
Trein
die liggiesduisendpoot
met sy slapende passasiers
rammel rustig voort
die volmaan loer snags
lippe geseël na die nagsondes
van die mensdom
die orrelfontein
spuit glashelder klanke uit
reisigersrusplek
die boom trek haar bruin
bloes uit en dans bevrydend
nakend in die wind
die Viëtnamese
gebrabbel vul die lug met
Oosterse aroma
jou waatlemoenlag
en blink wawielogies drup
heuning op my siel
saans rus Tafelberg se
voet op die liggiestapyt
van Jan van Riebeeck
die roeibootjie beur
stadig sliep-slap sliep-slap-slop
in stilte voort
die ou wilgerboom
ruik na paddavissies en
kinderdrome
die gloeiende son
krimp gesnyde perskes tot
oumensgesigte
die blare steel die
gloeiende oranje van die
kwynende son
die haikoe hou van
wegkruipertjie speel en hard
blok myself te skreeu


