Heidegger (vanuit Todtnauberg) 1950s
“Wat kan ek nou nog vir julle vertel?
Seuns, dogters, julle is tog wel
bekend met die mossie? Twee
vir ’n stuiwer, sê die Bybel
en nie een van hulle val
sonder die Vader op die aarde.
Moeilik om te glo, ja, die dooie god by Nietzsche,
sowaar, hande vol vere is nog geen voël nie!
Maar ék sê nou vir julle:
waar die Arnika uitbundig bloei
in die Swartwoud se donker turf,
vér van die Führer se bunker,
besef ieder van ons: God is die mossie.
Die hiernamaals klepper luidrugtig
die neerstryk van ons ondergang,
ons fladdering, ons hellevaart, ons sin.
Maar hierdie vasteland, my volk,
is lankal horende doof – die dood,
’n vrolike voëlvanger uit Duitsland.”

