Herman Kleinhans is al jare lank doenig in die Afrikaanse musiekbedryf, hoofsaaklik as hoofsanger van die groep Slagyster. Hy beantwoord enkele vrae, onder meer oor ’n moontlike solo-loopbaan.
Goeiedag, Herman. Hoe’s dinge?
Awe, Henry. Kan nie kla nie.

Jy het betreklik onlangs ’n EP onder die naam Lucas Klein vrygestel. Wat het tot die aanvanklike besluit om ’n solo-loopbaan aan te pak gelei?
Dit was nie my besluit gewees nie, om eerlik te wees. Ek was gesign by ’n platemaatskappy wat my gedwing het om Slagyster te “vermoor” en al my musiek (dus Engels en Afrikaans) onder een naam vry te stel. Ek was van die begin af nie mal oor die idee nie en het na ’n hele paar maande (en ’n EP) besluit om te die deal van die hand te wys. Gelukkig kon ek daar uitkom sonder enige groot probleme.
Jou band, Slagyster, stel egter steeds nuwe enkelsnitte en video’s vry. Hoe balanseer jy die solo-werk en die band-werk, en hoe mik jy om die prioriteite voorts op te deel?
Ek het besluit om al my Afrikaanse musiek onder Slagyster vry te stel en die Engelse musiek onder ’n nuwe naam wat binnekort in samewerking met Coffee Stained Vinyl bekendgestel sal word. Ek begin nou basies ’n nuwe Engelse band saam met ’n klomp belaglik goeie musikante, so dis opwindend. Ons eerste single is al opgeneem en ons neem hierdie maand die res van die EP op wat einde September vrygestel sal word. Hopelik kan ons dan weer gesels. J
Slagyster het ’n ruk terug met ’n swetterjoel nuwe band-lede ’n amperse “relaunch” beleef. Wat was die situasie daar en hoe voel jy nou oor dié verwikkeling?
Sjoe, dit het eintlik per toeval gebeur dat ons in ’n impulsiewe oomblik besluit het om Slagyster weer aan die gang te sit. Ek en Maria Rademan was lus om ’n projek te begin en ons het nie op ons laat wag nie. Ons het besluit om die naam te hou, want dis iets wat ek nog altyd wou doen, plus Slagyster is nou maar deel van my. Ek het die oorspronklike band begin op skool en alhoewel daar lang stiltes was, was Slagyster maar nog altyd na aan my en het ek dit dus goedgedink om voort te gaan, al is dit met nuwe lede. Die projek (Slagyster) het gegroei saam met my en ook al slegter dae gesien saam met my. Ek sien Slagyster so half as my musiekdagboek.
Daar’s ’n paar gevalle in die geskiedenis van hoofsangers van rockgroepe wat die pop-mark aanpak as solo-kunstenaars … Ek dink nou byvoorbeeld aan Rob Thomas van Matchbox Twenty. Hoe verskil jou inslag met jou solo-werk van dít wat jy saam met Slagyster doen?
Ek dink die vorige antwoorde beantwoord hierdie vraag?
Die eerste snit van die Lucas Klein-CD, “As die son vanaand gaan sak”, is ’n betreklik rustige ballade – en die lirieke “ek sal klim in jou bed, ek voel ’n fok vir die res” in die refrein kom dan half onverwags. Ek kry die idee jy’s nie bekommerd oor radio-speeltyd nie en wil ’n ding eerder roep soos jy hom sien. Is dit reg, of hoe dink jy daaroor?
Ek is inderdaad nie bekommerd oor radio-speeltyd nie, maar indien radiostasies hom wil speel, sal ek ’n radio-edit vrystel. Ek is moeg daarvoor om vir almal te cater en ek het besluit om net te doen wat ek wil doen en musiek te skryf en maak wat my gelukkig maak, so as ek wil sê ek voel ’n fok vir die res, dan sal ek. Proudly exclude. Ek vloek in my alledaagse taalgebruik en niemand kan vir my sê hulle vloek nié. Almal wat ek ken doen dit, so hoekom moet ek nou kyk na my taal bloot omdat meer mense as my groep vriende dit gaan hoor? As jy nie die woord “fok” wil hoor nie ... Sterkte. Net om by te voeg – ek voel niks vir die res? Ek voel min vir die res? Ek voel ’n fok vir die res? Daar’s net een wat in die konteks van die liedjie kon sê wat ek wou sê.
Die Engelse snitte op dié album is lieflik, veral “Home”. Jy’s duidelik gemaklik daarmee om in Engels te skryf en te sing. Watter taal geniet jy meer in dié opsig en waarop sal jy in die toekoms wil fokus?
Mense sê altyd mens moet kies en dit is seker hoekom ek nog nie so ver gekom het as wat daar van my verwag was nie, maar ek wou nie kies nie. Ek wou nie ’n genre kies of ’n taal kies nie. Ek skryf ewe gemaklik in al twee tale en ek geniet beide ewe veel. Daar is regtig nie vir my ’n voorkeur nie. Ek wens deesdae ek kon Xhosa praat, want ek sal mal wees daaroor om in ’n Afrika-taal te skryf. Daar is seker goed wat beter oorgedra word in Engels en dieselfde geld vir Afrikaans. Ek is dus bly dat ek in al twee kan skryf – ek dink dis nogals cool.
Die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse musiekbedryf is ’n moerse taai een om voltyds in te kan funksioneer. Hoe beleef jy dit tot dusver in jou musiekloopbaan? Watter veranderinge sal jy wil sien?
Dit is inderdaad taai en ek het dit op die harde manier geleer. Daar is so baie veranderlikes en ek glo om dit te maak in hierdie bedryf is moontlik een van die moeilikste goed wat bestaan. Ek het destyds geld blameer, want dis moer duur om te record en mense betaal nie regtig vir shows nie. Dan is daar nog nie CD’s gedruk of posters gemaak of enige bemarking gedoen nie. Ek het toe dus my focus geskuif na platemaatskappye. Dit was ook ’n fout en ek is tans eintlik nogals gekant teen platemaatskappye. Hulle smoor onder andere dikwels kreatiwiteit, want hulle “weet die beste”. Ek het ook gekant geraak teen die idee van musiek maak om ’n wins te jaag. Ek wil en gaan al my musiek verniet weggee en ek maak staat op ander mense wat in my talent glo om my te help. Coffee Stained Vinyls is ’n voorbeeld hiervan. Maria Magdaleen, wat een van die beste grafiese ontwerpers in die land is, is aan my sy en gaan my ook moontlik manage. Mense wil help en moeite doen as hulle sien dat jy glo in wat jy doen en dat jy dit met oorgawe doen, en dis ’n les wat ek te laat geleer het. Ek het dus nou ander goed waarmee ek my inkomste verdien, waarvan www.vinylartsa.com een is. Ek, Francois (Slagyster se kitaarspeler) en Tiaan Langenegger, wat onlangs Kokkedoor gewen het, het ook ’n nuwe besigheid genaamd De Broodje Bezigheid op Stellenbosch begin en ons trek binnekort in by Brampton in Kerkstraat. Die punt wat ek wil maak is dat ek besef het dat ek nie afhanklik kan wees van musiek as ek dit ten volle wil geniet nie. Ek maak musiek omdat ek dit wil maak, dit is my passie en ek voel ek het iets om aan te bied – nie omdat ek kos op my tafel moet sit nie ...
Wat die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse musiekbedryf betref – ek gee nie meer om oor die bedryf en almal wat mekaar se gatte lek vir ’n plekkie onder die son nie. Ek is my eie bedryf. Hy is tans nog baie klein, maar ons kom daar. Haha.
Jy en Slagyster het al talle gigs en toere agter die rug. Enige staaltjies wat jy kan deel? Dalk ’n plek of twee waar jy nie weer wil (of mag) voete sit nie?
Ek was nog nooit geban uit enige plek uit nie. Ek is nie een van daai kom-ons-fok-die-backstage-area-op-want-ons-rock-out-with-our-cocks-out tipe mense nie. Dis vir my stupid – het dit nog nooit verstaan nie en sal dit ook nooit verstaan nie. Ek probeer maar professioneel bly. Daar is ’n groter kans dat ek dalk moeilikheid sal optel met laataand dronk argumente oor byvoorbeeld rassisme en geloof (teenstander van beide, so jy kan nou net dink), maar ek het nog nooit iemand soooo kwaad gemaak dat hulle my nooit weer wil sien nie. Haha. Nietemin, daar is maar altyd ’n paar stories as mens op toer gaan of selfs net gig en ek probeer nou hard dink aan een wat uitstaan ... Ek het al ’n hele paar random gigs gehad, maar daar is nie ’n plek wat ek kan uitsonder waar ek nie graag weer wil speel nie in terme van ’n venue, maar ek moet bieg, hierdie jaar se KKNK RSG-verhoog het die beter van my gekry en ek het ’n paar honderd ou ooms en tannies (tot hulle groot skok) gezap. Ek het 28 shows gespeel by KKNK en ek was orals baie goed ontvang, wat ’n voorreg was. Ek het egter toe op hierdie spesifieke dag ’n 20 min-slot (dank god) gehad op die RSG-verhoog en aangesien ons die show akoesties gejam het (met ander woorde geen four on the floor backtrack wat blêr nie) het daar ’n oom net voor my laaste liedjie uit die gehoor uit geskree dat ek nou moet klaarmaak. Ek was moeg en reeds effens geïrriteerd toe ek besluit om bietjie my mond uit te spoel oor die industrie en onder andere hierdie backtrack-kultuur wat ons trotse Afrikaners so graag ondersteun. Idiots. Nietemin, nadat ek mooi gesê het wat ek wou sê het ek my toespraak afgesluit met ’n “zap”. Ek kon die skok op die mense se gesigte sien en ek het gedink RSG gaan my nou sekerlik verbied om ooit weer daar op te tree ... Nie dat ek na daai show enigsins sou omgee nie. Dit was darem toe nie die geval nie en daai toespraak waaroor ek toe nou natuurlik kliphard genip het backstage na die tyd, het vir my ’n paar hande vol CD’s laat verkoop en ek het lanklaas in my lewe so baie foto’s saam met mense geneem en op mense gekrap met ’n koki soos daai dag. Die hoogtepunt was egter ’n 15-jarige meisie wat na my toe gekom het en met absolute uitdrukking van walg op haar gesig vir my vertel hoe graag sy wou omdraai en vir die oom sê: “Go fuck yourself” soos wat net ’n 15-jarigie meisie dit kan sê. Haha, my dag was gemaak. Die les wat ek daaruit geleer het: hou op ’n pissie wees, sê wat jy wil sê, veral as dit gegrond is. Moet nie gorrel of ooit jou onkunde onderstreep nie, maar moet om vadersnaam nie bang wees om te praat nie en dan weer eens “proudly exclude”. Ons kan nie almal gelukkig hou nie ... Random storie.
Wat is die sin van die lewe?
Dis om gelukkig te wees. Mense probeer die lewe hopeloos te gereeld te vereenvoudig, jy weet, die swart-en-wit vibe - hulle moet ophou, want hierdie lewe is kompleks. Omhels die feit dat dit gekompliseerd is, want dit maak dit interessant, en doen alles in jou mag om jouself gelukkig te maak/hou, want fok weet, niémand anders gaan dit vir jou doen nie. Leer soveel soos wat jy kan (dis seker die heel belangrikste ding wat daar is) en pasop vir stagneer (dit is my enkele grootste fobie na motte, haha). Travel (al is dit net in ons land), doen oor die algemeen net meer goed waarvan jy hou, en wees goed vir die mense om jou.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.


Kommentaar
Hoe maak ons om toestemming te kry om Slagyster se Straatkindliedjie op ons SWERFKIND2-klankbaan te hoor wat saam met die Straatkindbundel uitgegee word op Internasionale Straatkinddag 12 April 2016?