Halfpad hol deur Amos van der Westhuizen: ’n resensie

  • 2

Prent: https://i0.wp.com/naledi.co.za/wp-content/uploads/2022/07/HALFPAD-HOL_Voorblad_300dpi_RGB_HIGHRES.jpg

Titel: Halfpad hol
Skrywer: Amos van der Westhuizen
Uitgewer: Naledi, 2022
ISBN: 9781776172290

Die verskyning van twee Afrikaanse niefiksieboeke deur oudpredikante wat hulle geloof laat vaar het, het die land die afgelope tyd soos ’n orkaan getref. Eers was daar Ben du Toit se God is daar ’n ander antwoord? (LAPA, 2020) en meer onlangs Johan Retief se Die slegte nuus van die Evangelie (Naledi, 2022). In koerante se kolomme en op sosiale media het dit behoorlik gegons oor beide hierdie boeke.

Albei skrywers is uit vele oorde skerp gekritiseer en veroordeel omdat hulle hul ongeloof so in die openbaar bely. Daar was egter ook vele stemme wat hulle geprys het vir hul moed en eerlikheid. Dit het aan talle mense ’n woordeskat gebied vir die vrae in hulle eie gemoed wat hulle voorheen nie gehad het nie.

Amos van der Westhuizen se roman Halfpad hol val in ’n totaal ander genre as dié twee boeke, omdat dit fiksie is. Dit sluit egter direk aan by baie van die vrae wat bogenoemde boeke aanspreek en by die robuuste gesprekke wat dit ontketen het.

’n Roman kry dit dikwels beter as die werklikheid reg om ’n boodskap oor te dra, al is dit op ’n subtiele manier. Mark Twain het gesê: “Waarheid is vreemder as fiksie, maar dit is omdat fiksie verplig is om by moontlikhede te hou; waarheid nie.”

In Halfpad hol word die leser deurgaans gekonfronteer met die eksistensiële vrae van die lewe wat in menige mens se kop spook, spesifiek wit Afrikaanse mense wat in die era sedert 1994 na apartheid swaar dra aan die bagasie van die verlede.

Elkeen wat grootgeword het in die dampkring van Christelik-Nasionale Onderwys sal iets van hulleself in sommige van die karakters herken.

...........
In Halfpad hol word die leser deurgaans gekonfronteer met die eksistensiële vrae van die lewe wat in menige mens se kop spook, spesifiek wit Afrikaanse mense wat in die era sedert 1994 na apartheid swaar dra aan die bagasie van die verlede.
Elkeen wat grootgeword het in die dampkring van Christelik-Nasionale Onderwys sal iets van hulleself in sommige van die karakters herken.
..............

“Ons was produkte van die samelewing se politieke korrektheid. Een stel waardes, nee moontlik nie eens waardes nie, een stel vooroordele het vir almal gegeld. Hulle het dogma voorgehou as moraliteit, vooroordele as beginsels en tradisies as waardes” (89).

Van der Westhuizen se roman is geensins ’n swaarmoedige gewroeg oor godsdiens of geloof nie. Dit plaas wel van die vrae wat aangespreek word in boeke soos dié wat ek aan die begin noem, pertinent op die tafel.

Veral kritiese denkers sal maklik kan identifiseer met die meeste van die vrae waarmee die hoofkarakters in hulle eie gemoed stoei, maar nie durf waag om mee met die hart op die mou te loop nie.

Dit is die verhaal van vier mense wat hulle lewensweg moet vind in die godsdienstigversplinterde landskap van die nuwe Suid-Afrika. Albei manlike hoofkarakters, Coenraad en sy beste vriend Henk, is moeg vir die oorvereenvoudigde antwoorde op moeilike lewensvrae wat geen sin meer vir hulle maak nie.

Coenraad se vrou, Carla, ry wipplank tussen haar geloof en ongeloof terwyl haar pa, tipies van sy geslag, steeds bly vasklou aan sy Calvinistiese godsdiens omdat dit al is wat hy ken.

Vir ’n groot deel van die samelewing of familie is mense soos Coenraad en sy vriend Henk verlore, omdat moraliteit en geloof vir baie mense onlosmaaklik deel is van mekaar. Daarom praat die twee vriende nie na buite daaroor nie en hou hulle dit liewer vir hulself.

Hierdie vooroordele van die samelewing weergalm in Coenraad se kop waar hy onder in die myn vasgekeer is en wonder of hy ooit weer die lig sal aanskou.

“Jy het gesê ja meneer, ja dominee, ja korporaal. Ons was kanonvoer, nie net op die grens nie, ideologiese kanonvoer, in die skool, in jeugweerbaarheid, geskiedenis, kadette, katkisasie, KJA, CSV. Ons is grootgemaak om bevrees te wees vir die rooi gevaar, die swart gevaar, en die hel. Veral die hel.”

Coenraad beleef sy eie hel op aarde waar hy na die rotsstorting saam met Sipho in die myn vasgekeer is met slegs twee bottels water en sy eie gedagtes. Bogronds wag sy boesemvriend Henk en Coenraad se gesin op nuus en probeer om die situasie te verwerk.

Traumas weens die verlede se indoktrinasie beïnvloed steeds hul lewenskeuses. Halfpad hol bekyk die invloed van volksgodsdiens en die nadraai daarvan op die psige van die enkeling.

...........
Traumas weens die verlede se indoktrinasie beïnvloed steeds hul lewenskeuses. Halfpad hol bekyk die invloed van volksgodsdiens en die nadraai daarvan op die psige van die enkeling.
............

Coenraad se pa was ’n dominee van beroep. Weens  omstandighede en sy eie ontnugtering met die kerk verlaat hy die bediening. Soos baie pastoriekinders het Coenraad geen erg meer in godsdiens of geloof nie. Menige pastoriekind sal hulle daarmee kan vereenselwig.

Sy kollega Sipho wat saam met hom die skag af is, behoort aan ’n charismatiese kerk. Hy en sy mense is diep gelowig en tog tref dieselfde lot hom as vir Coenraad, maar in die oortreffender trap.

Terwyl Coenraad in die myn vasgekeer is, raak die situasie bogronds nog moeiliker wanneer die kerklos gesin se dominee en skoonfamilie op die toneel verskyn.

Coenraad is bly dat hy oor sekere vrae nie meer hoef te tob nie. Vrae soos hoekom die rotse, of die kanker of die wegholvragmotor of moordenaar of watter ongeluk ook al, die een getref het en die ander gespaar het? Hoekom het die liefdevolle almagtige God dit so beskik, so gekies?

Hy meen mense kan glo wat hulle wil, maar as hulle glo dat een of ander bonatuurlike mag fisiese uitkomste bepaal, stuit dit hom teen die bors. Hy voel daardie aspek van hulle lewensbeskouing kan mense gerus vir hulself hou soos wat hy doen. “Dit is heilige grond, jy trek jou skoene uit as jy daardie ruimte van ’n ander betree, en dan ook net met toestemming of uitnodiging,” glo hy.

In ’n tyd waarin daar ook in Afrikaanse geledere ’n groter wordende groep mense is wat al hoe verder wegbeweeg van georganiseerde godsdiens en nie meer bang is om moeilike vrae te vrae nie, is Van der Westhuizen se roman ’n welkome toevoeging tot die groter gesprek.

In die woorde van die skrywer self lê die karakters in Halfpad hol op die spektrum aan die verligte kant. Dit maak nie van hulle engeltjies nie, maar ook nie die Antichris nie, net gewone mense wat hulle beste lewe probeer lei.

............
Uiteindelik is die vraag wat soos ’n goue draad deur die verhaal loop, of mens kies om te glo of nie te glo nie. Of is dit maar net die lewe en die draaie wat die lewe met jou loop wat jou in ’n bepaalde rigting stuur wat mense laat aanhou of ophou glo?
Hoewel die roman se storielyn vol moeilike vraagstukke is, bied dit ontspanne en gemaklike leesstof. Maak jou egter gereed vir ’n onverwagte harde skop op die krop in die laaste hoofstuk, wat verdere stof tot nadenke bied.
..............

Uiteindelik is die vraag wat soos ’n goue draad deur die verhaal loop, of mens kies om te glo of nie te glo nie. Of is dit maar net die lewe en die draaie wat die lewe met jou loop wat jou in ’n bepaalde rigting stuur wat mense laat aanhou of ophou glo?

Hoewel die roman se storielyn vol moeilike vraagstukke is, bied dit ontspanne en gemaklike leesstof. Maak jou egter gereed vir ’n onverwagte harde skop op die krop in die laaste hoofstuk, wat verdere stof tot nadenke bied.

 

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top