Hannes Meiring (11.10.1934-03.04.2010)

  • 0

Hannes Meiring, bekende argitek en bewaringsvegter wat in die jare sewentig ’n landwye beweging gelei het om Kerkplein in Pretoria te bewaar, het vandeesweek onverwags aan huis in Stellenbosch gesterf. Hy was 75 jaar oud.

Die beweging van destyds om Kerkplein te red was meer as net ’n gewone bewaringspoging. Dit was voorbladnuus en volbladnuus in koerante. Dit het ’n dimensie bevat van kulturele opstand teen ’n regering wat sogenaamd denkende mense toenemend vervreem het. In sekere opsigte was dit soortgelyk aan Afrikaanse skrywers se stryd teen sensuur, ’n protes oor ’n spesifieke saak, maar tegelyk ook ’n wyer en dieper reaksie teen dom en bekrompe ongevoeligheid.

Meiring was goed toegerus om die informele leier te wees van die poging om die regering van eerste minister John Vorster teen te staan, om eindelik die historiese Wesfasade in 1975 van sloping te red en tot nasionale gedenkwaardigheid te verklaar. Hy was ’n suksesvolle argitek in ’n goeie vennootskap wat belangrike private en openbare opdragte onderneem het. Hy was ’n kundige bewaarder, goed belese en met wye reiservaring. Hy was voorts ’n innemende mens, met ’n gesonde, sterk selfbeeld, iemand wat die toorn van magtige politieke leiers kon weerstaan.

Hannes Meiring is in Potchefstroom gebore, die vierde van vyf kinders, en deel van ’n gesin en ook groter familie met akademiese en politieke invloed. Hy het grootgeword in Stellenbosch, waar sy vader hoogleraar in opvoedkunde was. ’n Belangstelling in argitektuur is aangewakker deur ’n oom, At Meiring, later die eerste hoogleraar in argitektuur aan die Universiteit van Pretoria. Ná studie in argitektuur aan die Universiteit van Kaapstad, met Pius Pahl, Deane Anderson, Pryce-Lewis en Thornton-White as invloede, het Hannes later ook twee jaar in München studeer.

In Pretoria was hy ’n senior vennoot in Colyn en Meiring, voorsitter van die Noord-Transvaalse tak van die Stigting Simon van de der Stel, aktiewe lid van die Instituut van argitekte, en deeltydse dosent in argitektuur aan die Universiteit van Pretoria. Hy sal onder meer onthou word vir sy werk aan die nuwe parlement, die restourasie van die Ou Raadsaal en die Erasmus-kasteel in Pretoria, die Saldanha-staalfabriek, die Rupert- kunsmuseum in Stellenbosch, asook verskeie belangwekkende woonhuise, wynkelders en openbare geboue. Hy was aangetrokke tot monumentale geboue uit vorige tydperke, maar eweneens ’n voorstander van nuwe argitektuur. In Stellenbosch, waar hy hom weer na ’n lang verblyf in Pretoria gevestig het, het sy verdediging van nuwe argitektuur in die dorpkern hom by geleentheid in botsing gebring met bewaringslui met wie hy tevore dikwels vereenselwig is.

Sy belangstelling in uiteenlopende soorte mense was moontlik gedeeltelik aanleiding daartoe dat hy ook in ontwerp goeie verdraagsaamheid gehad het vir sinvolle dissonansie, vir uiteenlopende ontwerpstyle wat in gesprek met mekaar ruimtes opneem. Argitekte wat saam met hom of onder hom gewerk het, onthou hom as iemand met ’n oop gemoed, altyd nuuskierig oor nuwe insigte, ’n regverdige luisteraar, hoflik en menslik. In groot en klein geboue het hy goeie begrip gehad vir balans, en veral ook vir die menslike skaal. In sy tekeninge en skilderye het dit gelei tot ’n belangstelling in volkshuise, hutte en pondokke, in die wyses waarop mense met min middele identiteit in hul omgewing skep. Dit was vir hom ’n frustrasie dat die groter boubedryf in Suid-Afrika nie die politieke wil kon vind om voortreflike groepbehuising vir die mense van die land te skep nie.

In ’n eie huis wat Meiring buite Pretoria vir hom en Martie Retief-Meiring ontwerp het, is die aaneenskakeling van verskillende klein eenhede in Afrika- en volksboustyl as verstommend vernuftig beskryf deur ’n lid van die paneel wat ’n merieteprys vir dié ontwerp aan hom toegeken het: “It is chaos - but what chaos!”

Hannes Meiring was nie materialisties nie. Toe sy werk as senior vennoot by Colyn en Meiring na sy insig op te veel bestuurswerk uitgeloop het, het hy verduidelik dat hy die vennootskap wil verlaat en van nuuts af wil begin, om hom weer te bepaal by ontwerp, wat vir hom vreugde bring.  Hy het daarná steeds groot projekte behartig, maar die werkstekeninge dikwels aan ander argitekte oorgelaat. Hy het toenemend begin teken, tekeninge waarin hy die wesenlike trekke van geboue en landskappe met uitbundige vaart vasgelê het. Meer onlangs het hy ook meer geskilder, werke in breë hale en helder kleure, in ’n tegniek wat hy vasbeslote aan’t bemeester was nadat ’n bekende Suid-Afrikaanse kunstenaar hom wou oortuig dat dit nie moontlik sou wees om te slaag in ’n tegniek wat weens die vinnige droog van die verf om uiters snel uitvoering vra nie.

Hy was voorts betrokke by verskeie publikasies waarin inheemse boukuns gedokumenteer en wyer bekend gestel is, onder meer Kruger’s Pretoria (1972), Boukunsskatte van Suid-Afrika (1977), Stellenbosch te Voet (1979) en My Country in Line and Colour (2004). Kunswerke deur hom is in verskeie versamelings opgeneem en hang in belangrike openbare ruimtes. Hy het vier toekennings van die Instituut vir Argitekte ontvang, en medaljes en toekennings van die Stigting Simon van der Stel en van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Sy benadering tot sy werk het hy saamgevat in ’n spreuk: “Wanneer jy fouteer, doen dit in die rigting van eenvoud ...”

Naas dit wat Hannes Meiring as argitek, bewaarder, skrywer en kunstenaar bereik het, is daar Hannes se blywende waarde as vriend vir vele. Tussen hom en Martie en hul dogter, Kabous, was daar ’n wye, wydse netwerk van vriende en belangstellings. Daarby was Hannes legendaries mensliewend, met ’n aansteeklike vreugde en waardering vir dit wat mooi en lekker is. Waar hy grootdoenerigheid en valsheid raaksien, sou hy dit met ’n vrolike geestigheid ondermyn. Hy het ongekunsteld die goeie in ander raakgesien, selfs in diegene wat hom kwaad sou aandoen.

’n Studentevriend vertel hoe hulle as studente aan UK ál Ikeys se spanne vurig ondersteun het. Stellenbosch Universiteit was hul natuurlike vyande. By ’n rugbywedstryd waar hulle met oorgawe ’n ander span teen die Maties ondersteun het, het die vriend hom met soveel drif uitgedruk dat Hannes hom mettertyd aan die skouer geneem, in die oë gekyk en vermanend gesê het: “Man, onthou ... hulle is ook maar net studente ...”

Hannes het weliswaar ook van jongs af ’n koppige streep in hom gehad wat ’n mens kon verras. Toe die eienaar van die eerste huis wat hy as jong argitek ontwerp het, sonder om hom te raadpleeg sekere opdragwysigings aan die bouer doen en die huis in ’n vreemde kleur verf, het Hannes die argiteksbord laat verwyder en hoflik vir die eienaar gesê dat hy ongelukkig nou nie weer verder met hom sal kan praat nie. Dieselfde koppigheid was goed te pas met bewaring, waar ’n sterk wil dikwels nodig was om optrede deur te voer. Hannes het nietemin in byna alle gevalle weer vriende geword het met mense met wie hy onenig was; daar was weinig spoor van bitterheid ooit by hom.

Ten diepste was Hannes ’n ruim mens. Mense het goed gevoel nadat hulle hom raakgeloop het. Daar was by hom nie agterdog en beoordeling nie, eerder ’n ingesteldheid om die oomblik te geniet. ’n Mens het agterna gevoel die wêreld is ’n goeie plek, en jy self ’n beter mens as wat jy tevore vermoed het.

Sondag, die laaste dag toe Hannes langs die see gekuier het, kyk ek op Waenhuiskrans toevallig na ’n geraamde tekening van hom. In sy skets het hy onvanpaste veranderinge aan ’n eertydse vissershuis geïgnoreer en bloot die basiese struktuur van die huis met ’n paar hale aangedui. Toe ek die skets jare gelede die eerste keer gesien het, was my reaksie dat dit net Hannes sou wees wat onder die lelike toevoegings dit wat mooi is só sal raaksien en uitlig. Enkele maande nadat Hannes die tekening gedoen het, het sy ou klasmaat en lewenslange vriend Chris Stander die betrokke huis vir die eienaar gerestoureer. Daar verdwyn die lelike toevoegings toe en word Hannes se tekening ook letterlik heeltemal waar ...

’n Mens kan dink hoe Hannes met ruim selfspot sou kon dink aan Picasso se antwoord toe daar vir hom gesê is sy weergawe van Gertrude Stein is nie herkenbaar nie – dit lyk glad soos sy nie. Sy bondige antwoord: “It will, in time ...”

Mog't dat ons meer sal kyk soos wat Hannes gekyk het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top