Hertzoggies vir die Kersvakansie

  • 5

Foto van Hertzoggies: YouTube

Hierdie tyd van die jaar dink en droom ek Hertzoggies. Hier teen einde November is vlytige vroue al besig om hul baksels Krismiskoeke elke dag bietjies-bietjies brandewyn te voer. Nie ek nie. Ek bak Hertzoggies vir die onthou ... Dié klein tertjie laat my altyd terugverlang na my ouma se koekblikke en seesand tussen my tone.

Ons het elke jaar met die Kersvakansie die pad gevat na my ouma se strandhuisie by De Bakke. Dié klein houthokkie was niks gemeet aan die luukse strandhuise wat verdiepings hoog al langs die strande verrys het nie.

'n Besoeker op die stoep van my ouma se strandhuis (foto verskaf)

Ek kan nou nog nie dink hoe ons almal daar ingepas het nie. Daar was ’n einaklein voorhuisie, ’n eetkamertjie met net genoeg plek vir die tafel en stoele. Teen die oorkantste muur is die yskas en ’n paar kombuisgoed ingedruk, want die kombuisie was nog kleiner. Jy’t verniet na ’n badkamer gesoek. Jy moes maar in die paadjie afstap na die ablusieblok toe.

En dit was ook nie net ons — my pa en ma en ons drie kinders — wat oor die Kerstyd daar by Ouma gekuier het nie. Nee, daar was altyd die verrassingskuiertjies van ’n verlangse kleinniggie of groottante wat, koekblik onder die arm en ’n slopie biltong in die hand, daar kom afpak het. Ek onthou hoe ek een nag benoud wakker gelê en luister het na twee tantes se gesnork — dit het kompleet geklink soos twee monsters wat in ’n vreemde taal met mekaar gesels.

Koekieblik (foto verskaf)

Die huisie het nie ’n see-uitsig gehad nie, maar die strand was skaars vyf minute ver met die voetpaadjie langs van die agterstoepie af. Daar was so ’n klein kiosk op die strand wat roomys, koeldrank en lekkers verkoop het. Daar moes ek altyd vir Ouma gaan kleingeld haal, eers tiekies, toe later vyfsente, vir haar Krismispoeding.

Langs die kiosk was daar ’n groot sementblad waar die jongmense saans gedans het op die klanke van The Silence, die orkes saam met wie ’n baie jong Lesley Rae Dowling later haar debuut gemaak het. So ’n ent verder op die bult was die klein houtsaaltjie waar daar party aande volkspele gehou is. Ek was te klein vir die dansbaan op die strand en met my twee linkervoete en gebrek aan ritme was die volkspele beslis ook nie vir my beskore nie.

Die saal by De Bakke (foto verskaf)

Niks was in elk geval lekkerder as die son en die see nie. Ons het ure lank in die branders gespeel en dan bibberend ons lywe in die warm sand gaan ingrawe. My pa het ons langsbeen op die natte sand laat sit en dan het hy om elkeen van ons ’n resieskarretjie gebou.

Die poeletjies tussen die rotse was toe nog ongeskonde, met die mooiste skulpe en skulpdiertjies, klein vissies wat rondswem. Ons het ure daar tussen die rotse gespeel, nerfaf gebrand en vol sand weer die paadjie huis toe gevat.

Ná middagete, terwyl my pa geslaap het, moes ons tjoepstil onsself besig hou en wag tot dit vieruur word sodat ons weer kon strand toe gaan. Die ongeduld het ons telkens in die moeilikheid laat kom, want dit het op ’n stryery en bakleiery uitgeloop en die onafwendbare pak slae wanneer my pa ontydig uit sy middagslapie wakker gemaak is.

Op daardie strand het ek my eerste soen gekry. Ek was ses. Sy naam was Chris, skaars ’n jaar ouer as ek, en ons het saam ’n sandkasteel gebou toe hy skielik afhaak en my vol op die mond soen. Hy het skaam gekry en weggehardloop. Die volgende vakansie het ons mekaar skaars geken.

My ouma is dood, daar in die einste seehuisie, in die jaar toe ek agt geword en Neil Armstrong op die maan geloop het. Van die houthuisies van De Bakke het niks oorgebly nie. Dis kort ná haar dood gesloop, ten spyte van my pa en die ander op die Red De Bakke-kommissie se vergaderings en vertoë. Die De Bakke wat nou daar aan die voorpunt van Mosselbaai pryk, is sielloos en gestroop van alles wat hierdie kinderhart gekoester het.

Maar die seekuiertjies saam met Ouma is van die lekkerste onthou. En elke keer wanneer ek deeg uitrol en teelepeltjiesvol appelkooskonfyt vir my Hertzoggies uitmeet, dink ek terug aan Ouma en die wonderlike, kommervrye De Bakke-dae.

Dis my seestoriekoekies, maar hierdie einste tertjies het ook ’n wonderlike storie van hul eie. Dié kry natuurlik elke keer ’n stertjie by, afhangend van wie dit vertel. Ek kies om die lekkerste een, die ene wat my lagspiere kielie, te glo.

Hertzoggies is vernoem na die Boeregeneraal JBM Hertzog, wat ook later ’n groot rol in die politiek gespeel het. Dit was glo sy gunsteling en sy aanhangers het dit gebak om hul steun aan hom toe te sê. Die volgelinge van sy teenstander en tydgenoot het weer Jan Smuts-koekies gebak. Die twee koekies is baie dieselfde — elk het ’n brosdeegkorsie met ’n appelkooskonfytvulsel; net die bolae verskil. Die Hertzoggie s’n is ’n klappermeringue en die Jan Smuts-koekie het ’n frummeldeeg-bolaag.

Die Kaap-Maleiers het uit protes omdat Hertzog nie sy verkiesingsbeloftes van gelyke regte aan hulle nagekom het nie, met ’n spesiale koekie vorendag gekom — die bolaag van die koekie is die helfte pienk en die ander helfte bruin en hulle noem dit ’n tweegevreetjie.

Van al hierdie politiekery het hierdie De Bakke-kind destyds niks geweet nie. Dit was ’n koekie uit Ouma se blikke en ek kon die son en die see daarin proe.

Ek het nou nog van haar koekblikke. In die mandjie waarin sy die biltong weggesteek het, bêre ek nou die kaartjies en briefies van die mense wat ek lief het of oor die jare heen lief gehad het. Kosbare onthougoed.

My Hertzoggies is effens anders. My deeg vir die kors is effens soeter en meer krummelrig as Ouma s’n, meer soos die Maleiers van die Bo-Kaap s’n. En ek maak so ’n bietjie meer meringue sodat my koekies bolwange staan. Dit maak dit so ’n bietjie moeiliker om dit in ’n blik te bêre, maar, ai, dis net so lekker.

Karen se Hertzoggies

Lewer ongeveer 30 tertjies

Vir die kors
2½ koppies koekmeel
2 teelepels bakpoeier
3 eetlepels strooisuiker
220 g koue botter, in klein blokkies gesny
3 eiergele, liggies geklits
20 ml yswater

Vir die vulsel
¾-koppie fyn appelkooskonfyt

Vir die bolaag
6 eierwitte
1 opgehoopte koppie strooisuiker
2 opgehoopte koppies fyn droë klapper

Maak eers die kors: Sif die koekmeel, bakpoeier en strooisuiker saam en vryf die botter met jou vingerpunte in totdat dit soos growwe mieliemeel lyk. Meng die eiergele en yswater, voeg by en meng totdat jy ’n sagte hanteerbare deeg het. Bedek met kleefplastiek en laat vir ’n uur in die yskas rus. Rol die deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak, gebruik ’n koekiedrukker en druk sirkels uit wat groot genoeg is om 30 gaatjies van 3 pattipan-pannetjies te voer. Plaas die pannetjies vir ’n paar minute in die yskas terwyl jy die vulsel voorberei. Klits die eierwitte goed styf en voeg die strooisuiker ’n lepel op ’n slag by terwyl jy die heeltyd klits. Vou die klapper versigtig in sonder om te veel volume te verloor. Skep ’n skraps teelepel appelkooskonfyt onderin elke deegdoppie (sien wenk) en bedek mooi met die klappermeringuelaag. Bak in ’n voorverhitte oond van 200º C vir ongeveer 20 minute.

Wenk: Hou ’n pierinkie met ’n bietjie koekmeel byderhand en rol elke teelepel konfyt eers daarin voordat jy dit in die deegkorsie skep. Dit keer dat die konfyt by die kante van die tertjie uitloop.

  • 5

Kommentaar

  • Avatar
    Tertius Kriek

    Baie interessant. My pa was kampopsigter of die koloniale naam nl superintendent! Wat was jou ouma se van? In watter kamp was die bungalow geleë?

  • Vir ’n kind wat self die ou bakke se houthuisies geken het, en wat elke aand en naweek op daardie strand gespeel het, of met die lilo in die branders baljaar het, was hierdie nou lekker lees. Verlang ek terug na my ma se soetkoekies, sulke groot blikke vol. Jammer dat die slimmes nog nie tydmasjiene uitgevind het nie! Dankie vir hierdie koekie.

  • Elke jaar in die Bakke vanaf 1948 tot 1960, eers by my Ouma se huis: 7 grootmense en 8 neefs en niggie. In 1952 koop Pa ons eie huisie, ook piepklein op die swemplek. Onthou speletjies op strand in aand deur CSV studente. ’n Kind wat nie oor die Kersvakansie in die Bakke vakansie gehad het nie, weet beslis wat ’n vakansie was nie.

  • Amanda le Roux
    Amanda le Roux

    Dankie Karen! Ek het self wonderlike herinneringe aan De Bakke! Sedert 1947 het ons elke jaar gegaan. Ek sal graag wou weet wie jou oupa en ouma was. Dankie vir die foto's!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top