Helen Martins

  • 0

1.

(Ah Moon of my Delight who know'st no wane)

op watter van die drie bedjies op 'n ry
in die lang kamer met sy slangvoettafel
gaan sy vanaand die maan
soos vir johannes hattingh
inwag
vir die skurwe streel oor haar lyf
nog toe onder die fyngemaalde marmitepotjies
in haar ooghoeke
die poeierstof
van die glas met die kleur van ontroomde melk
wat sy opgegooi het teen die son
op soek na die presiese pigment karoolig
vir die ster van die ooste

2.

in dié dorp sonder straatlig
huil 'n uil in 'n perskeboom
in 'n huis met sy ruite geel en rooi
in 'n kamer groenspaan van skynsel
omvorm sy die gruis van marmitepotjies
tot die bruin oë van die siel
as die lamp en kers
die karoonag oopvlek tot die pit

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top