Hallo, Hekel deur Cornel Strydom, Elsbeth Eksteen en Anisa Fielding: ’n resensie

  • 5

Hallo, Hekel
Cornel Strydom, Elsbeth Eksteen en Anisa Fielding
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN:
9780798174015

As jy hekel vereenselwig met jou eensame groottantes wat in skemer voorkamers toiletroloortreksels in kuikengeel of vaalpienk wol sit en uitryg, is jy verkeerd. Gedurende Mei 2017 bevestig Vogue dat jou persepsies werk nodig het toe hulle foto’s plaas van modelle wat die loopplank pronkend in hekeldrag afstap.

’n Mens kan dus aanvoer dat hekel mode is. Die weelderige, interessante hekeldraad en stylvolle patrone wat deesdae verkrygbaar is, is grootliks vir die hekelherlewing verantwoordelik. Talle mense getuig egter ook van die genesende effek van hierdie handwerk. Die ritmiese aard daarvan, asook die tel van steke, is meditatief en het ’n positiewe invloed op die gemoed. Dit is uitstekende terapie vir streslyers – en ons is legio in hierdie moderne tye. Boonop is daar min dinge wat kan kers vashou by die gevoel van trots wanneer ’n handgemaakte item voltooi is.

Hekelaars sluit juriste, medici, D-studente, bedryfsielkundiges, bikers, wynplaasbestuurders en byderwetse oumas in. Mans hekel lustig saam en ’n hekelende apteker het onlangs laat weet dat ’n polisiemanvriend op aanbeveling van sy sielkundige begin hekel het om sy stresvlakke onder beheer te kry.

Die omslag van Hallo! Hekel beklemtoon hoe modern hekelwerk geword het. Drie interessante, kleurvolle vroue staan op die voorblad, een met hekeldraad en die ander een met ’n prettige, nietradisionele doilie parmantig op haar kop gebalanseer. Dit lyk of dié drie pret het – waarskynlik meer as wat die hekelaars van skeloranje gestyfde swane toentertyd gehad het.

Hallo, Hekel is ’n lieflike boek en is uniek in die sin dat ’n enkele projek op vier verskillende maniere vertolk word na gelang van ’n spesifieke styl. Die style ter sprake is kontemporêr, kunstig, romanties en boheems. Elkeen van die vier stylafdelings in die boek bevat 16 patrone vir onder andere polsverwarmers, sjaals, teemusse en komberse. Die ontwerp en keuse van hekeldraad is aangepas om die afdeling se styl te weerspieël. Projekte wissel in moeilikheidsgraad: maklike projekte sluit basiese steke, herhalende steekpatrone en moeitelose kleurveranderings in; gemiddelde projekte gebruik ’n verskeidenheid tegnieke, soos basiese kant- of kleurpatrone; en moeilike projekte bevat ingewikkelde steekpatrone, veelkleurige tegnieke en nieherhalende patrone. Die skrywers het ook ’n nuttige lysie borge agterin die boek vervat en hekelaars weet dus waar om die onweerstaanbare hekeldraad ("jaarn") of wol wat vir projekte gebruik is te bekom.

Sierlike polsverwarmers uit die “Kunstig”-stylafdeling

Hallo, Hekel is nie vir beginners bedoel nie – ’n mens moet al ’n paar projekte agter die rug hê voordat jy hierdie patrone aanpak. Om te toets hoe maklik dit is om die patrone te volg, het ek op ’n motief wat vir my onbekend is besluit en dit om die beurt van die (teks)patroon en die diagram af gehekel. Dit het redelik maklik gegaan. My enigste kritiek is dat die skrywers gerus Engelse vertalings vir die Afrikaanse hekelterme agterin die boek kon verskaf het. Ek is byvoorbeeld in my spore gestuit toe ek sien dat my motief ’n “vooromspyker-gls” insluit en het vir ’n oomblik gewonder of ek my Kama Sutra moet nadertrek. Ek het my egter na die Ons Hekel-Facebookgroep gewend om na die vertaling te soek. (En dit was nogal eenvoudig; dit is die “front post slip stitch”, ’n steek wat ek as amper-beginner al een keer vantevore suksesvol gebruik het. Nietemin, vertalings sou my tyd bespaar het.)

Ek het weelderige 100% merinowol vir die toetsmotief gekies.

Die eindproduk, ‘n mooi en maklike motief.

Die drie vroue op die voorblad is die skrywers en bekendes in hekel- en handwerkkringe. Hulle het onder andere ’n pragtige webwerf, www.hellohart.com. Cornel Strydom is ’n dekor- en grafiese ontwerper met ’n passie vir permakultuur; Anisa Fielding is in die advertensiewese en akademie betrokke en omring haar met dinge wat ’n storie vertel; en Elsbeth Eksteen is ’n kinderboekillustreerder vir wie elke bol wol betowerende moontlikhede inhou.

Dit is nie meer honderd jaar tot Kersfees nie; skaf gerus die boek vir jou gunsteling-hekelentoesias aan. Jy sal vir lank in sy of haar goeie boekies wees.

Foto's: Nadia de Kock

  • 5

Kommentaar

  • Ek het julle boek gekry besig met motief 4 maar nie 'n idee hoe om vooromspykerglipsteek te doen nie, enige hulp asb. Dankie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top