Hans Pienaar gesels oor die Melville-poësiefees

  • 0

Hans Pienaar beantwoord 'n paar vrae oor die Melvile-poësiefees, wat van 12 tot 14 Oktober plaasvind.

Die Melville Poetry Festival Showcase is verlede jaar geloods. Hoe was die opkoms en die ontvangs? Het jy verwag dat dit sodanig sou groei dat dit vanjaar met borgskappe aangebied word?

Met ’n minimum aan reklame en ’n voel-voel organisering het ons nie hordes mense gekry nie, maar dié wat wel opgedaag het, het dit baie geniet, volgens al ons terugvoer. Vanjaar probeer ons alles opskerp met ’n behoorlike program wat voortbou op die lesse wat ons met verlede jaar se eksperiment geleer het. Ons is hoog in ons noppies met die stewige borgskap van die Dagbreek Trust, wat die geld gegee het as ’n daad van geloof, dink ek. Dis baie grootmoedig van hulle.

Was die fokus van die fees aanvanklik op Engelse of Afrikaanse gedigte/digters? Het dit verander vir vanjaar se fees?

 

Dit was en is ’n veeltalige fees, maar met onafhanklike komponente. Daar sal venues wees wat net Afrikaans aanbied. Die sentrale gedagte is om ’n sambreel te verskaf waaronder digters in al die tale hul ding kan kom doen, wat dit ook al is. So daar’s plek vir kwaito uit Soweto en liedere uit Boerneef.

 

Ek sien onder meer Loftus Marais, Rene Bohnen, Andries Bezuidenhout, Toast Coetzer, Danie Marais, Henning Pieterse, Charl-Pierre Naudé, Corne Coetzee, Jo Prins en Ronel Nel gaan gedigte voorlees. Dit is 'n gerekende spul – hoe het jy hul almal aan boord gekry?

Dis mense wat meestal al verlede jaar deelgeneem het, en ons vra hulle weer. Almal is baie geesdriftig en ons is ewe geesdriftig oor hulle. Ons sien veral uit na die Oopmond-sessies deur Ronel-hulle. Die resep van sommer net uitspan in restaurante en leë winkels is lekker vir die digters ook, en ek dink dis hoekom hulle weer wil kom.

Die tema van vanjaar se fees is Fees van die Poëtiese. Kan jy uitbrei oor wat presies die inspirasie hieragter is en wat dit beteken met betrekking tot wat feesgangers kan verwag?

 

Dit gaan eintlik daaroor dat die digkuns so geringskat word deur die meeste mense wat nie digters is nie. Ons probeer dus uitlig watter groot rol die poëtiese in die daaglikse handel en wandel speel. Omdat ons nog in ons kinderskoene staan, probeer ons vanjaar nie verder gaan as net ander genres betrek nie, soos visuele kunstenaars wat met woorde werk, of musikante wat ook digters is. Dis nou afgesien van voorlesings.

Wat is julle planne en/of verwagtinge met die fees in die jare wat kom?

 

Wel, ons hoop dit kan ’n jaarlikse ding word, en miskien kan ons voortbou op vanjaar se tema en dit ’n permanente basis gee. Daar is baie idees op die tafel, soos ’n wedstryd vir die mees poëtiese koerantopskrif, of advertensie, of musiekvideo, en so meer. Ons gaan enigiets probeer wat ’n konneksie met die digkuns het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top