HA Fagan (1889–1963)

  • 1
Foto: Wikipedia (openbare domein)

Gebore en getoë

Henry Allan Fagan is op 4 April 1889 op Tulbagh in die Wes-Kaap gebore. Hy was die oudste van die sewe kinders van Henry Allan Fagan en Catherina Susanna Smith, wat in 1887 getroud is. Catherina was die suster van die bekende prof JJ Smith.

Fagan kon onthou dat sy vader ’n goeie versameling boeke gehad het. Al Afrikaanse boeke wat hy egter onthou het, was Die sewe duiwels van Lion Cachet en later Die eselskakebeen van Dr O’Kulis, het hy in 1953 aan M Louise Kotzé vertel. “Afrikaanse leesstof het immers destyds byna nie bestaan nie. Die tyd waarvan ek praat, was voor die begin van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging, toe daar byna niks op hierdie gebied behalwe ’n paar oorblyfsels uit die Patriot-tydperk te kry was nie.

“Wat ek my ook herinner, is ’n aantal godsdienstige boeke in Nederlands, onder andere preke van dr Abraham Kuijper en ’n goeie reeks van Andrew Murray se werke. Verreweg die meeste van my vader se boeke was egter – soos begryplik was vir daardie tyd – in Engels, en my vader en moeder het beide met graagte daarin gelees en daaroor gesels. My moeder het veral die werke van Scott en Dickens goed geken. My vader het Tennyson se gedigte baie geniet, en hy het daarvan gehou om, as hy tyd het, te gaan sit met ’n geskiedkundige werk soos Thier’s history of the French Revolution of met lewensbeskrywings van staatsmanne soos Gladstone, Disraeli en andere.

“Ek onthou dat ’n Engelse gedig van my vader eenmaal in The South African News verskyn het, en, vele jare later, ’n ander, met ’n Afrikaanse vertaling daarvan deur prof JJ Smith, in Die Huisgenoot. Of ek die regte voordeel getrek het uit my ouers se belangstelling in letterkunde en uit die boeke waartussen ek in die ouerhuis grootgeword het – en of ek in my eie latere pogings om te skrywe, daardeur beïnvloed is – kan ek self nie sê nie.”

Hy het ’n gedeelte van sy grootwordjare op Tulbagh deurgebring en het sy skoolloopbaan ook daar begin. Toe hy ongeveer tien jaar oud was, het hulle eers na Somerset-Strand en ’n paar jaar later na Somerset-Wes getrek waar hy die ou Elementêre, Skool Hoër- en Matrikulasie-eksamens afgelê het. Hy het die hoofonderwyser van die skool op Somerset-Wes, mnr S Immelman, onthou as ’n baie bekwame leermeester met ’n werklike liefde vir mooi letterkunde, wat met eerbied en gevoel pakkende reëls uit Tennyson en ander digters aan sy klasse voorgedra en verduidelik het. S Immelman was die vader van René Immelman wat op ’n stadium hoof van die biblioteek van die Universiteit van Kaapstad was.

Immelman het ook aan Fagan digbundels van De Génestet en Bernard ter Haar as pryse vir Nederlands toegeken en hy het as skoolseun gretiglik daarin gelees. Fagan het nie gedurende sy skooljare iets geskryf wat “vermelding verdien” nie, behalwe ’n paar verse in Nederlands, waarvan een in ’n Eerste digbundel opgeneem is. Hy het op skool, en op kollege, nie net pryse in taal- en letterkundige vakke gekry nie, maar ook in ander vakke, veral in matesis, waarin hy tot by Intermediêr die hoogste punte behaal het. Daarna het hy dit gelos.

Verdere studie en werk

HA Fagan het sy studentetyd aan die destydse Viktoria Kollege (vandag die Universiteit van Stellenbosch) deurgebring waar hy vanaf 1905 tot 1910 gestudeer het. Hy het ingeskryf vir ’n BA-graad en vir Admissie (die toelatingseksamen vir die Kweekskool).

Op Stellenbosch was hy in die koshuis Tertia, waar die meeste van sy medekosgangers Kweekskoolstudente was, “en ek vermoed dat dit die teologiese atmosfeer was wat my daartoe gebring het om dieselfde rigting te wil inslaan. Dit was egter altyd my vader se begeerte dat ek advokaat moes word. Terwyl ek nog aan die Kweekskool was, het hy my private lesse in die regte by dr Cluver laat neem, en so het ek as private student die Preliminêre LLB-eksamens afgelê,” het Fagan aan ML Kotzé vertel. 

Nadat hy sy BA-graad, die Preliminêre LLB en Senior Kerkadmissie behaal het, was hy vir ses maande aan die Kweekskool. Hy het toe sy Kweekskoolstudies onderbreek om in die tweede helfte van 1910 tydelik waar te neem as dosent in Nederlands in die plek van dr WJ Viljoen. Dit was ook die impetus wat hy nodig gehad het om na ’n regsloopbaan oor te slaan.

Fagan se belangstelling in Afrikaans was maar flouerig terwyl hy op Stellenbosch gestudeer het. Daar was hy ’n volgeling van dr WJ Viljoen, wat ’n sterk pleitbesorger was vir sy Vereenvoudigde Nederlands, en dus ook – soos trouens die meeste Afrikaners destyds – ’n kwaai teenstander van die Afrikaanse Taalvereniging (ATV) wat Afrikaans tot die status van skryftaal wou verhef.

Terwyl hy op Stellenbosch was, was Fagan vir ’n jaar redakteur van die studenteblad en ’n gedig van hom in Nederlands het daarin verskyn. Die skets “Oom Frikkie se brand”, wat later in Uit ’n studente-album opgeneem is, het hy vir die Joernaal van die Viktoria-Kollege-Debatsvereniging geskryf. ’n Paar ander sketse in die gemelde bundel het hy gedurende sy studiejare in Londen geskryf, asook ’n aantal verse wat in sy eerste digbundel opgeneem is.

In 1911 het Fagan na Londen vertrek om in die regte te gaan studeer. Daar het sy oom, prof JJ Smith, hom gou-gou tot Afrikaans bekeer en “met die ywer van die proseliet, en steeds verder aangevuur deur oom Jan, het ek toe somaar probeer om Afrikaanse gedigte en verhale te skrywe. Ek moes die resultate maar vir myself gehou het, maar het dit in 1917 met jeugdige onbesonnenheid in die vorm van twee bundels, een van verse en een van kortverhale, die wêreld ingestuur.” (Aan ML Kotzé)

Oom Jan was net ses jaar ouer as Fagan en hulle het vir ’n paar kwartale saam in Tertia op Stellenbosch gebly. Maar dit was veral gedurende Fagan se verblyf van drie jaar (1911 tot 1913) in Londen dat hy in gedurige en noue aanraking met oom Jan was en dat dié se kennis en geesdrif die jonger Fagan baie sterk beïnvloed en geïnspireer het. Smith was toe besig met navorsingswerk oor Afrikaans in die groot boekery van die Londense Museum.

Fagan het sy LLB in Londen verwerf. Toe hy in 1914 na Suid-Afrika terugkeer ná bekroonde regstudie aan Middle Temple in Londen, was hy van plan om hom in Kaapstad te vestig en ’n regspraktyk op te bou.

Hy het op kollege en aan Middle Temple ’n hele aantal klaspryse en ’n paar beurse verkry, onder andere vir die eerste plek in BA in Moderne Tale, ’n goue medalje geskenk deur die Graaf van Cornwall, later koning George V, wat (sover Fagan weet) destyds kanselier van die Universiteit van Suid-Afrika was. Hy het ook van die Council of Legal Education, wat die eksamens vir die Inns of Court in Londen afgeneem het, ’n aantal pryse ontvang, in die vorm van regsboeke van sy keuse, wat die Council dan pragtig in leer laat inbind het met hulle stempel daarop.

Fagan se eerste boek, Uit ’n studente-album, is in 1914 gepubliseer en bevat stukke uit 1910.

In Die Huisgenoot van 31 Desember 1965 het Sarah Goldblatt geskryf: “Maar daardie jare was vir die Afrikaner vol woeling, gisting en spanning, van geweldige betekenis. Met Hertzog aan die spits was die Nasionale Party in wording. In Kaapstad (en Stellenbosch) was manne besig om die kanse vir ’n Nasionale Koerant na te gaan. Mnr W Hofmeyr was voorsitter van die stigtingskommissie.”

Advokaat Fagan was aanvanklik sekretaris van die Komitee van Oprigters van die Nasionale Pers en in 1915 tot 1916 lid van die eerste direksie van dié maatskappy. Oor hierdie deel van sy lewe het Fagan self vertel: “Dit moet so teen die uitgang van 1914 gewees het, dat mnr (later senator) WA Hofmeyr eendag in my kantoortjie ingestap het om ’n gesprek met my aan te knoop en dit te voer tot ’n versoek wat my hart laat bons het.

“Daar sou hy my heel breedvoerig vertel hoe hy en ’n aantal vriende van dieselfde politieke gesindheid – dit wil sê ondersteuners van genl Hertzog wie se volgelinge destyds nog nie in ’n party georganiseer was nie – op Stellenbosch byeengekom het, die stigting van ’n koerant bespreek het en ’n komitee benoem het om die onderneming te beplan en te bevorder.

“Daarop het die eintlike versoek gevolg: of ek bereid sou wees om die sekretariële werk vir hierdie komitee van oprigters te doen totdat die voorbereidsels ver genoeg gevorder en voldoende fondse ingesamel was om die aanstelling van ’n bepaalde personeel moontlik te maak. Ek het geesdriftig toegestem.” (Uit: Q Fagan: Henry Allan Fagan 1889–1963. Kaapstad, 1975, bl 37)

Op 30 Augustus 1914 het Fagan ’n vergadering bygewoon by Brückner de Villiers se huis op Stellenbosch, waar hy verkies is as eresekretaris van Het Voorlopige Komitee van Oprichters. Op die vergadering is besluit om oor te gaan tot die oprigting van De Nationale Koerant- en Drukkersmaatschappij Beperkt wat later verkort sou word tot De Nationale Pers Beperkt. Die naam van die nuwe koerant sou De Burger wees.

Die jong advokaat het deur sy ywerige pen die onderneming verder bevorder vanaf die heel begin van 1915, skryf CFJ Muller in Beeld van 13 Desember 1979. Hy het met Gustav Preller van De Volkstem in Pretoria gekorrespondeer waarin hy die daarstelling van ’n eie Afrikaanse Persburo bepleit het.

Eise aan tyd en werkkrag het egter sodanig toegeneem dat Fagan op 26 Mei 1916 bedank het uit die direksie en sy sekretarisskap neergelê het, “omdat sy werk op die koerant ly onder die feit dat hy direkteur en sekretaris is”. Sy bedanking is aanvaar, maar die oorblywende direkteure het hom toe aangestel as assistentredakteur en hy moes later ook “editoriale toesig hou” oor Die Huisgenoot.

In 1918 het Fagan Immensee en ander verhale van Theodor Storm vertaal onder opdrag van die Keurkommissie van Die Burger-Leeskring, ’n skema waaronder ’n aantal boeke in ’n jaar verskyn het, en waarop lesers vir ’n jaar kon inteken. Die Burger-Leeskring was een van die skeppings van Fred Dormehl, die eerste hoofbestuurder van die Nasionale Pers, en dit was die begin van die uitgewersafdeling van daardie maatskappy. Volgens ’n mededeling van Fagan aan Kotzé het die keurkommissie omstreeks 1917 en 1918 bestaan uit JJ Smith (voorsitter), MC Botha en Fagan self. Dit was Smith wat Storm se werke vir vertaling aan die hand gedoen het. Die keuse uit die verhale is egter aan Fagan self oorgelaat.

In 1919 het Fagan uit De Burger bedank en in 1920 is hy aangestel as professor in Romeins-Hollandse Reg aan die Universiteit Stellenbosch – die eerste hoogleraar in regsgeleerdheid nadat dié Fakulteit gestig is - maar na ’n jaar het hy hom weer aan ’n regspraktyk in Kaapstad gewy.

Op 3 Oktober 1922 is Fagan op Tulbagh getroud met Queeny (Jessie) Theron, ook van Tulbagh. Die egpaar het drie seuns gehad: Hennie, wat later ’n ingenieur en boer geword het, Gabriël (Gawie), ’n bekende argitek wat nou gemoeid was met die restourasie van Tulbagh na die aardskudding in 1969, en Hannes, wat, soos sy pa, ’n beroep in die regte gevolg het.

Gedurende die tyd wat HA Fagan met Queeny Theron getroud was, was daar in Tulbagh twee NG Kerk-gemeentes, die Tulbagh- en Kruisvallei-gemeentes, maar die dorpenaars het altyd van die Onderkerk en die Bokerk gepraat, wat na die geografiese liggings van die twee kerkgeboue verwys het. Die Onderkerk was die ou gemeente en die Bokerk ’n betreklik nuwe gemeente, wat egter in Fagan se tyd reeds goed gevestig was.

Fagan vertel in My jeugland dat hy as kind nooit gevra het hoe die skeiding gekom het nie; “ek het dit so kom kry, en het die bestaan daarvan aangeneem as net so vanselfsprekend as dat die son smôrens op- en saans ondergaan. En net so het ek aanvaar dat elke Tulbaer ’n gebore Onderkerker of Bokerker is. Jy mag van woonplek verander, jy mag van politiek verander, maar oorstap van die Onder- na die Bokerk, of andersom, nooit. Nie dat daar ’n wet teen is nie; dit gebeur eenvoudig nie; die moontlikheid daarvan kom nie by jou op nie. Ja tog, daar is een manier van verandering van lidmaatskap, en dit word weer net so sonder bedenking aangeneem as die afwesigheid van die ander gevalle. As ’n meisie uit die een gemeente met ’n kêrel uit die ander trou, volg sy haar man na sy kerk, al word die huwelik ook, as ’n afskeidsgebaar, in haar kerk ingeseën.

“Langenhoven, van wie my vrou en ek die eer gehad het om as huisvriend te praat, het die geskiedenis van en die verhouding tussen ‘Die twee kerke van Tulbagh’ so uniek gevind dat hy ’n ‘Stille Waters’-kolom in Die Burger van 25 Januarie 1932 daaraan gewy het. Hy het geweet dat ek ’n gebore Onderkerker was, en dat my vrou, toe sy nog onder haar nooiensnaam van Queeny Theron op Tulbagh gewoon het, ’n Bokerker was. Hy het ook geweet van die konvensie wat bepaal het dat deur so ’n huwelik, en alleen deur so ’n huwelik, ’n oorplasing van lidmaatskap geskied. In die aand van die dag waarop daardie artikel van hom in die koerant was, het hy ons weer besoek en die volgende vers – of ‘limmerik’ – soos hy sulke rympies genoem het, aan my vrou oorhandig:

Regina Apostata

Queeny het trou aan die Bo-kerk-geglo.
Maar toe kom daar ’n Onder-kerk-seun daar bo –
En sy glo aan die seun
En verloën haar steun,
En sy trou en haar trou keer Onderste-Bo.

Dit het goed met die praktyk gegaan. Hy was betrokke by groot sake soos die Du Plessis-NG Kerk-saak (1930–1932). Maar dit was vir hom onmoontlik om hom van kultuur- en volksbewegings te weerhou.

Hy moes aan alles deelneem en het in alles aktief belanggestel; om maar net ’n paar te noem: die Helpmekaar, die Vlagbeweging, die Oranjeklub en die KAT (Kaapse Afrikaanse Toneelvereniging) – veral laasgenoemde. Sy eie lus vir drama, sterk aangemoedig deur sy vrou, Queeny, het onder andere vir ons Lenie (1924), Op sand gebou (1932) en Die ouderling (1934) gebring.

Lenie was Fagan se eerste poging op dramatiese gebied. Sowel Lenie as sy latere toneelgeskrifte was die vrug van Queeny se aansporing en haar aktiewe hulp. Sy was self by die eerste opvoerings die vertolker van die hoofrolle in Lenie en Rooibruin blare en van ’n rol in Op sand gebou, en sowel hierdie as verskeie ander stukke van hom is onder Queeny se regie vir die eerste keer op die planke gebring. Hulle twee het ’n buitengewoon intieme samewerking met mekaar gehad. Haar uitstaande kennis van teatertegniek het hom meer as ten goede gekom, en hulle het mekaar verstaan. Die samewerking was vir beide ’n groot bron van vreugde en voldoening.

Fagan en sy vrou Queeny se baie noue verbintenis blyk ook uit ’n voorval jare later, het Arthur Bleksley in 1964 vertel. Fagan het een aand ’n hartaanval in sy regskamers gehad en het in uiterste pyn op die vloer gelê. Queeny was alleen by hulle huis. Sy het skielik ’n gevoel gekry dat iets baie verkeerd is, in haar motor geklim en na sy regskamers gery. Daar het sy haar man op die vloer gekry en kon sy mediese hulp kry – en sodoende sy lewe red. (Cape Argus, 13 Oktober 1964)

In die drukte van sy groeiende regspraktyk het Fagan nog tyd gevind om Op sand gebou te skryf, maar spoedig het die praktyk hom só besig gehou dat hy nie daaraan kon dink om nog te skrywe nie; totdat hy einde 1932, begin 1933 ’n betreklik stil drie maande gehad het as waarnemende regter in Kimberley. In daardie maande het hy die konsepte van Die ouderlingOususRuwe erts en rooibruin blare aangeteken en in die oomblikke wanneer hy daarna weer tyd kon afknyp, het hy dit afgewerk so goed soos hy kon. Queeny het weer vir die opvoerings gesorg en hy het die stukke laat druk.

Teen 1934 het verskeie kritici begin konstateer dat Fagan “die mees gewilde toneelskrywer” is en “hy gee in die dertiger- en die begin van die veertigerjare op toneelgebied die toon aan”. Een van hulle het gesê “hy beskik oor ’n verrassende tegniese vaardigheid,” het Sarah Goldblatt geskryf.

Oor Fagan se werkmetode het Gerhard Beukes hom as volg uitgelaat: “Hy begin nooit met die intrige nie, maar met die abstrakte hoofgedagte wat hy wil uitbeeld. Dan soek hy karakters wat, by wyse van stelling en teëstelling, die gedagte kan illustreer, en ook ’n situasie waarin hulle, in hul omgang en botsing met mekaar, die nodige illustrasie kan lewer. [...] Sy mense bly volstandige wesens. [...] Hy is ’n ernstige kunstenaar wat nie die sukses van ’n drama aan die wisselvalligheid en die blote inspirasie oorlaat nie, maar iemand wat met die hulp van sy vrou al sy dramas eers op die toneel beproef voordat hy dit publiseer. Hy erken self dat hy gedurig besig is om daaraan te verander en te verbeter en dis miskien die grootste rede waarom die histrioniese eienskappe van sy werke reeds by die aandagtige deurlees alleen, so sterk en bewus tot ’n mens spreek.” (Huisgenoot, 31 Desember 1965)

Hy stel dit self by die uitbouing van sy dramas: “Elke mens het reg op eerbiediging van sy persoonlikheid.” Ons vind dit byvoorbeeld in LenieOususStille haard (1945). Antonissen het Fagan beskou as “oortuigende baanbreker vir die Afrikaanse drama in die daaglikse lewe”.

In Perspektief en profiel (Perskor, 1982) het Tj Buning oor Fagan as dramaturg geskryf: “As dramaturg het Fagan ’n veel groter bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer (as op die gebied van die digkuns). Die verskyning van Lenie was in 1923 ’n belangrike gebeurtenis en die stuk het spoedig besondere gewildheid verwerf. Dis een van ons eerste Afrikaanse dramas waarin nie die destyds gebruiklike historiese stof gedramatiseer is nie, maar stilgestaan word by ’n maatskaplike probleem. Ongelukkig het die dramaturg sy karakterbeelding te veel in diens gestel van die boodskap wat hy wou bring, sodat die dramatis personae dikwels sielkundig onoortuigend is.

“Waar Lenie ’n pleidooi is vir ‘die eindelose verskeidenheid van mensekarakter, die selfstandigheid van sy wil en die ongedwongenheid van sy ontwikkeling’, word daar in die karakterdrama Op sand gebou met selfsugtige ambisie gehekel. Deur eersug verteer, wil die bywonerseun alles en almal opoffer om sy ideale te verwesenlik, maar wek daardeur die teenkanting en wantroue van sy medemens op en so sien ons ten slotte al sy planne in duie stort omdat hy ‘op sand gebou het’.”

Buning het hierdie drama van Fagan as sy swakste beskou en het gereken dat Die ouderling ’n veel sterker stuk is, hoewel dit nie die skrynende menslikheid van Ousus besit nie. Wellig geïnspireer deur die kerkstryd (prof Du Plessis-saak), plaas Fagan in hierdie drama ’n behoudende ouderling en moderne predikant teenoor mekaar, al twee met die beste bedoelings, al twee heilig oortuig van hulle saak.

“Van al Fagan se dramas maak Ousus die onvergeetlikste indruk, omdat dit so sonder pretensies, so waarheidsgetrou en eerlik die lewe weergee. Hier het ons ’n werk vol warm lewende mense: Die kindse, dowe en vergeetagtige Oupa, die selfsugtige berekende Mina, die pligsgetroue, offervaardige Nelie. Veral die moeder, mev Venter, word uitstekend geteken in al haar egoïstiese, uitbuitende moederliefde. [...]

“Geen Afrikaanse drama bring ’n mens sterker onder die indruk van die kontinuïteit van die lewenstroom, van die ewige weerkeer van dinge. [...] Met groot simpatie het die skrywer hom ingeleef in die karakter van Nelie (Ousus), sodat ons ’n veel meer ontroerende innerlike konflik kry as gewoonlik by Fagan die geval is.”

Buning het Opdrifsels, ’n eenbedryf van Fagan, beskou as een van sy bestes, wat dieselfde skrynende menslikheid as Ousus besit met dieselfde raak en oortuigende karakteruitbeelding. ’n Mens kry die indruk dat die skrywer hierdie milieu uitstekend geken het en in dié eenbedryf ’n greep uit die volle menselewe gedoen het. Al hierdie “opdrifsels”, uitgespoel deur die lewenstroom, is geen abstrakte begrippe nie en het ook nie blote tipes gebly nie. Die Jood Silbermann, die kleinboer Swart, die armblanke sukkelaar mnr Du Toit, dis almal ou bekendes en die plattelandse hotel en winkeltjie so eg Afrikaans as maar kan kom. Dieselfde geld die beskrewe toestande en die dialoog. Die voorgevoel-tema word besonder effektief deur die dramaturg gehanteer, die slot is verrassend en sober, en die “boodskap”, nêrens hinderlik beklemtoon nie, spreek in al sy wrange humor tot ons: die enigste, waardevolle, dienende lewe, die enigste edel, heroïese mens tussen al hierdie inhalinge, lamlendige, skynheilige en lafhartige “opdrifsels”, spoel self as opdrifsel af met die rivier.

Buning het gemeen dat van al ons vroeëre dramaturge, Fagan oor die beste kennis van die toneeltegniek beskik het. “Geneig om alte veel vanuit ’n sentrale idee te skryf, om die karakteruitbeelding te veel in diens van en ondergeskik aan die boodskap te maak, om sy tema dikwels objektief en verstandelik te benader, bly hy tog deur sy ewewigtige kyk op toestande, sake en persone, deur die beskaafde aristokratiese karakter van sy werk, deur die natuurlike lewende taal wat sy dramatis personae besig, een van ons belangrike toneelskrywers wat met Ousus en Opdrifsels ’n ereplek in ons letterkunde verower het.”

In 1933 is Fagan as volksraadslid vir Swellendam verkies en het tot 1938 gedien. In Mei 1938 het hy lid vir Stellenbosch geword en in Hertzog se Koalisieregering minister vir naturellesake, onderwys en volkswelsyn (Junie 1938) tot September 1939, toe dieselfde koalisie met Hertzog se besluit oor neutraliteit teenoor die Tweede Wêreldoorlog uitmekaar spat.

Fagan het as gewone lid in die Volksraad aangebly totdat hy in 1943 bedank en as regter tot die Kaapse Balie toegetree het. Hierna het hy weer probeer skrywe. Die resultaat was Die nuwe wêreldBo die kranseOpdrifsels en Die kroon op sy hoof. “Ek voel egter dat ek nie in oefening gebly het nie; dat as ek van natuur enige vaardigheid mag besit het, ek dit nie ontwikkel en miskien nie eens behou het nie,” het hy aan Kotzé gesê, “en die werk van die regbank brei ook so uit dat my volle tyd nou daardeur in beslag geneem word. So probeer ek nie eens meer skrywe nie.

“Juis omdat ek nie meer skrywe nie, vind ek dit soms prettig om ’n ou stuk op te neem en hier en daar veranderings aan te bring. Dit is al verklaring wat ek kan gee van die feit dat tweede of latere uitgawes van my werk soms heelwat wysigings vertoon.”

In 1950 het daar by Juta ’n handboek vir ’n snelskrifstelsel verskyn wat deur Fagan opgestel is. Soos die resensent AWR dit gestel het: “Dit is seker uniek in die annale van die stenografie dat ’n dramaturg van naam, wat tegelykertyd ’n bekende regter in ons land is, homself 35 jaar met die ontwerp van ’n nuwe snelskrif besig gehou het, waarvan die beginsels en die reëls nou in boekvorm verskyn het. Die persoon van die skrywer en die tyd en moeite wat aan die onderwerp bestee is, is voldoende waarborg vir die deeglikheid van die stelsel, hoewel die toets van die praktyk die bewys sal moet lewer of die Fagan-stelsel in alle opsigte aan die gestelde verwagtings sal voldoen.”

Hy was later appèlregter (1950), hoofregter van die Unie van Suid-Afrika en in 1957, in sy hoedanigheid as hoofregter, amptenaar belas met Uitvoerende Gesag terwyl goewerneur-generaal Jansen in die buiteland was. Fagan was die eerste regter wat sy ampseed in Afrikaans afgelê het. Hy het die eed self uit die oorspronklike Engels in Afrikaans vertaal. Dit het landwyd groot opspraak verwek. Hy was hoofregter tot by sy aftrede in April 1959 toe hy die leeftydgrens van 70 jaar bereik het.

Hy was ook in 1925 saam met CJ Langenhoven nou betrokke by die vervanging van Nederlands met Afrikaans as amptelike verslagtaal naas Engels in die parlement.

Nadat Fagan as hoofregter afgetree het, het die drang om ’n politieke platform te soek, veral in verband met sy beskouing van die rassepolitiek, weer sterk na vore getree. Hy het weer teruggekeer tot die politiek en in 1961 leier geword van die Nasionale Unie, wat egter swak gevaar het in verkiesings. In 1961 was hy die opposisiekandidaat vir die presidentskap; in 1962 het die Verenigde Party hom tot senator gekies, wat hy tot aan sy dood gebly het.

Fagan se eerste digbundel, ’n Eerste digbundel: Uitgesogte gedigte, wat in 1917 gepubliseer is, bevat gedigte wat al in 1910 geskryf is, en volgens JC Kannemeyer het hy hiermee die poësie van die tweede generasie ná 1900 ingelei. “Die bundel bevat enkele gevoelige stemmingsgedigte, terwyl hy ’n paar impressionistiese prosastukkies en ’n lang gedig (in Nederlands) oor ‘De vrouwen van het voorgeslacht’ – op versoek van pres Steyn by geleentheid van die onthulling van die Vrouemonument geskryf – aan die versameling toevoeg. In die meeste van hierdie gedigte mymer hy oor die vraagstukke van die lewe en word die vers meermale ontsier deur ’n hinderlike neiging tot filosofiese lewenswaarhede wat dikwels retories en in ’n monotone dreunklank verwoord is” – aldus JC Kannemeyer (Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur, deel I).

Fagan se tweede digbundel, Soos die windjie wat suis, is in 1949 gepubliseer. Die gedigte van die eerste helfte van hierdie bundel is in 1947 geskrywe terwyl hy in die Kommissie oor Naturellewette gedien het. “Ons was aan ’t rondreis om getuienis op verskillende plekke aan te hoor. Solank as die gegewens nog ingekom het, kon ek nie aan die opstel van die verslag wegval nie; daarvoor moes ek wag totdat ek alles voor my gehad het en ’n algemene oorsig kon kry. So het ek, tussen die sittings in, vrye tyd op my hande gehad – iets wat in my lewe ’n seldsame ondervinding was; en met niks beters om te doen nie, het ek my gedagte toe maar in die rigting van versies-maak laat dwaal.” (In ‘n onderhoud met Kotze)

Die titel van Soos ’n windjie wat suis is na ’n gedig van A Moorrees. In die tweede deel van hierdie bundel het hy heelwat verse uit ’n Eerste digbundel in gemoderniseerde spelling opgeneem, terwyl hy enkele vertaalde liedere (na Heine en Thomas Moore) en ’n paar balladeske verse bygevoeg het. Die eerste deel, getiteld “1947”, het by die bespieëlende aard van sy vroeë verse aangesluit, dikwels in die vorm van die Shakespeariaanse sonnet met sy spreukmatige slotkoeplet en die gebruik van see- en bootbeelde as voorstelling van die menslike lewe, en het een van sy geslaagdste gedigte bevat, te wete “Ek het ’n huisie by die see”. Hierdie gedig is later deur Laurinda Hofmeyr getoonset en deur Laurika Rauch gesing en bekendgemaak.

Ek het ’n huisie by die see

Ek het ’n huisie by die see. Dis nag.
Ek hoor aaneen, aaneen die golwe slaan
teenaan die rots waarop my huisie staan
met al die oseaan se woeste krag.

Ek hoor die winde huil – ’n kreun, ’n klag,
soos van verlore siele in hul nood
al dwalend, klagend, wat in grag en dood
geen rus kon vind nie, maar nog soek en smag.

My vuurtjie brand, my kersie gee sy lig.
Ek hoor dan maar hoe loei die storm daarbuite
ek hoor hoe ruk die winde aan my ruite;
hierbinne is dit veilig, warm en dig.

Kom nag, kom weer en wind, kom oseaan –
dit is ’n rots waarop my huisie staan.

Kannemeyer skryf verder dat Fagan in enkele verse ’n tematiese verwantskap getoon het met die werke van vroeëre en latere digters, soos met “Nkosi Sikelel’ i-Afrika”, wat skakel met Adam Small se gelyknamige gedig in Sê sjibbolet en “Die Bantoetaal” van Totius (uit Donker Afrika), terwyl die oester-beeld in “Trane-pêrels” later, maar dan veel geslaagder, in Sheila Cussons se “Pêrel” (uit Plektrum) uitgewerk sou word. “Deur die liedagtige inslag van sommige verse sit Fagan die tradisie van AG Visser voort, maar deur die hinderlike verbinding tussen beeld en eksegese en die moraliserende slot van die meeste sonnette was die verskyning van dié bundel in 1949 iets van ’n anachronisme.”

In Die Huisgenoot van 15 Julie 1949 het MPO Burgers geskryf dat Fagan in hierdie tweede bundel oor die algemeen getrou aan homself gebly het. “Dieselfde enkelvoudige opregtheid van voorheen vind ons nog in sy gedigte. Alleen dra sy emosies en gedagtes die tekens van die stygende jare en van die wysheid wat gekom het met ryper ervarings. Sy blik strek oor meer van die menselewe, as geheel gesien en ervaar.”

Burgers gaan voort: “Dit is interessant om sekere digvorme uit die twee tydperke te vergelyk. Teenoor die vryer verhalende verse van vroeër vind ons onder die latere gedigte ’n strenger volksballade, maar teenoor die meer gebonde ou sonnetvorm weer etlike eksperimente met die sonnet. In hierdie latere sonnette raak hy aan lewensprobleme, wat verband hou met sy kosmiese gevoel van vroeër, maar waarvan hy die ingewikkeldheid eers in die ryper jare vollediger besef het. In sy taal en styl is daar nie veel verander nie. By hom moet die leser nie soek na die feillose keuse van die enkele juiste en trefkragtige woorde, of die felle uiting van die verwikkelde gevoel en gedagte, wat kenmerkend geword het van ons jongste poësie nie.”

Vir Burgers is Fagan ’n sterker dramaturg as wat hy ’n digter is. Tog bevat hierdie bundel gedigte vir baie lesers wat wel van verse hou maar wat vind dat baie van ons moderne poësie buite hulle smaakgebied val.

Een van sy grootste take het Fagan in 1946 as voorsitter van die Kommissie van Ondersoek na Naturellewette verrig. Hieruit het die Fagan-verslag voortgevloei wat beskou kan word as die wegspringplek van die Suid-Afrikaanse na-oorlogse sogenaamde Bantoepolitiek. “Want dit het die mate van ekonomiese integrasie van die Bantoe geopenbaar en die land gedwing tot die prinsipiële keuse wat vandag die vernaamste skeiding in die blanke politiek vorm: berusting in en aanpassing by die feite en tendensies soos die Faganverslag dit aangetoon het, of onwrikbare verset teen kruipende swart verowering, en wel deur middel van ’n radikale beleid van aparte territoriale vryheid” (Die Burger, 9 Desember 1963).

Fagan was dit nie eens met die Nasionale Party se sieninge oor die rasseverhoudings in Suid-Afrika nie, maar volgens Die Burger het die bevindinge van die Fagan-verslag juis die oortuigende bewys vir die Nasionale Party gelewer vir die noodsaaklikheid van ’n radikale beleid van aparte territoriale vryheid.

Fagan se bevinding was dat “totale segregasie” onuitvoerbaar is; gelykstelling het hy verwerp. Sy antwoord op Suid-Afrika se probleme met rasseverhoudings was “oorlegpleging, oorlegpleging en nogmaals oorlegpleging”. Hy het onder meer voorgestel dat ’n netwerk van kommunikasiekanale gevestig moet word en dat ’n studiekommissie gestig word om grondwetlike moontlikhede te ondersoek. “Sodoende word dringende vraagstukke nie op die lange baan geskuif nie, terwyl verydeling tot frustrasie en uitbarsting lei. Terselfdertyd word onmiddellike probleme ook nie halsoorkop aangepak sonder aanpassing by ’n stelselmatige patroon nie.” (Die Burger, 13 November 2004)

Hierdie weldeurdagte verslag van Fagan is in die politieke arena vernietig sonder dat die publiek ooit die geleentheid gegun is om daaroor te besin, skryf Retief Koch in Die Burger van 13 November 2004. Hy het dit self soos volg opgesom: “In die geloof dat matigende invloede in mense se gemoedere vroeër of later hul invloed sal laat geld, moet ons die taak aanvaar soos dit vir ons gestel is: gedurige aanpassing by die wisselende toestande, gedurige reëlings van kontakte en skikking van moeilikhede tussen rasse, sodat almal hul bydraes kan lewer en hul werkkragte saam kan snoer tot opbou van Suid-Afrika.” Fagan het ’n onwrikbare geloof in al Suid-Afrika se volkere gehad en sy vertaling/verwerking van “Nkosi Sikelel’ iAfrika” getuig daarvan.

Fagan het sy bekende stuk Ons verantwoordelikheid (1960) amper gelyktydig in Engels en Afrikaans geskryf. In Time van 29 Februarie 1960 het die volgende berig verskyn:

“Everybody knows that doughty but ineffectual little bands, such as novelist Alan (Cry, the beloved country) Paton’s Liberal Party, have long opposed the South African government's all-out segregation policy. Now, for the first time since apartheid was officially proclaimed South Africa’s ’way of life’ twelve years ago, members of the ruling Boer Afrikaner National Party are beginning to speak and fight against it.

“It was one of the country’s most respected old Boers who broke the façade of Nationalist unity. Henry Allan Fagan, 70, until last year chief justice of the Union’s Supreme Court, is both the country’s most eminent jurist and its best-loved Afrikaans author; his novels and verse are found in practically every veld farmhouse. In a book published early this month, called Our responsibility, Fagan pronounced Prime Minister Hendrik Verwoerd’s rigid apartheid ‘hopelessly impractical’, and pointed out that the government has found it ‘impossible’ to carry through ‘the mass withdrawal of [black] labor ? from European industries’. Just as ‘Karoo farmers do not waste their time arguing whether the low rainfall of the area they farm in is something they should like or dislike [...] and adapt themselves to it,’ wrote Fagan, ‘we have to accept the fact of interdependence of the races in South Africa.’

“Fagan’s measured pronouncements, serialized in the largest Afrikaner newspaper, Die Landstem, brought in a flood of approving letters, including some from unknown farmers pleading with Fagan to lead a political movement. In his airy house outside Cape Town, Old Boer Fagan referred all callers to Jacobus Basson, 41, the fiery, redheaded Nationalist MP who was expelled from the party last fall. He had protested Prime Minister Verwoerd’s decision to end the last semblance of black representation in Parliament: whites voting in the Africans' name. Last week, after meeting with some 50 other Nationalists who think that Verwoerd has gone too far in separating the country’s 3,000,000 whites and 11 million blacks and coloreds, ‘Japie’ Basson announced the formation of a new National Union party. Far from integrationist, the new party hopes to rally those Afrikaners who before World War II used to support the relatively moderate race policies of the late Prime Minister JBM Hertzog.”

Namens die Nasionale Party het Piet Cillié destyds met ’n indringende resensie van Ons verantwoordelikheid Fagan in sy nuwe hoedanigheid verdoem tot die aanhanger van ’n dwaling wat ’n “ernstige gevaar” inhou vir “afwykende’ Nasionaliste”.

In 1963 het Fagan dit as sy plig geag om sy mening oor die rasseverhoudinge op politieke gebied te stel in sy Co-existence wat in 1963 verskyn het.

Fagan se belangstellings was baie uiteenlopend: musiek (hy het ’n paar stukke gekomponeer), visuele kuns, snelskrif (waarvoor hy ’n stelsel vir beide Afrikaans en Engels ontwerp het), en nog meer. Hy het etlike Europese tale vlot gepraat en gelees, en het op ’n merkwaardige wyse Engels-Afrikaans beoefen. Die klassieke tale wat hy op universiteit gevolg het, het ook Hebreeus ingesluit, waarmee hy tydens sy ses maande in die Teologiese Kweekskool kennis gemaak het. Hy het eenmaal saam met Sarah Goldblatt na ’n Jiddisje toneelstuk gaan kyk en kon feitlik alles vanweë sy kennis van Duits en Hebreeus volg.

Die eerste Afrikaanse vertaling van “Nkosi Sikelel’ i-Afrika” is deur Fagan in 1946 gedoen. Dit het in sy tweede digbundel, Soos ’n windjie wat suis, in 1949 verskyn. Dit het so gelui:

Uit duisende monde word die lied gedra.
Ek sluit my oë; soos ’n serafskoor
val daar stemme strelend op my oor:
“Nkosi Sikelel’ i-Afrika” –
ons vra u seën, o Heer, vir Afrika.
Ek kyk en sien die skare voor my staan:
Zoeloe en Kosa, Sotho en Sjangaan,
En ek, ’n blanke – vele volkre ja –
almal verenigd om Gods seën te vra
op net een tuiste, net een vaderland,
want die Alwyse het ons saam geplant
en saam laat wortel in Suid-Afrika.

“Nkosi Sikelel’ i-Afrika” –
seën, Heer, die land wat vele volkre dra.

By al sy vriendskappe was daar een wat besonder diep en innig en wedersyds verrykend was, en dit was die een met CJ Langenhoven. In Arbeidsgenot, Langenhoven se huis, staan die stoel waarop Langenhoven in die Fagans se huis gesit het. In Goldblatt se eksemplaar van Ninya: a fantasy of a strange little world (1956) het Fagan voorin geskryf: “’n Vriendelike groet aan Sarah Goldblatt wat by was toe Chief met die manuskrip van sy Loeloeraai my belangstelling in ’n rit na die maan gewek het.” Ninya was ’n wetenskapsroman wat oor ’n beskawing op die donker kant van die maan gehandel het.

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het in 1953 die Hertzogprys aan Fagan toegeken vir Die ouderling en ander toneelstukke. Veral word Ousus genoem “vir die uitbeelding vol smartlike humor van menslike hunkering en die ironie van die lewe”. Fagan het die geldprys aan die Akademie teruggegee “vir die bevordering van een of ander doel wat die Akademie voorstaan”.

In 1959 het die Nasionale Toneelorganisasie (NTO) Fagan in Bellville gehuldig, en hy het die hulde met dank aanvaar. Gert Pretorius het in die rubriek “Van alle kante” in Die Burger van 18 Augustus 1975 oor bogenoemde aand geskryf:

“Sowat sestien jaar gelede het lede van Bellville se Afrikaanse Toneelvereniging (BAT) in die ‘rooi kamer’ van die dorp se burgersentrum vergader om hulde te bring aan mnr Henry Fagan vir sy bydrae tot die Afrikaanse toneel. Ons het een van sy stukke opgevoer.

“Ek onthou goed: hy het daar voor ons gestaan, so eenvoudig soos ’n kind en so sigbaar dankbaar dat ’n vreemdeling wat hom vir die eerste keer gesien het, kon dink hy is maar net nog ’n mens van wie ’n toneelstukkie toevallig opgevoer is, sonder dat hy op enige ander gebied presteer het en dus oorweldig was deur die “eer” hom daardie aand betoon. [...]

“Ons het mekaar in die jare wat op daardie aand gevolg het, goed leer ken. Ek het hom smiddae, wanneer hy die tyd had, in ’n kafee in Burgstraat ontmoet, en daar het ons oor baie dinge gesels.

“Nou, vele jare later, voel ek dankbaar dat ek een aand in die ‘rooi kamer’ kon meehelp om hierdie groot seun van Suid-Afrika as kunstenaar te huldig, terwyl sy son nog op die middaghoogte gestaan het.”

Henry Allan Fagan is op 6 Desember 1963 in sy huis Keurbos, Bishopscourt in Kaapstad aan ’n hartaanval oorlede.

Rykie van Reenen het in Die Burger van 30 Junie 1998 geskryf dat HA Fagan een van die miskende Afrikaanse figure is wie se naam op ’n ererol moet verskyn, want as die Faganverslag se aanbeveling in verband met swart verstedeliking nie met 1948 se NP-bewindsaanvaarding onder die mat gevee is nie, het Suid-Afrika anders gelyk as wat hy vandag lyk. 

Die Burger het met sy afsterwe só geskryf oor HA Fagan se betekenis vir Suid-Afrika: “’n Afrikaner en ’n mens van inbors is ons ontval. Ons treur saam met sy familie maar in dankbaarheid vir ’n ryke lewe in diens van Suid-Afrika.” (Huisgenoot, 31 Desember 1965)

Die eertydse president FW de Klerk het in sy toespraak ná die 1992-referendum wat ’n ja-meerderheid tot gevolg gehad het, HA Fagan se vertaling van “Nkosi Sikelel’ iAfrika” aangehaal en weer die soeklig op hierdie versiende man geplaas.

Publikasies:

Publikasie

Uit ’n studente-album: ses kort verhale

Publikasiedatum

1914

ISBN

(hb)

Uitgewer

Paarl: G van Tonder

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • EHL: Uit ’n studentealbum. Huisgenoot, Februarie 1918
  • Uit ’n studentealbum. Die Burger, 3 Desember 1917
  • Volksblad, 18 Desember 1917

 

Publikasie

’n Eerste digbundel: uitgesogte gedigte

Publikasiedatum

1917

ISBN

(hb)

Uitgewer

Paarl: G van Tonder

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • EHL: ’n Eerste digbundel. Huisgenoot, Februarie 1918
  • ’n Eerste digbundel. Die Burger, 24 November 1917
  • Volksblad, 18 Desember 1917

 

Publikasie

Lenie: ’n toneelstuk in drie bedrywe

Publikasiedatum

  • 1924
  • 1932
  • 1936
  • 1938
  • 1939
  • 1943
  • 1944
  • 1950
  • 1961

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Kaapstad: Unie-Volkspers

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Bosman. FCL: Lenie. Ons Eie Boek, April–Juni 1938
  • Van Niekerk, Lydia: Lenie. Huisgenoot, 3 April 1925

 

Publikasie

Op sand gebou: ’n toneelstuk in drie bedrywe

Publikasiedatum

1932

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Bosman, FCL: Op sand gebou, deur adv HA Fagan. Die Burger, 20 April 1932
  • Kritzinger, MSB: Op sand gebou deur HA Fagan. Volkstem, 23 Julie 1932
  • PGJM, jr: Op sand gebou deur HA Fagan. Kerkbode, 8 Junie 1932

 

Publikasie

Die ouderling en ander toneelstukke (Die ouderling, Ousus en twee eenbedrywe, Ruwe erts en Rooibruin blare)

Publikasiedatum

  • 1934
  • 1936
  • 1946

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Kaapstad: HAUM

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Hertzogprys 1935

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Antonites, AJ: Die ouderling. Die Ruiter, 26 September 1947
  • Boshoff, SPE: Die ouderling en Ousus. Ons Eie Boek, Desember 1946
  • Coetzee, Abel: Klaskamerpraktyk: Die ouderling. Onderwysblad, 1 Augustus 1947
  • De Rots, Carl: Die ouderling. Vaderland, 19 Augustus 1933
  • Du Plessis, SF: Die ouderling. Horison, Junie 1947
  • Kritzinger, MSB:
      • Die ouderling [bespreking]. Vaderland, 2 September 1933
      • Die ouderling [bespreking]. Volkstem, 9 September 1933
  •  Malherbe, FEJ:
      • In: Aspekte van Afrikaanse literatuur. Nasionale Pers, 1940, ble 185–6
      • In: Wending en inkeer. Nasionale Pers, 1948
  • Pienaar, WJB: Die ouderling en ander toneelstukke deur HA Fagan. Ons Eie Boek, Julie-September 1938
  • Ruwe erts. Patrys, Augustus 1965

 

Publikasie

Twee blyspele: Die stille haard en Die swakkere vat

Publikasiedatum

  • 1945
  • 1956
  • 1957
  • 1977

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Boshoff, SPE: Twee blyspele. Ons Eie Boek, Junie 1946
  • Burgers, MPO: Jongste toneelwerke van Fagan. Brandwag, 23 Augustus 1946
  • Malherbe, FEJ: In Wending en inkeer. Nasionale Pers, 1948
  • Mulder, HA: Twee blyspele. Huisgenoot, 28 Junie 1946
  • Truter, HJ: Twee blyspele. Patrys, Julie 1958

 

Publikasie

Soos die windjie wat suis en ander gedigte

Publikasiedatum

1949

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Burgers, MPO: ’n Ouer digter weer aan die woord. Huisgenoot, 15 Julie 1949
  • EAV: Soos die windjie wat suis. Die Kerkbode, 11 Januarie 1950
  • Haarhoff, TJ: Soos die windjie wat suis. Suid-Afrika, Januarie 1950
  • MH: Fagan. Vaderland, 14 Mei 1949
  • Soos die windjie wat suis en ander gedigte. Koers, Oktober 1949

 

Publikasie

Die nuwe wêreld en ander toneelstukke

Publikasiedatum

1947

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Bosman, FCL: Die nuwe wêreld en ander toneelstukke. Ons Eie Boek, 12 November 1947
  • L: Die nuwe wêreld en ander toneelstukke. Die Kerkbode, 12 November 1947
  • Vulpen: Bespreking van Die Nuwe wêreld en ander toneelstukke. Taalgenoot, Februarie 1948

 

Publikasie

Snelskrif: ’n nuwe stelsel

Publikasiedatum

1950

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Juta

Literêre vorm

Handboeke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • AWR: Nuwe snelskrif leen hom goed vir Suid-Afrika. Bron en datum ontbreek

 

Publikasie

Die lewe is ’n speeltoneel. Saam met Fritz Steyn en PWS Schumann

Publikasiedatum

1952

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Die nuwe wêreld; en, Die stille haard: twee toneelstukke

Publikasiedatum

1956

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Ninya: a fantasy of a strange little world

Publikasiedatum

1956

ISBN

(hb)

Uitgewer

Londen: Jonathan Cape

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Twee dramas: Die ouderling; en, Ousus

Publikasiedatum

  • 1957
  • 1959
  • 1960
  • 1984
  • 1986

ISBN

  • (hb)
  • 062401357X (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Antonites, AJ: Fagan se beste drama vir matriek-kandidate bespreek. Die Ruiter, 26 September 1947
  • Du Plessis, SF: Die ouderling en Ousus deur HA Fagan. Horison, Junie 1947
  • Kannemeyer, JC:
      • Fagan se Ousus. In: Opstelle oor die Afrikaanse drama. Academica, 1970
      • Ousus. Kriterium, Januarie 1966
  • Malherbe, FEJ: In: Wending en inkeer. Nasionale Pers, 1948
  • Pretorius, Réna: In: Oog en spel. Van Schaik, 1987

 

Publikasie

Ons verantwoordelikheid: ’n bespreking van Suid-Afrika se rassevraagstukke

Publikasiedatum

1960

ISBN

(hb)

Uitgewer

Stellenbosch: Universiteitsuitgewers

Literêre vorm

Sosiale vraagstukke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • PJC: “Bod vir steun van nasionaliste”: mnr Fagan se boek. Die Burger, 15 Februarie 1960
  • Tredoux, Elizabeth: Ons verantwoordelikheid. Sarie Marais, 21 Desember 1960
  • Van Reenen, Rykie: Fagan verdien plek op ererol [brief]. Die Burger, 30 Junie 1998

 

Publikasie

Our responsibility: a discussion of South Africa’s racial problems

Publikasiedatum

1960

ISBN

(hb)

Uitgewer

Stellenbosch: Universiteitsuitgewers

Literêre vorm

Sosiale vraagstukke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Drie eenakters (Rooibruin blare, Bo die kranse en Opdrifsels)

Publikasiedatum

  • 1962
  • 1964
  • 1965

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Claasen, George: Afrikaanse kind ly [bespreking van opvoering van Opdrifsels wat opgeneem is in Dire eenakters]. Beeld, 25 Augustus 1981
  • Bespreking van Bo die kranse. Patrys, Junie 1969
  • Van Rensburg, FIJ: Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Desember 1963

 

Publikasie

Co-existence in South Africa

Publikasiedatum

1963

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Juta

Literêre vorm

Sosiale vraagstukke

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

Publikasie

Ousus: toneelstuk in drie bedrywe

Publikasiedatum

1972

ISBN

0624001997 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

Geen

 

HA Fagan as samesteller

  • Uitgesogte Afrikaanse verhale. Kaapstad: De Nationale Pers Beperkt, 1921

HA Fagan as vertaler:

  • Storm, Theodor: Immensee en ander verhale. Kaapstad: De Nationale Pers Beperkt, 1918

Artikels oor en deur HA Fagan

Besprekings van HA Fagan se individuele gedigte en blyspele

HA Fagan se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is op 05/10/2011 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top