Hennie Aucamp: Ek het hom Meester genoem

  • 0

Hennie Aucamp was my vriend, mentor en tweede pa.

Ek het hom Meester genoem. Hy was die vader van die Afrikaanse literêre kabaret. Ons het mekaar in 1979 ontmoet by die Oude Libertas-teater tydens 'n simposium oor die Afrikaanse luisterlied.

Wat my eerste opgeval het, was die mooi manier waarop hy gepraat het, sy suiwer Afrikaans, sonder om hoogdrawend te klink. Daar was iets standvastigs aan Hennie, 'n karaktertrek wat my so baie aan my eie pa herinner het. Hy het 'n ouwêreldse sjarme uitgestraal, ontdaan van pretensie.

Dit was wonderlik om 'n jaar later in sy briljante kabaret Met permissie gesê by die Markteater op te tree met Janice Honeyman as regisseur. Saam met my in die rolverdeling was Laurika Rauch, Rina Nienaber, Clarabelle van Niekerk, Gerben Kamper, Sam Marais, Kobus Kleynhans en Bill Curry. Die kabaret het geskiedenis gemaak – dit was die eerste Afrikaanse kabaret by die Markteater. Die tydsberekening was perfek – daar was 'n oorlog op ons grens, sensuur het hoogty gevier en ons was 'n veelrassige geselskap – ongehoord in daardie dae van apartheid. Die kabaret se speelvak is keer op keer verleng en dit het kultusstatus bereik.

Ek glo niemand kon Hennie in hierdie genre nadoen nie. Hy was die meester; hy het die dekadente én die gesofistikeerde gesigte daarvan gesnap. Hy het dié wens uitgespreek in sy programnota vir Met permissie: "Of kabaret 'n toekoms in Afrikaans het, sal die tyd moet leer. Sekerlik is daar talent, veral onder jonger kunstenaars, wat uitgebou kan word. 'n Mens wil hoop dat die publiek gaan saamwerk aan die vestiging van kabaret, want kabaret skep 'n ‘ironiese ruimte’ wat nie net sanerend is nie, maar in ons gekwelde tyd ook 'n oorlewingstegniek kan word."

Hierdie genre het my soos 'n handskoen gepas as aktrise én sangeres. Hennie het deur die jare seker gemaak dat hy my blootstel aan die musiek uit die ontstaansjare van kabaret en die sangeresse wat in Europa ikone was as kabaretkunstenaars. Ek het gereeld boeke en kassette ontvang van die Kloofstraat-poskantoor met die geskiedenis van kabaret en musiek van Gisela May, Lotte Lenya, Zarah Leander, Marlene Dietrich. Soms was dit net 'n keurige poskaart met 'n foto of skildery van ou Berlyn met 'n inskripsie. Een van my gunstelinge, uit Duits vertaal, lees: "Jy kén wat jy sing, daarom sing jy."

Hennie het my aangepor om meer te skryf en my verweer was altyd dat ek nie slim genoeg is nie. Dan het 'n preek gevolg wat my moed gegee het om tóg te probeer. So het ek van my eerste selfgeskrewe album, Vrou by die spieël, tot my onlangse, Kerse teen die donker, se lirieke getrou vir hom gefaks tydens die skryfproses. Hy het moeite gedoen om alles noukeurig te lees en dan sy terugvoering gegee. My geprys waar dit prysenswaardig was, voorstelle gemaak waar dit kon verander, of 'n woord vervang met 'n beter een. Nooit soos 'n streng onderwyser nie, maar met entoesiasme en liefde.

Hy het gereeld my vertonings bygewoon, en danksy vriende soos Jan du Toit kon hy meer onlangse optredes bywoon, want hy het nie meer bestuur nie. Hy het altyd met geskenke gekom, kosbare boeke en musiek wat my kop aan die dink moet sit. Ek sien hom nog so duidelik voor my in die Artscape-teater in 1997. Hy was in 'n rolstoel na 'n knievervanging, maar was daar om een van die eerste opvoerings van 'n Vuur gevang in glas uit sy pen by te woon. Wat my opgeval het, was dat hy, eenkant in sy rolstoel, die gehoor meer dopgehou het as die kabaret. Hy was oorstelp met die reaksie: "Jy het hulle in die palm van jou hand gehad, liewe Amanda!" het hy gesê.

Nee Meester, jý het.

>> Lees nog huldeblyke aan Hennie Aucamp, asook 'n keuse van sy artikels op LitNet

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top