’n onkonvensionele boek, heeltemal buite die raamwerk van die Afrikaanse prosa tot op daardie tydstip – ’n roman saamgestel uit dagboekinskrywings. Die dagboek het dus vir die besluitnemers vooropgestaan (‘die estetiese vertroeteling van persoonlike gevoelens’), terwyl die roman in die dagboek misgekyk is. En dit een van die fynsinnigste romans in Afrikaans, die soort binnekamerroman waaraan Karel Schoeman die Afrikaanse letterkundige wêreld later gewoond sou maak. Dit was ’n pionierswerk, sy tyd ver vooruit.
“In die derde, maar dan die belangrikste plek: Hoe kan jy gerespekteerde ouer skrywers soos DF Malherbe en CM van den Heever, albei reeds vantevore deur die Akademie belouer – eersgenoemde selfs twee keer – verbygaan, en ’n jong Dertiger, en boonop dié se heel eerste werk, bekroon? Dis tog ondenkbaar. Ter gerusstelling van die publiek: As die Raad die aanbeveling van sy letterkundige kommissie nie sou aanvaar nie, sou dit glad nie as ’n bewys kan geld dat hy die jong, opkomende Dertigergeslag misken nie. Hy het immers reeds twee keer vantevore Dertigers met die Hertzogprys vereer: WEG Louw in 1934 met Die ryke dwaas, Van Wyk Louw in 1937 met Die halwe kring. Toegegee: Dit het met die ‘uiterste, uiterste omsigtigheid’ plaasgevind: deur eersgenoemde saam met die ouere Totius en Leipoldt te bekroon, laasgenoemde saam met die konvensionele ID du Plessis. In die geval van die Hertzogprys ‘moet ’n mens immers rekening hou met die volksgevoel’. ’n Uitkoms uit ’n baie lastige dilemma moes dus gevind word. Na die spreekwoordelike ‘ryp beraad’ is besluit dat Malherbe die aanvaarbaarste oplossing sou wees.
“Enigeen met ’n mate van kennis van literêre sake het egter besef dat Die profeet, die enigste boek van Malherbe wat op die tafel was, nie die paal kon haal nie, op die minste nie op sy eie nie. Dit sou, om net een faktor te noem, hoegenaamd nie verantwoord kon word teenoor CM van den Heever se twee goeie boeke, Kromburg en Kruispad, nie. En so het dit gebeur, sonder begeleiding van trompette en simbale, dat Saul die worstelheld wat met die vorige bekroningsgeleentheid (1936) nie die paal kon haal nie (Toiings en Pelgrims van Mikro het toe die prys gekry), en dus nie meer in ’n volgende periode kon meeding nie, rustig by Die profeet ingehaak het, en saam die prys vir Malherbe verower het.
“Dis waarskynlik die swartste bladsy in die Akademie se bekroningsgeskiedenis. Met die bekroning is nie alleen ’n onreg teenoor CM van den Heever gepleeg nie, maar is ’n eersterangse skryfster (is die Afrikaanse taal tot op daardie tydstip in sy geskiedenis al ooit so gevoelig en veelsydig bespeel soos in haar boek?) se literêre moed waarskynlik ’n onherstelbare knou toegedien. Wat literêr van haar oorgebly het, is ’n gepubliseerde kortverhaal en ongepubliseerde fragmente van ’n roman wat nooit voltooi is nie.
“Die geskiedenis het Sy kom met die sekelmaan egter genadiger as die Akademie behandel. Kundiges op tersiêre voorskryfkomitees was daarvoor verantwoordelik dat die boek sedert 1937 vyftien drukke beleef het, die jongste in 1990, met ’n gesamentlike oplaag van byna 25 000. Dit is nog steeds op die winkelrakke. En die einde daarvan is nog steeds nie in sig nie. Daarvoor behoort die huidige belangstelling in feministiese literatuur op die minste vir die komende tyd te sorg. ’n Boek wat soveel wesenlike dinge in verband met die vrou uitgesê, nee: gedramatiseer het, bereik nie maklik sy einde nie.”
Huldeblyke
- J Smuts, letterkundige: “Vir my en die talle ander op wie se jeugdige gemoed haar werk so ’n sterk indruk gemaak het, sal Sy kom met die sekelmaansteeds ’n herinnering bly aan ’n vroeë vreugde wat ons in die letterkunde gevind het, ’n blydskap soos nuwe sneeu, om ’n beeld van Van Wyk Louw te gebruik.” (Huisgenoot, 26 Oktober 1973)
- Kalie Heese, vriend: “Sy kom met die sekelmaan is nie ’n sentimentele verbeeldingsvlug van ’n ongebalanseerde jong meisie nie; vir my is dit een van ons eerste sielkundige romans, wat die gemoedstryd uitbeeld van ’n wordende jong mens, as soeker na wat mooi en waar en goed is en van ’n wordende jong vrou wat elementêr liefhet. Ek ag dit as een van die groot ervaringe van my lewe dat ek in daardie jare vir Hettie Smit kon dien as terapeut in die ware sin van die woord. [...] Nou is sy Huis toe. En ek groet haar met ’n innige: ‘Tot weersiens, Hettie.’” (Vaderland, 15 September 1973)
- Elize Botha, letterkundige: “Sy kom met die sekelmaan is in ’n paar opsigte ’n unieke boek. Dit was naamlik die enigste boek wat Hettie Smit geskryf het, terwyl so ’n sterk, belowende begin eintlik verdere publikasies sou laat veronderstel. Dit is nog, in die vorm daarvan, enig in sy soort in Afrikaans, hierdie sogenaamde biegroman, wat met soveel verskillende middele sy verhaal vertel – deur dagboekaantekeninge, deur briewe, gepos en nie gepos nie, deur gerapporteerde gesprekke, om maar ’n paar mededelingsmiddele in die roman te noem. Miskien mag ’n mens ook beweer dat dit die enigste prosawerk van die dertigerjare was wat só naby aan die poësie van daardie tyd gestaan het, in die fyn en verfynde hantering van die woord, in die skryf óm en ter wille van die skoonheid van die woord. Oral in die boek merk mens getuienis hoe naby hierdie roman in sy tema én sy vormgewing aan die hele Beweging van Dertig in die poësie staan: die belangstelling, nee, die hartstog vir die skoonheid van literatuur en musiek, die wil om die skoonheid raak te sien in sy verskillende verskyningsvorme in natuur en in menselewe.” (Tydskrif vir Letterkunde, November 1973)
- André P Brink, skrywer van Sestig: “Die sekelmaan was op sy dag sonder voorganger in Afrikaans, en het vandag nog geen direkte afstammelinge nie: maar dit was geen steriele verskyning nie. Die doelbewuste wégkeer van ’n tradisionele epiese aanslag in die roman, die verbete toespits op die binnelandskappe van die ‘ek’, die doelbewuste begeer van alle ‘reëls’ van die ‘well-made novel’, en die poging om in en deur die taal self die dieper geledinge van die struktuur te bepaal, maak daarvan ’n werk waarsonder byvoorbeeld die vernuwing van Sestig net ’n ietsie moeiliker denkbaar sou gewees het.” (Die Burger, 19 September 1973)
- Van Zyl, Wium: “‘Die reën drup, drup, drup, en jy kom nie.’ Met dié enkele dagboeksin vat die karakter Marié haar toenemende liefdesverlange saam in Hettie Smit se opspraakwekkende roman uit die jare dertig, Sy kom met die sekelmaan. Smit sorg hiermee vir die Afrikaanse prosawerk wat die sterkste aansluit by die poësie van die digters van Dertig. [...] Smit bied met hierdie roman nie slegs nuwe rigting vir die Afrikaanse prosa nie, maar sorg vir ’n werk wat deur etlike geslagte lesers gekoester sou word.” (Die Burger, 4 September 1999)
Publikasies:
|
Publikasie |
Sy kom met die sekelmaan |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
0624021335 (hb) |
|
Uitgewers |
|
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Artikels oor en deur Hettie Smit
- Aucamp, Hennie: “Oorle’ Breggie” is ’n teks bestem vir televisie. Die Burger, 1 Junie1989
- Bekende skryfster word skilderes. [bron onbekend], 1954
- Botha, Amanda:
-
- ’n Brief aan sy bruid. Insig, November 2001
- Rooi Rose, Februarie 2003
-
- Botha, Elize: Ter nagedagtenis aan Hettie Smit. Tydskrif vir Letterkunde, November 1973
- Brink, André P: By die dood van Hettie Smit. Die Burger, 19 September 1973
- Deftige [Van Vuuren-huwelik]. [bron en datum onbekend]
- Hattingh, Toetie: Hettie Smit [brief]. Kakkerlak, 2006
- Heese, Kalie: Die geheim agter Hettie se boek. Vaderland, 15 September 1973 [datum is baie dof op knipsel]
- Hettie Smit oorlede. Beeld, 12 September 1989
- Hugo, Daniel:
- Kaapse skrywer sterf: Hettie Smit oorlede. Die Burger, 14 September 1973
- Kannemeyer, John:
-
- Dirk Opperman, Hettie Smit en die Mapogger meisie. Die Burger, 7 Oktober 2000
- Tussen die reëls: ’n Onbeantwoorde liefde. Rapport, 3 April 2005
-
- Loots, Sonja: ’n Onbeantwoorde liefde. Rapport, 3 April 2005
- Moody, John: Hettie (Sy kom met die sekelmaan) Smit breek haar stilswye. Dagbreek en Sondagnuus, 7 Junie 1964
- Pretorius, SJ: ’n Besoek by Hettie Smit van die “Sekelmaan”. Ruiter, 6 Februarie 1948
- Skryfster Hettie Smit – oud en getroud. Transvaler, 12 Junie 1970
- Skryfster van beroemde roman word skilderes. [bron onbekend], 19 Junie 1954
- Smit, Hettie:
-
- Die “omgesukkelde Mikro”. Huisgenoot, 30 Julie 1965
- Die pen en die penseel: Noodwendigheid die vereiste van ’n kunswerk. Brandwag, 28 Januarie 1938
- Die vertelling in die prosa van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging. MA-tesis, Universiteit van Kaapstad
-
- Smuts, J: Die sekel kom met die volmaan. Huisgenoot, 26 Oktober 1973
- Stöckenström, Boy: “Sekelmaan” op Prins Albert geskryf [brief]. Dagbreek en Sondagnuus, 31 Mei 1964
- Van Zyl, Wium: Venster op die sekelmaan. Die Burger, 4 September 1999
Hettie Smit se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


Foto: Openbare domein,
Kommentaar
Dalk is my teks ook interessant vir die lesers:
III. Buitentekstuele xenofanie: genre/gender, canon
III.1. De spiegel van het boek - Sy kom met die sekelmaan van Hettie Smit
[in:] Jerzy Koch, "Outsider onder de zijnen. Vormen van xenofanie in de Afrikaanse roman" Wrocław 2002; aanlyn - https://www.dbnl.org/tekst/koch003outs01_01/koch003outs01_01_0004.php