Dit was iewers in die vroeë neëntigs. Ek kan nie veel van die geleentheid onthou nie, maar helder soos ’n trom-solo op ’n doodstil nag onthou ek die onderwerp. Mans. Ongeskikte mans. Onbeholpe mans. Mans wat hul vroue soos verlepte wilde-als behandel, en vroue wat slagoffers is van mans se onvermoë om hul gevoelens te lees.
Die hoofspreker was ’n geskeide vrou, en haar haat vir haar eks het soos arseen op ons koppe gereën. Daar was een alleen en baie beslis dapper man in die gehoor, maar elke keer as hy sy mond wou oopmaak, nogal met ’n opinie ten gunste van vroue, is hy totaal verskree.
Dit was veral die stories oor vuurspuwende huwelike wat my onkant gevang het. In stede daarvan het ek ’n kalm bespreking met goed-gefundeerde statistieke oor die wanbalans in vroueregte verwag. Wat my egter die meeste dwars in die krop gesteek het, was die onophoudelike emosionele katarsis wat die vergadering gekenmerk het, met ’n totale afwesigheid van positiewe insette oor hoe om die situasie op te los of ten minste te verbeter.
Dit het my laat wonder oor die aard en relevansie van feminisme deesdae. Moet ’n mens ’n mannehater wees om ’n volbloed-feminis te wees?
’n Artikel deur die Skotse rubriekskrywer Keith Aitken in International Express het die vraag versterk. Hy verwys na die feit dat Margaret Thatcher as feministe-ikoon uitgebeeld word in The Iron Lady, ’n film oor haar lewe, maar tog was sy traag om vroue in haar kabinet aan te stel. Was haar voorbeeld as ystervrou en haar magsposisie in die wêreldpolitiek nie genoeg nie? En doen haar gelukkige huwelik met Dennis Thatcher afbreuk aan haar beeld as feminis?
Een ding is seker: mens kan maar opgee om duidelikheid hieroor te kry. Die Merriam-Webster omskryf feminisme as die teorie van politieke, ekonomiese en sosiale gelykheid van die twee geslagte. Met so ’n breë definisie is dit omtrent onmoontlik om dié begrip netjies in ’n blik te druk.
Dus kan mens redeneer dat enige vrou wat sterk standpunt inneem, inherent as feminis kwalifiseer, ’n vrou wat as rolmodel van verandering vir ander vroue dien, of dit nou deur middel van haar pen, woord, daad of die werkplek is. ’n Siening waarmee stoere Westerse feministe glad nie saamstem nie.
Tog het feministe niks noemenswaardigs bygedra sedert die sewentigerjare nie. ’n Vinnige terugblik dui aan dat daar in die Weste, sedert die einde van die 19de eeu tot in die sewentigerjare, ’n tydperk van spoedige vooruitgang vir vroueregte was.
Alreeds eeue gelede was daar die Amazones uit die Griekse mitologie, en heldinne soos Jeanne d'Arc. In die laat 18de eeu is fyner spore getrap deur vroue soos Jane Austen, die skrywer van Pride and Prejudice, wie se karakters, hoewel hoër middelklas met die enigste vooruitsig om te trou, almal sterk vroue was wat vlymskerp sosiale kommentaar gelewer het. Ook Virginia Woolf het in die vroeë 1900’s, as deel van die Bloomsbury-skrywers in Engeland, groot teenstand gebied teen die feit dat vroue nie in biblioteke toegelaat is nie.
Onvergeetlik is die suffragettes van Engeland onder leiding van Emmeline Pankhurst wat reeds in 1872 begin betoog het en eers in 1928 gelyke stemreg vir vroue verwerf het. Vroue het hul ook onderskei tydens die Eerste en later die Tweede Wêreldoorlog, waartydens hulle onder andere as onstuitbare spioene, vlieëniers en paramedici gewerk het.
Na die oorlog-era van familieskeuring was daar in die vyftigerjare ’n hunkering na tradisionele gesinswaardes. Die man was weer eens ferm hoof van die huisgesin, en die vrou se plig was om hom gelukkig te hou. ’n Laagtepunt vir die feminisme.
Net toe dit lyk asof vroue soos motte in die kombuis vasgevang sou bly, tref die hippies die Westerse wêreld. Weg is geblomde rokke en gestyfde voorskote. Nou kon vroue jeans en lang armhare soos ’n magskreet dra. Vrede en vrye liefde was die mees gesogte geregte op die spyskaart. In dié tyd het vroue sterk politieke standpunt ingeneem, vroue soos Jane Fonda wat kapsie gemaak het teen die Viëtnamese oorlog.
Daarna volg ’n tydperk waar vrydenkende vroue kliphard vir gelyke regte in die huis en werkplek geveg het. Die prominentste feministe van dié tyd was meestal ongenaakbare aktiviste wat mans verag het.
“Verbrand julle bra’s!” skreeu Barbara Lipschutz in die laat 1970’s, en maan vroue selfs dat omgang met enigiemand, manlik of vroulik, ’n bedreiging vir vroue se onafhanklikheid is.
Andrea Dworkin, ’n radikale feminis en spreekbuis van die antiprostitusie-beweging gedurende die ‘70’s en ‘80’s, het geglo dat vroue wat aan pornografie of skoonheidskompetisies deelneem, seksobjekte is wat deur mans uitgebuit en verneder word, objekte wat hulself blootstel aan verkragting en misbruik. Haar opinie gee tot vandag toe nog die toon vir aartsfeminisme aan.
Maar toe verskyn Camille Paglia, die antifeministe-feminis, op die toneel, en alles waarvoor feministe so hard gewerk het, word omvergegooi. Vroue, sê sy, moet weg beweeg van hul slagoffer-mentaliteit en nie mans vir alles blameer nie. Elke vrou het die reg om te besluit wat sy met haar liggaam wil doen. Dit het groot opspraak gewek, nie net onder fundamentele feministe nie, maar ook onder menseregte-kampvegters wat bekommerd was oor kinderpornografie en jong kinders wat in prostitusie beland.
Tog het daar na Paglia se uitlatings ’n ommekeer in feminisme plaasgevind. Geleidelik het sexy vrou-wees weer ’n plek gevind, of selfs “slet-feminisme”, populêr gemaak deur amper-kaal musikante soos Madonna en Lady Gaga. Vroue kon weer hul kurwes waardeer, selfs paaldans, vroue wat hul vrou kon staan en nie met mans hoef te kompeteer nie.
’n Onlangse opname in Engeland wys hoe die sentiment verander het. Met ’n wye keuse, van die internet tot selfone, het vroue die “push-up bra” as die beste uitvindsel van die 21ste eeu aangewys.
Maar geharde feministe soos Ariel Levy (Female chauvinist pigs: women and the rise of the raunch culture) en Naomi Wolf (Vagina: a new biography) is heftig gekant teen die nuwe tendens en beskou dit geensins as ware feminisme nie. Hulle sien dit eerder as ’n ander wyse waarop mans vroue kan objektiveer.
En dit bring ’n mens terug na die vraag of uitgesproke feministe soos Levy en Wolf enigsins deesdae ’n beduidende bydrae tot vroue-bevryding lewer. Ons word daagliks toegegooi met ontstellende statistieke van geweld teen vroue, feite soos dat meer as 1 000 vroue per jaar deur ’n intieme vriend of eggenoot vermoor word, en dat meer as 450 vroue jaarliks in Suid-Afrika verkrag en vermoor word.
Daar is steeds talle lande met ongelyke wetgewing wat patriargale sisteme versterk, wat geweld teen vroue onderskryf en aanmoedig, van die Midde-Ooste en Indië tot dele van Afrika, Asië en Suid-Amerika. In Pakistan en Afghanistan word jong meisies verhinder om ’n opvoeding te verkry, en die wêreld is onlangs geruk deur die sluipmoordpoging op Malala Yousufzai, die bloedjong vroue-aktivis wat vir jong meisies se reg op ’n opvoeding veg.
Ons staar sonder twyfel ’n ernstige krisis in die oog, ’n aanduiding van ’n dodelik siek samelewing.
Dit laat die vraag ontstaan of feministe se prioriteite reg is. Behoort hulle nie juis hul stemme by sulke versengende kwessies te voeg nie? Anders bly hul insette bloot netelige, teoretiese vitrioel wat deur ’n beperkte bourgeois-teikenmark besigtig word, en het dit ’n goeie kans om in die niet te verdwyn.
Toe ’n joernalis ’n onderwyseres in Afghanistan wat onwettig vir meisies skoolhou, vra of dit haar pla om ’n burka te dra, was haar antwoord dat ’n burka geen faktor is in die lig van die stryd om jong meisies opgevoed te kry nie. Is dit nie ’n kwessie wat aandag van feministe behoort te geniet nie? Wie gee om hoe Madonna haar liggaam objektiveer wanneer daar regoor die wêreld brutale menseregte-oortredings teen vroue gepleeg word?
En is dit nie tyd om weg te breek van die stereotipering en vervreemding van mans nie? Moet die kern van die probleem nie eerder aangespreek word en konstruktiewe oplossings gevind word nie?
Dis ironies dat dit juis ’n man is wat dié kern ontbloot: ons eie emeritus aartsbiskop Desmond Tutu. In reaksie op die groepsverkragting van ’n jong verstandelik-gestremde meisie verlede jaar sê hy: “If we raised our children with decent values, surely incidents such as the gang rape of the apparently mentally impaired teenage girl in Soweto would never have happened.”
En dit is waar hy die spyker op die kop slaan. Die kwessie van geweld, mishandeling en uitbuiting van vroue is nie alleen ’n feministiese saak nie. Dit is ’n kolossale maatskaplike en kulturele probleem.
Dit is waar stoere feministe se heroriëntering behoort te begin: met hul persepsies van mans, net soos chauvinistiese mans hul persepsies van vroue moet hersien. Die antwoord lê juis daarin om nie alle mans tot onhervormbare vervolgers te reduseer nie. Deur dit te doen, word ’n groot groep mans uitgesluit wat wel hervormbaar is, en ’n groeiende groep wat saam wil optree teen vrouegeweld en onderdrukking.
Deur standpunt in te neem teen álle mans, pleeg feministe dieselfde sonde as so baie chauvinistiese mans en vrouehaters: die marginalisering van ’n spesifieke groep van ons samelewing. Per implikasie beskou hulle dus ons jong seuns as onopvoedbaar, ons jong mans as onhervormbaar. Dit is ’n onrusbarend nihilistiese perspektief.
Maar daar is ’n ander benadering, ’n inklusiewe benadering, waar mans deel gemaak word van die emansipasieproses, die enigste wyse waarop ’n algehele kulturele revolusie vir vroue meegebring kan word. Gemeenskappe funksioneer sistemies, en deur een element uit die proses uit te sluit, en in dié geval die hoofelement, word daar weer eens ’n wanbalans in die genesing van die oorkoepelende sisteem geskep.
Die een ligpunt van swart Februarie is juis die menige manstemme wat hulself gevoeg het by die uitspraak teen vrouegeweld. Dit is presies wat nodig is om transformasie mee te bring.
Afbrekend is die snedige kritiek op Playboy South Africa se onlangse artikel wat sterk standpunt teen vrouegeweld ingeneem het. Vrouekampvegters beweer dat ’n publikasie soos Playboy juis deel vorm van die probleem, maar dit is kortsigtige denke. Dit is ’n kosbare deurbraak dat Playboy ’n uitspraak gemaak het vir die beskerming van vroue teen geweld. Terselfdertyd bereik hulle ’n toepaslike lesersgroep, en sodoende vervul hulle ’n kardinale opvoedingsrol.
Daar is talle voorbeelde van mans wat aktief in die gemeenskap betrokke raak om vir vroueregte te veg, soos Greg Mortensen, die Amerikaner wat onverpoos skole in Afghanistan en Pakistan bou. Sy motto is welbekend: “You can drop bombs, hand out condoms, build roads or put in electricity, but unless the girls are educated, a society won't change."
Die feit dat imams ’n fatwa uitgespreek het teen die Taliban-mans wat Malala probeer doodskiet het, is ’n groot oorwinning vir Pakistani-vroue. En al hoe meer beroemde mans voeg hul stemme deesdae by die saak. Patrick Stewart, die bekende Star Trek- en X Men-akteur, is ’n onvermoeide kampvegter vir vroueregte. So ook DJ Moby, die komediant, Michael Winslow, en die musikant Graham Coxon, om net ’n paar te noem.
Maar ’n publieke platform is nie genoeg nie. Verandering begin binne gesinne met die gepaste rolmodellering van ons seuns en ons dogters. Tog is dit ’n feitlik onbegonne taak met impakfaktore soos ongeletterdheid, armoede en hulpbrontekorte. Sommige van Suid-Afrika se amper onoorkombare struikelblokke is enkelouergesinne, waar ouers voltyds moet werk en kinders sonder toesig is, die uitsterf van ouers vanweë Vigs, jong seuns wat in bendes ingesleep word, en wye dwelm en alkoholmisbruik.
Maar ’n mens moet iéwers begin. Bewusmakings- en gemeenskapsprogramme is die enigste benadering wat kan werk. Oueradviesklinieke. Verhoudingsberading. Konstruktiewe gemeenskapsaktiwiteite vir kinders van jonk tot tieners. Rehabilitasieprogramme vir oortreders. Selfs die nederigste begin kan reeds ’n verskil maak.
Soos Rachel Jewkes, direkteur van die Mediese Navorsingsraad se Geslags- en Gesondheidsnavorsingseenheid, in die Sunday Times skryf: “Culture can change, but not through short bursts of media coverage. It requires concerted action to change deeply ingrained behaviours.”
Dus blyk dit dat hedendaagse feministe nie meer ’n keuse het nie. ’n Totale gesigsontrimpeling, ’n allemintige omwenteling is in aanvraag. Dis tyd om hul moue op te rol en globaal betrokke te raak, ook op ’n voetsoolvlak, om permanente kulturele transformasie vir vroue te bewerkstellig. Anders het feminisme, en die stryd vir vroue-emansipasie, ’n goeie kans om uit te sterf.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter
Kommentaar
Hello,
Interessante artikel, baie dankie Therese vir die aanstuur.
'n Paar by-, of opmerkings, indien ek mag: dis 'n minder bekende feit dat vrouens tydens die Kruistogte heel voortvarend vorentoe geboer het met besighede (natuurlik nie presies in die moderne sin nie), terwyl die mansmense voortgevaar het om (vir 'n verandering, siestog) oorlog te gaan maak op andersdenkendes of -gelowiges. ('n Verdere voorbeeld van die vroulike "can-do".)
Benewens skyn dit my te wees dat feminisme, sonder om enigsins die stryd gewonne te gee of wanbalanse tussen man en vrou te ignoreer, meer sou bereik deur as kardinale aanknopingspunt die MENSWEES van die betrokkenes te neem. Ons is almal as vrouens baie gelukkig dat ons in hierdie era in die Weste gebore is, waar feminisme darem alreeds heelwat bereik het; maar "netelige, teoretiese vitrioel", soos jy dit so knap karakteriseer, doen ons meer skade as goed aan. Persoonlik voel ek ek is 'n mens voordat ek enigiets anders is - nog geslag, nog nasionaliteit, nog intelligensie is so belankrik soos menslikheid en menslik wees. Selfs 'n goeie opvoeding staan nie daarvoor in nie (alhoewel ek beslis glo aan die basiese reg tot 'n goeie opvoeding, sine qua non).
Ek onthou goed uit my kinderjare hoe opvallend dit was dat apartheidaanstokers so veel minder menslik voorgekom het as die mense wat apartheid se aanslae moes verduur! om met jou saam te stem: laat ons nie as feministe aan dieselfde kwaal van krasheid ly nie, en mag ons kulturele verbetering bou op 'n basis van meegevoel (met 'n ruggraat van vasberadenheid!) eerder as skreiende "haatspraak".