Haikoe-kompetisie: 19 Haikoes deur Theresa Potgieter

  • 0

 

1.
die wind fluister deur
pop'liere en ritsel jou naam
ek is lief vir jou
 
2.
spikkeleiers
in ’n knoes snoesige nessie
jy omsirkel my
 
3.
goudspikkels in die
Namib se uitgestrektheid
lag die warm son toe
 
4.
op ’n  helder dag
vind ek jou gelukkig-bly
onder ’n kaal boom
 
5.
die smal bergpaadjies
slingerende boomtakke
’n eggo van jou
 
6.
die tjierie van ’n
lemoenduif se sagte roep
jou stem aai my gemoed
 
7.
wit huisies staan trots
styf langs mekaar ingeryg
teen die berg se hang
 
8.
wit populiere
met kaalgestroopte basse
ek leef in jou hand
 
9.
warm knus toegedraai
soos ’n brood wat rys en bak
leef ...  
 
10.
ontploffing van onthou
klein skerfies onthou waai by
vensters van my hart in
 
11.
die reën spoel oor duine
donker kolle verskyn
kerf ou wonde oop
 
12.
die wintersneeu se kou
waai by my hartvensters
en oop voordeur in
 
13.
die koeie wei vreet-vreet
kraal toe en die middaguur
verdwynende mis
 
14.
blink doudruppels hang
aan  Morning Glory-blare
fletsblou die helder lug
 
15.
more begin vlieg
gister reeds ver hiervandaan
die swaeltjies is weg
 
16.
berge en dale
lê almal toe onder ys
wit kombers van sneeu
 
17.
oranje, goud en pienk
hurk die son weswaarts
hy gaan om te slaap
 
18.
Tafelberg se mooi
nestel in my hartpunt
laat my ver verlang
 
19.
die blink van Kersfees
lê in ons  gretige oë
knetterend van lewe ...


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top