Gys de Villiers: "'n Afrikaner alien of extraordinary ability ..."

  • 3
Gys de Villiers woon nou in New York. Hy het onlangs vir Paula Fourie en Athol Fugard in hierdie stad raakgeloop. Hy is volgens sy paspoortbeskrywing nou 'n Afrikaner "alien of extraordinary ability ...". Hieronder is Gys de Villiers se gesprek met Paula Fourie. Tussendeur verskyn foto's van Gys de Villiers, Paula Fourie en Athol Fugard.

Een onlangse aand in die voorportaal van die Signature Theatre in New York kom stel Gys de Villiers homself voor. Hy is hier saam met sy vrou, Jaci, en het so pas na die resultaat van ons sweet en bloed van die afgelope paar maande gekyk: Athol Fugard se nuutste toneelstuk, The Painted Rocks at Revolver Creek. Bianca Amato, ’n Suid-Afrikaner wat die rol van Elmarie Kleynhans in die toneelstuk vertolk, kyk toe en hou ’n oog oor die ontmoeting van haar ou en nuwe vriende. Bianca is in Suid-Afrika waarskynlik die bekendste vir haar vertolking van Philippa de Villiers in Isidingo: The Need. Vandag is sy ’n gesogte Broadway- en off-Broadway-aktrise, ’n bekroonde audiobook-verteller, en het sy reeds in verskeie Amerikaanse televisiereekse verskyn. Na 13 jaar hier het Bianca so pas haar Amerikaanse burgerskap gekry. Sy was reg om Gys en Jaci hier te verwelkom in New York, hierdie soms ongenaakbare stad van survivors, van dié wat oorleef het.

Aan die einde van die week ontmoet ek vir Gys in Central Park, by die koffiewinkel wat uitkyk oor Sheep Meadow. Ons is soos matrose wat vir mekaar waai en roep vanaf ons skepe in die nag – Gys-hulle het onlangs eers hier aangekom, en ek en Athol is alweer op pad huis toe, Suid-Afrika toe. Tog was daar tyd om meer uit te vind oor sy besluit om na New York te verhuis en dalk selfs in Amerikaanse grond bietjie wortel te skiet. Terwyl ek spot oor sy kragte van levitasie en onsigbaarheid, lag hy oor sy groenkaartkategorie:

Ja, ek is ’n alien of extraordinary ability! Jy moet maar net bewys lat jy in jou eie land in jou eie vakgebied die beste is, of opgestyg het. So, jy stel ’n lawyer aan, en dan begin jy jou CV back-up, jou resumé moet jy dan staaf. Jy weet, dit help nie jy sê jy’s ’n brain surgeon nie, jy moet dit bewys. Ag, jy weet, ek dink die immigrasiemense en so, hulle wil sien dat jy die beste is.

Maar hoekom juis New York, wil ek weet. Gys vertel vir my van die ontwikkelinge oor die afgelope vier jaar, hoe Jaci vir sy 50ste verjaarsdag twee vliegtuigkaartjies New York toe gekoop het, hoe hulle vir ’n maand in Williamsburg gebly het, hoe Gys tussendeur al die “toeristegoete” twee toneelstukke saam met Jaci geskryf het. Bowenal beskou Gys New York as ’n stad van immigrante, ’n stad wat vra dat jy hard werk om jou merk te maak.

So daai energie hierso het my, het my net geïnspireer. Ek het gevoel ek moet, jissie, ek moet ook aan die gang kom want die mense hierso, almal is so gefokus op wat hulle doen. Jy weet, die man wat jou koffie bedien, die man wat die vloer vee, almal werk en het respek vir hulleself en almal het respek vir hulle, gee nie om watse werk jy doen nie. Dis ’n werkende stad hierdie, jy weet. En dit het my geïnspireer. Ek het gevoel ek moet hardloop om by te bly. Hierdie plek het my aangedraai.

Hierdie maand lange ervaring van New York het vinnig gelei na die inslaan van ’n nuwe rigting in Gys en Jaci se lewens.

En, toe ons terugvlieg huis toe, ons het nou nie kinders en diere en goete wat gaan seerkry as ons weggaan van die huis af nie, so toe ons teruggaan toe sê ons net vir mekaar in die vliegtuig: “Sal ons probeer?”, “Should we just try?”. Want ons was rêrig beïndruk deur die erkenning vir die kunstenaar in New York. En ons het natuurlik ook in die somer hier aangekom so dis baie meer op straat, alles is uit. Maar die mense gee erkenning vir kunstenaars, en mens voel dit, jy weet? Die eerste keer wat jy in Times Square inloop dan word ’n mens, jy weet, jy word nogals geblaas deur die, the art of it, die kuns van alles. Die industrie sit daar. So jy voel dit. In die treine is daar klein venstertjies waar kunstenaars hulle tekeninge en goete kan inskuif. Daar’s gedurig, elke naweek, elke dag van die somer is daar een of ander happening. En dit het baie inspirerend gevoel, en vry gevoel.

Vryheid. Dit is ’n konsep, ’n hunkering wat regdeur my gesprek met Gys loop.

Maar die main ding is ... hoekom New York? Is avontuur. Ek het ook baie gesê voor ek weg is daar: “Ek hardloop nie weg van iets nie, ek hardloop eerder na iets nuuts toe.” Maar net om geïnspireerd te bly. Dit voel mens slaan ’n ceiling in Suid-Afrika. Want ons mark is net so groot. En jy, omdat dit Afrikaans is ook, jy weet, dis ’n niche mark. En jy word weer eens, mens word maar in ’n blikkie gedruk, watse rolle jy doen, omdat jy Afrikaans is, en wit is. En die mark is maar net so groot. Jy kan nie, jy kom op ’n punt waar jy nie eintlik meer kan verdien nie want die koek, om mee te begin, is klein. Ek sê altyd, as ’n Amerikaner ’n skoen maak, Nike, koop die wêreld hom. As ons ’n skoen maak, Bosbok, koop net ’n klomp boere die skoen, jy weet. As jy dink aan hoeveel mense kom na die filmteater toe as ons ’n fliek maak, Verraaiers ... ek’s baie trots op daai werk wat ek daar gedoen het. Ek weet nie hoeveel mense dit gaan sien nie, ek weet nie of oom Piet-hulle hulle geld teruggemaak het nie, ek dink nie so nie.

Ons gaan nie meer uit op straat nie. Dis ook ’n ander ding van hierdie plek. Almal is op straat, jy move. Dinge gebeur buite, dis veilig. Jy kan rondloop, jy kan ... Dis verskriklik bevrydend.

Vir iemand wat byna sy hele lewe in Afrikaans gewerk het, is daar vir Gys ook ’n nuutgevonde vryheid om in ’n nuwe konteks, en in ’n nuwe taal te werk. Die twee stukke wat in New York geskryf is op daardie eerste besoek, is sedertdien gekombineer. Die resultaat is Fafi, wat vanjaar te siene is by New York se Fringe Festival sowel as by die InniBos-fees in Nelspruit, waar dit bekend staan as Elsie se nommers. Hierdie “half-outobiografiese stuk”, soos Gys dit beskryf, is gewortel in Suid-Afrika. Dit handel oor die onwettige dobbelspel fafi, en oor Elsie, die swart huishulp wat vir Gys help grootgemaak het, wat haar droombeelde interpreteer om die wennommer te probeer bepaal. Alhoewel die twee oorspronklike stukke waarop dit gebaseer is, in Afrikaans was, is Fafi aanvanklik in Engels geskryf met ’n Amerikaanse gehoor in gedagte. Dit is toe weer (terug) in Afrikaans vertaal met die oog op die InniBos-fees wat in Julie vanjaar plaasvind.

En ag, ek meen, dis interessant om dit terug te vertaal. Vir die Engelse mark moes ek heelwat goete verduidelik en so aan. Jy kan nie net sê jy staan op die rand van Cathedral Peak en jy wag nie. Jy weet, so, bietjie meer verduideliking. Dis nogals lekker gewees om terug te gaan Afrikaans toe, nou sien ek ek kan kortpaaie vat en, ag jy weet, dan raak mens maar net weer lief vir jou eie taal as jy dit terugvertaal en so aan. Maar ek moet sê, die uitdaging om dit vir ’n Engelse gehoor te geskryf het, het my nogals bevry op ander maniere. Om nie vasgevang te word in my ou paradigms en my idee van wat ’n gehoor wil hoor nie. Ek kon uit my eie hokkie gebreek het, om dit vir ’n Engelse gehoor te skryf. Ja. Jy weet, want ons ken mos daai gehoor in Suid-Afrika. Allie feeste speel ons nou al vir jare lank vir hulle, en so aan. En hulle ken my. So dit het definitief ander deure oopgemaak in my, en net lat ek anders kon dink omtrent my eie storie en met ’n ander oog kyk op my geskiedenis, my eie geskiedenis.

Fafi is ook nie die enigste stuk wat deel vorm van sy onmiddellike toekomsplanne in New York nie. Daar is ook Groen ghoen, geskryf deur Gys en Jaci, wat sy première in 2009 by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees gehad het toe Gys saam met Oscar Petersen al 45 karakters – van homo sapiens tot ysbere en walvisse – vertolk het. Hierdie jaar repeteer Gys aan Groen ghoen saam met Megan Metrikin, ’n ou vriendin van die 1980’s wat intussen na New York verhuis het. Hy beplan om hierdie stuk, wat vrae vra oor hoe die mens hierdie planeet hanteer en spesifiek gemik is op aardverwarming, by skole sowel as by die Museum of Natural History op te voer. Met Jaci as regisseur en Gys as akteur vorm die De Villierse ’n gedugte span wat al die sleutelrolle in hulle eie produksies kan behartig, ook natuurlik die rol van die skrywer. Alhoewel hy nog steeds primêr akteur is, word dit, soos Gys sy toekomsplanne uitlê, al hoe meer duidelik dat skryf ’n belangrike strategie is vir sy eie oorlewing in New York.

Kyk, die skryf is belangrik want niks kan gebeur sonder die skryf nie. [...] Dis ’n talent wat ek nie geweet het ek het nie, en, dit bevry my nog verder ook want ek hoef nie te wag vir ander mense om vir my stukke te skryf nie, ek kan my eie stukke skryf. Dis wonderlik, want, van die idee af, wat jy die idee kry tot jy skryf, tot jy hom perform, dis ’n wonderlike gevoel om dan daai, daai idee te sien werk, en hier staan hy nou regop en hier praat hy nou en hy doen sy ding. En, jy weet, ’n mens skryf vir jou eie mond. Hoe ek ’n sin sê is miskien grammaties heeltemal verkeerd ... ek weet hulle is baie keer, maar dit maak nie saak nie want hy lê lekker in my mond. Ek geniet dit, ek ontgin die taal. En dis vir my pret om, jy weet, allerhande maniere te kry om dit te sê. Maar, weer eens, sonder Jaci sal ek dit nie eintlik rêrig op my eie kan doen nie. Sy’t ’n wonderlike buiteoog. Sy’s ’n derde oog. Sy kan baie lateraal dink en dit help baie keer, dit bevry my weer eens. So, ons kom hiernatoe met ’n produk, ons staan nie bakhand en sê: “Gee my werk” nie. Ons is hierso met ’n plan.

Gys beplan egter nie om slegs in sy eie toneelstukke in New York te verskyn nie. Inteendeel, hy het hier reeds twee studentefilms en ’n musiekvideo geskiet en hoop om binnekort deur ’n New Yorkse agentskap verteenwoordig te word. Dan wag daar nog die uitdagings om lidmaatskap van die Actors’ Equity Association en die Screen Actors Guild – American Federation of Television and Radio Artists te bekom, Amerikaanse akteurunies wat streng lidmaatskapvereistes het.

Oor sy toekoms as akteur in die VSA praat Gys met selfvertroue, maar ook soos iemand wat voel hy het niks om te verloor nie. Boonop kan hy met homself spot:

Ons is ook al ouer, so ... ek spot altyd, ek sê: “Ek gaan nie in die tou staan saam met 300 000 jong seuns vir ’n rol nie, ek staan in ’n tou saam met 100 000 ouer mans.” Die odds is beter!

Steeds – Gys is ’n akteur wat sy naam gemaak het deur hoofsaaklik in Afrikaanse produksies te speel. Veral sy vroeë teaterwerk in die 1980’s was in produksies wat gemoeid was daarmee om die Afrikanerpsige te ondersoek – produksies soos CP Leach se Die spinner (1985), Reza de Wet se Diepe grond (1986) en Ryk Hattingh se Sing jy van bomme (1988). In sy filmwerk het hy ook in ’n aantal historiese films verskyn wat sleutelmomente in die Afrikanergeskiedenis uitbeeld – hy was al in die grensoorlog in Boetie gaan border toe! (1984),in die Tweede Vryheidsoorlog in Verraaiers (2013), en ook al FW de Klerk in Mandela: Long walk to freedom (2013). Gaan hy deur op 54 die Amerikaanse mark in Engels aan te durf dan sy Afrikaanse-akteur-baadjie uittrek?

Dis nie, ek verruil nie my Afrikaanse baadjie nie. Wat ek hier voel is, ek is vry. Ek kan net ’n mens wees, en ekke, yes, natuurlik het ek ’n aksent, so dit gaan my werk affekteer, en die tipe werk wat ek hier kan doen. [...] En al die mense, eerste ding wat hulle sê is, wow, hulle is so beïndruk met my show reel. Kyk, my show reel het net, die meeste van my Engelse werk, of die bietjie Engelse werk wat ek gedoen het, het ek ingesit daar. Maar hulle het nie soveel die aksent raakgesien nie. Hulle kyk meer vir die talent en vir die spel. So dit is wat ek voel hierso, ek is vry. Ek voel vryer hierso. Omdat ek, ek kan ander rolle ... ek doen oudisies vir ander rolle wat ek nie in Suid-Afrika kry nie. En dit maak my vry voel.

Steeds voel Gys hy is nog nie reg om ’n rol te vertolk wat van hom vereis om ’n Amerikaner te speel nie.

Ek gaan nie nou al probeer om te maak of ek ’n Amerikaner is nie, ek kan dit nie doen nie. In my bene, in my gebeendere is ek ’n Suid-Afrikaner en ’n Afrikaner. En om daai ... om ’n akteur te wees, moet jy jouself stroop en jy moet eerlik daar staan met emosie, so om dan deur ’n filter soos ’n aksent te werk, is vir my verskriklik moeilik. Ek is nog nie daar nie.

En dis weer hier waar die feit dat Gys en Jaci hulle eie toneelstukke skryf, ’n belangrike rol speel, soos hy verduidelik:

So, ons het gekom met toneelstukke, omdat ons self dan in kontrole kan wees, en dan kan ek Suid-Afrikaans wees. Ek hoef dan nie Amerikaans te klink nie. Ek kom dan as the other ... in ’n stad van immigrante kan ek dan anders klink.

Gys se opmerking oor Bosbok-skoene wat net die boere sal koop, maal nog in my kop rond. Hoekom kyk ons steeds na Amerika en Europa om die rigting te wys? Ek dink aan Gys se besluit om in die VSA te gaan werk, en ek vra hom wat dit sal vat om ’n werklik selfonderhoudende film- en dramabedryf in Suid-Afrika te koester. ’n Bedryf wat films en teaterstukke skep wat nie net die wêreld se aandag trek nie, maar wat ook die rolspelers in hierdie bedryf bevredig en wat sal maak dat akteurs soos Gys nie voel dat daar oorsee beter moontlikhede is nie.

Jy weet, weer eens, dis nommers, dis getalle wat vir my die verskil maak. Die talent is definitief in ons land. Die know-how, die hands-on, die tegnici is wonderlik, die akteurs is wonderlik, ons het dit. [...] Maar oor dat ons nooit die groot nommers het nie en ons budget is nooit groot nie kan ons nie teen ’n blockbuster kompeteer, op daai level kompeteer nie.

Ek vra vir hom of hy praat oor Suid-Afrika as ’n geheel of slegs oor die Afrikaanse mark. Dis hier in ons gesprek waar ek toenemend bewus raak van hoe sterk Gys as Afrikaner identifiseer, en hoe hy die persoonlike en professionele gevolge van hierdie identifikasie ervaar.

Ja, en in die land self. Maar, ek meen, jy praat oor my, ek is ’n Afrikaner so my koek is nog kleiner as die hele Suid-Afrika. Maar jy weet, op ’n manier is ons eintlik gelukkig omdat ons niche is, omdat ons Afrikaans is, want as ’n mens ’n Engelse film in Suid-Afrika maak, dan kompeteer jy met die Engelse films van oor die hele wêreld, waar ’n Afrikaanse film kompeteer net met homself, met sy eie mark. Maar wat ek net bedoel, oor die hele ding ... dit is self-sustaining. Die teaterbedryf en die filmbedryf is self-sustaining. Maar of hy groter gaan word?

Boonop sien Gys min moontlikhede dat Afrikaanse en veral wit-Afrikaner-kunsfilms en teaterstukke werklik deur vertaling iets vir die ander taal- en rassegroepe in Suid-Afrika sal beteken. Is Suid-Afrika se kultuurlewe werklik steeds so gefragmenteerd dat die Afrikaanse mark vandag heeltemal geïsoleerd is?

Ek dink die geskiedenis het so ’n lang indruk op ons gemaak en, nou met die nuwe generasie, kyk hulle na ander goete as om almal tevrede te stel of om die wit minderheid wat Afrikaans praat ook nog te service. Ek dink ons is in ’n baie precarious, wat noem mens dit, onsekere stadium in ons land. [...] So, ek weet dat ons, ons is in die minderheid, nog altyd, en ek weet ons word aan die kantlyn geskuif, meer en meer. Yes, vir ons eie mark, die Silwerskermfees, die feeste, dit is baie gesond en hy gaan aangaan, kykNET gaan aangaan want dit is ’n niche-mark, maar, of ons ’n swart mark gaan beïnvloed met ons werk, ek glo glad nie so nie. Ons nommers is te min, die jong swart outjies wat films maak nou en so aan, ook, hulle dink meer aan ’n globale storielyn en hulle mik ook om hulle films oorsee te kry en om hulle eie stories te vertel. Ja, as daar ’n Afrikaanse ou of ’n ouer wit man in ’n storie nodig is, ja, of course gaan hulle ons gebruik, maar ek dink nie hulle is daar om ons tevrede te stel of om ons te service nie.

Alhoewel hy dit nie in soveel woorde sê nie, besef ek dat Gys vandag meer en beter geleenthede vir homself sien as ’n Afrikaner-“alien of extraordinary ability” in New York as in Suid-Afrika, dalk juis as gevolg van sy Afrikaneridentiteit. Dat hy hom in ’n nuutgevonde vryheid verlustig is in ieder geval duidelik. En met dié draai ons gesprek na die politiese, na die rol van teater binne enige samelewing, veral ’n samelewing met so ’n swaar geskiedenis van miskenning en geweld soos ons s’n.

Ek voel altyd ons as akteurs, vir my, vir my, moet ek ’n boodskap êrens in my werk hê, want anders kan ek nie elke aand op die verhoog stap en daai storie vertel nie. So ek glo daar is ’n social awareness en ’n social message wat ek, ek moet mense tot nuwe insigte bring. Ek moet kan identifiseer met my message.

Om met ’n boodskap te identifiseer is egter heeltemal anders as om met ’n karakter te identifiseer, soos Gys verduidelik met verwysing na Braai, ’n toneelstuk deur Willemien Brümmer wat verlede jaar by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op die planke was. Gys het in hierdie drama die rol vertolk van Speedy Saayman, ’n voormalige dienspligtige in die Suid-Afrikaanse Weermag en afgetrede polisieman.

Nee ... soos in Braai, ek meen die ou is ’n ekspolisieman en ’n rassis en ek ... mens kan nie wegskram van wie jy moet speel nie, maar as die boodskap vir my sin maak dan kan ek enige ou daarin speel. Iemand moet die doos wees, en dis fine, jy weet, die doos het nou al my huur betaal vir dertig jaar. Maar, jy weet, ek kan nie net pure entertainment doen nie, dit voel net vir my belaglik, ek kan dit nie doen nie, ek is nie daai ou nie. My humor kom deur in my toneelspel, daar’s altyd ’n droë humor in dit en ek probeer tog my laugh lines kry, maar oor die algemeen moet ek ’n boodskap hê.

Gys het in sy loopbaan al in verskeie toneelstukke gespeel wat die temas van oorlog en diensplig ondersoek, onder meer die onlangse Wit manne se wapens (2014), ’n vertaling van Greig Coetzee se White men with weapons (1992). In 1979 en 1980 het Gys ook self diensplig gedoen.

Ek is vies oor die twee jaar wat ek moes verloor het en net die feit dat jy ’n nommer is. Ek het ... dank al die gode in die wêreld dat ek nooit township duty hoef te gedoen het en kinders doodgeskiet het nie want as hulle vir jou sê om te vuur dan moet jy vuur, jy dra die uniform jy moet vuur. Dank al die gode dat ek nooit in daai situasie was nie. Want as jy eers ... die indoktrinasie is so sterk in ons land gewees dat as jy matriek is en jy’s Afrikaans dan, dit is wat jy doen, jy gaan grens toe want dit is deel van, jy moet dit doen. Dan as jy daar is dan begin jy, ekke, dis nou nie vir almal so nie, het my eie breins wakker geword en ek het gesê, maar, “Ekke leer hoe om mense dood te maak en dit is my landsburgers wat net ’n ander velkleur het en hulle het nie stemreg in hulle eie land nie, en ek moet leer om hulle dood te maak want hulle is nou die vyand.” So, my politiese brein het half ontwaak, eers as jy in die weermag is. Maar in die selle tyd, as jy geweier het om te gegaan het, het hulle jou tronk toe gestuur vir twee jaar, wat die oproeptyd was. As jy uitkom dan gee hulle weer vir jou jou call-up papers en sê, “Yes, jy’t nou klaar nou vonnis gedoen maar nou hierso’s jou call-up papers, jy kan ons maar kom join.” So, net die feit lat jy ’n nommer is, vir ’n cause wat jy nie in glo nie ...

Dit is juis sy dienspligjare wat hom na teater gelei het. Hy het in Windhoek, waar hy gestasioneer was as offisier, vir Marie Human en Lochner de Kock ontmoet en was daar ook in sy eerste professionele produksie, EA Schlengemann se Die drie Van der Walts (1980). Na sy diensplig het hy by die Universiteit van Kaapstad ingeskryf vir ’n diploma in spraak en drama, maar het slegs sy eerste jaar voltooi. Daarna het hy op sy voete geleer, aan die voete van beroepspelers soos Sandra Prinsloo, Marius Weyers en Tobie Cronjé. Hy vertel vir my van daardie jare en hoe hy ook oplaas onder die indruk gekom het dat (Afrikaanse) teater maar ’n beperkte invloed op die buitewêreld het, alhoewel dit in die binnewêreld van sy rolspelers en gehoor ’n belangrike rol kan speel.

Maar ons het almal in daai tyd die gemeenskaplike vyand gehad, ons verligte mense, die apartheid en ons het dit ondersoek en probeer regstel met ons stukke, en probeer op ons manier deel wees van die struggle. Ek dink dit het gewerk, maar in ’n bubble. Ek dink ons het, weer eens, die verligte mense sou teater toe gekom het en daai boodskap het ons maar vir mekaar vertel en gesê, mekaar die skouer geklop en gesê: “Ja ons is deel van die struggle, ons doen tog iets ... anders.” Maar op ’n groter platform dink ek nie dit het enige ... Dit het literêre diep spore getrap, Reza de Wet, maar ek dink nie polities rêrig nie. Maar vir my het dit deure oopgemaak in my kop en in my siel, so dit het my geleer. En om na myself te kyk, en na my psige, my land.

En wat het hy in sy loopbaan geleer oor sy land, en oor die Afrikaner? Hy verwys my na een van sy en Jaci se eie stukke, Die Afrikaner (2007). In die skryf van hierdie toneelstuk het hulle swaar gesteun op Hermann Giliomee se navorsing in Die Afrikaners: ’n biografie (2004) om ’n stuk te skep wat deur sang en storievertel poog om meer as 300 jaar van Afrikanergeskiedenis in ’n uur en vyftien minute te vertel.

So ek het baie daardeur geleer. Wat ek geleer het, is, lat ons land deurdrenk is van bloed en dat ons doen aan ander wat gedoen is aan ons. En dat ons geloof aangeneem het as ’n baadjie van reg om te moor en te abuse soos ons lus het. Daarso’s ’n statistiek van generaal Smuts, of Smuts toe hy, ek weet nie wanneer nie, in die dertigs, het hulle ’n hele stam met ’n vliegtuig gaan bom want hierdie ouens het nie taxes betaal nie. Daar was ’n hele stam uitgewis. 1936 was die laaste legal permit uitgeskryf om ’n boesman te gaan jag in Namibië. Nou, as jy dan ’n Christen is, for fuck’s sake, hoe gee dit jou die reg om ’n ander mens te gaan jag soos ’n dier? So ek dink ons is skynheilig, met God aan ons kant kan ons die kat in die donker knyp, ons kan hoer en rumoer, maar meestal dink ek ons is skynheilig. Ja, skynheilig. Dis vir my ’n groot ding. Ek is baie lief vir ons mense, ek is baie lief vir my taal, ek’s lief vir my land, maar ek dink die konserwatisme het ons amper naïef en dom gehou vir baie lank. [...] Ek is een van daai mense so ek wys nie ’n vinger na enigiemand nie.

Ons praat oor grondhervorming, naamveranderings en regstellende aksie, en ek vra hom wat hy dink oor die Afrikaner se toekoms vandag in Suid-Afrika.

Ek dink hy’s bang, ek dink hy’s in gevaar. Hy gaan nie uitsterf nie. Want, nog steeds, baie van die groot geld sit nog steeds in die Afrikanerman se hande. [ ... ] So ek dink ons is in gevaar, ons sal nooit kan weggaan nie, en ek meen, niemand ... waarheen gaan ’n mens? Dis ons land daai, ons is 300 jaar daar, dis ons land daai. Maar ons word in ’n hoek ingedruk en ons is in ’n groot minderheid. Maar die taal gaan nooit doodgaan nie. Ook, in my research, in Giliomee se research, is slegs 42% ... dis nou al jare terug, tien jaar terug ... slegs 42% van mense wat Afrikaans praat is wit. Die res is kleurlinge en swart mense. So die taal gaan nooit doodgaan nie. Maar, die wit Afrikaner, hy is ’n bedreigde spesie. Jy weet, die plaasmoorde en goed.

Dit is ... ek is nou ... gelukkig ek was Hamptons toe hierso en ek het verlede week in Massachusetts gaan skiet. Daar is nie een enkele heining om een enkele huis nie. Die mense leef vry, hulle ... ek kyk nou die dag, hier staan ’n fiets – ’n ou het gou iets gaan aflewer maar hy’t sy fiets net daar neergesit op sy stand en hy’t ingegaan met sy sakke! Hy’t nie die fiets toegesluit nie. Ek sien nou die dag ’n laptop en ’n foon sit op hulle eie op ’n tafel. Ek’s like, fok, wat gaan aan? Wat gaan aan hierso? Nee, die ou is gou-gou hier om die draai en so aan. So, natuurlik is hier plekke wat ook gevaarlik is, maar net die oorkoepelende lack of danger, en lat jy nie hier altyd oor jou skouer hoef te kyk nie is vir my, is amazing. Hierso in die begin, ek het eendag iets gekoop en, en ek kon nie die blik oopmaak nie. Ek gaan toe terug na die winkel toe, ek sê vir die ou, “Please show me. Hoe maak ek hierdie blik chillies oop, die fokken ding wil nie oop nie.” En hy maak hom toe oop vir my. “O, dankie, dankie.” Ek vat dit toe en ek wil toe nog ander goed gaan koop maar toe gaan soek ek die manager, toe sê ek vir hom, “Horie, ek het hierdie blik, het ek ingebring. Ek het hom nie hier oopgemaak en gesteel nie, hoor?” Toe sê hy vir my, “Ja, what? Hoekom?” Kyk hy vir my, “Is jy mal, wat is jou probleem?”

So, nou om terug te gaan na dit. In ons land voel ek is daar nie, daar’s nie bloedletting gewees nie. Die swart man het nie sy revenge gekry nie. Hy’t nie sy revolusie gekry nie. Mandela het dit afgeweer. [...] Die swart man het nie sy revenge gekry op die wit man nie. En dis vir my ’n slow revolution wat plaasvind. Net met die level of violence van plaasmoorde en house-breaks waar, jy weet, mense met strykysters gebrand word en so, die level van viciousness en retribution wat daar alles is, is vir my ’n bewys van lat daar ’n slow revolution is wat plaasvind. Ek dink nie dit gaan weggaan nie.

Gys het in verskeie onderhoude voor sy vertrek na die VSA beklemtoon dat hy nie weghardloop van iets nie, maar eerder na iets nuuts toe hardloop. Tog kry ’n mens die indruk van ’n man wat reeds lank worstel met sy identiteit in sy eie land, iemand wat dit in New York regkry om vir goed of sleg die swaar juk van sy mense se geskiedenis – van onderdrukking en magsug, van vrees en van skuld – tydelik af te gooi. En in hierdie stroping, in hierdie losmaking is daar individualisering en, hand aan hand daarmee, nuutgevonde anonimiteit. Ek glo hierdie dinge is oorweldigend verantwoordelik vir Gys se gevoel van vryheid in New York.

Nee, jy weet, mens ... dit is een ding wat ek ... ek voel nie skaam hier om ’n wit man te wees in Amerika nie, in Manhattan, ek weet nie van die res nie. Ek was nou die dag in, ek’t diep in Haarlem gaan loop, en toe ewe skielik voel ek weer soos ’n wit Afrikaner, ’n wit man tussen ’n klomp swart mense. Toe voel ek my witgeid weer. En ek ... ek wil nie dit voel meer nie. In Manhattan voel ek net ’n mens. Almal is hier gefokus op self-survival en dit voel vir my so en ek doen my eie ding, I’m trying to survive.

Ja, dis ’n moeilike ding. Jy weet, ek kan nie soos party mense sê, “Ja, maar fok hulle” nie. “Wat het ons gedoen vir die land en kyk wat vat hulle nou terug?” en so nie. Ek kan nie daai ou wees nie. Want ek is bewus van wat ons, dat ons dit gevat het in die eerste plek. Jy weet, mense kom dan sê hulle, “Nou maar hoe kan jy Pretoria se naam verander? Ons het dit dan nou ... ” Nee, dit was nooit, die naam was nie Pretoria tot ons hier aangekom het nie. [...] Maar dis vir my ’n jammerte, ek meen, ek voel, ek voel my witgeid daar. Ek voel skaam. Ek probeer in my onmiddellike omgewing as ek in Suid-Afrika is ’n verskil te maak, maar enige plek waar ek inloop, en dit is mense wat my bedien en hulle is swart en hulle kyk my en hulle sien my as ’n wit ou man van die fokken vorige regering en hulle behandel my soos kak. Dan voel ek skaam.

Hierdie woorde herinner sterk aan Jonny Steinberg se essay wat vroeër vanjaar aanlyn verskyn het, “Why I’m moving back to South Africa”.1 Hierin beskryf hy ’n verskynsel waarna hy hunker en wat slegs in sy geboorteland te vinde is. Hy skryf dat as hy op die strate van Johannesburg by sy medelandsburgers verbyloop, daar die blitsige verwisseling is van ’n onsigbare sein. Dit is die erkentenis van mekaar se agtergronde en familiegeskiedenisse, ’n onafwendbare lees of inlees van mekaar: “He may look at me with resentment, or longing, or with the twistedness that comes with hating; he may catch me smiling to myself and grin. I am left with a feeling, both sweet and sore, that I am not in control of who I am. I am defined by the eyes that see me on the street.” Steinberg kom dan tot die gevolgtrekking: “I cannot escape them. I cannot change what they see. We may one day fight one another or even kill one another, yet our souls are entwined because we have made another.”

Een uitgewekene se rede om na sy geboorteland terug te keer is vir ’n ander uitgewekene bevestiging van sy besluit om uit te wyk. Want waar Steinberg die verlies van hierdie konneksie as eensaam ervaar, is Gys se gevoel een van bevryding – hier in die VSA is hy skynbaar vir die eerste keer ’n individu wat op niks anders as sy eie dade getakseer word nie. Ek wonder stilletjies of Gys dit eendag sal begin mis, om elke dag deel te wees van daardie mengelmoes van mense wat rondloop met hulle geskiedenis skynbaar getatoeëer op hulle gesigte, die mengelmoes wat soveel aannames maak oor mekaar. Daar waar jy nie aan jou geskiedenis en die geskiedenis van jou voorvaders en voormoeders kan ontkom nie.

Aan die begin van ons gesprek het ek geskerts dat die Charlize Therons, die Gavin Hoods en nou ook die Gys de Villierse ’n wyer horison sien en dan van ons lae horison af verdwyn, maar Gys het my vinnig laat verstaan dat mens nie verdwyn nie – dis ’n oproep en ’n lang vlug weg, en hy het gemeen mens sal maar altyd in mens se eie land in terugploeg. Ek herinner hom aan sy woorde en vra hom wat hy in gedagte het. Hoe wil hy nog betrokke wees by Suid-Afrika? Wil hy deur sy toneelstukke politiese kommentaar lewer?

Ek dink ek het probeer, met al my toneelstukke, soos ek sê, probeer om ... in Die Afrikaner was ons aanslag natuurlik lat dit is satiries gewees, ons wil selfondersoekend gewees het en gesê het: “Ouens, is ons nie dalk ook ’n deel verkeerd nie.” Ek wil nie meer polities probeer verandering bring nie. Ek dink wat ek wil terugploeg is om mense, om jong mense se talente te ontlok. Ek wil net lat hy selfonderhoudend kan wees, ek wil hulle inspireer en swart, wit, geel, groen, Engels, Afrikaans wil ek jong mense se talente ontlont en ek wil mense inspireer om te wees wie hulle wil wees, om kuns te bevry, om jong Afrikanerseuns die reg te gee om ’n kunstenaar te wees en nie uitgekryt te wees as ’n moffie omdat hy musiek speel of omdat hy ’n akteur wil wees of ’n balletdanser wil wees nie, ek wil hom die reg gee om te doen wat hy wil doen. [...] Dis vir my altyd so snaaks dat die tannie in die straat wat my ’n blowjob wil gee want sy’t my op 7de Laan gesien, maar sy wil nie haar seuntjie die reg gee om as akteur te swot nie want dis nie ’n regte beroep nie. Maar daai selle tannie wil vir my ’n blowjob in die straat gee want ek is dan nou haar favourite. You know, ek kan nie ... daai twee goed kan ek nie bymekaarbring nie.

Ons gesprek draai oplaas by Athol se The painted rocks. Dit is ’n toneelstuk wat soveel raakpunte het met ons gesprek vanoggend – wit oorheersing en swart ontmagtiging, swart bemagtiging en wit vrees, plaasmoorde en grondhervorming, en bowenal die vraag: Is dit werklik moontlik om mekaar na dit alles te verstaan? Ek vra vir Gys oor sy reaksie op die toneelstuk, of dit enige van hierdie kwessies sinvol vir hom hanteer het.

Ja, ja, ja, nee, absoluut! Ek dink dis ’n deurlopende, gee nie om van watter tydperk dit is nie, dis die human factor, weer eens, die man, en hy wil sy storie vertel, elke man se storie. Barney Simon het my geleer: “Everyone’s story is important.” Hy’t altyd gesê: “God created man because he loves to listen to stories.” So, ek dink almal se storie is valid, en ja, dit het my hartseer gemaak vir ons land. [...] Ja, dit was vir my wonderlik, dit was vir my baie sad. Maar ek het deur ... ek kom nou net van daai situasie af, so weer eens met die, om myself te verwyder van Suid-Afrika, omdat ek verwyderd is van Suid-Afrika, maar nog steeds betrokke in my hart, in my kop en so aan, en ek hoef nie elke dag in daai xenophobia te sit nie en die blackouts en goed, het hierdie stuk my, ja, my hartseer gemaak. Maar ek dink dis believable aan al die kante, ek dink dis beautiful. Ek het gehou van die ouer man en sy ... dat hy is man, en hy het status met die seuntjie, en as die wit vrou daar kom dan verloor hy sy status, dan het hy nie meer, dan is hy ’n werker, dan’s hy niks, dan’s hy minder as die seuntjie. En dit is geloofwaardig gewees. En dan die ander ou aan die einde wat terugkom, die seun wat dan net wil as ’n mens gesien word, is beautiful ... Maar, dit gaan nie ’n duik in ’n drol maak in Suid-Afrika nie. Jy weet, wie gaan dit sien? Ek meen, die paar liberale mense wat, swart mense wat teater toe kom, hulle’s klaar bewus in elk geval. Maar dis die honger massas wat nie, wat dit nie gaan affekteer nie.

Ek besef skielik ons het baie ver draaie geloop in ons gesprek vanoggend en by tye ver weg van New York gedwaal. Of het ons? Boonop moet ek dringend badkamer toe gaan. Ons sit al vir ’n uur en ’n half en het tussendeur liters koffie gedrink. Inderhaas skiet ek ’n laaste vraag aan Gys, ’n eenvoudige een waar die hart en die brein dalk nie so hard hoef te werk nie: “Wat is jou gunstelingplek in New York?”

Elke hoekie en elke draaitjie, want dis nuut en pragtig! So, wat my rêrig die eerste keer uitgestaan het is lat hulle die ou geboue nie afbreek nie, hulle sal hom binne stroop en hom regmaak maar die mooi van ouds word gehou en gekoester. Wat ’n local ou vir ons gesê het: “Hoe sien jy ’n New Yorker raak?” Hy sê: “Sy skoene is vuil en hy kyk nie op nie.” Want ons nuwes, ons vergaap ons aan die mooi geboue, die geboue van die vorige eeue. Ons was gisteraand weer in ’n teater wat in 1924 gebou is. [...] So die oue word nie weggegooi nie. En die treinstasies, ja, dis vir my pragtig ... ek meen, ons is amper dieselle ouderdom, New York en Suid-Afrika.

Maar ja, so, jy weet, hier’s, jy weet, daar’s nog soveel om te explore. Elke dag sien ek nog ’n nuwe hoekie en ’n draaitjie. Maar, jissie, die vryheid van ’n publieke transport wat werk, wat op tyd is, die vryheid van rondloop in die dag, wat ek veilig voel, die anonimiteit, en dit is nogals vir my lekker dat ek net mens kan wees. Jy weet, Barney Simon het ons geleer om na die mensdom te kyk, om dop te hou en om soos ’n bietjie soos ’n spy te wees, om mense dop te hou en baie keer het hy ons gevat in die strate in om karakters te gaan soek, en ... En, so, ’n groot deel van my werk is om mense dop te hou, te sien hoe operate ons, en body language en dit het ewe skielik toe, toe ek my eerste televisiewerk gedoen het, toe dit uitkom ... en ewe skielik het dit verdwyn, want toe word ek dopgehou deur mense. En dit was amazing, en mens het dit nie verwag nie. Ek het geweet, oukei, mense gaan my miskien herken, maar mens vergeet watse groot platform dit is. So ek het bietjie van my anonimiteit verloor in Suid-Afrika en om dit hier terug te kry – ek is mal om mense dop te hou, so dis hoekom, elke hoekie in New York is vir my wonderlik want ek kan net my vergaap aan al die miljoene mense en almal, hoe hulle besig is met hulle eie ding en hoe hulle dinge doen.

En mense sê New Yorkers is rude. Ek vind hulle vriendelik en behulpsaam en goeie diens, man, jirre, goeie diens. Almal. En hulle ... die ou, nou die dag waar ons ’n toll booth deurgaan, die man wat die kaartjie vir hom betaal: “Good evening, how are you doing?” “No, I’m fine, how are you doing tonight?” “No, I’m fine”. “Well, have a great day, thank you Sir, babaai.” Dis ’n human friendly city. Dit is gemaak deur humans vir humans to have a better human experience. Ek wil net sê, ek sien mense mekaar help hierso, hoor, ek sien ouens wat spring om ’n deur oop te maak vir ’n ouer man, of hom te help met ’n pakkie, of om op te staan vir ’n ander vrou op die trein. Ek sien dit raak. Ek moet sê ek kry nogals respek vir dié mense.

Na Gys se laaste sin spring ek inderhaas op en sê vir hom ek moet gaan water afslaan. Hy lag lekker vir my, want hy weet nou hoekom die laaste paar vrae maar vinnig gekom het. Hy bied aan om solank nog koffie te kry voordat ons saam gaan stap in die park om ’n paar foto’s te neem. As ek terugkom, staan Gys met ’n breë glimlag in die tou en wag. My selfoon en laptop sit op hul eie op die tafel. Ek’s like, fok, wat gaan aan? Wat gaan aan hierso? Ek kan nie wag om môre huis toe te vlieg nie.

Hierdie onderhoud word opgedra aan Gys en Jaci de Villiers, Bianca Amato, Friedl en Mareesa Kreuser, en Pierre-Louis le Grange: my Suid-Afrikaners wat in New York probeer oorleef. “If you can make it there, you’ll make it anywhere.”

Foto's voorsien

Lees ook 'n gesprek tussen Athol Fugard, Pieter-Dirk Uys en Paula Fourie.

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Ek maak herhaaldelik beswaar teen Bettina Wyngaard se Afrikaans, wat met onnodige Engelse woorde deurspek is en my aanstoot gee, maar my kommentaar word nie gepubliseer nie. Dubbele standaarde is egter in die mode. Dalk word die volgende dus geplaas. De Villiers roem daarop dat hy 'n Afrikaner is en dat hy lief vir Afrikaans is. Moontlik is hy 'n rolmodel vir sommige. Maar dit is tog sekerlik moontlik om agbare Afrikaans in New York te praat en nie 'n mengeltaal, koeterwaals, nie.

  • Avatar
    Johann Schutte

    Baie dankie. Hier in New York het my hart vanaand verlang. Ek het met Gys groot geword op TV en hierdie onderhoud het heel onverwags my hier-wees en daar-wees met mekaar verbind.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top