Die hip-hop-kunstenaar HemelBesem se nuwe EP is pas vrygestel. Hy vertel meer oor die EP, Afrikaanse hip-hop en die pad vorentoe.
Dagsê, HemelBesem. Hoe's dinge?
“Ek lewe” is gewoonlik maar die naaste antwoord om te gryp, want ek hou nie van leuens vertel nie. En die pluspunt is natuurlik dat duskant die graf is daar altyd hoop. So miskien moet ek sê yayyyy!!!!
Jou jongste EP, Die YMCMBesem, is in Januarie 2013 vrygestel. Hoe voel jy oor die EP, wat betref die styl en inslag, vergeleke met jou vorige vrystellings?
My albums en liedjies is my babas. Elkeen het sy eie identiteit en uit elkeen leer ek nuwe grond ken en kom ek te staan voor nuwe grense wat die industrie daar stel. Ek is ’n fan van HemelBesem. My heel eerste amptelike vrystelling was die fokus totaal om sosiale kommentaar te lewer. Die album Dink ‘n bietjie was goed ontvang deur die demografie op wie dit gefokus het. Was hoofsaaklik geborg en ondersteun deur FASfacts (’n organisasie wat fokus op die voorkoming van fetale alkoholsindroom).
Na dié fase van my lewe wou ek meer poëties raak en HemelBesem was losgelaat! Die Woester Standard Mixtape was die heel eerste HemelBesem-tree wat gegee was. ’n Kru, rou heilige wese wat oorlog voer teen euwel (wat dit ook al mag wees). Ek het altyd daai tipe Braveheart ethos binne my. ’n Tipe oorlogsengel. Die respek vir ritme was aspris nie daar nie, die produksies rou. Alle fokus op elke woord wat geuiter word. Metafore galore, idiome en beeldspraak welig gesaai. Elke lied was visueel stimulerend op die oor.
Die album daarna, genaamd Auto-Bio-Grafie, het ek vir eers onder ’n ander alias, Origin-0 (daar’s “origins” in niks), gedoen, omdat dit nie die momentum van HemelBesem sou help nie, maar die album was noodsaaklik op daai tydstip van my lewe. Dit was ’n outobiografie. Aspris gespel soos dit was om die meng van tale te onderstreep, maar ook was die title van die album veel dieper as net taal-“statement”. Dit was “Ons almal kom auto-maties by ‘n bio-logiese punt waar ons ’n ‘grafie’ neem, spit en kyk waar ons vandaan kom. Feitlik elke snit op daai album het die prentjie van my lewe tot op daardie stadium geskilder.
Toe kom die groot deurbraak wat respek afgedwing het, dink ek, vir HemelBesem onder my alma mater, genaamd Evil is maklik. Dit was hard op die oor, kru sonder onnodige kragwoorde (ek gebruik nie juis dit in my werk nie), poëties korrek. Ek het feitlik gal gebraak op alles wat onregverdig gevind was op my gedagteskaal op daai tydstip. Die media, politiek, religie ensovoorts. Ek het goeie terugvoer gekry van luisteraars, en my doel was bereik wat daar gestel was vir daai projek.
Toe ek die aandag het, het UWIL ISI MAKLIKI sy verskyning gemaak wat basies groot porsies van beide Evil is maklik en Auto-Bio-Grafie bevat. ’n Meer musikale album en vir ’n wyer gehoor.
Ek het ander projekte nog ook aangepak met verskriklik baie kunstenaars. Na ek met BLM Music begin saamwerk het, het ons ‘n fokus-verskuiwing gedoen en YMCMBesem is die eerste vrug van ons werk. Sekere liedere, soos “Kêrels by Candlelight”, “Man Van Staal” en “Hoe Salla” kom van vorige albums, maar ons het gevoel daar’s nog genoeg in daai songs om dit soort van te laat herleef deur beter vermenging en oor die algemeen beter klankgehalte. Ek was bly oor die besluit. YMCMBesem is meer ’n CD vir as jy die klank bietjie wil opdraai en die bas bietjie wil gas gee. In ons geledere noem ons dit “banger” liedjies. “Bang for your buck.” Ek het steeds die kwaliteit skryfwerk van lirieke behou en al kan jy dans op baie van die songs, terwyl jy oor en oor luister sal jy genoodsaak word om dit te analiseer. Dis altyd my doel met my werke. Om mense te stimuleer om minder net te aanvaar maar om te dink! Die klem hier is jeug, maar die ouer garde, veral Afrikaans-liefhebbers, sal êrens iets genotvol daaruit kan put.
YMCM is ’n akroniem vir "You must come meet ...". Hoekom moet almal vir HemelBesem ontmoet?
HemelBesem is, soos die naam sê, ’n baie lang, of groot, persoon. As jy my ontmoet sal jy agterkom ek pas nie juis in daai beskrywing nie! En dit los jou met vrae, en onmiddellik werk jou brein. Hahaha, dan begin jy dink! Grappies eenkant, ek is wel, in my absolute nederige opinie, ‘n baie lang of groot ou aan die binnekant. Ek is gegrond, maar kop in die wolke. Gewortel in aardse dinge maar gevoer deur hemelse inspirasie. Vee skoon vanuit ’n hemelse perspektief. Ek is nie alleen ’n “hemelbesem” nie. Dis ’n movement! Daar's baie wat ewenaar waarna ek werk en selfs beter doen, so ontmoet hulle én my. Beskou Afrikaanse hip-hop, oftewel rymklets, uit ’n nuwe hoek. Dis so ryk aan kultuur en kleur. Moenie almal oor dieselfde kam skeer nie. Nie almal is vulgêr of ongeletterd en so meer nie – en al ís dit ook die geval, kom ontmoet hulle vóór jy jou besluit neem. Soos Ravi Zacharias sê: “Prejudice distorts perception!” Glo my, as jy dit eers ’n geleentheid gee om te groei op jou oor, soos ons in my strate sal sê: “Een byt laat die heuning spuit!” (O ja, en eintlik is die title ’n tipe parodie op die YMCMB-“brand” wat tans so groot is onder ons jeug. Wat sangers soos Nicki Minaj, Lil Wayne, Drake ensovoorts se musiek versprei en eien.)
Jy beskryf jouself as ’n "edutainer". Wat beteken die woord vir jou en hoe word dit weerspieël in jou musiek en lirieke?
Edutaining is mos maar ‘n kombinasie van education en entertainment. Dis die vermoë om tydens ’n optrede of luistersessie mense se gedagtes in ’n opvoedkundige rigting in te stuur terwyl hulle hul ook sosiaal geniet. Vroeër in my loopbaan was die education-deel veel groter as die entertainment. Ek het redelik ’n beter balans gevind deesdae, en alhoewel baie van my werk nie noodwendig blatant op ’n sosiale saak ’n soeklig plaas nie, is daar ander lesse wat geleer word. Lesse van kultuur, taal, filosofie, religie ensovoorts. Dis nie altyd net die doel om mense te kry dat hulle my eie idees moet navolg nie, maar ek wil hulle open om hulle éie te vorm. Dink!
Van die bekende name in hip-hop-kringe wat op die YMCM-album verskyn is Jaco van der Merwe van Bittereinder en Isaac Mutant. Jy het ook op die mees onlangse Bittereinder-album ’n verskyning gemaak. Hoe sou jy die waarde daarvan om saam met hierdie en ander kunstenaars te werk beskryf?
Ek hou van kruisbestuiwing. Mens groei soveel meer as om op jou eie aan te torring. Ek is eerste ’n fan van baie van die kunstenaars met wie ek werk en gewerk het. Jaco is geweldig liries geseën, maar buiten dit is hy ook ’n praktisyn van wat hy deur lirieke sê. En ek is oor die algemeen versot op dig, so ek hou daarvan as nuwe ritmes, soos my song met Glaskas byvoorbeeld, my druk om iets anders te probeer. Tans werk ek met vele ander name vêêêêêêr buite my genre met wie ek al jare terug wou werk. Die waarde wat dit toevoeg verryk nie net vir my nie, maar ek dink ook hulle gehoor en myne. En dis eintlik onmeetbaar. Ek het die laaste ruk projekte aangepak wat onder ander elemente van rock, dubstep, reggae, folk, country, salsa ensovoorts bevat. En ek love it!
Gepraat daarvan – Afrikaanse hip-hop maak groot opgang die afgelope tyd. Wat het die deur hiervoor oopgemaak en wat is dit aan die Afrikaanse hip-hop wat nou uitgereik word wat dit so aanloklik maak?
Afrikaanse hip-hop is al vir verskriklik lank aan die gang. Sy ontstaan was egter redelik polities van aard, en toe kom ‘n meer “fun”-era, en toe baie intellektueel, en tans is die fokus seker om deurbraak te maak of “naam” te maak. Ek het laas jaar so ’n 12 episodes kans gehad om baie van die informasie op RSG te deel, en wat ek dink oor die onderwerp. Ouens soos Leon Schuster was nooit skaam om hip-hop in Afrikaans oor te dra nie, al was dit subtiel, soos met “Briekdans” en later dan ook “Hie’ kommie Bokke”. Dis dalk nie wat sou afgaan by ’n gevestigde Afrikaanse hip-hop-gehoor nie, maar dit was tog immers Afrikaanse hip-hop. Selfs die komediant Casper de Vries het oor die jare gereeld sy shows begin met ‘n hip-hop-liedjie genaamd “Groet my”. Brasse vannie Kaap het ook groot spronge gemaak in die media, maar die verloor van die groot Mr Fat en dan ook die repeterende rotasie tussen jaarlikse feeste het ook maar die tol geëis. ’n Vars bries in die vroeë twintigs was ook Kallitz, wat ‘n paar deure oopgetrap het kommersieel, alhoewel dit soms onder redelik kontroversiële omstandighede was.
Nie een van die bogenoemde kon egter werklik die spreekwoordelike damwal laat tuimel nie. Toe kom die zef-beweging en Die Antwoord en Jack Parow het grootliks bygedra tot die hedendaagse belangstelling in rymklets. Ek moet darem byvoeg dat Die Antwoord, en Jack, se rymstyle en terminologieë ensovoorts kom uit die kringe waarin hulle hulself voor die groot deurbrake gevind het, alhoewel iemand soos Ninja eintlik ’n hip-hop-veteraan is in hip-hop-kringe. So daar moet dank aan hulle geswaai word, maar los meer vrae in die monde van hulle voorgangers en helde, asook vrae oor Suid-Afrikaanse media en waar dit ouens soos myself en my eweknieë los ten opsigte van kwaliteit-blootstelling ensovoorts. Gehore en kopers het ook gegroei sedertdien, so die oopkoppe soek juis meer stimulasie in hulle taal en meer kleur. En alhoewel die zef-beweging ingeskakel het by die toe rock-beweging wat baie uitdagend was met hulle lirieke, het dit ook heelwat bedaar en probeer nou hulle liriese ware kleure wys.
Onder die verskeie feeste en venues waar jy al opgetree het, tel die KKNK en die Suidoosterfees. Hoe is die ontvangs vir jou musiek en inslag by dié feeste, veral by mense wat nie met jou musiek bekend is nie? Kry jy terugvoer van omies en tannies met pannekoeke in hul hande?
Ek het jare ondervinding om voor gehore op te tree, hetsy met drama, of om te preek, praat, onderwys gee ensovoorts. So om ’n gehoor te lees is ’n kuns wat ek al goed onder die knie het. Nog nie perfek nie, maar dis redelik goed. Eerstens moet ek eerlik sê, by baie van die feeste is die ouens wat my book te versigtig om my voor groter gehore te gooi, so gewoonlik is dit maar ’n handjievol feesgangers voor wie ek moet optree. Die begin is gewoonlik ysbreek, maar daarna gaan dit maklik af en dis nie moeilik om hulle deel te maak van die optrede nie. Ek onthou ’n geval waar ’n ou tannie na my optrede na my aangestap gekom het en gesê het: “Jy klink soos my dominee, maar net met ’n ritme.” Sy't my verduidelik dat sy in haar jeug in opera betrokke was en in kabaret. Wat sy volgende gesê het, sal ek nooit vergeet nie. Sy't gesê: “Ek sal nie weer die televisie onmiddellik oorskakel as rap op die skerm verskyn nie, want miskien praat daai ou ook dalk ‘sense’.” Ek het ook al trane gesien en by meer as een geleentheid was daar encores. As my gehoor ’n oningeligte een is wat hip-hop aanbetref, maak ek seker ek forseer nie die kunsvorm in hulle keel af nie, maar neem eerder die leisels en lei hulle met groot respek en openhartigheid na die groen weivelde van openbaring. Haha!
Hoe gaan ’n mens in ’n mededingende bedryf soos die Suid-Afrikaanse en die Afrikaanse musiekbedryf te werk om jou act volhoubaar te hou en om deurentyd ’n vars merk te laat?
EK kan slegs Afrikaanse hip-hop verteenwoordig in my antwoord. Iemand het eendag gesê: “No surfer just goes in the water; he watches the waves from a distance and then determines how he will ride these waves.” Daar's baie waarheid in daai sin opgesluit. Kunstenaars moet die industrie bestudeer en sien wat werk en wat kopers en luisteraars soek en sonder om te veel kompromieë aan te gaan, jou act redelik aan te pas. Daar is ook natuurlik die moontlikheid om baanbrekerswerk te doen, maar dit kan riskant wees, so versigtig met dit. Ek sou sê pas eerder aan, dan, wanneer jy gevestig is, probeer iets nuut. Jy kry kunstenaars wat net op een act staan, en andere wat gedurig verander en buigbaar is. Albei het sy voor- en nadele. Count the cost en dink!
Wat hou die toekoms, korttermyn en langtermyn, vir HemelBesem in?
Korttermyn: ’n Paar nuwe musiekvideo's agter die rug kry. Collaborations waaraan ek nou werk om dit lekker te polish. Ons as BLM moet ook deur amper 40 songs werk om ’n album bymekaar te sit voor die jaar om is. Hoop om meer sigbaar te raak in media, en gehoor te word deur die regte ore!
Langtermyn: Daar is ’n paar televisieprogram-aanbiedingsmoontlikhede wat ek in delf en hopelik sal dit êrens gebeur. Ook om ‘n meer permanente platform te probeer skep in hoofstroom-media vir Afrikaanse hip-hop. En om HemelBesem sinoniem te sien raak met die buigbaarheid en “kleur” van Afrikaans. Ook hoop ek om meer te werk saam met van my Afrikaanse musiekhelde. En ek sal hopelik die stage verruil vir meer intieme teateroptredes. Daai is immers eintlik my tuiste!
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.