
klits die groenteepoeier
skink in raku-bakkies
drink die boeddha
zentuin
hark die gruis
in nuwe sirkels
bedelmonnike
in die mis
lanterns van klip
kraalwit boeddha
’n mantra
aan zoeloeland
stilte
is windklokkies
van glas
pottebakkersoond
dreunsange van
’n raku-pot
vinke
in die riete
saffraan monnike
ghong
voor ontbytuur
klanke van ’n leë mandala
dampspoor in ysige lug
werwels
van die wit draak
swart stoppels
van die veld
swaels in hul winterse kombers
kuti
kyk uit oor glooiings
van chibini-vallei
bamboesbos
altaar
van ’n groen seisoen
labirint
die ingang
is die uitkoms
stormwolke
leegheid
bo ’n heklose hek
maalklippe
gevul met reënwater
’n oggendmeditasie
vroue in die vallei
herfsblare
op ’n grondpad
uitgerysde brode
neem, eet
hierdie bedeloffers
zafu en zabuton
sirkel en vierkant
absolute leegheid
stupa
op die heuwel
’n wit bedekraal
in die zendo
wierook en kersblakers
die self word gesnuit
sneeu
op die knokkels van berge
’n helder koan


