Hermann Giliomee skryf 'n brief aan US-Konvokasie-lede

  • 5

Hermann Giliomee (foto: Naomi Bruwer)

19 Januarie 2017

Beste US Konvokasie-lid

Hiermee rig ek in my persoonlike hoedanigheid ‘n vriendelike maar ook dringende versoek aan u om, indien enigsins moontlik, die jaarvergadering van die US Konvokasie by te woon.

Dit begin om 19h00 op 26 Januarie in die Paul Roos Sentrum, wat deel is van die Paul Roos Gimnasium-skoolgebou. Die vergadering sal toegespreek word deur sowel die US-rektor, prof Wim de Villiers, as adv Jan Heunis, SC, president van die US Konvokasie.

In 2016 het die feitlik ondenkbare met Afrikaans gebeur. Afrikaans as doseertaal is in al die universiteite waar dit eens die enigste of vernaamste doseertaal was, drasties afgeskaal of uitgefaseer.

Dit het ingrypende implikasies vir Afrikaans as taal van onderrig op skole. Behalwe die Potchefstroom-kampus is daar geen plek waar persone wat hulle vir die onderwys met Afrikaans as voertaal wil bekwaam, hul graad en hul onderwysdiploma kan ontvang nie. Dit beteken ook dat daar al minder instellings sal wees waar kultuuroordrag van een geslag na die volgende kan plaasvind. Dit word universeel as een van universiteite en skole se belangrikste funksies beskou.

Sedert 2002 was die US Konvokasie die enigste statutêre liggaam van die US wat bly aandring het op ‘n vaste, volwaardige en volhoubare aanbod in Afrikaans. Dit beteken nie die uitsluiting van Engels nie, maar dat die Engelse aanbod nie dié in Afrikaans ondergrawe nie.

Die aandrang hang saam met die volgende oorwegings:

  • Afrikaans is onteenseglik die doeltreffendste medium van onderrig vir mense wie se huistaal Afrikaans is. Daar is reeds drie Engelsmedium-universiteite in die Wes-Kaap waar Afrikaanssprekendes die meerderheid is.
  • Die US het ‘n spesiale bemagtigingstaak om die groot agterstand van bruin Afrikaanssprekendes in deelname aan tersiêre onderrig om te keer.
  • Die enigste meningsopname wat die US Raad ooit van ‘n onafhanklike instansie aangevra het, was die Schlemmer-ondersoek van 2008. Daarvolgens het meer as 80 persent van die Afrikaanse studente en ongeveer 40 persent van die Engelssprekende studente oorwegend Afrikaansmedium-onderrig verkies.
  • Dit lyk na ‘n ernstige oordeelsfout van die US om onder ‘n ondoeltreffende regime met ernstige fiskale probleme groter internasionale aansien te probeer verwerf deur klasse oorwegend in Engels aan te bied.

Tussen 2005 en 2016 het lede van die US Konvokasie in die een verkiesing na die ander met groot meerderhede mense gekies om in die Universiteitsraad te dien wat uitgesproke daaroor was dat Afrikaans sterk en lewenskragtig as voertaal en kommunikasietaal op die US moet voortbestaan.

Verskeie studies voer aan dat die “Ivy League” van top-universiteite in die noordooste van die VSA hul sukses grootliks te danke het aan die noue bande tussen die besture van die onderskeie inrigtings en hul alumni. Hulle is grootliks eensgesind oor die wyse waarop die universiteit sy onderrigtaak verrig en hom in die samelewing posisioneer.

In die geval van die US het die verhouding tussen die US en alumni oor die afgelope twintig jaar baie verswak.

Ek wil my vereenselwig met die woorde van wyle prof Pieter Kapp, voormalige president van die Konvokasie. Hy het meer as een keer op die Konvokasievergadering die mening uitgespreek dat die universiteit nie werklik oop kaarte met sy alumni oor sy taal-, toelating- en aanstellingsbeleid speel nie. Heel waarskynlik is dit een van die vernaamste redes waarom skenkings van die “gewone” oud-Matie sedert 1994 opgedroog het.

Toe die Konvokasie in November 2015 sy jaarvergadering gehou het, was die US se taalbeleid nog dat Afrikaans en Engels as voertale gelyke status geniet. Sedertdien het die US in ‘n hofsaak in die Kaapse hooggeregshof erken dat hy op groot skaal sy eie taalbeleid ignoreer.

Die taalbeleid wat middel-2016 aangeneem is, wil grootliks die onwettige posisie soos dit op grondvlak ontwikkel het, probeer sanksioneer. Die hele inhoud van alle lesings moet nou in Engels aangebied word. Afrikaans kan gebruik word in tolkdienste of in opsommings aan die einde van die lesings of vir sommige kernpunte. Daar is ook sprake van lesings in Afrikaans mits daar ‘n groot genoeg aanvraag is. In Europa is dit juis op hierdie punt dat sprekers van kleiner tale, wat in instellings soos universiteite teen ‘n globale taal moet meeding, vasskop. As jy ‘n taal as literêre taal en wetenskapstaal wil laat voortleef, mag jy dit nie as voertaal op skool en universiteit aan markaanvraag onderwerp nie.

In die geval van die jongste US-beleid kan tolkdienste (van Engels na Afrikaans) gestaak word indien dit blyk dat studente al minder daarvan gebruik maak en die finansiële middele nie beskikbaar is nie.

Dit lyk of die universiteit daarop uit is om die indruk te wek dat Afrikaanse studente wat wegdryf van Afrikaanse klasse, bloot ‘n ingeligte “verbruikerskeuse” maak eerder as wat hy wil erken dat baie van die studente aan groot druk onderwerp word om ter wille van die vrede Engels as voertaal te aanvaar.

Dit lyk of vaardigheid in Afrikaans nie meer ‘n vereiste vir aanstelling as dosent is nie. Ongeveer 200 dosente het verlede jaar aangedui het dat hulle nie in staat is om in Afrikaans klas te gee nie. Die vermoede is dat baie van hulle wel in staat is, maar nie die moeite wil doen om in Afrikaans klas te gee nie.

Die Konvokasie kan nie op die universiteit ‘n taalbeleid afdwing nie. Dit het wel die reg om te vra dat die universiteit oop kaarte met sy alumni speel.

Daar is ‘n sterk gevoel op grondvlak dat die US ernstig moet herbesin oor sy besluit om ‘n taalbeleid te aanvaar wat gewis tot die stelselmatige en snelle verengelsing van die US sal lei.

Die Konvokasie vra sedert 2002 – en die vraag word weer wyd deur Konvokasielede landwyd gevra – dat die US, bo en behalwe enige klasse wat dit in Engels mag aanbied, ook ‘n volwaardige voorgraadse aanbod in Afrikaans aan studente maak.

Dit sal die saak vir Afrikaans aan die US sterk as u en ‘n groot getal ander lede van die Konvokasie by die jaarvergadering op 26 Januarie opdaag waar u kan aandui hoe u oor die saak voel.

Vriendelike oud-Matie-groete

giliomee_handtekening

Hermann Giliomee, Konvokasie-verkose lid van die US Raad, 2006-2010

  • 5

Kommentaar

  • Matthys Strydom
    Matthys Strydom

    Ek is as amper-eentalige Afrikaanssprekende na matriek na die Universiteit van Kaapstad. Die blootstelling aan ander kulture was vir my baie goed. My "redding" was dat my Afrikanerkultuur toe reeds sterk gevestig was.
    Ek gee nie veel om oor die toekoms van US nie. Ek dink Afrikaans is daar reeds uitverkoop.
    My bekommernis oor wat daar gebeur, is die toekoms van ons taal in die skole. Daar moet universiteite of kolleges met voertaal Afrikaans wees wat onderwysers vir Afrikaanse skole kan oplei. Na my mening kan dit net gebeur by privaatinrigtings, onafhanklik van die staat.
    Kan iemand my sê wat die wetlike implikasies is van die geld wat Jan Marais beskikbaar gestel het vir, soos ek verstaan, uitsluitlike onderrig in Afrikaans, en waarop die Universiteit van Stellenbosch steeds, sover ek weet, aanspraak maak.

  • Avatar
    Anneline Albertyn

    So waar. Dit is hoekom ons as beide oud-Maties ons maandelikse bydrae jare gelede aan die Universiteit gestaak het. Ons dogter is tans 'n Matie-student en ervaar eerstehands die trauma van onluste weens 'n klein groep belhamels se politiekery sonder dat haar regte en veiligheid verseker word deur die Universiteit. Dit is die begin van die einde vir Matieland soos ons dit geken het.

  • Eerstens en die belangrikste punt is, Afrikaans word erken as 'n volwaardige akademiese taal en hoe kan US hierdie kwessie probeer verduidelik aan my en mede-alumni. As ek na al die talentvolle Afrikaanssprekende akademici kyk wat dwarsoor die wêreld roem en eer kry vir hulle bydrae in verskeie rigtings, dan voel ek hartseer oor die taalbeleid.
    US moet asb nie na die pype van politieke partye dans nie, dit sal 'n reuse-fout wees.
    Tweedens is daar talle wit en bruin studente in die Noord-Kaap wie se moedertaal beslis Afrikaans is, hoe gaan hierdie studente lesings in Engels bemeester? Maar niemand praat daarvan nie!
    Die universiteit is outonoom, so hou daarby.
    Derdens is dit in die grondwet vervat dat ek in my moedertaal mag studeer, so hoekom dit die studente ontneem?

  • Avatar
    Johan F Prins

    Hoekom is die US NOU so bekommerd oor die Afrikaanstalige Bruin Afrikaanses, terwyl hulle jare lank nie op US se kampus toegelaat is nie?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top