
Foto: Canva
Het jy?
Jy het elke golf gery
jou elke wens gekry
harte verower
versamel
vertrap
jy was die kat in kat-en-muis
bene wat jou eens gedra het
na haar
én haar
en háár
nou leweloos in jou rolstoel-tronk
jou mond herinner
aan ’n half-geëete mieliestronk
– ek voer jou sop.
jou skerpe tong spoeg nie vuur
net gryswit oë wat tuur
ons tyd van lyding stil,
geen praat
sy merk gelaat
het jy toe jou pot van goud
kon vind, my lief?
het jy jou elke wens gekry?
jy hét immers elke golf gery.

