in die dae toe dominees nog togas gedra het
toe ouderlinge en diakens elkeen met pens
en penis toegerus pikkewyne in hul banke was
toe ouetetannies se vingers in handskoene
tone in skoeisel onder hooftooisels geperspireer
en verweer het toe die banke se tande jou boude
tot op die been gebyt het het die kerkklok
drie keer elke sondag onbeskaamd gelui
het orrelpype en gorrelpype in disharmonie vibreer
was my jongste broer voor in die valse koor
toemaar
vir die here sing hy op die noot
sê ma
die here moet voorwaar almagtig wees
dink ek
en bekeer dan maar onmiddellik weer

