Hallo, Frieda

  • 0

Foto: Canva

Hallo, Frieda

Hallo, Frieda. My ma sê ek mag maar ’n rukkie kom speel.

Weet jy wat, kinders kry altyd lekkers by hulle oupa. En hulle ouma kook lekker kos en bak vir hulle koek. Nie my oupa nie. Ek kan nie onthou dat ek ooit een swiet by hom gekry het nie. My stiefouma het ook nooit gekook nie. Wanneer ons honger was, het ons die glippertjies geëet wat oor die draad gegroei het.

Ek dink my stiefouma was ’n gees. Sy het in die huis rondgeloop en haar dogter se naam gesê. B-Bertha. My ma het altyd gesê sy lyk soos Daisy de Melker. Ek weet nie hoekom nie.

Maar sy was ’n lekker ma. Die hoenders kon op die bed slaap en hulle het min kere hulle hare gewas.

Sy het ook nooit vir die kinders gesê hulle mag net een koekie uit die bak neem nie. Hulle kon die bak maar leeg eet. My ma sê: Nes wilde honde. Nog nooit gehoor van die dag van môre nie.

Oupa se huis was van sink. Die son het tot op die bed geskyn. My ma sê dit is sy verdiende loon – hy het die familieplaas deur sy gat getrek.

Maar sy was nog jammer vir hom. Ons het altyd ’n groot mandjie met blikkieskos vir hom en sy vrou geneem. Dan het Bertha vir ons vertel hoe dit in hulle huis gaan.

Koppies val uit die kas, maar staan weer heel op en klim terug in die kas.

Haar ma sê die vrou wat langs die koolstoof sit, is ’n gees. Haar graf is te koud, dan kom kuier sy maar net.

Ek gaan nou maar weer huis toe. Koebaai. Check jou môre by die skool.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top