Herfsskool weer met trots in 2015 aangebied

  • 0

Meer as 30 jaar nadat die eerste Herfsskryfskool op Potchefstroom aangebied is (in April 1985), maak die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit steeds so.

Dosyne gevestigde skrywers het oor die jare hier ’n wegspringplek vir hul loopbane kom vind. Van 16–20 Maart 2015 bied die ATKV-Skryfskool weer so ’n skolingsgeleentheid aan opkomende woordsmede.

Dikwels bekroonde skrywers wat ook boeiende geselsers is, kom gee inspirasie en wenke aan dié wat die leer wil klim as skrywers van verhale, spanningsfiksie en gedigte: Francois Smith, Johan Myburg, Ilse Salzwedel, Heilna du Plooy, Hans du Plessis, Franci Greyling, Chanette Paul en Karin Brynard.

Die hartklop van die Herfsskool was nog altyd die werkwinkels waartydens Herfsskoolgangers kan slyp aan die pennevrugte wat hulle by inskrywing moet voorlê. Chanette Paul (spanningsfiksie), Hans du Plessis (verhaalkuns) en Bernard Odendaal (digkuns) sal die leiding by die drie werkswinkelgroepe neem.

’n Ander sterkpunt van die Herfsskool is dat kursusgangers uit die spreekwoordelike perd se bek kan hoor wat uitgewers verwag van skryfwerk wat die paal gaan haal by die manuskripkeurders. In 2014 kom maak verteenwoordigers van NB-uitgewers, Protea Boekhuis, Lapa-uitgewery en Maroela Media ’n draai by die Herfsskool.

Stel jy belang om die Herfsskool 2015 by te woon? Kom in aanraking met Kobie van Aswegen (sekretaresse) van die ATKV-Skryfskool: kobie.vanaswegen@nwu.ac.za.

Tel: 018 299 1783.  Skakel met Bernard Odendaal, direkteur van die ATKV-Skryfskool vir onderhoude: bernard.odendaal@nwu.ac.za; tel. 018 299 1782.

Laai die Herfsskool 2015-brosjure hier af.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top