Guys and dolls: ’n triomf vir die Gilbert en Sullivan-vereniging

  • 0

Musiek en liriek: Frank Loesser; verhoogteks: Jo Swerling en Abe Burrows; gebaseer op verhale deur Damon Runyon.

Met Werner Viln, Sian Atterbury, Jennifer Moss, Laura Bosman, Andrew Weiss, Wesley Figaji, Graham Boxall, Keenan Oliphant, Matthew de Klerk, Dennis Benneyworth, Fiona Carling, Clifford Graham, Graham Ellis, studente van die Waterfront-teaterskool en talle ander.

Regisseur en choreograaf: Kyla Thorburn; musiekdirekteur: Bill Holland; medechoreograaf William Jones.

’n Aanbieding van die Gilbert en Sullivan-vereniging in die Kunstekaap-hoofteater. Tot 10 November.
 

Vol van kleure, aanskoulik, so energiek! Naas die musiek, sang, toneelspel, stralende verhooginkleding en verrassende geprojekteerde animasies is dit veral ’n opwindende dans- en bewegingskuns-ekstravaganza – ’n hoogtepunt in Kyla Thorburn se teaterloopbaan.

Dié musiekblyspel neem ons na die New York van die 1930’s. Met sy “dolls” wat die veerpluime laat sidder en beef in “stout” nagklubs, die manne met die snorre, hoedens en versteekte vuurwapens wat wéét hoe om “crap” te speel en die dobbelstene (soms sonder kolle) reg te laat val, maar ook die broers en susters van die Save-a-Soul Mission wat so toegewyd musiek maak en onstuitbaar marsjeer deur die strate. En kyk daar … daai blinde bedelaar … kyk net wat maak hy dan! En kyk hoe gooi die ander knaap varkoor as die twee dames kla oor hulle ontroue “geliefdes”. Hy weet nog nie wat hulle met hóm gaan doen nie. Wag tot hulle “Marry the man today” begin sing!

Resensente is na die twee opeenvolgende openingsaande genooi sodat ons die twee rolbesettings kon ervaar. Dit bly fassinerend hoe geen twee teateraande dodelik presies dieselfde verloop nie. Jy as gehoorlid beleef dit verskillend, want jou gemoedstoestand is dalk anders; jy sien, hoor, onthou, neem meer in van die inhoud, want die eerste aand se verrassing is vanaand bekend, maar steeds sterk indrukwekkend (of nie) en jy kan ook aan iets anders in daardie toneel aandag gee.

’n Paar voorbeelde. Aand 1: Daardie twee nonne in die orkes; anders as die twee bejaarderige manne probeer hulle darem te hard met oordrewenhede om snaaks te wees. Aand 2: Aha! Daar’s ’n rede voor. Want telkens kom die ou span moeg en voetseer terug in hul tuiste. Ek dink dis met hulle laaste binnekoms dat juis die twee susters in swart werklikwaar op die randjie van ineenstorting is. Eg teatermatig is kontras geskep om die gehoor te vermaak.

Op aand 1 het Andrew Weiss Nathan Detroit vertolk en op aand 2 Wesley Figaji. Nathan is ’n aartsdobbelaar. Hy moet sorg dat die onwettige plesierigheid konstant van lokale verander, sodat luitenant Brannigan (Clifford Graham) nie alte maklik sy gewig by hulle kan kom rondgooi en hulle dan lieflik moet lieg nie. Nathan is nou reeds veertien jaar verloof aan die kabaretster Miss Adelaide (Laura Bosman) sonder dat hy dit eintlik weet. Weiss se vertolking sluit aan by dié van ’n speler in een van die vele Broadway-aanbiedings. ’n Resensent het daardie Nathan beskryf as “good old reliable Nathan, sweet and slightly sad”. Laura Bosman kan hom dan uitstekend oorheers in die humoristiese “Sue me”. Wesley Figaji se Nathan is ’n skraal mannetjie wat uiters energiek tekere gaan, wat hom uit alle moeilikheid kan práát en skreeu. In die snaakse toneel waarin Miss Adelaide saam met Sarah Brown (Jennifer Moss) fantaseer oor hoe hulle die twee mans gaan hervorm tot voorbeeldige gedienstigheid en lieftalligheid, het dit vir my geklink asof Bosman haar woorde aangepas het by Figaji se voorkoms en speelstyl. Figaji se vertolking dra sterk daartoe by dat die hele aanbieding deurgaans ’n kragtige tempo en voortstuwing het. (Op aand 1 het dit stadiger opgebou tot die groot oorrompeling wat ná die pouse gekom het.) Met Weiss se vertolking het ’n mens meer sáám met Nathan gevoel. Albei benaderings oortuig egter tog.

Sarah Brown word vertolk deur Sian Atterbury en Jennifer Moss. Albei lyk nogal oud onder daardie sendingkappie, maar dan ontpop hulle in die nagklub in Havana met die lekker drankie, en is Sarah lieflik vieruur in die oggend saam met Sky Masterson op straat. Sarah is ook deel van ’n ontroerende toneel wanneer die uitstekende akteur en sanger Dennis Benneyworth as Arvide Abernathy vir haar raad gee oor die liefde (“More I cannot wish you”).

Fiona Carling het baie statuur as generaal Matilda B Cartwright; dis ’n genot om haar gesigspel dop te hou, hoe sy ’n goeie sondaar kan waardeer. Ligia de Andrade as Agatha raak ook skoon ingedagte as sy ’n jongman betrag. Graham Ellis se Big Jule is inderdaad ’n groot ou; dis net dat my Afrikaanse oor nie elke woord mooi kan uitmaak nie. Graham Boxall (ook Keenan Oliphant se rol) sorg vir ’n hoogtepunttoneel as Nicely-Nicely Johnson. Hy sweep die “dosyn sondaars” en die godsdienstiges op om saam te jubel en te juig, om golwe maak en op te spring met “Sit down, you’re rocking the boat”. Hy doen sy sondebelydenis as ’n droom waarvan hy met aksies vertel. Tussen hom en Matthew de Klerk as Benny Southstreet is daar knap komiese samespel.

Sky Masterson ... Die voortreflike Werner Viln is ’n belewenis as die dobbelmeester, as die “sondaar” wat die Bybel goed ken, wat weet hoe die edele siele én sy kornuite se koppe werk. Hy kan reguit wees met hulle en sy sin kry. Die lyf is die ene viriliteit. Hy’s verantwoordelik vir die bekende “Luck be a Lady”.

Hy en Sarah se vliegtuigrit na Kuba word sterk dramaties uitgebeeld met sketse op groot doeke en met animasie. Saam met die talle ander beligtingseffekte en besonder helder dekorstelle het dit my laat wonder oor die een ding in die produksie wat my pla. Met die toneelwisselings het ons wel die orkes om na te luister, maar terselfdertyd staar ons soms langerig na donkertes, asof daar as ‘t ware gapende grotte voor ons is. Kon daar nie nog doeke of gebeure voor die gordyne ingewerk gewees het nie?

Sky het vir Sarah weggeneem na die vermaaklikheid in Havana sodat sy nie weet watse onheiligheid in die sendinggestig gepleeg gaan word nie. En nou volg nog ’n hoogtepunt. Dis die werk van die choreograaf, William Jones. Weer die kleurrykheid in die stel, beligting en kostuums en dan die verskeidenheid danse wat oorgaan tot groot oproerigheid (oortuigend en goed beplan). Dis asof die dansbewegings veral aan die begin kommentaar lewer op die enkele spraakbeurte of dit beklemtoon. As hulle byvoorbeeld vassteek, is dit asof die dansers eers afwagtend luister na die paartjie by die tafel. Ook die erotiek kom deur.

Guys and Dolls is nog ’n triomf vir die Gilbert en Sullivan-vereniging.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top