Hans Pienaar (1955–)

  • 0

Gebore en getoë

Hans Pienaar is in die laat 1950's gebore. Sy pa was Johnny en sy ma is Noreen.

Hy glo dat hy sy liefde vir kuns by sy ma, wat ’n bibliotekaresse was, gekry het. Sy pa, wat baie lief vir tale was, het homself Frans en Russies geleer. Hy is al oorlede.

Hans wou altyd skryf, vertel hy aan Marida Fitzpatrick: “Hier in matriek het ek ontdek ek het ’n bietjie van ’n talent. Maar my kop het na die wetenskappe gestaan en ek was baie begaan oor mikrobiologie.” (Beeld, 13 Februarie 2007)

Verdere studie en werk

Hans Pienaar het begin gedigte skryf toe hy gedurende die laat sewentigs op universiteit was. Toe word die tydskrif Vlieg, waarvan hy die redakteur was, egter verbied en hy hou op gedigte skryf. Daar het ’n vloekwoord in een van Koos Prinsloo se kortverhale verskyn en die hele redaksie van Vlieg is geskors. Hulle was egter derdejaars en die skorsing is opgehef, maar hulle mag nie pers toe met die storie gegaan het nie. Dit het egter wel die koerante se ore bereik en daar was heelwat ophef van gemaak.

"Die ervaring het my ’n renons in die poësie gegee," vertel Pienaar aan Stephanie Nieuwoudt (Die Burger, 18 Mei 2002), "want ek het gedigte vir Vlieg begin skryf. Ek het eers weer in 1996 begin dig. Ek weet werklik nie waarom nie."

Hy het op universiteit ’n prys in ’n poësiekompetisie gewen, maar sê in Beeld van 8 Oktober 2001: "Dit was so duidelik ’n politieke keuse, van ’n gedig wat maklik as pro-regime gelees kon word, dat ek die digkuns afgesê het. Ek gaan nie goedkoop word vir apartheid nie, het ek in my hubris geglo."

Hy was die redakteur van Forces' favourites, wat in 1987 verskyn het. Dit was ’n bundel kortverhale wat bymekaar gebring is in die tyd van die veldtog teen diensplig. Hy was vanaf 1987 tot 1989 direkteur van Taurus Uitgewers, wat spesifiek in die lewe geroep is om werke uit te gee wat weens hulle anti-apartheidstrekking deur ander uitgewers van die hand gewys is.

Hans was werksaam by Beeld, Vrye Weekblad en The Star. Hy het as vryskutjoernalis heelwat bydraes vir ander publikasies gelewer. Hy is ’n ywerige fotograaf en was vir tien jaar produksieredakteur by Independent Newspapers se buitelandse diens en is ook ’n rubriekskrywer.Hy is tans verbonde aan Business Day waar hy die skrywer van die blog "Africa" is.

In 2012 het Hans sy MA-graad in kreatiewe skryfkuns cum laude aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Hy is getroud met die digter Corné Coetzee en hulle het twee dogters. Hulle woon in Johannesburg.

Oor ’n boek wat sy lewe verander het, vertel Hans aan Beeld (8 Oktober 2001): "Ek het die plesiere van dronkenskap op twee maniere leer ken toe ek 13 jaar oud was. Daar was die konvensionele ontdekking van brandewyn, eers in my oom se avokadoboom, toe op sy dak, waar ek en my neef die hele middag moes spandeer voor ons weer kon afkom.

"En dan was daar die safaripak-onderwyser met sy besemsnor wat ’n kwatryn van DJ Opperman eendag met ons behandel het. Sy verduidelikings van alliterasie en assonansie was nie meganies genoeg om my poëtiese besopenheid te keer nie.

"Nogtans kon die digkuns my nooit werklik vang nie. Episodes van dronkenskap het gevolg, ja, soos met Apollinaire se Alcools, sy alkoholiese sameflansings van uiteenlopende surreële elemente. Of Ezra Pound se Chinese wynkanto's, Van Wyk Louw se swart luiperd. In matriek was daar Bob Dylan se versroman. Saam met sy musiek, dié van ‘Homesick Subterranean Blues’ en ‘Highway 61 Revisited’, het dit ’n ander bestaan vir my oopgemaak, van die uitgewekenes van die lewe, vir wie oorlewing en stryd die parameters van mensheid bepaal het.

"Eers in die middel-1990's het ek weer ernstig begin dig. En gaandeweg die ou dronkenskap herontdek. Fenton. Rimbaud. Heaney. Elizabeth Bishop. Pinsky. In daardie foto-album oor die postmoderne, die bundel Poskaarte, het ek ’n verrassende ontdekking gedoen: Afrikaanse digters het toe, sonder dat hulle dit dalk bedoel het, hul eie rebellie volvoer. Hul gedigte oor die verraderlikheid van taal het verseker dat die regime toe nooit die digkuns kon gebruik om sy idee van Afrikaans te propageer nie.

"En nou is daar Nuwe stemme 2. Daar is wonderlike goed daarin. My oë het uiteindelik weer oopgegaan vir Afrikaanse gedigte, ook my eie. Dat dit my lewe verander het, is seker te sterk gestel, maar ek bevind myself weer op ’n dak, en dié keer bly ek sommer vir die hele nag lank, dankie."

Voordat Hans weer begin dig het, het hy ’n bundel kortverhale, Die lewe ondergronds, in 1986 by Taurus uitgegee. Koos Prinsloo wou by Hans weet (Beeld, 15 September 1986) hoekom Die lewe ondergronds. Hierop het Pienaar gereageer dat daar ’n hele paar direkte verwysings is, soos die titelverhaal waarin daar gelees word van ’n swart vrou wat ’n kunswerk van een van die karakters begrawe. "Maar dit gaan veral oor ’n soort onderdrukte politieke gevoel wat aan die ontwikkel is by die meeste karakters in die verhale. En hoe hierdie politieke gevoel weer seksualiteit onderdruk, wat dan weer lei tot die onderdrukking van die politieke gevoel.

"Die onstabiliteit wat hierdeur ontstaan, is vir my die geheime emosionele lewe van jongmense deesdae, ’n soort ondergrondse lewe wat hulle nie weet hoe om vir mekaar te wys, hoe om met mekaar te deel nie."

Oor of ’n skrywer, uit ’n politieke oogpunt, betrokke moet skryf, het Hans aan Koos Prinsloo gesê dat dit die skrywer te veel "aan bande lê”. "Daar is iets puriteins daaraan, en Afrikaanse skrywers probeer almal wegkom van die Afrikaner se puriteinsheid. Aan die ander kant is dit ewe vals om te sê dat skrywers hulle besig moet hou met universele waardes. Wat nou (in 1986) in Suid-Afrika gebeur, is van fundamentele belang vir die toekomstige wêreldorde, en as jy oor universele waardes moet skryf, moet jy juis sogenaamd polities skryf.

"Die enigste vereiste wat moontlik geldig is, is dié van gehalte. Om goed te skryf, beteken om ’n greep op die werklikheid – of verskillende werklikhede dan – te hê, en daarom kan jy nie anders as om by huidige sosiale omwentelinge betrokke te raak en selfs daaraan deel te hê nie. Dis iets wat vanself gebeur, ’n goeie skrywer hoef nie daarvoor te gaan soek nie." (Beeld, 15 September 1986)

In Volksblad van 21 Februarie 1987 het André Letoit geskryf dat Die lewe ondergronds een van die "grootste teleurstellings op die debuutmark van Afrikaans in baie maande" is, aangesien die verhale ’n ander "bindingsfaktor" moet hê as daar nie ’n storielyn is nie.

Vir JP Smuts (Die Burger, 2 Oktober 1986) is daar wel "onderdele van verhale wat die leser meesleur", maar in die gehele bevredig die nege kortverhale nie. Daar skuil wel belofte in die debuutbundel, maar "in meer as een opsig moet dié belofte nog in vervulling gaan". Vir Smuts is die "situasietekening skerp, maar die taalgebruik is soms onnoukeurig en selfs foutief, en daar is dikwels oorlading van beelde, veral van dikwels geforseerde vergelykings."

Vir André P Brink in Rapport (19 Oktober 1986) het die meeste verhale aan "óórskrywing gely, ’n neiging tot te veel dramatisering of ’n alte opsetlike jukstaposisie van byvoorbeeld momente uit hede en verlede – maar hier is klaarblyklik ’n skrywer aan die woord wat van ’n kortverhaal ’n hoogs gekonsentreerde granaat van onthulling kan maak". Brink het Die lewe ondergronds se verhale as "besonder knap" beskryf en het op ’n "kragtige" vervolg gehoop.

Saam met Hein Willemse was Hans Pienaar in 1986 verantwoordelik vir Die Trojaanse perd, waarin hulle onderhoude gevoer het met mense oor die Kaapse noodtoestande in 1985. Die onderhoude is gevoer met ’n UDF-leier, ’n Prog-politikus, politieke organiseerders, ouers van beseerde studenteleiers, onderwysers en ’n swartbewussynsfiguur. En omdat dit vir daardie jare so ’n teer punt aangeraak het, is dit deur Taurus uitgegee. André Brink het in Rapport (28 Desember 1986) geskryf dat geen ander uitgewer in die land dit "maklik met ’n tang sou aanraak" nie. En volgens Brink was dit van lewensbelang, of selfs "oorlewingsbelang", dat dit gelees moet word: "nie as ’n stuk 'politiek', as ’n 'linkse aanval' of wat ook al nie, maar gewoon as die woorde van mense wat self gesien en beleef het wat in ons midde gebeur het".

Hans Pienaar het aan ’n verslaggewer van Pretoria News (23 Januarie 1987) gesê dat Die Trojaanse perd ’n aanklag teen die Suid-Afrikaanse pers was, aangesien die boek dit gewaag het om mense se persepsies, ondervindinge en gedagtes in ’n noodtoestand uit te beeld. Hy het baie sterk daaroor gevoel dat slagoffers van die onrus self hulle stories moes kon vertel. "Victims are seldom allowed to tell their own experience – newspapers often use the excuse that they do not want to be guilty of incitement as a reason for not reporting on the emotional upheaval caused by unrest."

In sy voorwoord tot Die Trojaanse perd het Pienaar geskryf dat die boek nie ’n poging is om die Trojaanse perd uit te buit as ’n simbool van swaarkry of om mense emosioneel af te pers vir ’n klein politieke wins nie. "It is rather intended as an introduction to the processes of thought of the kinds of communities which are, throughout the country, the target of similar misuse by the state – communities which have, in these ways of thinking, long surpassed the Knights of the Trojan horse."

In 1991 het Die derde oorlog teen Mapoch by Idasa verskyn. Dit het begin as ’n ondersoek na die politieke prosesse in KwaNdebele, "die swart tuisland uitgesprei oor ’n stuk barre grond iewers tussen Pretoria en Marble Hall in die middel van die (destydse) Transvaal," skryf Hans in die inleiding.

"In 1986 het die inwoners van dié versameling plakkerskampe as ’t ware as ’n plakkerstaat in opstand gekom. Meer as 200 mense het gesterf, amper ’n derde van hulle deur die wreedaardige 'necklace'. Dit was die gebied met die hoogste konsentrasie van sulke moorde in die vier jaar van noodtoestand tydens die PW Botha-bewind.

"Die gedagte was om witmense, spesifiek Afrikaanssprekendes, insae te probeer bied in die politieke prosesse hieragter, deel van die breër ontwikkelinge wat besig was om die land te verander, en wat so doeltreffend onder die kombers gehou is deur die noodregulasies en die meer as gedienstige hoofstroom-media."

Pienaar skryf verder: "Toe ek ontdek dat die geskiedkundige Albert van Jaarsveld in die moeilikheid beland het by Afrikaner-akademici oor sy uitstekende navorsing oor die ZAR se eerste twee oorloë teen die Mapochers, was die vet in die vuur vir my. Gaandeweg het dit vir my duidelik geword dat, hoewel die oorlog in die vroeë 1880's en die konflik van 1986 uiteraard heel verskil het, daar ’n hele aantal onthullende ooreenkomste was in die beleidsrigtings teenoor 'naturelle' in die tyd van die ZAR en 'nasionale groepe' in die moderne tyd.

"En in die breë is die sage van die Mapochers ’n goeie samevatting van die lot van ander swartmense in Suid-Afrika. Trouens, die groot oorlog teen hulle was die eerste van ’n reeks wat swart gemeenskappe uitmekaar sou skeur. Dit was deel van die algemene, apokaliptiese trauma in die laat negentiende en vroeë twintigste eeu in swart gemeenskappe dwarsdeur die land, die trauma wat die plakkerstroompie na die stede begin voed het wat vandag ’n rivier in vloed is."

Hy het ook genoem dat as hy die hele geskiedenis van Die derde oorlog teen Mapoch kortliks moes beskryf, hy dit in net een woord sou doen: waansin.

In Rapport van 26 Januarie 1992 meen IL de V dat Pienaar vir ’n "fassinerende blik op die Suid-Afrikaanse geskiedenis gesorg het" en dat dit op ’n baie lekker "los humoristiese en soms ontroerende" manier vertel is.

Trewhella Cameron skryf in Insig van April 1992 dat Pienaar se geskiedkundige navorsing baie deeglik was. Die historiese stof lees egter soos ’n speurverhaal, "met spanning, leidrade en ondersoekende vrae" en dit is die rede waarom die boek nie "swaar" lees nie. Vir Cameron was dit ’n "prikkelende, stimulerende leeservaring, wat daarin slaag om nuwe stellings te maak en nuwe insig te gee oor ’n tragiese en ontnugterende deel van ons geskiedenis".

Die Rapport-prys vir niefiksie is in 1992 aan Die derde oorlog van Mapoch toegeken.

Daar word eers weer in 2002 van Hans Pienaar as skrywer kennis geneem met die publikasie van sy eerste digbundel, Die taal van voëls, wat hy self uitgegee het. Die bundel is vir die Ingrid Jonker-prys benoem.

In Die Burger van 18 Mei 2002 vertel Hans aan Stephanie Nieuwoudtdat die "onwilligheid van die Afrikaanse establishment om letterkunde te subsidieer, asook die koersloosheid in die uitgewersbedryf op daardie stadium", hom daartoe beweeg het om self Die taal van voëls te publiseer. "Ek het lank gelede al my bundel aan die hoofstroom-uitgewers voorgelê. Ek weet steeds nie of dit aanvaar of afgekeur is nie. Die keurverslae was te verwarrend."

Hans stel ook al lank belang in fotografie en tydens sy reise deur Afrika en China het hy baie foto's geneem. Dit is tydens die KKNK in 2002 in ’n uitstalling ten toon gestel met ’n gedig by elke foto. Hy noem dit "poëtografie" of "foto-digkuns". Dit is ook later by die Boekehuis in Aucklandpark uitgestal.

In ’n persverklaring het hy geskryf: "Die genre gebruik poësie en fotografie, die twee stiefkinders in die kunstewêreld, saam in ’n unieke wisselwerkende ondervinding waarin skeppings in albei vorme uitgebou en versterk word."

In die persverklaring vertel hy dat hy sy eerste fotogedig geskryf het toe sy digwerk nie so vlot verloop het nie en hy probeer het om inspirasie te kry van ’n foto wat hy van ’n parktoneel in Lagos, Nigerië geneem het. Hy vertel aan Nieuwoudt dat nog gedigte gevolg het wat "staatmaak op binneryme, halfryme en assonansie in ’n agtreëlige vorm wat bedoel is vir ’n vlugtige en ontspanne lees. Hy fokus op menslike tonele waarin die uitwerking van globale magte te sien is – daarom beeld talle van sy foto's die verwoesting van onluste uit."

Hy vertel verder aan Stephanie Nieuwoudt dat hy nog altyd ’n belangstelling in fotografie gehad het en dat hy gedurende vakansietye foto's van kinders geneem het. Hy het van dié geld gebruik om vir sy studies te betaal. "In 1996 het ek begin om in my vakansies te reis en moes ek foto's neem en artikels skryf om die reise te finansier. Omdat die Suid-Afrikaanse gedrukte media groot waarde heg aan goeie fotografie, is ek deur progressiewe fotoredakteurs aangemoedig deurdat hulle van my 'kunssinnige' foto's gebruik het."

Hans het gedurende 1996 tot 1997 weer vir die eerste keer begin dig sedert hy op universiteit was. En toe, in 2001, het hy begin om die notas oor sy foto's neer te pen en toe hy later weer die skryfsels beskou, het dit skielik tot hom gekom dat daar "iets aan die gang is, 'n unieke soort wisselwerking. Ek het deur die foto's gegaan en by sommiges gedigte geskryf. Toe ek weer sien, het ek genoeg gehad vir 'n uitstalling wat in April op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees aangebied is."

In Beeld (16 Desember 2002) skryf HJ Pieterse dat hierdie digbundel enersyds verse bevat wat oordadig is en andersyds verse wat nie te veel om die lyf het nie. Vir Pieterse "werk Die taal van voëls op ’n aantal vlakke: dit kan gelees word as indeks en nabootsing van ’n aantal style, registers en stemme van die afgelope 25 jaar en selfs verder terug – die indruk is daar dat die bundel oor ’n lang tydperk ontstaan het. (...) Dit is jammer dat Pienaar nie die hand van ’n ervare redakteur oor sy manuskrip kon gehad het nie. In ’n tyd van yl en yerwordende debute kon so ’n hand dalk gehelp het om oordaad weg te sny en die eie stem onmiskenbaar te laat uitstyg."

Ook Charl-Pierre Naudé (Rapport, 28 Julie 2002) is van mening dat die bundel by ’n bietjie leiding kon gebaat het. "Baie van die gedigte is ongeslaag in die geheel, maar bevat flitse wat niks minder as besonders is nie. Sommige gedigte is te uitgesponne, bevat geforseerde en gemengde metafore of is te woordryk. Ander weer is ou gedigte wat nie moes verskyn het nie omdat die aanblik daarin op ’n afgelegde tydperk intussen ook te verouderd geword het.

In die bundel is ’n Engelse gedig oor die dood van Ken Oosterbroek en vir Naudé stel dit Pienaar op sy beste ten toon. "Pienaar het werklik die kuns van ’n goeie slot bemeester. Van die gedigte sou amper volledig kon staan net op grond van die slot (dis jammer dan oor wat soms voorafgaan). (...) Die bundel toon opvallende slaggate van selfpublikasie. Maar dit bevat ook flitse van verbeelding wat besonder eiesoortig en in enkele gevalle selfs briljant is. Om hierdie rede alleen behoort die bundel gelees te word."

Die liefdesgedigte in Die taal van voëls was vir Philip John die gedigte wat die treffendste is in die bundel. Vir John lê die trefkrag van hierdie gedigte in die wyse waarop die gedigte gerangskik is, "spesifiek uit die manier waarop die persoonlike en kwesbare gejukstaponeer word met die oorweldigend onpersoonlik globale".

John beskryf die poësie as toeganklik met onopgesmukte taal en denke wat "plat op die aarde is. Die leser word nie onderskat nie, maar die bietjie ekstra werk wat nodig is, word ryklik beloon met ’n intense leeservaring."

Die invloed van moderne Amerikaanse digters soos Bukowski is duidelik waarneembaar in Pienaar se poësie. Dit is veral merkbaar in die langer gedigte, wat byna soos kortverhale lees. "Ek is ongetwyfeld beïnvloed deur die Britse en Amerikaanse digters," sê hy aan Stephanie Nieuwoudt (Die Burger). "Die langer gedigte kan gesien word as reaksie op die keurslyf van die Afrikaanse poësie in die algemeen. Van die digter word verwag om pynlik te hou by die 'regte' tegniek. Ek kry dikwels die idee digters laat hulle deur die voorskrifte intimideer en gee hulself nie vrylik teuels nie.

"Van die gedigte kan dalk te lank wees. Maar op ’n manier probeer ek ’n estetika van oordaad vestig. Ek weet nie of dit altyd werk nie.

"Een van die voordele van selfpublikasie is dat jy op interaktiewe wyse met die lesers kan omgaan. Ek luister wat mense sê en sal die nodige veranderings aanbring as ek dalk sou besluit om die bundel te herdruk."

Hans Pienaar is ook bekend as dramaturg en verskeie dramas het uit sy pen verskyn, soos Ching Chong Che wat oor Che Guevara handel, Drie dosyn rose, Please tell us what's going on, please, Kom terug, Saartjie (oor Saartjie Baartman), Die wortel van alle kwaad, Kruger se DNS en The good candidate. Laasgenoemde is by die Suidoosterfees in Kaapstad op die planke gebring.

Oor Please tell us what's going on, please skryf Paul Boekkooi in Beeld (11 Oktober 2002): "Please tell us what's going on, please is as titel nie juis ’n ideale weerspieëling van die inhoud van dié stuk nie, maar dit is ’n versugting wat in menige nuuskantoor gehoor word. Watter inligting kan jy vertrou en watter nie? Watter agendas en magte dra die nuusredakteur die koerant binne? En watter spanning kan op interpersoonlike vlak in sê maar 'n subkantoor opbou en tot uitbarsting kom?

"Met sulke gelaaide vrae, is die eerste reaksie seker dat dit ’n swaar stuk moet wees. Dit is nie, want Pienaar besit die uitsonderlike gawe om basiese sinisme (ja, ons raak almal so) om te skep in ’n empatiewekkende ironie. Pienaar het ’n volwaardige ironiese komedie geskep. Hy plaas die stuk binne ons demokratiese jubeljaar, 1994, en met die voordeel van gekonsentreerde nawete, herskep hy dan ook van die nuusgebeure uit dié tyd.

"Dit is ook in die daarstelling van dié proses dat ’n mens se enigste kritiese kanttekening na vore kom. Alles voeg so netjies inmekaar dat dit vir buitestanders die indruk kan gee dat daar in die binnekringe van koerante altyd só te werk gegaan word. Dit is nie altyd so nie, maar Pienaar skryf klaarblyklik uit eie ervaring. Hou in gedagte dat dié stuk oor weke of selfs maande afspeel en dat alles in dié saamgeperste struktuur binne 75 minute op die verhoog gebeur.

"Die regisseur Rose Preston het ’n barshou met die rolverdeling asook in haar skerp gefokuste spelleiding geslaan. Elke karakter lééf, en belangriker, ontwikkel in die loop van die stuk. (...) ’n Mens vertrou dat elke mediamens en veral joernaliste dit sal gaan sien, maar ook vir die mens op straat weerspieël dit ’n wêreld wat slegs deur ingewydes werklik geken word."

Hans se Double bill is in 2005 tydens die Pansa Festival of Contemporary Theatre in Durban bekroon: hy was die wenner in die afdeling vir toneelstukke met een of twee akteurs. Hiermee het Hans R30 000 gewen en hy was ook saam met Phillippa de Villiers die wenner van die gehoorprys, waarvoor hy nog R7 500 gewen het.

Die twee eenakters waaruit Double bill bestaan, is Madiba Street en Conscientious objection. Neels Clasen en Jacques Blignaut was die akteurs in die gedramatiseerde voorlesing in die Catalinateater in Durban (Beeld, 21 November 2005).

Oor The good candidate is in Die Burger (1 Februarie 2014) berig: "Tussen die sinkgehuggies van ’n township êrens in Afrika maak Raphael Tondoni doodkiste en is hy die voorsitter van die plaaslike begrafnisvereniging. Hy sien hoe mense om hom moet steel om hul honger te stil en hoe die polisie vir hulself sorg in plaas van hul gemeenskap. Al is Raphael arm, is hy ’n man van integriteit, en die mense vertrou hom. Met ’n verkiesing om die draai, kom kuier ’n glibberige parlementariër in hul woonbuurt, en Raphael kom agter hoe goedgelowig armoede en ongeletterdheid mense maak. Hy besluit om homself verkiesbaar te stel sodat hy sy gemeenskap kan gaan verteenwoordig.

"Teksskrywer Hans Pienaar het as ’n koerantgroep se buitelandse redakteur baie deur Afrika gereis. Die idee vir die stuk het ontstaan tydens ’n onderhoud met ’n sangoma in Kinshasa, DRK, en die verhaal is gebaseer op ’n ware gebeurtenis in Malawi. Pienaar het ook inspirasie geput uit die kere wat hy verkiesings regoor Afrika moes dek. Hoewel die stuk gewigtige sake aanroer, word dit met lekker fisieke spel, humor en sang aangebied. (...)

"Raphael is Jan Alleman, iemand met goeie bedoelings in ’n slegte wêreld. Sy verhaal is die verhaal van so baie eerlike mense wat droom oor ’n goeie toekoms, maar wat nie die middele het om hul pad uit hul situasie te vind nie. Die feit dat die dramaturg die stuk 'êrens in Afrika' plaas, maak die verhaal baie meer universeel."

Madiba Street, die Engelse weergawe van Pienaar se Drie ­dosyn rose, wat in 2006 op die Stellenbosse Woordfees en die Absa KKNK op Oudtshoorn te sien was, is een van die nuwe Suid-Afrikaanse ­toneel­tekste wat in Londen op die planke gebring is. Die gedramatiseerde voorlesing daarvan maak deel uit van die Oval House­teater se Suid-Afri­kaanse seisoen wat op nuwe Suid-Afrikaanse toneel­stukke fokus.

Met Ching Chong Che belig Hans Pienaar ’n deel van Che Guevara se lewe wat nie so algemeen bekend is nie, naamlik sy ekspedisie na Afrika in 1965 en bied hy nuwe perspektiewe rondom die fassinerende figuur van Guevara.

Ching Chong Che is in 2004 in ’n tweeledige vorm in boekvorm uitgegee. Die eerste deel is die drama, wat bestaan uit biografiese inligting en ander gegewens wat Pienaar uit Che Guevara se dagboeke aangehaal of verwerk het. In sy resensie skryf Paul Boekkooi (Volksblad, 23 Augustus 2004) dat dit op die verhoog as ’n monoloog aangebied is. Ron Smerczak was die akteur wat die karakter van Guevara vertolk het en vir Boekkooi "word dit in die hande van Smerczak g'n vertelling nie, maar ’n gevoelryke herskepping van ’n breed uitgemete persoonlikheid wat alledaagse realiteite verplaas en soms selfs ontwrig.

"Ching Chong Che bied die leser ook ’n geestelike pendule wat soms van die tragiese na die klugtige, van die prosaïese na die poëtiese, van die vreemde na die gewone swaai – soos weersprekende prinsipes wat as konflikterende saad ’n drama versterk."

Die laaste twee derdes van die publikasies is getiteld In the footsteps of Che Guevara en is meestal op nuusgebeure ingestel. Veral politieke ontleders en geskiedkundiges sal in hierdie gedeelte belangstel. Vir Boekkooi is daar in dié gedeelte baie duidelike tekens van Pienaar as kreatiewe skrywer wat dit tot meer as net reportage uitlig. "Dit is prikkelende reisbeskrywings wat die kompleksiteit van die lewe in die hedendaagse Kongo en dié land se verhouding met sy buurlande tot op die been oopvlek."

Pienaar se Engelse roman Germ was in 2007 op die "langlys" vir die Europese Unie-letterkundeprys vir ongepubliseerde romans. Hans se reaksie hierop was dat hy al etlike romans in beide Afrikaans en Engels geskryf het, maar dat hy nog nie ’n uitgewer kon vind nie. "Ek is baie bly oor die nuus, want dis so ’n bietjie van ’n vindikasie," het Hans aan Gerrit Brand van Die Burger gesê (22 Januarie 2007).

Germ is ’n vertaling van sy Afrikaanse roman Kiem, wat nie ingeskryf kon word nie, omdat slegs Engelse romans vir die EU-prys in aanmerking geneem word. Dit handel oor ’n eertydse lid van die Derde Mag wat ná ’n aanval op ’n plakkerskamp aan geheueverlies ly. Terwyl hy op soek is na sy identiteit, is daar ook mense in magsposisies van die huidige bedeling wat onderduimse planne met hom het.

Oor die inspirasie agter Kiem vertel Hans aan Marida Fitzpatrick (Beeld, 13 Februarie 2007) dat dit sy ontstaan gehad het toe hy in 1990 as joernalis vir Vrye Weekblad gewerk het. “Dit was net toe die geweldige aanslag deur die Derde Mag-eenhede begin het,” vertel hy. “Die bewyse en inligting oor die Derde Mag is op groot skaal vernietig deur die vorige gewapende magte. Hulle dwing ’n mens dus om te bespiegel . Gelukkig, as ’n mens fiksie skryf, is dit presies wat jy behoort te doen.” Hy het dit in die laat 1990’s begin skryf en in Julie 2006 klaargemaak. “Dis nie dat ek nóg onthullings wou doen oor die Derde Mag nie,” sê hy. “Die storie het self ontstaan. Jy help hom maar net aan.”

Die boek is in Afrikaans en Engels geskryf. “Ek het in Afrikaans begin en ná terugvoering in Engels herskryf. Daarna het ek die finale weergawe weer in Afrikaans vertaal. Dit was ’n reuse-werk, maar dit het deur die jare my belangstelling gevange gehou,” sê hy aan Fitzpatrick.

Uitgewers het die Afrikaanse weergawe twee keer afgekeur. “Dit was ’n teleurstelling, want ek het gedink dis eintlik nie te bad nie,” sê hy, “maar ’n mens moet dit hanteer. Dit is die nature of the beast.”

Nadat hy gehoor het van die EU-wedstryd, het hy die Engelse weergawe ingeskryf, omdat hulle net Engelse manuskripte aanvaar. Die feit dat dit die "langlys" gehaal het, het hom optimisties gestem, want dit het gewys dat die roman werk, maar hy wou nie té opgewonde daaroor raak nie. Dit sou hom egter verbaas as die boek wel die kortlys haal.

“Ek sou nie sê dit is ’n user friendly boek nie. Die hoofkarakter is regtig nie ’n aangename ou nie. Hy is soort van ’n antiheld. Hy is een van daardie oorblyfsels van die apartheidstaat wat in die steek gelaat is deur hul base.”

Dirk Coetzee, ’n voormalige Vlakplaas-bevelvoerder, was die inspirasie vir die hoofkarakter. “Die man met die breinskade probeer bewys dat hy sekere moorde gepleeg het in die ou bedeling en die hof wil dit nie aanvaar nie. Maar ek wil dit nie laat blyk dat ek Dirk Coetzee herskep nie. Hierdie ou is heeltemal anders.”

Hans het intussen sy eie nis-uitgewery, Alto-Media, gestig en in 2010 het sy tweede digbundel, Notas uit die empire, die lig gesien. Van sy verse is ook in Nuwe stemme 2opgeneem en Joan Hambidge skryf in Die Burger (14 Junie 2010) dat reeds in daardie verse die vernaamste temas in sy digkuns raakgesien kan word: "die wrang blik op die geskiedenis vanuit die ’n joernalistieke perspektief; die gebruik van die parlando (praatvers); die vermoë om onthoubare reëls te skep; die bykans surrealistiese taalgebruik en ’n gevoel van vervreemding".

Vir Hambidge het Hans Pienaar "onbetwiste digterlike talent", maar sy meen tog dat sy verse partymaal te woordryk is en dat "die gedig dikwels verby die suggestie of natuurlike slot (tuimel)".

Die voorblad van Notas uit die empire is nes Die taal van voëls s'n, deur Hans Pienaar self ontwerp. Vir Hambidge is daar ’n klompie goeie gedigte in Notas, maar sou dit gehelp het as daar ’n sterker redigeerdershand was wat aan die verse kon help snoei het.

Bernard Odendaal (Volksblad, 3 Julie 2010) het ’n duidelike verskil tussen die verse wat in Nuwe stemme 2 opgeneem is en dié inNotas waargeneem, naamlik dat die verse in laasgenoemde se vorm meer vas was en nie so vry soos sy vroeër verse was nie. "Hierdie kenmerke van Notas is vermoedelik ingevoer as ’n vorm- en stylvergestalting van die magsuitoefening en retoriek wat met imperiale politiek verbind word. Historiese én eietydse imperiums en tirannieke staatsbestelle word te berde gebring, soms op ahistoriese wyse deuréén. (...)

"Die strenger vorme en gewaagde stilistiese aanpak wat hy gekies het, het te dikwels iets geswolle tot gevolg: rymelary en rymdwange, geforseerde sintaktiese omkerings, valse of twyfelagtige woordkeuses, woordafkappings waarin selfs die gewone lettergreepbreuke geïgnoreer word. (...)

"Blykens ’n gedig of twee uit die reeks Die smarte van empire besef die digter self iets van hoe sy digterskap te kort skiet – hoewel, weens die ironiese trant waarin dit gestel word, nie in die werklik kritiese sin wat ek hier bedoel nie. Notas, tematies én in omvang nogal ’n ambisieuse bundel, is mooi deur Pienaar self uitgegee. Ek skep dus geen behae daarin om soveel kritiek daarop te moet lewer nie."

In Rapport van 25 April 2010 het Jo Prins geskryf: "Daar is ’n hele paar mooi verse in dié bundel, selfs briljantes, maar of daar genoeg van diesulkes is om die bundel deur te dra, moet elke leser self besluit."

In 2012 verskyn Hans se debuutroman, Chaos, of Op soek na Superman weer by Altoviolet.

In Beeld (11 Februarie 2012) skryf Jaco Nel dat Chaos, of Op soek na Superman ’n soektog vol kronkelpaadjies is. "Kronkelpaadjies tussen filosofiese gedagtegange en intellektuele (soms paranoïese) debatte wat een man konstant met homself voer. Nie een hoofstuk lyk dieselfde nie: Party is selfs in ander lettertipes gedruk, terwyl die skrywer elke kort-kort ’n poging aanwend om heeltemal in ’n ander skryfstyl of narratief met sy leser te kommunikeer.

"Dit gaan oor ’n man se verlede tydens 'donkerder' dele van die Suid-Afrikaanse geskiedenis met tye soos verpligte diensplig, apartheid, oorlog, onluste en die pyn van verandering. Verandering wat meestal chaos tot gevolg het. Daardie soort chaos wat ’n denkende mens sommer van sy kop af kan laat gaan.

“'Laat ek maar die aap uit die mou laat,' oortuig Pienaar sy lesers. 'Dit gaan oor Superman. Ja, die man in die comic-strip, of in die rolprent, of op kinders se T-hemde. Ek was besig om navorsing te doen oor Superman toe die katastrofe my tref. Iemand het dit gesteel. My navorsing.'

"En dan raak dinge sommer net gewoonweg crazy. Jy word gekonfronteer deur hoofstukke soos 'Jung se pistool', 'Die Walkman en die dogters van Kain', ensovoorts.

"Die boek lyk op die oog af soos ’n 'blinknuwe' Afrikaanse stuk popkuns, maar jy besef vinnig om nie dié outjie op sy baadjie te takseer nie. Want jy praat hier van ’n Superman-boek wat glad nie oor Superman gaan nie. Daar word deurgaans getob oor die konsep van chaos en daar word selfs gereelde Alice in Wonderland-agtige gesprekke van waansin gevoer met die twee Wright-broers.

"En dís miskien waar Pienaar in so ’n bietjie van ’n strik trap: Om te chaoties oor ’n konsep soos chaos te skryf, gaan maak dat daar géén koherente gedagtelyn deur die boek loop nie. Gebrek aan struktuur klink dalk na ’n aanloklike idee vir ’n chaos-filosoof, maar die resultaat is iets wat dié leser koud gelaat het."

Joan-Mari Barendse skryf in Tydskrif vir Letterkunde (2013): "Die struktuur (of eerder gebrek aan struktuur) van Chaos, of, Op soek na Superman, die outobiografiese inslag daarvan, en die wyse waarop die leser direk aangespreek word in die boek het my dadelik aan Koos Kombuis se 'plakboek' Somer II (1985) laat dink. Dit het
egter nie dieselfde trefkrag as Kombuis se eksperimentele roman nie. In Pienaar se boek is daar niks wat my geskok (al word dit nie aanbeveel vir 'papbroeke' nie), geïnspireer of werklik bygebly het nie."

Hans Pienaar het ’n rol gespeel in die reël van die jaarlikse poësiefees wat in Oktober 2011 vir die eerste keer in Melville in Johannesburg gehou is – ’n eksperiment genaamd Melville Poetry Festival Showcase. Dit is toe oor twee dae deur die Wits-skryfsentrum en die Jozi Spoken Word-inisiatief aangebied.

Die kommentaar op die eerste fees was baie positief en ’n komitee met Pienaar as voorsitter is in die lewe geroep om die fees op ’n jaarlikse grondslag te vestig.

Die tweede fees is in 2012 oor die naweek van 12 tot 14 Oktober in restaurante en koffiekroeë in 7de Straat in Melville gehou, met ’n stewige borgskap deur die Dagbreek-Trust en andere. Die tema was toe “Fees van die poëtiese” en die slagspreuk “Meer as net woorde”. Die bedoeling was om die vele ander gebiede en genres waarmee die poësie oorvleuel, te betrek.

Pienaar het in Februarie 2013 as voorsitter bedank. “Ek het gereken daar is nie genoeg steun vir my idees oor hoe die fees moet geskied nie,” het hy aan Rudolf Stehle gesê (Beeld, 26 Augustus 2013). Hy het nie verder uitgebrei oor hierdie verskille nie.

Volgens Allan Kolski Horwitz, ’n voormalige komiteelid, het die verskille ontstaan omdat Pienaar daarop aangedring het dat die "Afrikaanse program van die res geskei word – destyds was dit ingevolge die vereiste van die Dagbreek-Trust. Die meerderheid van die komiteelede het gevoel die program moet geïntegreer word; dat verskillende tale, style, generasies, ensovoorts vermeng moet word om ’n mosaïek van Suid-Afrikaanse poësie te skep. Hans het verplig gevoel om die Dagbreek-Trust se voorskrifte tot op die letter uit te voer,” het Horwitz aan Stehle gesê.

Hans was in sy jong dae, in die weermag en op universiteit, ’n rebel, vertel hy aan Marida Fitzpatrick. "Ek was heeltemal opstandig. Maar dit was moeilik om ander mense te kry wat dieselfde as jy dink, veral by Tukkies, wat ’n konserwatiewe universiteit was. As daar ’n protesaksie was, dan was dit maar jyself en niemand anders nie.

“Ek onthou nog ek, ’n pel en ’n ander meisie het bymekaar gekom om te begin praat oor ’n opposisiekoerant. Toe ons die Vrydag Die Perdeby (Tukkies se studentekoerant) oopmaak, was al ons planne uitgeblaker. Toe kom ons agter die meisie was ’n spioen!” vertel hy.

"Ek het in my studentejare dikwels soos ’n randfiguur gevoel, maar dis ook lekker om ’n outsider te wees. Ek het maar my boheemse lewe geleef. So half hippie, jy weet, met ’n baard en so aan. Soos Che Guevara.”

Publikasies

Publikasie

Die lewe ondergronds

Publikasiedatum

  • 1986

ISBN

0947046046 (sb)

Uitgewer

Emmarentia: Taurus

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die Trojaanse perd: Hans Pienaar en Hein Willemse in gesprek met ’n UDF-leier, ’n Prog-politikus, politieke organiseerders, ouers van beseerde studenteleiers, onderwysers en ’n swart bewussynsfiguur

Publikasiedatum

  • 1986

ISBN

0947046054 (sb)

Uitgewer

Emmarentia: Taurus

Literêre vorm

Kultuurhistoriese dokument

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die derde oorlog teen Mapoch

Publikasiedatum

  • 1991

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: Idasa

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Rapportprys vir niefiksie1992

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die taal van voëls en ander gedigte

Publikasiedatum

  • 2002

ISBN

0620292830 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Hans Pienaar

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ching Chong Che

Publikasiedatum

  • 2004

ISBN

0620321970 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Content Solutions Online

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Notas uit die empire

Publikasiedatum

  • 2010

ISBN

9780662045090 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Alto-Media

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Chaos, of, Op soek na Superman

Publikasiedatum

  • 2012

ISBN

9780620541183 (sb)

Uitgewer

Melville: Altoviolet

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Hans Pienaar beskikbaar op die internet:

Artikels deur Hans Pienaar beskikbaar op die internet:

 

 

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top