Het Vroom of regsinnig? enige besondere betekenis vir die sekulêre geskiedskrywing oor Suid-Afrika?

  • 0

Brümmer erken in sy verantwoording dat hy hom moes afvra waarom hy hom ná 45 jaar as godsdiensfilosoof aan die Ryksuniversiteit in Utrecht aan ’n kerkgeskiedenis durf waag.

En ék moet mý afvra hoekom ek as ’n sekulêre historikus dit waag om ’n boek van hierdie aard te probeer bespreek. Die antwoord is natuurlik eenvoudig: omdat ek gevra is wat ons, sekulêre historici, sê oor die tema van die boek en die uitgebreide bespreking van die besonderhede van debatte tussen teoloë, oorwegend Stellenbossers, tussen 1859 en 1932. Het hierdie teologiese debatte enige besondere invloed op die verloop van die Suid-Afrikaanse geskiedenis uitgeoefen? Anders gestel: Sou die land se geskiedenis daarsonder anders verloop het?

Vir iemand wat al ‘n bietjie oor die geskiedenis van Stellenbosch geskryf het, word die opdrag interessanter en moeiliker as Brümmer self erken dat die boek in ’n sekere sin ‘n soort familiegeskiedenis is. Sy vader was immers die bekende NJ Brümmer, eerste professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch, en sy oupa aan moederskant die bekende professor in teologie aan die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch, JI Marais. Om dit nog lastiger te maak skryf Dirkie Smit in sy voorwoord dat Brümmer nie geïnteresseerd is in datums en gebeure nie, maar in “intellektuele strome, invloede, gesprekke, debatte en konflikte ... eerder in die tradisie van intellectual history”. Dit is nie te betwyfel dat die boek ’n belangrike bydrae lewer tot die geskiedenis van die NG Kerk nie, maar lewer dit ’n bydrae tot die geskiedenis van Suid-Afrika of van die Afrikaner? Hoeveel aandag het gewone mense, lidmate van die kerk, aan hierdie debatte gegee?

Die antwoord is stellig te vind in die woorde van BB Keet tydens die Du Plessis-verhoor in 1932. Hy verklaar dat die gewone lidmate weinig kennis van die debatte geneem het, want hulle “neem die Bybel aan net soos dit is en sal selfs so ver gaan om te sê dat die Bybel daar is net asof dit so uit die Hemel gekom het”. As Bennie Keet vandag moes praat, sou hy ’n totaal ander oordeel uitgespreek het, soos die uitgebreide openbare polemieke oor godsdienskwessies in die nuusblaaie en op die webwerwe duidelik aantoon. Daarom is dit goed om die boek saam te lees met die boeke van Johan Kinghorn, Ferdinand Deist, Jaap Durandt en talle ander.

Daar is soveel te sê oor die mense oor wie die boek gaan buite die kerklike verband wat veel sou bydra om hulle denke te belig, byvoorbeeld NJ Hofmeyr se werk onder die jongmense van Stellenbosch en die armblankes, JI Marais se reuse-rol as voorsitter van die Raad van die Victoria Kollege om ’n Afrikaans-Hollandse universiteit op Stellenbosch tot stand te bring, Adriaan Moorrees se groot rol in die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en die Kweekskool-professore se groot rol in en na die Anglo-Boereoorlog, tydens groot politieke verdeeldhede en in die vestiging van ’n Hollands-Afrikaanse universiteit op Stellenbosch. Nie een van hierdie sake is op enige wyse regstreeks deur hulle teologiese debatte beïnvloed nie. Die stryd tussen geloof as iets eksistensieels en geloof as openbare oortuiging het nie in hulle openbare werksaamhede die gang van sake beïnvloed nie.

Daarom kan die historikus nie anders nie as om die uitsprake op bladsy 232 met groot versigtigheid te benader. Brümmer verwys hier na Ferdinand Deist se uitspraak na twee sosio-ekonomiese faktore wat ’n groot invloed op die kerk se fundamentalistiese denke sou uitgeoefen het, naamlik die sosiale, ekonomiese en politieke gistings wat tot ’n ernstige gebrek aan sekerheid gelei het en Afrikaner-nasionalisme wat hom teen die konsiliasiepolitiek van Smuts en Botha verset het. As ’n mens in aanmerking neem dat die mense wat in hierdie boek bespreek word, heeltemal verskillende rolle op hierdie twee gebiede gespeel het, dan word die historikus se versigtigheid vir godsdienstige veralgemenings onderstreep. ’n Historiese studie van byvoorbeeld Marais, Hofmeyr, Moorrees, Keet, DF Malan en ander se rol in hierdie tyd maak die historikus waaksaam oor sulke uitsprake.

Al het hierdie debatte eintlik by die gewone lidmate verbygegaan, is dit belangrik met die oog op die latere geskiedenis dat die historikus wel deeglik kennis sal neem van hierdie boeiende en insiggewende boek. Brümmer se gevolgtrekking (bladsy 243) is dat, ten spyte van die heftigheid van die debatte, veral met die Du Plessis-saak, die kernkwessies reeds “dwarsdeur die geskiedenis wat ek in hierdie boek beskryf”, ’n rol gespeel het. Daar is min werklik nuut onder die son – wel dramaties nuwe maniere om ou kwessies te hanteer.

Lees ander bydraes in die seminaar.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top