Herwin jou hoflikheid

  • 1

Wat is dit met mense en hul plastieksakkies? ’n Tyd gelede by die Pret en Plesier spuug ’n ou fossiel voor my in die ry behoorlik vuur oor die kassier haar nie vra of sy ’n plastieksakkie vir haar twee items verlang nie. Die grys draak het seker rumatiek in die een hand.

“Would you like a plastic bag Madam?” vra ’n skeefgetrekte glimlag.
“No, it’s too late now!”
Wara wara wara wara-

Ag word groot wil jy uitbulder maar hoeveel tyd het so suurstofdief nog oor om die fynere dinge in die lewe baas te raak.

Later vertel my vrou my van ’n geval by die winkelsentrum waar sy werk van hoe ’n kassier soos vasgelê op kamera uit haar stoel opstaan, oorleun en die klant ’n helse oorveeg gee net om daarna ewe kalm weer te gaan sit en verder te werk. Die kassier is summier afgedank- van nature! En dit in ’n land waar ’n plekkie in die son skaarser is as koekies in die weeshuis. Wat kon daardie persoon gedryf het tot so daad? Volgens my vrou wat ook al die Joodse klavier gespeel het op skool vir ekstra geld is die onbeskofte lot wat daar verby skuifel iets om te beleef. Dit blyk jy moet ’n gepaste smuk uit ’n katalogusgesigte hê vir elke selfvoldane bullebak wat jou seën met sy of haar blote teenwoordigheid want geld knou nie net af nie, dit verskree uit volle bors.

Maar verlede Sondag vat die koek. Vars uit die kerk in my driestukpak staan ek weer in die ry by ’n ander kruidenier. Zanele is baie behulpsaam, selfs bewapen met ’n dapper glimlag, glo dit of nie. Ek vra vir een plastieksakkie. KADWA! plak die man agter my sy opgefrommelde plastieksakkies op die toonbank neer. My vingers begin skoon bewe terwyl ek my geld nog aftel en tegelykertyd my sondige natuur bestraf oor ek vir plastieksakkies vra. Hou op simpel wees man! Jy hergebruik dan die goed in die kombuis se asblik. ’n Verbouereerde Zanele wikkel solank die man se sakkies uitmekaar en vra uit gewoonte,

“Would you like a plastic bag sir?”
“For what do I need plastic bags, you’ve got them in your hand!”

Ek groet Zanele en haar helper en met die wegloop wonder ek wat dink die man indien enigsins. Dat ons hom moet prys oor hy so in voeling is met alles. Alle sterkte aan hom en sy soort. Wat ek wel weet is wat ek oor sulke gedrag dink en dit het u heel in die begin reeds gelees.
Adriaan

  • 1

Kommentaar

  • Adriaan,

    Ek stem. Hoflikheid kos niks, inteendeel dit skep goeie verhoudinge veral in 'n land waar ras nog steeds 'n sensitiewe "issue" is. 

    Grappens gewys.  Toe ek 'n vroee tiener was, was plastiese sakkies verniet, en kondome ten duurste bekombaar.  Vandag is dit nou net mooi andersom. 

    Jaco Fourie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top