![]() Foto: verskaf
|
|
Sêgoed van Hendrik Januarie: “Skryf neer, want mens gaan vergeet. Papier bring als terug. Jy sien dit.” (Die Burger, 14 Augustus 2008) “’n Skrywer en sy werk word dikwels misgekyk of weggegooi. Die skepping gaan dan saam met die skepper verlore. Die raklewe van boeke op winkelrakke is vlietend.” (Die Burger, 14 Augustus 2008) “Die politiek is nuwe veld waar jy moet kyk hoe jy aanpas om te oorleef. Elkeen loop wel ’n spoor raak, soos in die gedig ‘Nagjakkals’. ’n Mens loop dinge raak van die begin af. Jy volg dit en kyk waarheen dit lei. Die pad vorentoe is donker; mense strewe om daar uit te kom.” (Die Burger, 14 Augustus 2008) “Skryf is soos water is op dors, verlossing uit degradasie en verval, die emanasie van hunkering, ekstase, aptyt en pyn.” (Uit die gedig “Letters” in Pro rata) “Ek wonder soms altyd waaroor ek nou regtig skryf. Ek dink die persoon wat dit lees, moet maar vir homself besluit. Wat my betref, skryf ek oor alle dinge in die wêreld wat my tref. Voorheen het my gedigte altyd oor ’n spesifieke onderwerp gehandel. Maar dit het verander. Nou skryf ek met meer vryheid.” (Rapport, 1 Oktober 1989) “Luister na kritiek. Kyk na die werk van ander skrywers en digters. As ’n mens ’n talent het, laat jy jou nie onderkry nie. Was dit nie vir daardie onderwyser wat die eerste keer ’n klip in die bos gegooi het en my uitgedaag het om gedigte te skryf nie, sou ek miskien nie vandag my eerste digbundel gepubliseer het nie.” (Rapport, 1 Oktober 1989) |
Gebore en getoë
Hendrik Januarie is op 16 Oktober 1941 op die plaas Amalienstein in die distrik Ladismith in die Suid-Kaap gebore. Sy voorgeslagte het aan die voet van die Swartberge gewoon. Sy ouers en voorouers is van die Groot Karoo se kant van die Seweweekspoort en hy ken elke draai in hierdie poort by die naam.
Hy vertel in ’n biografiese skets by NALN dat terwyl hy ’n baba was, sy ouers vir ’n kort periode op Albertinia gebly het en daarna is hulle na Kouveld in die distrik Laingsburg, waar hulle op die plaas van ’n mnr Hunlun gewerk het. Hier het die jong Hendrik vir die eerste keer van sy omgewing en sy eie bestaan bewus geword.
Hulle verhuis na Voorplaas nadat hulle kliphuisie gedurende ’n vloed ineengestort het. Sy vader bewerk daarna die plaas Voorplaas om die helfte. Hendrik vertel: “Hierdie gebied met sy vaal aarde en geelklei waaruit verskillende speelgoed gemaak kon word, die vleie en fonteine, die pypies, proteas, besems en biesies, die klein Swartberg, Seweweekspoort, waar sy oupa en oompie gewoon het, het ’n groot indruk op my gemaak.”
Hendrik was pas sewe jaar oud toe hy saam met sy neef per donkiekar te Amalienstein moes skool toe gaan. Sy tante het in Opsoek gebly en Hendrik sou by haar gaan bly het. Klein Hennie het egter só tekere gegaan en geskop en gehuil, dat sy neef hom weer terug na Kouveld geneem het. Hendrik se pa het hom daarna per perdekar saam met mnr Willem Basson gestuur, en om met die eienaar van die windmeul en met ’n kar wat deur twee perde getrek word, saam te ry, was vir die klein Hendrik ’n opwindende ervaring.
“Hierdie keer besluit ek om in Opsoek te bly en skool toe te gaan,” vertel hy verder. “Ek woon vir ongeveer ’n kwartaal die Lutherse Skool in Amalienstein by, maar is daarna na die Engelse skool te Zoar, omdat my tante se kinders daar skoolgegaan het. Toe ek veertien jaar oud was, trek my pa-hulle na Opsoek, waar my vader kleinhoewes om die helfte bewerk het. Ploeg en saai, spit en plant, melk en oes, hout en waterdra en alles wat gepaard gaan met die plaaslewe, was [my] deel.” Hy moes ook leer, en omdat hy ’n jaar laat skool toe is, voltooi hy in 1957 sy standerd ses. Hy is daarna na Elsiesrivier in Kaapstad, waar hy in 1961 aan die Hoërskool Elsiesrivier matrikuleer.
Verdere studie en werk
Nadat Hendrik sy matriek gemaak het, gaan werk hy onder meer by Artistic Embroideries as masjinis, by Chrysler as klerk, by ’n blindingmaatskappy as stoorman en by Stikland-hospitaal as verpleër. Vir die grootste deel van sy loopbaan is hy ’n klerk by die Administrasie Raad van Verteenwoordigers (Kleurlingsake) en werk hy by die streekkantore in Kaapstad, Johannesburg en Beaufort-Wes, en as ’n onderwyser sonder ’n diploma by die Primêre Skool Hutchinson. Vanaf Julie 1986 werk hy by die staatsplaas te Amalienstein.
In 1970 kom Hendrik tot bekering en in 1972 is hy na die Chaldo Bybelinstituut te Wittebome en sedert 1974 dien hy eers voltyds en later deeltyds as pastoor en ook as huweliksbevestiger in die Volle Evangelie Kerk. In 1997 tree hy uit as hoof-voorsieningsadministrasieklerk op die staatsplaas Lanox en besluit hy om heeltyds die kerkdiens te betree.
Hendrik, of Hennie soos sy vriende hom ken, se loopbaan as digter begin in 1961 toe die Hoërskool Elsiesrivier hulle eerste jaarblad publiseer. Daarin verskyn vier gedigte van hom. ’n Eksemplaar van hierdie jaarblad is in 1991 in Australië opgespoor. Hendrik en Abraham de Vries het vanaf 1989 na ’n eksemplaar daarvan gesoek om te gebruik in die maak van ’n televisieprogram en nêrens in Suid-Afrika kon hulle een opspoor nie – nie eers by die skool nie. Totdat mnr Matthew Lamour, ’n oudonderwyser by die skool, tot hulle hulp gekom het. Hy het destyds in die redaksie van die blad gedien en was in Suid-Afrika met vakansie toe hy vir Hendrik gekontak het.
“Ná daardie eerste gedig het die juffrou my elke keer gevra om gedigte vir die jaarblad te skryf,” vertel Hendrik aan Edwin Lombard (Rapport, 1 Oktober 1989). “Ek was van toe af bekend as die digter van die skool.
“Deur die jare het ek van my gedigte na verskeie uitgewers gestuur, maar hulle het dit elke keer teruggestuur. Ek het toe maar die aard van my gedigte verander en bietjie gekyk na die styl van die moderne skrywers. Ek het wegbeweeg van die rym-gedigte en meer vryelik begin dig. Dit is toe dat ek weer eens van my gedigte na Perskor gestuur het. Hulle het my egter weer afgewys.
“Ná ’n tyd het hulle my weer gevra vir die gedigte. Hulle wou ’n bundel getiteld Twintig debute uitreik. Van die idee het egter niks gekom nie. Ek het toe uiteindelik van my gedigte weer verwerk en nuwes bygevoeg en uiteindelik 48 gedigte aan Perskor gestuur. Dit is uiteindelik aanvaar en onder die titel Pro rata as my debuutbundel uitgegee.”
Die bundel se eerste kopie word aan Hendrik oorhandig deur Abraham de Vries, ook ’n boorling van Hendrik se geweste, wat gesê het dat hy beïndruk is met die “jong digter se spel met die taal en met die manier waarop hy gesprekke met digters soos Van Wyk Louw en Opperman aanknoop en die soberheid van sy segging”. (Beeld, 5 Oktober 1989)
Hendrik self vertel aan Beeld dat met die publikasie van hierdie eerste bundel, dit reeds by hom tweede natuur geword het om te dig en dat daar nog talle gedigte is waaraan hy wil skaaf en wat hy wil verwerk voordat hy dit ook aan die uitgewers wil voorlê.
In haar resensie in Die Burger skryf Helize van Vuuren (Die Burger, 1 Maart 1990) dat Hendrik se talent lê in die rigting van die liriese natuurvers, wat verwantskappe toon met Leipoldt: “Dié poësie kort egter meer gestrooptheid (veral van die groot woorde en abstraksies) voor dit tot sy reg sal kom.”
TT Cloete skryf in Volksblad van 9 Desember 1989 dat Pro rata die soort eerste digbundel is wat dadelik die digter “in ’n agterstand plaas. Daar is soveel swak gedigte dat ’n moontlike volgende digbundel baie sterk oortuigingswerk sal hê om te doen. Bowendien het die uitgewers die digter ’n groot ondiens gedoen deur die swak versorgde boek. Dit is eintlik ondenkbaar dat ’n uitgewer dit waag om so iets op die mark te plaas.
“Aanvanklik maak die gedigte die indruk van grootsprakerigheid. Mens verstaan nie mooi wat daar staan nie, nie omdat die gedigte te moeilik is nie, maar omdat dit ’n byna sinnelose aaneenryging is van vernaamdoenerige woorde: ‘in ’n homogene domein / domisilie hê’, ensovoorts. [...] Daarbenewens maak die digter, veral vir iemand wat debuteer, te veel bemoeienis met die skryfhandeling self. [...]
“Teen die helfte van die bundel kom daar egter ’n aantal herinneringsgedigte, veral gedigte oor die vervloë kinderdae en oor mooi plekke in ons land, oor eenvoudige mense, in eenvoudige taal geskryf, onpretensieus en mooi: ‘Seweweekspoort’, ‘sirkel’ en ‘terugkeer’. [...] Saam met die mooi herinneringe gaan ’n gevoel van die verganklikheid van alles. In hierdie gedigte is daar ’n sterk sintuiglikheid, in teenstelling tot die bleek gedagtegedigte van die begin. [...]
“Daar is genoeg gedigte wat daarvan getuig dat die digter begaafd is, maar nie genoeg om die bundel, wat in oorhaastigheid gepubliseer is, die aansien te gee wat ’n debuut behoort te hê nie.”
Sy tweede bundel, Nagjakkals, word in 2007, agtien jaar na sy eerste, deur Kwela gepubliseer. Oor die lang tyd wat tussen die publikasie van die twee bundels verloop het, verduidelik Hendrik aan Willem de Vries: “Die nagjakkals moes eers ’n ent saam met my loop en op paaie wat eers op ander bundels met ander name gedui het, ook al ander gedigte was.”
Nadat Nèlleke de Jager van Kwela hom oor die bundel gebel het, het hy spoor gevat. Hendrik teken dinge op soos dit hom opval en hou die papiere waarop die dinge staan, want later kan hy “sien dít was ’n oor, daardie ’n beentjie”.
In Nagjakkals is ’n fyn soort verset aanwesig en die spesifieke skoonheid wat dinge besit wat verganklik is, kom sterk deur. Hy vertel verder aan Willem de Vries dat die oudste gedig in die bundel “Kiem van ’n blom” is: “Dit het ontstaan as ’n liefdesgedig. As jy jonk is, vergaan die wêreld met sulke goed, maar later dan kom ’n ander soort liefde, herinnering, daarmee saam.”
Ilse van Staden skryf in Sarie (Januarie 2008) dat daar ’n paar mooi woordvondste is, “maar dat dit metafories effens te kort skiet met slim beelde of potensiële taalspel wat nie oortuigend ontgin word nie. Dit maak die bundel wel baie toeganklik, maar dalk net te toeganklik en eenlagig vir poësie.”
Steward van Wyk is die resensent van Nagjakkals vir Tydskrif vir Letterkunde (Herfs 2008). Vir Van Wyk was daar reeds in Pro rata tekens van Januarie se vermoë om indrukke – “onder andere van die natuur, landskappe, verganklikheid en die sikliese aard van lewe en bestaan – onder woorde te bring. Hierdie bundel toon ook sy voorliefde vir alliterasie (kyk ‘etenstyd’) en ironie.”
In Januarie se nuutste bundel Nagjakkals is hierdie temas ook duidelik sigbaar en daar is sprake van nostalgie na ’n tyd wat verby is, “getemper deur godsdienssin en geloof in die teenwoordigheid van ’n Hemelse Wese wat ons tydelikheid in Sy ewigheid ophef. [...]
“Januarie se verse,” gaan Van Wyk voort, “ontspring uit sy geboortestreek, die Klein Karoo. Oorwegend enumereer hy die aardsheid van die landskap en plantegroei soos in ‘Kiem van ’n blom’ en ‘Hierdie kontrei’ en vind ook dikwels groter sin en samehang in die gebeure wat daar afspeel. Maar die mense van hierdie kontrei is vir my opvallend afwesig of is skimmige figure teen die agtergrond van die natuur of naturalisties uitgelewer aan ’n goddelike of ewolusionêre verloop. En daarom bly die verse vir my vassteek in pastorale beelde sonder die teenwoordigheid van, al sy dit ook, nietige, feilbare wesens. My gevoel is dat Januarie se gedigte meer trefkrag sal kry in die verwoording van ’n Klein Karoo-lewe en dat hy daardeur dié wêreld en sy mense poëties sal oopskryf, vergelykbaar met wat Abraham H de Vries in sy kortverhale doen.
“Te veel van ’n nagjakkals, skarrelend en snuffelend op die spoor, en te min van die gevreesde bergluiperd wat homself in ou ruimtes laat geld (kyk ‘Luiperdland’).”
Jare na die Laingsburg-vloed bly die herinnering daaraan voortleef en vind dit in sy gedigte neerslag. “Die vloed het almal geraak. Baie lyke is nooit gevind nie. Vir talle mense wat toe jonk was, kinders was, kan die vloed nie afgesluit word nie. Mense kan nie onthou hoe hul ouers gelyk het nie. Terwyl hulle opgroei, begin hulle die persoon en die mens se persoonlikheid ook vergeet. Dit raak die samesyn met diegene wat hulle mis. Ook oor hoe hulle uit die lewe weg is,” vertel Hennie verder aan Willem de Vries.
Uit sy digwerk is dit duidelik dat Hendrik se werk gekenmerk word deur ’n eiesoortige, suiwer stem. Hy skryf veral vanuit die wêreld van sy heimat, die Klein Karoo. Hy skryf diep ontroerende verse oor verlies, veral oor die Laingsburg-vloed, en die krag van sy verse lê dikwels in die ongesegde, in dit wat agter die verse huiwer. (Volgens die uitgewers)
In 1993 word ’n televisieprogram getiteld ’n Afspraak met die berg: Hendrik Januarie op televisie uitgesaai. In hierdie program word teen die agtergrond van die Klein Karoo en in die tradisie van skrywers van hierdie geweste gewys hoe Hendrik met die geskrewe woord skep soos net die Kannaland-digters en -skrywers dit kan doen.
Vir Hendrik is een van die hartseer dinge dat biblioteke nie altyd die boeke het wat jy wil lees nie. Hy vertel dat die biblioteekgebou op Zoar nie tot sy reg kom nie. “Dis al geplunder, afgebreek, toegespan en reggemaak, maar daar’s nie boeke nie. Op Amalienstein is daar tweedehandse boeke van ’n gemeenskapsorganisasie, maar dit word nie aangevul nie. Daar is ’n Engen-biblioteekbussie op Zoar, maar dis net vir die skole. [...] In die omgewing is mense wat nie werk het of inkomste kry nie. Ander mense is nie finansieel daartoe in staat om boeke te koop nie,” vertel hy aan Willem de Vries. (Die Burger, 14 Augustus 2008)
“Uit die gemeenskap het mense hul waardering vir sy boek uitgespreek, ook want mense voel dit gaan oor húlle plek, dié omgewing, blyk dit. Maar vir baie mense van Zoar is boeke van hul eie skrywer nie beskikbaar nie. Mense voel ek is óns skrywer, want almal kan meeleef daaraan [sy bundel].”
De Vries skryf verder: “Hendrik Januarie beskou homself as ’n aalwynboom (sien gedig hier onder) en laat blyk sy selfopgelegde taak as digter het ook ’n belangrike eienskap daarmee gemeen: ‘Die plant is medisinaal – hy bly dít deurgee’.
Aalwynboom
Hier hier
in Kan-nie-land
groei ’n bitter
bitter aalwynboom
met bit-
bitter jare
agter die rug.
Sy verlede sit
in kringe dor om sy lyf.
Bo by
sy kruin
kroon sy blom
waar die heuningby
gaan en kom
want bitter alewee
dra ook
soetigheid
in hom mee.”
In 1983 tree Hendrik in die huwelik met Katrina Gertse, wat ook in die distrik Laingsburg grootgeword het. Hulle het ’n seun, Caleb, en ’n dogter, Deogracia. Hendrik is baie lief vir lees, velduitstappies en tuinmaak.
Volgens ’n artikel wat in Die Hoorn (“Hendrik Januarie – pêrel van Zoar”) van 5 Februarie 2025 verskyn het, was ’n derde boek van Hendrik Januarie toe by die drukkers. Dié boek, Seweweekspoort – cradle of the echo, het hy in Engels geskryf omdat so baie van die reisigers wat by hom kom uitvra het oor Seweweekspoort, Engelssprekend was. In hierdie reisgids met foto’s van belangrike bakens van die asemrowende Seweweekspoort, bespiegel Januarie oor onder meer die oorsprong van die naam, dat beweer word dat die polisie sewe weke geneem het om ’n dief wat daar geskuil het, vas te trek. ’n Ander mite wil dit hê dat dit sewe maande sou neem om die eerste pad deur die poort te bou. In die poort is ook ’n spesifieke varingplant bekend as die seweweeksvaring.
Publikasies:
|
Publikasie |
Pro rata |
|
Publikasiedatum |
1989 |
|
ISBN |
0628033824 (sb) |
|
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Nagjakkals |
|
Publikasiedatum |
2007 |
|
ISBN |
97780795702532 (sb) |
|
Uitgewer |
Roggebaai: Kwela |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Artikels oor Hendrik Januarie beskikbaar op die internet
- Bruin digter van Karoo ontvang sy debuutbundel. Die Burger, 29 September 1989
- Coetzee, Nia
-
- Digter gee weer ’n bundel uit ná 18 jaar. Die Burger, 14 Augustus 2007
- Woorde voed sy gees, sê digter van Amalienstein. Die Burger, 26 Julie 1996
-
- De Vries, Willem: Op die spoor van “Nagjakkals”. Die Burger, 14 Augustus 2008
- Digter spoor jaarblad van sy skool in Australië op. Die Burger, 24 Mei 1991
- Hendrik Januarie
- Januarie, Hendrik: “Die lewe is ’n spel” [gedig]. Bespreking
- Januarie se gesigte in jaarblad van 1961 in Australië gevind! Die Karet, 16 April 1991
- #KLOP! Kuier vanaand (20 April 2022) op Zoar by die skrywer Hendrik Januarie
- Lombard, Edwin: Ladismith se digter pronk oor sy eerste bundel. Rapport, 1 Oktober 1989
- Meyer, Deon: Hendrik Januarie – pêrel van Zoar. Die Hoorn, 5 Februarie 2025
- Nuwe digter kan “speel met taal”. Beeld, 5 Oktober 1989
Hendrik Januarie se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2009-05-26 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


