
1.
Rooigras is haar lyf,
hoe mooi loop sy na die rant –
dis waar ek wil wees.
2.
Brak see se wit tand,
hoekom byt jy die land se hand?
Ja, als word maar sand.
3.
Waterval hang oor
vandag se klipharde rug –
eendag lê hy plat.
4.
Son se kindertjies
speel wegkruip onder die boom –
weg saam met die blare.
5.
Aasvoël is ’n komma
in die groot blou bosveldboek –
die bok ’n dooiepunt.
6.
Weerlig byt die donker,
donder breek stukke stilte –
jou wang voel nat.
7.
Kremetart staan stil,
bosveld wemel dag en nag –
heuning is altyd soet.
8.
Na die reën praat duif:
ek soek kos vir my kinders,
kyk, hulle word groot.
9.
Hael spat soos kinders
uit donker skoolverdiepings
en word stille waters.
10.
Wind kom vertel
van lammers en jou langbeentyd –
nooit waai hy terug nie.
11.
Kruip weg in druifgroen,
trap suutjies want ek wil slaap –
vang jou in my droom.
12.
Militêre mielies,
arms swaai loslit in die reën –
dissipline is pap.
13.
Daai swart kraai kyk skerp,
kuikens leer van sout of water –
kraai eet sy bloedvleis.
14.
Goud geskubte vis
roer wolke op die water
op my oog se nat.


