Harry se storie

  • 0

“Harry se storie” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

As jy wil deelneem, lees hier meer oor die kompetisie. Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.

*

Harry se storie

Dis die slange wat die vrou die bangste maak. Verby die suikerrietplantasies loop jy met oop oë, sê die mense wat weet. Want ’n slang het nie grense nie en hulle sien jou voor jy hulle sien. Hulle seil vinnig en geruisloos uit die suikerriet.

Ses maande gelede kom die vrou se man met die nuus: Die firma stuur hom Laeveld toe. Hy’s die ingenieur wat moet toesien dat nog ’n brug oor die Krokodilrivier gebou word. Nagraadse studie in Switserland kom teen ’n prys. Hy moet ’n beurs terugwerk, omdat daar nie geld was om self vir studie te betaal nie. Daarvoor het die Anglo-Boereoorlog gesorg toe die familieplaas in die Oos-Vrystaat afgebrand is. Ná die verwoesting was moed en geld ewe min.  Die man se pa moes koers kies Johannesburg toe. Daar was werk op die myne.

 “Maar Kaapmuiden is in die boendoes,” sê die vrou.

“Dis net tydelik. En ons kan oor naweke wildtuin toe gaan,” probeer die man haar opbeur.

Sak en pak sit sy en haar man en die baba nou in die middel van nêrens. Só voel dit vir die vrou. In ’n asbeshuisie wat tydelik opgeslaan is tot die projek klaar is. Met suikerrietplantasies oral waar jy kyk.

Die subtropiese hitte is uitputtend. Die vrou se vel bly klam. Bedags stryk sy al wat ’n stuk lap is wat sy van die wasgoeddraad afhaal. Met die hitte van die strykyster maak sy seker elke mangovliegeier wat in die nat wasgoed gelê is, is vrek. Sy kry nagmerries as sy dink die larwes kan onder ’n mens se vel inwurm en uitbroei. Die baba se doeke stryk sy twee keer.

Die baba het haar opwagting ’n raps meer as ’n jaar gelede in die Unie van Suid-Afrika gemaak. Kort duskant twee maande ná die slagting in Sharpeville. Op haar geboortesertifikaat blyk dit onomwonde: ’n afstammeling van ’n Franse Hugenoot, en 13 geslagte later het sy ’n mengelmoes in haar DNS. Die baba is onbewus van onmin, onreg, onderdrukking en skrywers se woorde van protes wat van die suidpunt van Afrika tot in Parys posvat. Van slange weet sy ook niks nie. In onskuld gebore.

Teen die tyd dat die Unie ’n republiek is, loop die baba al soos blits om haar wêreld te verken. Sy weet nie die kombuisie se agterdeur is haar grens nie – sy foeter die hele tyd na die sandput wat haar pa regs van die agterdeur gespit het. Beskut met droë suikerriete aan drie kante staangemaak. Om die son te keer.

Dis warm en bedompig en die vrou, swanger met kind nommer twee, kry warmer as gewoonlik. Die kind dra net ’n doek waar sy op die kombuisvloer sit en met boublokke speel. Te warm vir klere.

Die vrou los die kind vir ’n paar sekondes alleen op die kombuisvloer en gaan haal geld uit haar beursie in die slaapkamerkas. Vir Harry. Die lang, lenige Swazi-man wat haar een keer per week kom help om huis skoon te maak. Met haar man wat van vroegdag tot laatnag werk, is Harry soms die enigste geselskap wat sy het. Hulle praat Afrikaans. Sy ken nie Swazi nie. Sy weet nie wat Harry se van is nie, maar sy weet sy wortels en mense is in Swaziland, ’n land binne ’n land. Sy wonder wat haar ma, ’n stoere Sap destyds, daaroor te sê sou hê. Maar hulle praat deesdae min. Bel is moeilik en duur.

“Baie dankie, Harry. Mooi loop. Sien jou volgende week,” groet sy hom gebruiklik vriendelik dog afstandelik. Sy sit die geld in Harry se twee groot hande wat hy dankbaar oor mekaar, palms oop na bo, uithou. Harry knik sy kop, draai om en stap by die agterdeur uit. Soos elke keer, gaan hy uit om in die buitetoilet te gaan was en sy enigste netjiese klere aan te trek.

Sy ken al die ritueel. As hy klaar is, gaan sit hy op die bankie buite die agterdeur en haal ’n borsel en lappie uit die sakkie wat hy met hom saamdra. Ritmies borsel hy sy skoene skoon en poets dit blink met die lappie. Dan staan hy op, knopkierie in die regterhand, en begin die pad huis toe stap. Sy weet nie waar hy woon nie. Sy weet net dis nie naby nie.

Sy sien die baba uit die hoek van haar oog nou in die ingang na die leefvertrek waar sy met haar vingertjies vroetel aan ’n stukkie verf wat van die deur afskilfer. Sy wil net gou die macaroni-en-kaas in die oond sit voor die baba se badtyd.

Dan hoor sy ’n bulderende manstem: “Nee! Voetsek! Hamba!”

Sy draai vervaard om en sien die baba nou twee tree buite die agterdeur op pad sandput toe. Die volgende oomblik sien sy hoe Harry met sy lenige lyf die baba opraap en teen sy bors vasdruk. Sy verstaan nie wat hy sê nie. Hy praat luid in sy moedertaal. Die volgende oomblik storm hy in die kombuis in, druk die baba in haar arms en storm weer uit. Sy sien hoe hy in die hardloop sy knopkierie van die grond af gryp waar dit geval het toe hy die baba opgetel het. Sy verstaan nie wat aangaan nie en wonder hoekom Harry so op haar kind geskree het.

Sy hoor hom weer skree. Sy beweeg nader aan die agterdeur. Sy staan op die drumpel met die baba op haar heup. Voor haar, sowat twintig tree verder, sien sy hoe Harry tot stilstand kom en oor en oor sy knopkierie lig om telkens verwoed op die grond te slaan. Dan tree hy terug, lig ’n laaste keer die kierie hoog bo sy kop en slaan ’n finale hou.

Sy stap stadig buitetoe. Stap al nader aan Harry. Dan sien sy dit. ’n Slang. Sy kop sekuur verbrysel. Sy kry nie ’n woord uit nie.

Harry tel die dooie slang aan sy stert op en stap ’n ent in die veld in waar sy sien hoe hy die slang hoog bo sy kop oplig, swaai en in die verte ingooi. Hy draai om stap na haar toe.

“Mamba!” sê Harry vir haar. “Die baba ... die mamba wil haar byt. Ek soek nog bietjie geld. Asseblief.”

“Hoekom Harry?” vra die vrou.

“Ek gaan huis toe. Swaziland toe. Om die muti te koop. Om die baba te protect teen die slang.”

Hulle stap saam terug na die huis. Sy haal al die geld in haar beursie uit en gee dit vir hom.

“Ek kom nie next week nie,” sê Harry. “Ek kom ander week.”

Harry vou sy groot regterhand wat die knopkierie vasgehou het, oor die baba  se kop en sê iets in Swazi. Sy verstaan dit nie.

“Dankie, Harry,” sê die vrou. “Baie dankie.”

Harry knik sy kop en met die omdraai sien die vrou sy blink skoene is vol stof.

Haar oë volg hom. Sy treë lank en sy kierie lêgemaak op sy nek agter sy kop, met sy arms wat weerskante gelig daarvan afhang.

*

“Ma, ek wil jou nie bangmaak nie, maar loop ver van die sloot aan die kant van die pad. En dra altyd ’n flits saam met jou as jy saans dié pad huis toe loop. Ons het al kobras in die sloot gekry,” sê die seun vir sy ma.

“Rêrig?” sê die ma. “Het julle al by die huis ook slange gekry?”

“Nog nie, maar dis moontlik. Al die huise is van die grond af gelig met ’n kruipspasie onder, en die kobras kruip daar weg,” sê die seun en stoot die babawaentjie by die huis se hek in.

Die ma sit later die aand op die stoep ’n sigaret en rook. Haar vel voel klam. Dis altyd warm en bedompig in Bali. Ook laataand. Tipies van die trope. Sy hoor ’n muskiet en hoop dis nie een wat haar denguekoors kan gee as dit haar byt nie. Sy spuit onmiddellik die muskietweerder wat op die tafel staan, mildelik op haar arms en bene. Sy dink aan haar kind en sy vrou wat kom huismaak het in dié deel van Suidoos-Asië. Sy dink aan haar kinderjare toe sy Kinders van die wêreld van voor tot agter deurgelees het en gewonder het oor mense wat in verre lande leef. Sy het toe al geweet het sy gaan eendag self kyk hoe dit in ander lande lyk. Selfs daar woon.

Sy tuur oor die stoepreling en bekyk die welige plantegroei. Olifantsore so groot soos rêrige Afrika-olifante se ore, frangipani’s in pienk, wit en geel, die bougainvillea met net plek-plek ’n stukkie groen tussen die ontploffing van dieppienk blomme.

Sy dink aan al die kere toe sy al ervarings met slange gehad het. Daai keer toe die boomslang op pad was om uit die boomtak teenaan die venster in die vakansiehuis in die Tsitsikamma in die slaapkamer in te seil. Grasgroen. Sy lyf reguit soos ’n stok met die stert krullend geanker in die tak. En die keer met veldskool, toe sy haar slaapsak uitgeskud het om op te rol en ’n pofadder onder die tentflap uitseil ná dit lêplek onder die slaapsak gehad het. En die keer toe ... 

Skielik besef sy die kruipspasie is ook onder die stoep waarop sy sit.

“Lê hier nou ’n slang onder my?” wonder die ma hardop.

Sy lig summier haar voete op en sit langbeen op die bankie.

“Asof ’n slang nie op die bankie kan seil nie,” dink sy by haarself.

Die maan is vol, maar die stoep is tog donker.

“Hier gaan ek nie ’n slang sien voor hy op my is nie,” dink sy.

Sy druk die sigaret summier dood. Trek die stoepdeur oop en gaan binnetoe. Die baba slaap. Die seun en sy vrou sit op die bank en lees op hul fone.

“Ma, watter Afrikaanse kinderrympies is daar?” vra die seun en kyk op van sy foon. “Ek ken net Engelse rympies en Lisa ken Engelse en Mandarynse rympies, maar ek ken nie Afrikaanse rympies nie. Ek wil hê Noah moet ook Afrikaans kan verstaan en praat. Watter Afrikaanse rympies het jy vir ons geleer? Ek kan dit nie onthou nie.”

Die ma moet eers dink. Dan onthou sy ’n slaapliedjie en sing dit vir hom. Vals.

Siembamba, Mamma se kindjie
Siembamba, Mamma se kindjie
Draai sy nek om, gooi hom in die sloot
Trap op sy kop dan is hy dood.

“Fokkit, Ma, ek kan nie daai liedjie vir my kind sing nie. Dis verskriklik! Watter ma draai haar kind se nek om, gooi hom in ’n sloot en trap op sy kop tot hy dood is?” sê die seun geskok.

“Jy kan nie ernstig wees nie! Het jy daai shit vir my gesing toe ek klein was? Hoe kan mens dit as ’n lullaby vir jou kind sing? Ek gaan jou in die sloot vir dood agterlaat, maar jy moet nou lekker slaap, hoor! Lisa, listen to this lullaby in Afrikaans. It’s macabre!” sê die seun vir sy vrou en vertaal die rympie vir haar in Engels.

Hy lag verbysterd. Sy vrou frons vraend en wonder of hy die liedjie reg vertaal het.

Die ma lag uit haar maag vir die seun se reaksie. Sy onthou hoe sy as kind oor die einste rympie gewonder het. Dieselfde vrae gehad het, maar nie gevra het nie. Dis net hoe dit was. Kinders het nie daai tyd sulke goed hardop bevraagteken nie en ook nie “fokkit” of “shit” voor hul ma’s gesê nie. Hulle het vrae net in hul koppe gedink. Wel stilweg besluit hul kinders gaan anders grootgemaak word. Vryer. Om te sê wat hulle dink en voel.

“Ek het in ’n stadium gelees dat dit iets met ’n slang te make het. Google dit,” sê die ma.

Die seun soek op sy foon. “Siembamba slaapliedjie Afrikaans.” Hy lees hardop, maar stop reeds by die eerste sin. “Ma, wat is wolksmond?”

“Huh?” vra die ma en vat die foon by die seun om te sien waarvan hy praat.

Sy lees en lag toe sy “volksmond” raaklees. Dis wat gebeur as jy in Engels skoolgegaan het en jy Afrikaans moet lees. Dan word ’n  “v” ’n “w”.

Sy lees hardop: “Siembamba verwys na die oorspronklike liedjie ‘Sien die mamba’ wat in die volksmond ‘siembamba’ geword het, en waarin die dreigende gevaar en onheil deur misverstand en foutiewe uitspraak gerelativeer geraak en selfs verdwyn het. Die liedjie is tot in die 19de eeu gesing as verwysend na ’n slang (die bose, onheil, gevaar): Sien die mamba, Mamma se kindjie, sien die mamba, Mamma se kindjie. Draai sy nek om, gooi hom in die sloot, trap op sy kop dan is hy dood!

“Dis nie die baba wat doodgemaak word nie. Dis ’n slang,” sê die ma.

“Okay, that sounds better if it means killing a snake, but I am still not going to sing my son to sleep with that lullaby! Who can go to sleep with such a violent story?” sê die seun in Engels sodat sy vrou ook kan verstaan.

Drie weke later is dit reeds sterk skemer toe hulle in flitslig van die restaurant af huis toe stap. Vir oulaas saam gaan eet. Môre pak die ma haar reis terug huis toe aan. Die baba moet straks gebad word en dié sit rustig in sy waentjie. Sy ogies volg als wat hy in die verbygaan sien.

By die huis se hek hoor al drie dit tegelyk. Die straathond wat die seun en sy vrou ’n huis gegee het, grom en blaf. Hy is woedend vir iets agter die hek. Die seun skuif die hek oop. Hy sien dit eerste ...

Die hond en die slang. Hy skree. Op die hond. Op die slang. Op die ma. Op sy vrou. Vreesbevange.

“Get back! Get back!” skree hy. Hy gryp die stootwaentjie en lig dit in een beweging na waar die ma en sy vrou agter hom staan.

Dis ’n geveg tot die dood toe. Die hond spring rats heen en weer. Grom. Blaf. Sy slagtande duidelik sigbaar. Storm weer en weer vorentoe. Gryp die kobra telkens in sy bek en skud sy kop verwoed heen en weer. Oor en oor. Tot die slang verlam op die grond bly lê. Dan storm die hond ’n laaste keer vorentoe en byt hom sekuur middeldeur. Gryp die kopdeel aan die onderkant tussen sy kake en skud ’n laaste keer wild, gooi sy kop van die een kant na die ander en laat los met ’n laaste gooi. Die stuk slang trek hoog die lug in en val in die waterafvoersloot langs die huis. Vermorsel. Die hond draai na die seun en kom stertswaaiend na hom toe.

Die seun vryf die hond se kop. “Good boy, good boy!” sê hy.

“Ma, gaan julle in huis toe. Lisa, I am going to wash Patches. I want to check if he has been bitten,” sê die seun.  

Laataand sit die ma op die stoep. Sy rook ’n laaste sigaret. Die baba en sy mamma slaap al. Die seun kom sit oorkant sy ma op die stoep.

“Dit lyk nie asof die hond gebyt is nie. Hy lyk oukei,” sê die seun.

“Hy sal fine wees,” sê die ma, want sy weet. Almal sal net mooi fine wees. Selfs die hond.

Toe vertel sy vir hom ’n storie van 63 jaar gelede. ’n Storie van ’n man met die naam Harry.

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top