Gustav Schoeman Preller (1875–1943)

  • 0

Gebore en getoë

Gustav Schoeman Preller is op 4 Oktober 1875 in Pretoria gebore. In 1875 was dit die plaas Klein Schoemansdal ten noorde van Boomstraat tot aan die Apiesrivier. Dit het behoort aan sy oupa van moederskant, generaal Stephanus Schoeman. Hy was die oudste van sewe kinders.

Nie lank na die geboorte van Gustav nie het sy vader, kommandant Robert Preller, vanaf Hammanskraal saam met sy broer na die plaas Paardekop in die distrik Standerton getrek. Enkele jare daarna is hy na Rietspruit. Daar het hy gou bekend geword as een van die belangrikste telers van volbloedperde en rasegte merinoskape in die destydse Transvaal.

Die jong Gustav is eers op twaalfjarige ouderdom skool toe en het baie teen sy sin na die skool op Standerton gegaan. Hy het sy bes gedoen om gedurende die eerste twee skoolvakansies sy streng vader in te lig oor die nadele van skoolgaan, maar dit het niks gehelp nie. Skool toe moes hy gaan.

Drie jaar later was die uitkoms vir Gustav Preller daar toe hy óf Stellenbosch toe moes gaan, óf uit die skool. Sy vader was nie ’n voorstander van die "Stellenbosse gees" van daardie jare nie en Gustav is uit die skool uit.

Hy het in ’n winkel by die firma Paddon en Brock op Standerton begin werk. Vir ongeveer ’n jaar het hy daar wol geweeg en gekoop – die helfte teen die waarde en die ander helfte (soos hy dit self later vertel het) "op die rekening af".

Verdere studie en werk

Ná ’n jaar is Preller met ’n verhoging na die winkel van JD Bosscher en Kie in Kerkstraat in Pretoria regoor die handelshuis van TW Beckett. Hier het hy ook nie lank gewerk nie. Hy is op sy vader se aandrang na die prokureursfirma James Berrangé in Aasvoëlstraat, waar hy ingeskryf het as prokureursklerk teen ’n salaris van £2-10 per maand.

Hy moes dus weer begin studeer, maar ná enkele jare het sy lewe ’n hele ander wending geneem toe hy aangestel is in die Departement van Mynwese, waar hy die pos van eerste klerk bereik het met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899.

W van Heerden het in Die Vaderland (21 Februarie 1936) geskryf dat ’n huisvriend met dieselfde naam as vyfde klerk in die Departement van Mynwese aangestel is. Hy het egter ’n ander werk wat hom meer geval het, gekry. Hy het dus sy werk as vyfde klerk summier aan Preller "oorgemaak": "Gaan jy nou maar môre na die hoofkantoor van Mynwese, en sê aan die verantwoordelike klerk, Stiemens is sy naam, dat jy die aangestelde is."

Hy is intussen getroud met Johanna Christine Pretorius, tweede dogter van luitenant-kolonel Henning Pretorius, hoof van die destydse Transvaalse Staatsartillerie, en ’n direkte afstammeling van Piet Retief. Drie seuns, Karel, Robert (Bob) en Gustav, is uit die huwelik gebore. Karel is in die 1950's oorlede en Bob en Gustav is albei gedurende April 1979 oorlede. Een van Preller se agterkleinseuns is die bekende radio-omroeper Gareth Cliff.

Gedurende die eerste paar maande van die Anglo-Boereoorlog was Preller, as verantwoordelike amptenaar van die Departement van Mynwese met die ontginning van sekere myne, die enigste amptenaar wat gedurende die nag voordat die Engelse Pretoria ingeneem het, vit generaal Smuts gehelp het om die goudstawe van die regering na veiligheid te neem – dieselfde goud waarmee later die beroemde "veldponde" geslaan is. Dus kon hy by meer as een geleentheid die mite van die "Krugermiljoene" weerlê.

Nadat hy bogenoemde taak (sy laaste as amptenaar) afgehandel het, is Preller na die oorlogsfront as lid van die Staatsartillerie. Hy was ook oorlogskorrespondent vir De Volksstem en De Zoutpansberg Wachter.

Nadat die Boere verplig was om terug te val, het Preller hoofsaaklik op die Hoëveld gebly totdat hy op 10 Januarie 1902 op die plaas Nooitgedacht krygsgevange geneem is en na Indië gestuur is.

Tydens hierdie oorlog het Preller ’n dagboek gehou van sy persoonlike deelname aan die oorlog. Hoe hy die oorlog beleef het en die invloed wat die oorlog op hom gehad het, word ook in die dagboek uitgebeeld.

Preller was geweldig geskok oor die uitslag van die vredesonderhandelinge by Vereeniging. Hy het in sy dagboek oor sy gevoelens geskryf: "Die hoof duisel. Die hart draai om in ons binneste – ons geloof versaak ons – ons verstand is verbyster en dreig om ons te verlaat. Ons dwaal doelloos waansinnig rond in die veld en byna het ons so laag geval deur die hand aan eie lewe te slaan. Is dit waarvoor ons twee lang bloedige jare voor gely en gestry het? Is dit die einde, die bittere gallige einde waarvoor duisende van ons vandag onder drie voet grond lê? Waarvoor ons dierbares by die duisende gesterf het in die vyand se peskampe; waarvoor duisende onskuldige, hulpelose kinders vermoor is, en oues van dae ook die lewe gelaat het?" (PJ du Plessis: Die oorlogsdagboek van Gustav Preller. Die Taalgenoot, Oktober 1999)

Du Plessis het verder geskryf dat Preller, ná die Vrede van Vereeniging geteken is, in ’n gewetenstryd gewikkel was of hy die eed van getrouheid aan die Britse kroon moes aflê. Hy het uiteindelik tot die insig gekom dat of hy dit teken al dan nie, die vredesooreenkoms nie sou verander nie en dat hy meer kon uitrig terug in Suid-Afrika, en daarvoor sou hy moes teken. Op 21 Julie 1902 het hy die eed van getrouheid afgelê.

Volgens Du Plessis het Preller die oorlog as ’n "harde leerskool" ervaar. Hy het gevoel dat hy die wapen móés opneem. Tydens die beproewinge en gevare van die oorlog het hy moedig gebly en het sy liefde vir sy vaderland en sy mense steeds hoog in hom gebrand.

Met sy terugkeer na Suid-Afrika is Preller na Johannesburg om weer sy betrekking in die Departement van Mynwese te beklee, maar die nuwe hoof het hom meegedeel dat as hy ses maande voor die einde van die oorlog dieselfde versoek gerig het, daar dalk ’n kans sou gewees het, maar toe, ongelukkig nie.

Preller het hom hierdie gebeure baie sterk aangetrek en in September 1902 was hy oorgehaal om saam met ds Louis Vorster na Argentinië te verhuis. Eugène Marais het egter op 20 September 1902 die koerant Land en Volk laat herleef en het Preller genader om die redakteurskap op sy skouers te neem. Preller het die aanbod aanvaar en dit was die begin van sy beroep as veelsydige joernalis. In 1903, met die samesmelting van Land en Volk met De Volksstem was Preller in die redaksie. Hy het later assistentredakteur geword en ook redakteur. Hy het in 1925 om politieke redes bedank en is toe aangestel as redakteur van Ons Vaderland (in die plek van Harm Oost), wat later Die Vaderland geword het, tot 1936 toe hy afgetree het.

Preller se opvolger by Die Vaderland het as volg geskryf oor Preller en sy joernalistieke werk: "As Preller skryf, dan bruis dit in sy siel op en vloei dit deur sy pen sonder dat hy dit kon keer. Dit stort in vloed uit ’n gees wat onmeetlik ruim vat en breed vorm, en geen oortuiging kan en wil binnehou nie. Sy pen is verruklike balsem vir dié wat dit streel en verpletterende verguising vir dié teen wie dit gerig is ...

"So was hy in die joernalistiek altyd eerlik met gevoel en verstand, sonder doekies omdraai, sonder kunsmatige weerhouding, sonder aansiens des persoons. Dit het nog meer eerbied vir sy magtige pen besorg, maar hierin was ook in enige mate sy ongeluk verberg. Hy het van vriende bittere vyande gemaak, van vyande tydelike aanbidders ... In die joernalistiek was hy nooit die masjinale instrument wat net die noot fluit wat gedruk word nie. Hy was die skerpskutter van die volk op trek. Al wat in die pad gestaan het, die weg tot groei en ontwikkeling van sy volk versper het, het hy neergeskiet." (PJ Nienaber: Ons skrywers. Volksbylaag van Unie-Volkspers, 13 Augustus 1949)

Gustav Preller het hom gedurende die jare na die Anglo-Boereoorlog op ’n vurige wyse beywer vir die erkenning van Afrikaans, en sy reeks koerantartikels onder die opskrif Laat ’t ons toch ernst wezen! en Een voorstel ter handhaving en veredeling van het Afrikaans als schrijftaal kan met reg beskou word as die manifes van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging.

Ook het Preller in die jare direk na die oorlog onder die skuilname Stoffel en Vastrap ’n klompie gedigte geskryf wat in De Volksstem verskyn het. Hierdie gediggies was volgens JC Kannemeyer (Die Burger, 3 Oktober 1975) beter as die rympies en ander maaksels van daardie tyd. Hy het ook gedurende daardie tyd "The searchlight", ’n gedig van Joubert Reitz, vertaal. Hy het ook met sy poging om in 1906 Shakespeare se "To be or not to be" te vertaal die eerste proewe van ’n vertaling van Shakespeare in Afrikaans daargestel.

Hy was ook een van die stigterslede van die Afrikaanse Taalgenootskap in 1905 in Pretoria en was verantwoordelik vir die daarstelling van ’n Afrikaans-Hollandse toneelvereniging wat tot buite Pretoria stukke opgevoer het. Hy het ook self toneelstukke in Afrikaans verwerk, soos Erasmus s’n erfgename en Piet s’n tante.

Gustav Preller sal onthou word as die persoon wat ’n belangrike rol in die vestiging van literêre kritiek in Afrikaans gespeel het. Nienaber was van mening dat hy die eerste persoon aan die woord was met ’n begrip van en insig in sake en ’n "eerlikheid van oortuiging, so groot dat hy nie uit Chauvinistiese of vriendskapsoortuigings teruggedeins het om sy weloorwoë mening ferm uit te spreek nie".

Preller was volgens Kannemeyer die eerste persoon wat sterk kritiek uitgespreek het teenoor Afrikaanse publikasies en wat, "onder invloed van die Tagtigers, sy kunswerk met suiwer estetiese maatstawwe wil meet en veral die belangrikheid van die woord beklemtoon. Daarom kon hy Melt Brink en JHH de Waal se werk negatief beoordeel, terwyl hy reeds die belangrikheid van Celliers en Marais binne die konteks van die Afrikaanse letterkunde kon insien.

"In sy beskouinge maak hy hom los van persoonlike voor- en afkeure en probeer hy hom uitsluitlik op die teks rig, alhoewel kultuurhistoriese oorwegings en natuurgetrouheid ook as maatstawwe by hom meespeel.

"Met sy beskouinge en die eise wat hy stel, lê hy '’n toekomstige program van aksie vir ons kunstenaars' (DJ Opperman) vas. Dit geld in die besonder vir sy kritiek op De Waal se Johannes van Wyk waarin hy met sy pleidooi vir 'gawe, ronde, hele woorde' wat die kunstenaar moet 'navoel, en wik en weeg', die rigting aandui vir die tipe gestileerde prosa van DF Malherbe en andere, iets wat ongelukkig in die praktyk in ’n soort sierskrywery ontaard het.

"Tog is Preller die eerste Afrikaanse prosaskrywer wat op literêre modelle (Van Deysel) gesteun en bewustelik kunsprosa beoefen het." (JC Kannemeyer, Die Burger, 3 Oktober 1975)

Preller het ook as historikus sy merk gelaat en hy beklee ’n unieke plek in die Afrikaanse historiografie. Vir Nienaber verhoog die feit dat hy ’n fyn stilis was, sy waarde as historikus. "Hy het die Afrikaanse taal gehanteer op ’n wyse wat min skrywers hom kon nadoen. ’n Eie seggingswyse en pittige uitdrukkings het groot bekoring aan sy werke verleen. Preller was inderdaad die eerste Afrikaanse historikus."

Hy het hom as historikus veral toegespits op twee tydperke in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, naamlik die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog.

JC Kannemeyer het in Die Burger (3 Oktober 1975) geskryf dat Preller ook in sy geskiedkundige werke ’n bepaalde styl beoefen het en dat die leser heel dikwels getref word deur sy "helder betoog" en sy "beeldende vermoë", al pla sy maniërismes soms, asook die feit dat hy baie gebruik maak van uitheemse woorde.

Preller het in 1905 begin met sy biografie oor Piet Retief deur ’n reeks artikels oor die Voortrekkerleier vir De Volksstem te skryf. Dit is in 1906 gepubliseer en het heelparty herdrukke ondergaan. Saam met Johannes van Wyk van JHH de Waal kan Piet Retief gesien word as die eerste prosawerk van die Tweede Afrikaanse Beweging, sê Kannemeyer.

Vir Kannemeyer is die biografie van Piet Retief nie net ’n biografie nie, maar het dit ook ’n beeld geskep van ’n bepaalde tydvak en het Preller ook probeer om insig te kry in die betekenis van die Groot Trek vir die Afrikaner. Preller het ook gepoog om te besef hoe die geskiedenis van één mens, asook dié van ’n bepaalde tydperk, vir die Afrikaner in die vroeë 1900's van waarde kon wees.

Kannemeyer het voortgegaan: "Daarom word die massa feite tot ’n duidelike beeld van ’n stuk verlede opgebou, en probeer hy telkens om met behulp van die skilderende woord beskrywings te gee van die dramatiese hoogtepunte in Retief se lewe (...)

"Hoewel die werk grootliks ’n bronneversameling geword het, Retief se bydrae onkrities beoordeel en ander leiers soos Potgieter, Uys en Maritz te veel verwaarloos of in ’n skewe lig gestel is, het Preller hiermee vir die Afrikaner bewys dat hy ’n geskiedenis het, net soos die eerste verse van Marais, Celliers en Totius mense kon oortuig dat Afrikaans as medium nie minderwaardig hoef te wees nie."

Verdere waardevolle bydraes van Preller op historiografiese gebied is sy uitgawes van dagboeke, gedenkskrifte en dokumente oor die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog. In 1917 is die dagboek van Louis Trichardt gepubliseer. Ook van groot waarde is sy ses bundels getiteld Voortrekkermense waarin onder andere briewe van die Trekkers, Erasmus Smit se dagboek, die Gedenkschrijft van Anna Steenkamp en herinneringe van FP van Gass en JH Hattingh opgeneem is.

Kannemeyer het in Beeld van 4 Oktober 1975 geskryf dat hierdie stukke die leser help om, soos Preller dit self stel, "die Voortrekkers te leer ken soos hulle hulleself gesien het, op die trek, in die laer, op die jag en in die huislike kring, aan hul arbeid, hul godsdiens en vermake, in hul gewoontes en in die kleredrag van hul tyd.

"Hoewel Preller dus nie in die eerste plaas skeppende skrywer was nie, lewer hy tog met sy historiografiese arbeid ’n bydrae tot die bellettrie, terwyl hy met enkele sketse uit Ons parool en Oorlogsoormag in [sic] sy eie reg ’n prosakrywer van formaat is. Met sy werk as geskiedkundige lei hy die tradisie van wetenskaplike navorsing op die gebied in en stel hy heelparty bronne vry waarop latere navorsers kon voortbou." (Kannemeyer in Beeld)

Benewens die biografie van Retief het Preller in 1937 ’n biografie oor nog ’n Voortrekkerleier die lig laat sien, naamlik Andries Pretorius. In Volksblad van 19 Februarie 1938 het ID Bosman vir Preller gelukgewens met hierdie werk. Bosman het Preller ’n "meester in die geskiedenis van die Groot Trek" genoem wat ons "dank verdien vir die waardevolle bydrae tot ons historiese literatuur. Hy het vir Andries Pretorius ’n monument opgerig, en Suid-Afrika in die herdinkingstyd (rondom 1938) ’n groot diens bewys."

Gustav Preller is in 1931 vereer toe die Universiteit Stellenbosch ’n eredoktorsgraad aan hom toegeken het as erkenning vir sy groot diens wat hy as geskiedskrywer gelewer het, wat in ’n mate nogal ironies was as dit beskou word in die lig van sy vader se destydse besware teen die Stellenbossers.

Ander eerbewyse wat Preller te beurt geval het, is die benoeming tot lid van die Historisch Genootschap van Utrecht, asook van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde te Leiden. Ná sy dood het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1970 ’n literatuurwetenskaplike prys vir Afrikaans daargestel, die Gustav Preller-prys, wat elke drie jaar toegeken word om uitsonderlike werk op die gebied van die literatuurwetenskap en letterkundige kritiek in Afrikaans te erken.

Preller se woonhuis op Pelindaba is in 1973 gerestoureer en is tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Preller het aanvanklik ’n rondawel op die plaas gebou waarheen hy naweke kon ontvlug. In 1934 het hy die huis gebou wat sy familie se permanente woonplek geword het. Die rondawel was later die woonplek van Eugène N Marais.

Preller is op 6 Oktober 1943 op sy plaas Pelindaba naby die Hartbeespoortdam oorlede en in die familiekerkhof op die plaas begrawe. ’n Gedenkplaat op sy graf is in 1947 onthul.

Huldeblyke

  • Die Huisgenoot (onder redaksie van JMH Viljoen): "Dit is altyd gewaagd om die oordeel van die geskiedenis in verband met ’n mens se tydgenote vooruit te loop. Nogtans meen ons dat daar geen twyfel bestaan oor die groot betekenis wat die nageslag sal heg aan die invloed wat Gustav Preller op drieërlei gebied op die Afrikaanse samelewing van sy tyd uitgeoefen het nie – as taalpropagandis, as historikus en as joernalis." (22 Oktober 1943)
  • Harm Oost: "Gustav Preller staan sterk in my herinnering as die begaafde, geesdriftige vertolker van ’n verknegte volk se vaste wil om nie onder te gaan in die nag van nederlaag wat op die traktaat van Vereeniging gevolg het nie. Hy was ’n getroue draer van en ’n onvermoeibare vegter vir daardie volkswil om voort te leef in weerwil van wat offisieel as volksondergang bestempel was. Die stryd het hom gemaak tot ’n literator, digter-in-prosa, ’n historikus." (Die Huisgenoot, 22 Oktober 1943)
  • JMH Viljoen: "As indiwiduele joernalis was hy ongetwyfeld een van die begaafdstes wat Suid-Afrika opgelewer het, en tog het hy nie as redakteur in die moderne sin veel sukses gehad nie. Daarvoor was hy te veel indiwidualis, terwyl hy ook nie die organisasietalent besit het wat ’n vereiste is om van ’n koerant ’n sukses te maak nie. Wat die tegniese sy betref, het hy ook te veel vasgehou aan verouderde metodes en begrippe. Maar bloot as skrywer en as geniale mens sal sy naam altyd met eer genoem word in die annale van die Vierde Stand in Suid-Afrika." (Die Huisgenoot, 22 Oktober 1943)
  • Floors van Jaarsveld: "Vir Preller het alles net om een saak gewentel, naamlik die voortbestaan van Volk en Vaderland. Sy idee kom te beste uit in sy boek Piet Retief. In Retief sien Preller die stigter van ’n selfstandige 'Afrikaans-Hollandse nasie'. Vir Preller het dit nie in sy geskiedskrywing om die wetenskap ter wille van die wetenskap gegaan nie, maar om geskiedenis in die diens van die lewe. Omdat die nood van sy tyd sy bors beklem het en hy die las van die Britse oorheersing van hom wou afwerp, het hy die behoefte gevoel aan ’n kritiese, beregtende en veroordelende geskiedenis-aanbieding wat met die teenstander kon afreken." (Tydens die Marais/Preller-simposium in Pretoria in Junie 1989. Die Transvaler, 12 Junie 1989)

Behalwe Eerstelinge, wat in 1961 gepubliseer is en ’n versameling van nege kritiese besprekings van werke van sy tyd is, verskyn daar in 1963 ’n boekie by Afrikaanse Persboekhandel getiteld Lobengula: the tragedy of a Matabele king. Die manuskrip van hierdie boek is in 1962 onder die stukke van die uitgewers gevind sonder dat enigiemand daarvan geweet het. Preller het in die voorwoord in Junie 1937 vertel dat hy dit op aandrang van sy Engelse vriende geskryf het. Hulle het hom gevra om een van sy boeke in Engels te vertaal sodat hulle dit ook kon lees, maar sy antwoord was: "I think the joy of authorship is lost when one has to be translated in order to be understood." Toe het hy maar die boek in Engels geskryf. (Vaderland, 17 Julie 1964)

FJ du Toit Spies het in Die Vaderland vertel dat daar ook korrespondensie by die manuskrip was wat aangedui het dat ’n Engelse uitgewer dit aanvanklik geweier het totdat dit hersien is en dat sekere van die uitlatings gematig moes word. Preller het daarna die werk aan ene eerwaarde Paterson gegee en hy het gemeen dat die Engels baie goed is en dat daar niks in die teks was waarteen beswaar ingebring kon word nie. Maar Preller het nie lank daarna nie siek geword en daar is nie weer probeer om ’n uitgewer te vind nie.

Oor Eerstelinge het WEG Louw in Die Burger van 30 Junie 1961 geskryf dat hierdie boekie die leser help om Preller beter te leer ken in die rol van ’n "gevoelige en strydvaardige literêre kritikus". Wat vir Louw met die lees van hierdie nege stukke geïnteresseer het, is die "lewendige intelligensie, die strydvaardigheid en beredeneerde betoog" wat in al die stukke te sien is.

Louw het afgesluit: "Dis ’n boekie dié wat iedereen wat van ’n persoonlike mening, ’n eie manier van dinge sê en ’n soort taal, koppige handhawing van standaarde hou, met genot en vreugde sal lees. Solank daar Prellers in Afrikaans werksaam is, sal die meul aanhou met maal!"

Tydens die simposium wat in 1989 gehou is, het Tom Gouws ’n sterk parallel getrek tussen Preller se Ons parool: dae uit die dagboek van ’n krygsgevangene en Breyten Breytenbach se The true confessions of an albino terrorist. Gouws het die mening uitgespreek dat hierdie twee werke wemel van "ongelooflike ooreenkomste". Hy het voortgegaan: "En al lyk dit op die oog af elementêr, is dit in die geslote sel van bestaan lewensbelangrik. (...) Preller en Breytenbach is albei miteskeppers en hul verbintenis tot die skryfdaad is ’n verdere gemeenskaplikheid tussen hulle. Vir Breytenbach is skryf letterlik en figuurlik ’n wyse van oorlewing, terwyl Preller se bydrae as joernalis, as geskiedskrywer, as skrywer van literêre geskrifte, en sy betrokkenheid by die taalstryd tot gevolg gehad het dat dié bydrae as ’n bydrae tot die wedergeboorte van die Afrikaanse taal beskou kan word."

Publikasies

Publikasie

Onze krygsofficieren (saam met FV Engelenburg)

Publikasiedatum

1904

ISBN

 

Uitgewer

 

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Paul Kruger's afkomst (saam met FV Engelenburg)

Publikasiedatum

1904

ISBN

 

Uitgewer

 

Literêre vorm

Biografies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

 Laat ’t ons toch ernst wezen! Gedachten over de aanvaarding ener Afrikaanse schryftaal

Publikasiedatum

1905

ISBN

 

Uitgewer

 

Literêre vorm

Taalkunde

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Piet Retief: lewensgeskiedenis van die grote Voortrekker

Publikasiedatum

  • 1906
  • 1908
  • 1912
  • 1917
  • 1920
  • 1930
  • 1988

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Volksstem-drukkerij
  • Pretoria: Van Schaik
  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Melville: Scripta Africana

Literêre vorm

Biografies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Agt jaar s'n politiek: geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Nasionale Party 1902–1910

Publikasiedatum

1910

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Volksstem-drukkerij

Literêre vorm

Politieke geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Baanbrekers: ’n hoofstuk uit die voorgeskiedenis van Transvaal

Publikasiedatum

1915

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: De Volksstem-drukkerij

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Kaptein Hindon: oorlogsavonture van ’n baasverkenner

Publikasiedatum

  • 1916
  • 1921
  • 1942

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Pretoria: Van Schaik
  • Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Biografiese geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Dagboek van Louis Trichardt 1836–1838

Publikasiedatum

  • 1917
  • 1938
  • 1988

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Bloemfontein: Het Volksblad
  • Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Biografies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Voortrekkermense. Deel 1 tot 6: dokumente oor die geskiedenis van die Voortrek

Publikasiedatum

  • 1918–1938
  • 1988

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Melville: Scripta Africana

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Twee geskiedkundige opstelle (saam met CJ Langenhoven)

Publikasiedatum

1919

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: De Nationale Pers Beperkt

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Oorlogsoormag en ander sketse en verhale

Publikasiedatum

  • 1923
  • 1925
  • 1931
  • 1958
  • 1960

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die Retief-Dingaan-ooreenkoms. Inleiding: die geskiedenis van die strydvraag (saam met GE Corey en W Blommaert)

Publikasiedatum

1924

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Voortrekkerwetgewing: notule van die Natalse Volksraad 1839–1845

Publikasiedatum

  • 1924
  • 1988

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Melville: Scripta Africana

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Historiese opstelle

Publikasiedatum

1925

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Hoe ons aan Dingaansdag kom: Jan Bantjes se dagverhaal van die Winkommando

Publikasiedatum

1928

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Sketse en opstelle

Publikasiedatum

1928

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die Grobler moord. Deel I en II: historiese rekonstruksie van die opkoms en ondergang en die Matabele-dinastie, Boere-Engelse-kontak met die Matabele en die verowering van Matabeleland, met sy gevolge

Publikasiedatum

1930

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Noordelike Drukpers

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Op die wal van die Mahalakwêna

Publikasiedatum

1930

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Argonauts of the Rand: story of the discovery of the Main reef, with the Marais-Diary

Publikasiedatum

1935

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Central News Agency

Literêre vorm

Geskiedenis Witwatersrand

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Andries Pretorius: lewensbeskrywing van die Voortrekker Kommandant-Generaal

Publikasiedatum

  • 1937
  • 1940
  • 1988

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Biografies

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Daglemier in Suid-Afrika: oorsig van die geskiedenis van Suid-Afrika, van die vroegste tye tot 1881

Publikasiedatum

1937

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: S Wallachs

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Ook in Engels uitgegee onder die titel Day-dawn in South Africa

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Oud-Pretoria: sakelike verhaal van die stad se Voortrekkerperiode

Publikasiedatum

1938

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Stadsraad en Afrikaanse Kultuurraad

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Ook in Engels beskikbaar

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Geskiedenis van die Kruger-standbeeld

Publikasiedatum

1939

ISBN

(hb)

Uitgewer

Pretoria: Ossewa-Boekpublikasies

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Voortrekkers van Suidwes: geskiedenis van die land en sy volke met hul oorloë; van die Dorslandtrek; die Smit-trek uit Piketberg en die Duitse en Britse veroweringe

Publikasiedatum

  • 1941
  • 1988

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Melville: Scripta Africana

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Talana: die drie Generaalsslag by Dundee, met lewenskets van Genl Daniel Erasmus

Publikasiedatum

1942

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Eerstelinge: eerste kritiese beskouinge oor ons eerste kunswerke. Versorg deur DJ Opperman

Publikasiedatum

1961

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Letterkundige kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Lobengula: the tragedy of a Matabele king

Publikasiedatum

1963

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Geskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Gustav S Preller as vertaler

  • Thomas, B: Piet s'n tante: Afrikaanse blijspel in drie bedrijwe. Paarl: Paarl Drukpers; Pretoria: Van Schaik, 1909; 1922; 1924
  • Zola, Emil: Erasmus s'n erfgename: blijspel in drie bedrijwe. Paarl: Paarl Drukpers; Pretoria: Van Schaik, 1914; 1924

Gustav S Preller as redakteur

  •  Ons goud roman: Die Marais-dagboek 1849–1865. Pretoria: S Wallachs, 1935
  •  Scheepers se dagboek en die stryd in Kaapland 1 Oktober 1902 – 18 Januarie 1902. Met inleiding en aantekeninge deur Gustav Preller. Kaapstad: Nasionale Pers, 1938
  •  Die skatkis van die Kinder-Kultuurvereniging. Vol. 1–8. [Johannesburg] Kinder-Kultuurvereniging, [19–]

Artikels oor Gustav S Preller beskikbaar op die internet

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top