Hennie Aucamp – vaarwel aan ’n geliefde mentor en vriend

  • 0

Ek het verlede jaar navorsing gedoen oor die rol wat Hennie Aucamp as mentor en vriend in my en Coenie de Villiers se lewens gespeel het. Ek het my reis deur die landskappe van ons vriendskappe met Hennie begin deur ’n onderhoud met Coenie te voer. Daarna was ek ook bevoorreg om ’n onderhoud met Hennie self te voer. Ons het op ’n perfekte winterdag op 2 Julie verlede jaar uitgery Bloubergstrand toe en in die Ons Huisie-restaurant beesstert geniet: ’n ervaring om vir ewig te koester.

Vir Coenie, soos vir my, was die ontmoeting met Hennie ’n keerpunt in sy lewe. Hy en ’n paar ander sangers het in die laat sewentigerjare die Musiek en liriek-beweging ingelui. Hulle is toe deur die destydse SAUK na ’n konferensie daaroor genooi. Coenie vertel:

Daar was seker 300, 400 mense: akademici, kundiges, kwasi-kundiges. En op die meeste vyftien skrywers wat actually iets skep, waarvan ek nou deel was. En die inkleding van die ding was dat jy sou nou ’n song speel en dan sal daar nou kommentaar en gesprek uit die gehoor wees terwyl jy op die verhoog sit.

[...] Ek speel. Toe ek klaar is, toe begin die gesprek. En so ’n plomperige man, wat sal naamloos bly, staan op. And he ripped into me. Ek dink dit voel soos as ’n mens vir jou sê jy het ’n terminale siekte. Ek kon naderhand nie meer hoor wat hy sê nie. My mond was droog. My handpalms het gesweet. Ek het gevoel soos ’n insek onder ’n mikroskoop. Maar ek het geweet, in daai oomblik, dat ek sal nooit in my lewe weer ’n woord of ’n noot skryf nie. Dis oor.

En na hom toe staan ’n man op met so ’n geel leerbaadjie, so ’n pampoen-leerbaadjie. En in die mooiste Afrikaans, maar snydend, fyn, geartikuleerd, vat hy toe dié ou aan. Ek sê niks. Ek sit nou maar daar. En hy haal vir hom so stukkie vir stukkie uitmekaar, laat all the king’s horses and all the king’s men sou daai ou nooit weer aanmekaar kan sit nie. En hy eindig toe, toe sê hy: “Ek dink wat ons gehoor het is ’n werk wat geniaal is en wat ’n hele nuwe platform daar skep in Afrikaans – en hoe Afrikaans en liriek tot nou toe gebruik is en ek dink dis magistraal.” Tjoeps, gaan sit hy. Applous.

[...] En toe gaan ek na hom toe en toe sê ek vir hom: “Professor Aucamp, ek wil net vir jou baie dankie sê, because today you saved my life. En as jy dit nie gedoen het nie sou ek nooit weer geskryf het nie.”

My vriendskap met Hennie het in 2004 begin. Ek het die eerste van sy drie gepubliseerde dagboeke, Gekaapte Tyd, pas gelees en was getref deur die insiggewende, verhelderende insigte wat ek daaruit kon put. Ek kon ook aanklank vind by sy beskrywing van sy eie leesprosesse: “Skielik stol ek by ’n bepaalde passasie: ’n reël het ’n oop senuwee geraak. ’n Reël wat my aan myself verduidelik.” Ek het hom geskakel om my bewondering vir sy dagboeke uit te spreek, en ons het mekaar daarna by die Kaapse Waterfront vir koffie ontmoet. Dit was die begin van ’n vriendskap van tien jaar waartydens ons talle briewe vir mekaar geskryf het.

Omdat ek na soveel jare nog steeds verwonderd was oor die geredelikheid waarmee hy my binne sy professionele ruimte toegelaat en selfs verwelkom het – hy was immers op daardie stadium reeds een van ons mees bekroonde Afrikaanse skrywers – het ek hom pertinent daaromtrent uitgevra tydens ons onlangse gesprek. In sy antwoord het hy sy rol as opvoedkundige beklemtoon:

Eintlik lê dit alles daarin dat ek ’n onderwyser is. Ek sou nooit dié dinge gedoen het as ek nie ’n onderwyser was nie. Ek kyk na my ander stywe vriende – hulle hou hulle baie eenkant en dis vir hulle baie vreemd dat jy jouself so kan oopgooi. Vir my is dit belangrik dat jy gee wat jy het. “Wie niet geeft wat hij heeft, is niet waard dat hij leeft.” Daardie reëltjie het vasgesteek.

Ek onthou nie veel van ons eerste ontmoeting by die Waterfront nie – net maar dat ek baie onkundig gevoel het tydens die taamlik eensydige gesprek, gestrand tussen al die insigte oor skrywers en boeke wat hy met my gedeel het. Die enkele kere daarna wat ons persoonlik ontmoet het, het volgens dieselfde patroon verloop: Hennie gesels, neem aan dat ek bekend is met die groot skrywers en sangers oor wie sy gesprek gaan, en ek luister enigsins verwilderd.

Coenie beskryf soortgelyke ervarings betreffende sy ontmoetings met Hennie; op ’n vraag omtrent dit wat die één ding van Hennie was waarsonder hy net nie dieselfde sou wees nie, antwoord hy:

(D)aar is twee goed en hulle is aan die heup verbonde. Ek dink dis moeilik om te skei. Die een is sy reuse-intellek. Maar só beskeie, jy weet? Nou, toe ek weer in die Kaap was, ons het die boek [Hartlangs: Lirieke 1973-2102] gaan vier, toe vat ek hom vir ete. Jy weet, Jannie, dan sal hy soos ’n verhandeling doodluiters in die gesprek sit, datums aanhaal, kruisverwysings maak, intertekstuele konneksies maak. So daar is regtig ’n baie, baie rare intellek, ’n diepte, ’n breedte van ervaring en dan, daarmee saam, ’n geweldige ruimheid van gees. [...] In my ervaring. Ek kan net namens myself praat. Ek weet ander mense het dieselfde ervaring. Amanda Strydom sou vir jou dieselfde sê. Elsabé Zietsman sou vir jou dieselfde sê. ’n Verskeidenheid van mense, jy weet?

Hennie se briewe was heuglike ervarings wat ek dikwels met ’n glasie wyn voor my gelees het: ’n literêre gebeurtenis in die kleine wat behoorlik gevier moes word. Op 18 November 2004 skryf Aucamp in ’n openingsin van sy brief iets wat my altyd sal bybly: “Jou brief van 10 Nov. was, soos altyd, ’n verademing en ’n inspirasie.”

Ook vir Coenie was sy briewe ’n belewenis:

Hy is die bellettris van Afrikaans. Daar is níémand wat ’n mooier brief kan skryf as Hennie nie. In alle opsigte: inhoudelik, as jy dit tik in die boek wat nou uitkom, wat in proses is [Mits dese wil ek vir jou sê], sal dit weer eens bewys dis – dis kunswerk. En benewens dit, as ’n bellettris, as ’n briefskrywer van formaat, dis net beeldskoon. So, as jy jou posbus oopmaak en daai ongelooflike penmanship [...] kyk, hy skrýf – en daai ongelooflike penmanship staar jou in die oog, jy weet: it’s a moment.

Aucamp se vertroue in my was een van die mees prominente snellers wat kort na ons ontmoeting in 2004 my doktorale studies afgevuur het. Ek bedank hom dan ook pertinent saam met ander vriende voor in die proefskrif: “My dank aan my vriende Johan en Gerda-Marie Oosthuizen, Philip en Sandra de Jonge, Phillip en Anne-Marie Serfontein, Annelie Steyn en Hennie Aucamp, want hulle het my laat glo dat ek mag en kan.” In ’n brief van 12 November 2006 bedank hy my ietwat onwillig vir die erkenning, maar voorsien tog rigtingwysers vir ’n professionele loopbaan aan ’n universiteit (ek is in 2006 aangestel as lektor by die Puk). Ek sluit die elektroniese kopie van die gedeelte van sy handgeskrewe brief met ’n doel hierby in: sodat die leser sy netjiese, handgeskrewe briewe eerstehands kan ervaar.

Die positiewe invloed wat Aucamp gedurende hierdie periode op my gehad het, was sonder twyfel blywend van aard. Ek het begin om akademiese waarderings te doen van uitstaande opvoedkundiges en prominente kunstenaars en kon daarin slaag om ’n hele aantal van hierdie studies in akademiese tydskrifte gepubliseer te kry.

Die brief van 12 November 2006

Ook hierdie veld het vir my oopgegaan na ’n opmerking van Aucamp. In ’n brief van 25 Junie 2008 kritiseer hy die omgewing waarbinne akademiese artikels gepubliseer word:

Ek begin al hoe meer wonder of die geld wat subsidiedraende artikels genereer die geesteslewe van ’n breër groep lesers bevorder. Dis vir my ’n inteelt-situasie: akademici wat vir akademici skryf. En ’n verdere beswaar: die tegniese voorskrifte van wetenskaplike tydskrifte wat dwars in die weg van kreatiwiteit kom staan, en vloei en spontaneïteit strem. Hoeveel wetenskaplike artikels haal asem?

In ’n brief aan hom op 18 Januarie 2009 bedank ek hom daarvoor:

Jou woorde en insigte is ingeweef in my menswees en rig en verkwik my – help dat ek die lewe self kan verduur en geniet. Onlangs nog het jy my op nuwe paaie gestuur in my akademiese skrywery: jou opmerking dat akademici wat vir akademici skryf, op inteling neerkom, het my laat besluit om terug te keer na my eerste liefde: die biografie. Ek het ’n kollega se lewe en klasse as onderwerp vir ’n waarderende artikel geneem, en ingestuur LitNet Akademies toe. Nog ’n biografiese artikel broei reeds ná ’n werkswinkel vir onderwysers, waartydens ons na ’n DVD van Cliff Richard gekyk het om te bepaal wat ons by hom kan leer […].

Beide hierdie artikels is wel in 2009 gepubliseer. Studies oor die 1973-fliek The paper chase, oor die lewens en optredes van die popgroep ABBA, Lady Gaga, Neil Diamond en André Rieu het ook gevolg. Hennie was gereed met ’n opsomming van hierdie studies toe hy my in sy gepubliseerde briewebundel Mits dese wil ek vir jou sê bekend stel met: “Dosent in Opvoedkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, prosaskrywer wat sy nis gevind het in skryf oor artistieke persoonlikhede.” Hy sou moes byvoeg het: “… wat sy nis onder my mentorskap gevind het in skryf oor artistieke persoonlikhede.”

Wat laat Hennie Aucamp na? Wat kan ander kunstenaars by hom leer? Hennie het die skryfproses as ’n persoonlike metgesel of medewerker gesien, as ’n vaag-gedefinieerde wese wat aandag soek en wat op beide bewustelike en onbewustelike wyses met die kreatiewe prosesse meewerk. Hy het byvoorbeeld gepraat van die “aanmelding” van ’n verhaal of storie om geskryf te word: “Hoekom kies ’n mens ’n sekere ervaring en laat ander buite rekening? Laat ek tot eie verdediging oorgaan: ek dink nie bewustelike keuse is hier in die spel nie: die verhale kom meld hulle aan wanneer hulle gereed is vir vertel.”

Hennie het ook verwys na die rol van “innerlike druk” tydens die skryf van sy “Vir vier stemme”: “‘Vir vier stemme’ is binne een week geskryf en het die minimum redigering ondergaan. Die innerlike druk was so sterk by die skryf van die verhaal dat die regte woorde, die regte sinne, byna vanselfsprekend daar was.” Hennie se verhaal “Maar waar is al die blomme nou?” begin met ’n verwysing na ervarings en verhale as lewende entiteite: “Ek glo mos vas: ’n mens kan nie aan jou eie ervarings ontsnap nie. Hulle lê jou en inwag, klaar afgerond – bitter, teer, wreed soos die geval ook mag wees.”

Die lewe sélf was ook vir Hennie ’n menslike wese: “Hy [die lewe] lewer stories by ons af, beslote en afgerond, hul slot beklink nog voordat hulle geskryf is. En eis dat ons verantwoordelikheid vir die stories sal aanvaar.”

Hy het ’n uitdrukking gebruik wat ek nou dikwels aanwend om die aanstuwing en voltooiing van eie skryfprosesse te verklaar: “Ek het my volle verantwoordelikheid teenoor ’n ervaring nagekom, en nou kan die verhaal wat uit dié ervaring voortgekom het, uiteindelik tot rus kom. Sy voorgestemde lot is vervul.”

Slaap rustig, liewe Hennie. Ek voel geborge tussen al die herinneringe, briewe en boeke. Jy het jou verantwoordelikheid teenoor ons en die lewe met onderskeiding nagekom. Dankie.

Bibliografie

Aucamp, H. 1996. Gekaapte tyd. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 1997. Allersiele. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 1998. Beeltenis verbode. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 2000. Ook skaduwees laat spore: ’n Keuse uit sy populêre verhale. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2002. Hittegolf: Wulpse sonnette met ’n nawoord. Kaapstad: Homeros.

—. 2003a. Skuinslig. Pretoria: LAPA Uitgewers.

—. 2003b. In die vroegte. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2004. Bondgenoot of medepligtige? ’n Skrywer besin oor sy dagboek. Ongepubliseerde rede gehou by die bekendstelling van Skuinslig op 20 Maart 2004 in die Protea Boekwinkel in Stellenbosch. (Kopie in besit van die artikelskrywer.)

—. 2010. Oor en weer. Pretoria: Protea Boekhuis.

—. 2011. Lendetaal. Pretoria: Protea Boekhuis.

—. 2013a. Koffer in Berlyn: Essays oor Kabaret. Pretoria: Protea Boekhuis.

—. 2013b. Persoonlike onderhoud op 2 Julie 2013. Kaapstad. (Elektroniese opname in besit van die artikelskrywer.)

—. 2013c. Mits dese wil ek vir jou sê: Briewe van Hennie Aucamp. Saamgestel deur Petrovna Metelerkamp. Hermanus: Hemel & See Boeke.

Aucamp, H.C.L. 2001. Bly te kenne: ’n Bundel portrette. Kaapstad: Tafelberg.

Uittreksel uit ’n akademiese artikel wat tans onder beoordeling by Journal of Transdisciplinary Research is.

>> Lees nog huldeblyke aan Hennie Aucamp, asook 'n keuse van sy artikels op LitNet

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top