Haaiklip, Port Elizabeth, Sondag, 16 Augustus 1998
Ek beur in teen ‘n ysige wind-
winter, my tepels & sinne op-
geprik. Verskuild
onder die esplanade
‘n ou seebonk met drie brakke
wat homself opvryf
deur dik verweerde koord-
fluweel, sy oë waterig,
twee sandsteenpoele
in ‘n windgebeitelde gesig.
By die vlooimark koop ek
‘n ruwe Middeleeuse kruis
& leer opnuut ou gode prys.

