Hartlam, kortverhale oor die liefde, saamgestel deur Gerda Taljaard en Deborah Steinmair

  • 2

Hartlam, kortverhale oor die liefde
Samestellers: Deborah Steinmair en Gerda Taljaard

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624082736

“Die liefde verdra alles, maar die liefde het dikwels tande.” Hierdie onderskrif van Hartlam kon net sowel die “tag line” wees vir domestic noir, ’n betreklik jong genre wat vanaf 2012 met die publikasie van Gone Girl ’n opbloei beleef. In domestic noir is die liefde soos ’n straatbrak: oënskynlik vriendelik en onskadelik, maar eintlik slinks, manipulerend en met ’n geniepsige byt wat bloed laat. Dat die liefde sy merk op jou gaan laat, beeld die 42 verhale in Hartlam goed uit. Indien jy gelukkig is, stap jy weg met ’n outydse love bite; meestal is die ervaring egter minder aangenaam. Die omslag van Hartlam met sy starende oog (dit roep dadelik assosiasies met voyeurisme op) dien immers reeds as waarskuwing aan die leser om nie soet romanse en rose te verwag nie. Vergelyk gerus Hartlam se omslag met dié van Kleure van die liefde, ’n versamelbundel met van die beste verhale uit Rooi Rose wat in 2017 by Human & Rousseau verskyn het. Op laasgenoemde lê ’n vrou langbeen in ’n hangmat, goud gebaai in sagte lig. Hartlam is die donkerder keersy van Kleure van die liefde.

In Henning Pieterse se “Twee wette” verander ’n one-night stand in ’n obsessie wanneer ’n jong student verlief raak op die middeljarige dosent en aspirantdigter. By nabetragting besef die dosent: “Hy moes tóé al die gebreekte regteroog raakgesien het, die ligte breeklyn in die middel van die kornea wat die oog vertroebel, wat die kyker se perspektief op die wêreld effens verbuig.” Verskeie verhale in Hartlam bied presies so ’n troebel perspektief op die liefde. In “Rooi angelierblare” bou Martin Steyn spanning vernuftig op rondom ’n hospitaalbesoek. Die verpleegpersoneel ken die verteller goed, aangesien hy elke dag vir sy geliefde, wat in ’n koma is, ’n rooi angelier bring. Die krag van die verhaal lê in die gevoel van ongemak wat die leser geleidelik oorrompel, die subtiele verandering in toon en konteks. Ook in “Die keiser se ete” van Jacqueline Schmahl word die leser aan die neus gelei. ’n Man berei vir sy vrou Manda al haar geliefkoosde kos voor in ’n poging om haar sover te kry om te eet. Die blote gedagte dat sy deur vreemdelinge versorg moet word, is vergesog. Albei verhale bewys die trefkrag van ’n goeie slotparagraaf.

Marlize Hobbs se “Dans” sal jou twee maal laat dink voordat jy weer saam met ’n vreemdeling huis toe gaan of jou minnaar verneuk. Die verhaal aktiveer verder ’n belangrike tema: die vroulike verteller weet “dit sal baie mense moerse happy maak as ek dit kan regkry om in ’n man belang te stel.”

In Christine Barkhuizen-Le Roux se “Bouwerk” aanvaar Malie haar kind se gayverhouding en voorgenome troue sonder voorbehoud. Die verwerping vind egter omgekeerd plaas wanneer die kind nie haar ouers na haar huwelik in die buiteland nooi nie. Malie bou vir haar dogter en Gwennie, “wat sy saam met haar eie kind in haar hart wil toevou”, ’n klipkerk op die familieplaas. Verwerping loop as tema ook sterk deur ander verhale, soos in “Daardie pragtige, swart nommertjie” van Maria du Pré waarin die slotparagraaf die leser behoorlik onder die jis skop.

“My ma is ’n gebreekte winterboom. My ma is die verknoeide takelwerk van ’n sambreel. In hierdie dae van my suster se katarsis leer ons die vele gesigte van die liefde ken.” So open Nini Bennett se “Ek is tog Mamma se liefste ou dingetjie”. Dit beeld die ingewikkelde verhoudings tussen ma en dogter en susters uit.

In Deborah Steinmair se “Eerste liefde” is dit ’n ouma se “onverdunde liefde” wat “die kind se lewe gered” het. Helena, die jong meisie in Antoinette Venter se verhaal, “Liefdesoffer” (wat tydens die Tweede Wêreldoorlog afspeel), het ongelukkig nie die ondersteunende liefde van ’n ouma of ma wat as vangnet kan dien nie, slegs Meneer Willemse wat troos en, bowenal, kos aanbied: “Dis lekker om ’n slag ’n vol maag te hê, en dit was lekker om vasgehou en geliefkoos te word.” Marianne Venter se “Jou ooilam, Ma” sluit tematies by “Liefdesoffer” aan. Die verteller is haar ma se “enigste ooilam”, maar haar pa se “one and only girl-child”. Die verhaal beeld die gruwelike nadraai van kindermolestering uit. Ook in Keina Swart se “O, die liewe Martatjie” vind die kindverteller uit presies hoe na aan mekaar die liefde en haat lê. In hierdie opsig weerspieël die verhale in Hartlam ’n samelewing waarin kinders vroeg en dikwels wreed ontnugter word. 

Daar is ’n duidelike noir-gevoel in die bundel, maar Hartlam is (soos dit ook goeie domestic noir betaam) allesbehalwe ’n morbiede lees. “Hartlam” is immers ’n outydse troetelnaam wat ’n teer, sagte liefde oproep. Hierdie gevoel word in ’n hele paar verhale vasgevang. Helene de Kock en Erika Murray-Theron se verhale ontvou stadiger, met subtiliteit en ’n ouwêreldse sjarme. Daar word langsamer die hof gemaak. Maar die pienkspookasem-eindes wat in romanses teenwoordig is, ontbreek gelukkig. Soos een van die verhale dit stel: “Om van ongeluk te ontsnap is ook ’n gelukkige slot.” In “Dis nie perdekoop nie” van Ann Hiemstra reël ’n ma ’n troue vir haar en haar man nadat hulle dogter Beauty oor die tou trap. Want “(h)oe gaan dit nou lyk as Beauty die baby laat doop en ek en jy staan daar langs haar voor die preekstoel en ons, as die baby se ouma en oupa, is nie eens getroud nie?”

Marié Heese se “Dit ruik na liefde” speel met taal en dit wat ongesê bly, geïmpliseer word. Die hoofkarakter ly aan demensie: “Name en woorde, vind sy, word soos voëls, hulle vlieg weg sodra jy nader kom.” Woorde ontvlug haar dalk, maar die herinneringe van goeie dae; die wete van liefde, die reuk daarvan, bly. “Asof hulle al van toeka se tyd af op die een of ander plek saam was. Jare lank.”

Die liefde kan ook mooi en heel maak, en eensaamheid verlig. Hiervan getuig ook Jan Beyers se verhaal “Vry” en Helene de Kock se “Enkel en alleen”.

In Louis Lategan se verhaal “Soos baaisiekel ry” probeer Isobel om haar en Japie se daaglikse teedrinkery in die ouetehuis te laat uitloop op ’n “ou plesiertjie”. En in B Clarke se “Die boerpampoenkoning” soek Leendert se ma hard vir hom ’n “nommerpas” trouvrou, een wat nie “effentjies wil wees” nie.  Beide verhale se humoristiese inslag sorg vir balans in die bundel.

Die afgelope ruk het daar verskeie tematiese versamelbundels verskyn (Kleure van die liefde, Skrik op die lyf, Die ding in die riete). Soos met alle versamelbundels is daar verhale wat uitstaan (van bekende én onbekende skrywers) en ander wat swakker vertoon. Die samestellers, Gerda Taljaard en Deborah Steinmair, se verhaalkeuses sorg egter dat Hartlam iets van die tydsgees (met Fifty Shades of Grey-waansin en #MeToo-veldtogte) vasvang. Dit is ’n relevante bundel wat die leser ’n wye perspektief op die liefde bied: erotiek, obsessie, teistering, verlange, verwerping, kameraadskap, deernis, durf, hoop – Hartlam gee die leser ’n voyeuristiese blik op hierdie fasette en meer.

  • 2

Kommentaar

  • Willie van Aswegen

    Alhoewel ek nog nie die bundel onder oë gehad het nie, is Madri se resensie objektief maar tog op die man af.
    Dankie ek sal in die toekoms uitkyk vir resensies van jou af.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top