Herinneringe van die Voortrekkermonument

  • 0

In 1938 was dit ook die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument. Al die tienjarige kinders van die land het in ’n massakoor gesing. Die dirigent was mnr Kosie Jooste, die hoof van Linden se skool. Ons duisende der duisende kinders het onder andere “O Vader, ons nader u troon in gebede” gesing, asook “Excelsior”!

Ons duisende koorsangers het in army-tente op Monumentkoppie gekamp. Ek kan onthou dat ons eerste ete fyngemaakte ertappels (meshpetyters) en maalvleis was wat in splinternuwe sinkbaddens voorberei is en saam met vars tamaties aan ons opgedis is.

Ek kan ook goed onthou dat een van die groot seuns ’n misvormde tamatie gekry het, sy gulp oopgemaak het en gejuig het: “Kyk my groot voël!” Dit het soos die misvormde penis van ’n marsmannetjie gelyk. Ons het natuurlik ’n meer bekende naam vir “penis” gebruik. Dit was skrikwekkend vir ons klein outjies.

Generaal (veldmaarskalk) Jan Smuts het die Voortrekkermonument se hoeksteen gelê en ’n helse twee uur lank gepraat. Ons het die hele funksie geboikot deur vuil grappe aan mekaar te vertel. Hoekom? Ons was nie Sappe nie! 

Dis ook waar die tweespalt in die volk begin het: veldmaarskalk Jan Smuts aan die een kant, wat saam met Engeland oorlog teen Duitsland wou verklaar, generaal JBM Hertzog wat neutraal wou bly, en dr DF Malan wat die Duitsers se kant gekies het. (Hy en sy vrou het ook een van die eerste Duitse wesies, Marietjie, aangeneem.)

Dr DF Malan was die hoofspreker tydens die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949. Ek was toe 21 jaar oud en het gespog met ’n welige rooi volbaard!

Daar was ook die dae van die Ossewa Brandwag. Hulle wou my pa dadelik kaptein maak, maar my goeie moeder het hom afgeraai om dit te aanvaar: “’n  Organisasie wat sommer dadelik almal offisiere wil maak, kan nie veel beteken nie,” was haar woorde.

My volkie kan beter verstaan word as ek die volgende humoristiese stukkie vertel. Net toe die seremoniemeester, mnr MC Botha, begin om dr DF Malan aan die woord te stel op die heilige oomblik, presies om twaalfuur op 16 Desember 1949, wanneer die son op die sarkofaag sou skyn, kom die benoude stemmetjie van een van die organiseerders helder en duidelik oor die mikrofoon en luidsprekers: “Ag, verskoon tog net, Doktor. Maar TP 672 se ligte brand!”

 
Fanus Rautenbach

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top