
Foto: Canva
Europa se Euklidesruimtetuig kiek nou bietjie Haar Edele die broeis Melkweg
hoe dit daar duidelik in haar middel uitbult
van ver af weg sien die aarde nou
met die naaste paparazzo-optiek
bult nes die buik van elke swanger vrou
sien die aarde nou
haar liggaam gebaai in ’n wydse oergoue gloed
wat daardie hoë boep laat boep
(die aardsligsinnige trant kleur nog wat ons opteken)
sien die aarde nou
is sestig duisend sterre
langsaam uitgebroei
daar in haar hoepelnes
sien mens nou
ampertjies soos die silwerige skynsel
spoel rondom ’n reuseskool sardiens
wat uitswel periodiek
vlak langs uvongo in die see van Indië
vir ons submaans om te oordink
(minder platvloers nou)
watter hand dit is wat patrone wek
soos dié tekens van kosmiese mimiek

