Dit maak my siek op my maag om te dink dat die kinnes nooit ʼn kans sal staan in die liewe, wan hulle sal nooit die wonder in hulleself sienie. Giste het die Daily Voice 'n berig geplaas oo kinnes wat soes mal goed angan deu grootmense an te val en hulle met paint of Nugget te smee. Ek ken die storie, dit gan soe vê trug as wat ek kan onthou. Ôs het as kinnes daa’in deelgeniem, maa wat die kinnes van vedag doen is op ʼn anne level. Toe ôs nog kind was, het die smeedery gegan oo nice times, en fireworks. Dit het gegan oo sparkles, en klappers skiet.
Is dit dan net genoeg om te sê of te dink dat dis die way kinnes van vedag is, en dit net daa los?
Ek mien maa die geleerdes wat soe angegan het en gesê het dat dit die beste is vi amal dat kinnes nie met die rottang offie belt discipline wôtie, het hulle miskien gedink an wat die nagevolge gan wies? Waa kan djy ʼn kind wat gebore was in geweld ʼn “time-out” gie vi dit wat hulle vekeerd doen? Wanne hulle gelee is om alles met geweld te hanteer? Die skade wat daai kind elke dag mien loep is een van die riedes hoe hulle kô tot by daai punt om die liewe an te pak sonner respek.
Hoekô het skole (ek praat nou nie van die gawement nie) noggie programme in plek gesit om kinnes te help met hulle gestoorde energie, of met hulle gestoorde “anger issues” nie? Ek mien maa is daa nie ʼn way om die kinnes te help wattie wil gehelp wôtie? Wan dis die kinnes wat ek sien in daai video wat die Daily Voice geplaas het. Kinnes wat niks sien in hulleselfie, kinnes wat se ouers miskien alles proebee om hulle te gie wat hulle wil hê, of kinnes wat se ouers nettie warrie oo hulle nie, of ouers wattie kan gie nie. Die skole moet iets kan doen.
Ek gloe stellig daa is ʼn hele paa onnerwysers wat my sieke sal kliphard vloek as ek hulle sulke goed vra of sê. Wan hulle het oogenoeg goed om te doen dan om te warrie oo die kinnes wat deu die cracks val.
Time-outs en detention wêkie – kyk maa die prison system, dit wêkie. En die rottang wêk oekie, wan ek is nog steeds bang om siekere spaces te navigate deu die rotang-en-swiep-posttrauma wat ek mien saam liewe.
ʼn Mens kan nog nooit vorentoe gan as djy nog iewers an ʼn veliede vasklou met ʼn hele paa gebriekte plekke in jou mind of in jou hartie. Wat ek try om te sê is die kinnes van vedag, hulle kan maa niewe vryhede het, maa hull wôtie gelee hoe om die niewe vryheid te navigatie. Daa gan soe baie dinge om hulle an dat hulle self nie kan lee hoe om te reflect oo die goed wat hulle doenie, of die mens wat hulle issie. Besides the fact that they are never taught to think critically about themselves or the world, wôd dit van hulle vewag om te wiet wat om te doen om ʼn bieter en giestelik gesonde mens te wies vi ôs society.
Die accountability om agte kinnes te kyk lê by elke een van ôs. Die ve’antwoordelikheid is ôs sinne om ôs toekoms te beskerm deu ôs kinnes te beskerm, om vi hulle die pad te wys.
Daa is ʼn gesegde of ʼn quote wat van êrens af kô, maa ek wietie van waa affie, maa dis common: “You can’t save everyone,” lies dit. Hoeveel kee het ek daai woore sien kruip oo die lippe van onnewysers, of mense wat mettie jeug wêk. Ek myself het dit al gesê, maa ek wietie of ek dit rêrig gloe nie, wan time and again hoo ʼn mens van ʼn straal hoep, en dit wys vi my dat met ʼn klein bietjie meer effort van ôs se kant af, just maybe sal annes oek daai kans kry om hulle lig te skyn.
Dankie vi jou onnersteuning, mooi bly.