Heerengracht se fontein

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Diegene wat die Kaap goed ken, sal weet van die mooi fontein by die verkeersirkel waar Hans Strijdomlaan by die Heerengracht en Adderleystraat aansluit. Die einste fontein was op 22 Julie 1960 die onderwerp van 'n hofsaak in die Kaapse hooggeregshof.1

Die Kaapse Strandgebiedraad het in 1958 aan twee argitekte, mnre Barnett en Louw, opdrag gegee om die fontein te ontwerp en oor die bou daarvan toesig te hou – 'n opdrag wat hul met gretigheid aanvaar het, want dit was ongetwyfeld 'n prestige-projek.

Die twee het ywerig aan die werk gespring en kort voor lank het hul sketsplanne voor die Strandgebiedraad gedien. Hul ontwerp het die fontein self, 'n ornamentele versiering wat deel daarvan gevorm het, asook die uitleg van die omringende terrein ingesluit. Die sketsplanne is goedgekeur, waarna die argitekte voortgegaan het met die finale werkstekeninge en 'n model van die ornamentele versiering. Ook dit is deur die Strandgebiedraad goedgekeur, waarna die bouwerk begin het.

Nadat 'n groot gedeelte van die konstruksiewerk afgehandel was, het die argitekte gemerk dat die bouers in sekere opsigte begin afwyk het van die oorspronklike, goedgekeurde planne. Die plaveisel rondom die fontein het aansienlik verskil van die argitekte se ontwerp, terwyl ook die ornamentele versiering anders was as wat hulle in die vooruitsig gestel het.

Die twee argitekte het die hooggeregshof in Kaapstad genader met 'n aansoek dat die Strandgebiedraad belet moet word om af te wyk van die goedgekeurde planne; dat hul gelas moet word om alle bouwerk wat nie ooreenkomstig die goedgekeurde planne was nie, af te breek, en dat hul verbied moet word om die fontein amptelik te open alvorens dit deur die argitekte goedgekeur is. So nie, moes die Strandgebiedraad beveel word om die projek heeltemal te staak en van nuuts af aan 'n ander skema, deur heeltemal ander argitekte ontwerp, te begin.

Die vernaamste rede vir mnre Barnett en Louw se aansoek was hul standpunt dat die konstruksie van 'n ornamentele versiering en plaveisel wat nie deur hulle ontwerp is nie, hul professionele reputasie skade sou aandoen. Dit is sekerlik nie 'n onredelike standpunt nie, en 'n mens het begrip daarvoor.

Die probleem was egter dat hulle nie die hof kon oortuig dat hul aansoek regtens op stewige bene gestaan het nie. Die kontrak tussen hulle en die Strandgebiedraad was baie vaag en het nie daarvoor voorsiening gemaak dat die Strandgebiedraad tot op die laaste strepie gebonde sou wees aan die argitekte se ontwerp nie.

Die argitekte se advokaat het aangevoer dat dit inbegrepe is by 'n kontrak tussen 'n argitek en sy kliënt dat die kliënt gebonde sal wees aan 'n ontwerp wat deur hom goedgekeur is. Die hof het egter beslis dat dit 'n gewone kontrak van die huur en verhuur van dienste is en dat die reg nie vanself sulke bepalings in kontrakte van daardie aard inlees nie.

Ten slotte het die argitekte se advokaat ook nie geslaag met sy argumente dat sy kliënte se outeursreg op hul planne geskend is deurdat die Strandgebiedraad net 'n gedeelte daarvan gebruik het en in sekere opsigte hul eie voorkeure gevolg het nie.

Mnre Barnett en Louw se aansoek is gevolglik met koste van die hand gewys en die fontein is voltooi en seker met 'n groot gedoe amptelik geopen. As jy weer om hom ry daar in die Heerengracht, bekyk hom mooi; sy geboorte was maar moeilik. Oppas net vir die Kaapstadse bestuurders: dis altoos vir my asof hulle by daardie verkeersirkel 'n ekstra wilde streep het!

1 Barnett v Cape Foreshore Board 1960 (4) SA 439 (KPA)

 

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

                                                    
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top