Haikoe-kompetisie: Heelwat haikoes deur Floris Brown

  • 0

 

’n haai in die baai
los sy tatoeëermerke
in my branderplank

 

twee duisend en ses
haikoes fladder oujaar uit
vliegtend na sewe

 

tussen marmerklip
Grieks versierde pilare
blits jy die mode

 

tussen Nederland
Suid-Afrika vlieg swaels
tussen seisoene

 

glimlag op stelte
soos die son hul koppe draai
mý sonneblomme

 

dooie diere in
ys gegiet soos geraamtes
in Neanderdal

 

vissersnet in son
stal rye boggempies uit
stank laat sneesdoek gryp

 

weke voor die tyd
eienaardige gedrag
slang sê: “Aardbewing!”

 

sing jou lied brander
bo die gekras van die meeu
verf my lippe sout

 

die kaktuspers blom
staan in volle swier voor son
skemeraand verlep

 

voëls fladder skrik
daar is ’n slang in die gras
alle rus verstoor

 

’n kwikkie tik-tik
aan my badkamervenster
glimlag vir die dag

 

een stikdonker wolk
’n wind swiep deur kaggelvuur
’n haelkorrel lag

 

inkvis het verdwyn
Manta het die seedruiwe
van seegras kom steel

 

teen huis se muur rank
jou suiertjies verander
my huis geel na groen

 

ronde wit kersbol
in ’n geelruiker versier
pragdood vir mensmot

 

een druppel gevries
’n deurskynende mespunt
hang in die spelonk

 

duisend eiertjies
wêreld vol spinnekoppe
losgelaat vir gil

 

verkleurmannetjie
draai sy mantel na die wind
wolwe mag hom gryp

 

jou kloue gryp die
vis uit die rivier of see
prag volmaakte kiek

 

mooie see arend
olie gif in see rivier
sal jy dit oorleef?

 

hoe lank gaan jy staan
onder jou wortels bloekom
hoeveel geslagte?

 

verpletter verslaan
al my beeste is geraak
deur die Ooskuskoors

 

na elk natuurbrand
verrys nuwe lewe bo
as roet Myrista

 

bring my kanarie
goudgeel klanke somerson
kelk Mariah Carey

 

voëls tjirp nie meer
rye derms op hakiesdraad
boodskap: janfiskaal

 

té laat die redding
haarskroei van ’n brandslaner
sy skoene in as

 

rustigheid self waar
’n trop olifante wei
in tapisserie

 

onderstebo hang
een vlermuis met grote oog
skemeraand sê nag

 

op die skoppelmaai
sit nou ’n vlinder waar jou
silhoeët eens was

 

bo die kosyn hang
jy spinnerak jou baas het
gaan nes vér van hier

 

roosblaar vol gate
in my groen tuintjie loop twee
rye silwer spoor

 

in die begraafplaas
op slap draad gebreekte muur
hoe-hoe die naguil

 

baba-slangetjie
in my sink verskrik spoel ek
hom af in die drein

 

agter die glimlag
agter die skerp vuil tandjies
lê by se angel

 

moerbeiboomblare
voed die sywurm en kokon
harte toegespin

 

in glanskeramiek
lê ons verlore liefde
swart houtskool versier

 

muskiet jou vabond
ek sal sitronella bring
om jou weg te hou

 

formasieryers
in gelid soos soldate
die mens staar langoog

 

verdiep in stilte
’n skielike blaarrukwind
laat my verskrik kyk

 

heerlike poeding
alles bederf deur een groen
vieslike brommer

 

naak geskroeide boom
in die woestyn gooi skadu
oor ’n akkedis

 

’n vreemde geluid
vreemde voël moes verdwaal
na sy habitat

 

see sonsondergang
rye voete oë staar
versteen verswelg sjoe!

 

kolonie gevorm
in ondergrondse tonnels
deur die prêriehond

 

nektar van aalwyn
in droë wintermaande
bly die lewenslyn

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top