"Groenpoetsery": Wanneer "groen praat" en "groen doen" nie by mekaar aansluiting vind nie

  • 1

Prent: Pixabay

"Groenpoetsery" is ’n nuutskepping. "Groenwassery" is anglisisties en die assosiasie met beeldpoetsery word met ’n woord soos "groenpoetsery" opgeroep.

“Greenwashing exploits consumers’ genuine environmental concerns” (Brouwer 2016:245)

  1. Inleiding

Indien ’n maatskappy ’n amptelike beleid in verband met korporatiewe sosiale verantwoordelikheid op ’n weldeurdagte wyse saamstel en implementeer, is dit ’n strategie wat tot voordeel van beide maatskappy en verbruikers strek.

’n Belangrike onderafdeling van korporatiewe sosiale verantwoordelikheid gaan oor die sensitiwiteit teenoor die behoeftes van die natuurlike en/of fisiese omgewing. Indien ’n maatskappy ’n amptelike standpunt handhaaf teenoor omgewingsake en groenprodukte en die standpunt duidelik en wyd gekommunikeer word, kan dit lei tot ’n toename in kostebesparing, verhoging van maatskappyreputasie, verlaging van risiko’s en die verhoging van maatskappy-inkomste.

Dit is die ideale scenario.

Markomgewings is egter inherent kompleks en dinamies, en inkongruente begrippe soos groenwassery (greenwashing) kan die kompleksiteit van die mark verder verhoog. Geen wonder nie, dus, dat baie sakeondernemings deesdae dikwels verkies om groenstiltes (greenhushing) te handhaaf eerder as om ’n groen beleid te propageer. Groenstilte is ’n veiliger opsie. Om onder die radar te vlieg is beter as om aan hewige kritiek blootgestel te word (Ginder, Kwon en Byun 2021).

Die doel van hierdie artikel is om (a) die belangstellende leser kortliks aan die konsep groenwassery bekend te stel, (b) verskillende wyses waarop groenwassery in die praktyk figureer aan te toon, (c) die oorsake van groenwassery te beskou en (d) navorsing oor groenwassery en verbruikersgedrag kortliks te belig.

  1. Terminologie

Die term groenwassery (of groenmakery)¹– in hierdie artikel groenpoetsery genoem – verwys breedweg na misleidende inligting oor aansprake in verband met die impak van “groen” produkte op die omgewing en wat by implikasie (of doelbewus) vrygestel word deur korporatiewe bemarking.

........

Die term groenwassery (of groenmakery)¹– in hierdie artikel groenpoetsery genoem – verwys breedweg na misleidende inligting oor aansprake in verband met die impak van “groen” produkte op die omgewing en wat by implikasie (of doelbewus) vrygestel word deur korporatiewe bemarking.

..........

Die Merriam-Webster-woordeboek verwys na groenwassery as uitsprake of aansprake oor omgewingsaangeleenthede wat as ’n dekmantel dien vir produkte, beleidsdokumente of aktiwiteite. Die Oxford Lexico plaas die klem op die verspreiding van disinformasie deur ʼn organisasie in ʼn poging om ʼn verantwoordelike openbare beeld rakende omgewingsake voor te hou. Die proses kan ook gesien word as ʼn poging om die publiek onder die wanindruk te bring dat ʼn bepaalde maatskappy meer omgewingsvriendelik is as wat dit werklik is (kyk die Cambridge-definisie).

Volgens hierdie enkele algemene woordeboekdefinisies blyk dit duidelik dat groenwassery en groenmakery met wanvoorstellings, halwe waarhede, dubbelsinnighede en doelbewuste vaaghede geassosieer word en gevolglik as ʼn belangrike etiese kwessie binne die konteks van maatskappybestuur figureer.

  1. Groen aartssondes

Die internasionaal bekende Kanadese maatskappy TerraChoice Environmental Marketing het reeds in 2007 met ʼn insiggewende verslag getiteld “The ’six sins of greenwashing’” vorendag gekom. De Freitas-Netto (2020) en sy medewerkers het die TerraChoice-lys na 13 groen aartssondes uitgebrei. Die onderstaande sewe voorbeelde is uit bogenoemde groenstatussondelys geselekteer en illustreer die beginsels wat hier ter sprake is:

  • Die sonde van verborge kompromieë. Oorkoepelende groenaansprake met betrekking tot omgewingsvriendelikheid word in sulke gevalle op slegs een enkele groen attribuut gebaseer. In die geval van papiervervaardiging byvoorbeeld word die klem primêr op die “hersirkuleerbare inhoud” van papier geplaas, sonder behoorlike inagneming van die verborge kompromie wat met die aanvanklike vervaardigingsproses gepaardgaan, soos die vrystelling van skadelike gasse, chloorbleiking, energieverbruik asook ʼn negatiewe uitwerking op waterbronne en woude.
  • Die sonde van ontbrekende bewyse. Alle groen omgewingsaansprake moet ondersteun word deur maklik bekombare inligting en/of deur betroubare derdepartysertifisering onderskryf word. Soms ontbreek spesifieke aspekte van die ondersteunende inligting, en soms ontbreek die inligting in die geheel. Dit ondermyn die geldigheid van sulke groenaansprake.
  • Die sonde van vaaghede. Groenaansprake wat swak gedefinieer word of bloot breedweg omskryf word sonder gedetailleerde spesifikasies, lei maklik tot misverstande onder verbruikers. ʼn Groenaanspraak wat breedweg as “ʼn teenvoeter vir aardverwarming” of as “omgewingsvriendelik” gemotiveer word, val in hierdie kategorie.
  • Die sonde van misleidende (of selfs vals) etikettering. Groenmakery kom voor indien ’n etiket suggereer dat groensertifisering vooraf plaasgevind het, terwyl ’n legitieme groensertifiseringsproses inderwaarheid nooit plaasgevind het nie. ’n Misleidende groenetiket is dus ’n etiket waardeur omgewingsvoordele of -deugde op ’n onregmatige wyse aan ’n produk gekoppel word (Delmas en Gergaud 2021).
  • Die sonde van irrelevansie. ʼn Omgewingsaanspraak kan wel waar wees, maar terselfdertyd onbelangrik of irrelevant vir verbruikers wat omgewingsensitiewe produkte aankoop. ʼn Aanspraak dat ʼn produk chloorfluoorkoolstofvry is, is na regte irrelevant omdat CFK-vrystellings in baie lande amptelik deur wetgewing verbied word. CFK-vry insekdoders en ontsmetmiddels val in hierdie kategorie.
  • Die sonde van die mindere van twee euwels. Dit mag wees dat ʼn bepaalde groenaanspraak wel waar of geldig is binne ʼn spesifieke produkkategorie, maar in werklikheid word die verbruiker se aandag bloot verplaas vanaf die nadelige impak van die groter produksiekategorie in die geheel. Organiese sigarette en/of tabak (wat ’n spesifieke produkkategorie verteenwoordig) kan ʼn betreklik goeie keuse vir die verbruiker wees, maar die publiek behoort eerder in die algemeen op die gevare van rook (wat ʼn groter produksiekategorie verteenwoordig) gewys te word as op die voordele van organiese tabak op sigself.
  • Die sonde van blatante vals aansprake (fibbing). ʼn Omgewingsaanspraak kan blatant vals wees. TerraChoice (2007:4) verwys na die voorbeeld van ʼn skottelgoedwasseepprodusent wat daarop aanspraak maak dat die produk in 100% hergesirkuleerde papier verpak sou wees, terwyl die houer in werklikheid van plastiek vervaardig was. Kimberly-Clark het babadoeke onder ʼn bekende handelsnaam as superpremiumgehalte bemark (Gelles 2015). Die aanspraak was dat die doeke vervaardig sou wees uit natuurlike, organiese materiale en bestanddele wat ʼn sagte beskerming vir pasgeborenes bied. Dié groenaanspraak is egter deur ʼn groep ingeligte verbruikers betwis. Die maatskappy het gevolglik op daardie stadium ʼn dreigende hofsaak in die gesig gestaar.

Aansluitend hierby is die alombekende geval van die motorvoertuigmaatskappy Volkswagen (Gelles 2015). Dié maatskappy het in ’n groot polemiek beland rondom beweerde vals groenaansprake. Dit het gegaan oor die beweerde gasvrystellingvlakke van sekere dieselvoertuie en die wanaanwending van sagteware in hierdie verband. Die onderstaande amptelike verklaring is deur Volkswagen uitgereik nadat die Universiteit van West Virginia met die skandaal na vore gekom het: "Software installed on some of our vehicles permitted deviations in nitrogen oxide emissions (NOx) performance depending on whether the vehicle was running during a regulatory compliance-related test cycle or running outside the test cycle during normal road use” (Arbour 2016:5).

Die Volkswagen-uitlaatgaswessie is ʼn voorbeeld van hoëvlaktegnologie wat met groenwassery verband sou kon hou. Die regsimplikasies wat hieruit voortspruit gaan om onbillike handelspraktyke en/of produkaanspreeklikheid.

Na aanleiding van die Volkswagen-kwessie sou slegs bespiegel kon word oor wat presies die toekomstige rol van kunsmatige intelligensie as ʼn faktor in groenwassery alles kon behels.

  1. Oorsake

Delmas en Burbano (2011), beide verbonde aan die Universiteit van Kalifornië, definieer groenwassery as die snypunt (intersection) tussen swak omgewingsprestasie en positiewe kommunikasie oor omgewingsprestasies. Hiervolgens is spesifieke dryfkragte die onderliggende oorsake van groenwassery. Drie vlakke is van belang: eksterne markkragte, interne dryfkragte binne maatskappyverband, en dryfkragte wat op individuele of persoonlike vlak werksaam is.

  • Eksterne dryfkragte sluit die volgende in: verbruikersvraag, beleggersvraag en mededingingsdruk. Hoe groter die verbruikersvraag, die beleggingsvraag en mededinging, hoe groter is die kanse dat groenwasserywanpraktyke iewers kan kop uitsteek.
  • Dryfkragte op maatskappyvlak verwys na die grootte van ’n maatskappy, die tipe industrie, die winsgewendheid van die maatskappy, die stadium van die maatskappy se lewensduurte, die beskikbare hulpbronne en vaardighede van die personeelkorps, die vergoedingstruktuur, die etiese klimaat asook die effektiwiteit van interne maatskappykommunikasie. Hierdie faktore speel almal op een of ander wyse ’n rol in die ontstaan, bevordering en instandhouding van groenwassery.

Die etiese klimaat van ’n maatskappy kan hier as ’n voorbeeld dien. Binne ’n egoïstiese etiese klimaat word norme nagevolg wat deur die bevrediging van eiebelange ondersteun word, terwyl in ’n beginselgegronde etiese klimaat norme nagevolg word wat deur interne etiekkodes en die respektering van eksterne regsmandate ondersteun word.

  • Individuele of persoonlike dryfkragte. Sielkundige faktore kan ’n deurslaggewende rol speel in die vestiging van ’n bepaalde maatskappybeleid en maatskappyklimaat.

Belangrike besluite wat in isolasie geneem word, staan as  eng besluitneming bekend. By sodanige geïsoleerde besluitneming besef die besluitnemers nie dat besluite wat onmiddellik geneem word, op ’n latere stadium tot groenwassery aanleiding kan gee nie.

’n Bestuurspan kan ook korttermynbesluite oor groenwassery neem sonder inagneming van risiko’s vir die skade aan maatskappyreputasie op lang termyn.

Oordrewe optimisme kan ’n deurslaggewende rol speel in die bevordering van groenwasserypraktyke. Oordrewe optimiste is geneig om die positiewe elemente van ’n saak te oorskat en die negatiewe elemente te onderskat. Indien hierdie model op die besluitnemingsproses toegepas word, kan die positiewe uitkomste van groenwassery oorskat word (byvoorbeeld die verkryging van ’n groen markaandeel of die trek van kapitaalbeleggings deur beleggers wat aktief betrokke is op die gebied van sosiale verantwoordelikheid). Terselfdertyd word die negatiewe uitkomste van groenwassery dikwels onderskat, soos die risiko om as gevolg van groenwassery-gekoppelde wanpraktyke “uitgevang” te word, asook die blootstelling aan moontlike verbruikersligitasie en negatiewe mediablootstelling.

  1. Voorkoming en regulering

Die Suid Afrikaanse Reguleringsraad vir Reklame is ʼn onafhanklike organisasie wat ten doel het om te verseker dat die selfregulerende stelsel vir advertensiewese in openbare belang effektief funksioneer. In Bylae G van die Raad se dokumentasie word die beginsels behandel waarvolgens advertensies opgestel word wat aansprake op die natuurlike omgewing maak.

Alle omgewingsaansprake en -verklarings wat in advertensies opgeneem word, moet akkurate inligting oordra, dit moet betekenisvol vir verbruikers wees en moet op erkende wetenskaplike standaarde en groen beginsels gegrond wees. Advertensies mag nie vae, onvolledige of irrelevante boodskappe in verband met omgewingsaangeleenthede bevat nie. Die privaatsektor mag nie die openbare vertroue skaad deur waninligting te versprei oor die verbetering van hul eie ekologiese standaarde nie.

Alhoewel daar nie spesifiek na korporatiewe groenwassery in die dokument verwys word nie, is bogenoemde beginsels by implikasie direk daarop van toepassing. Dit kan aanvaar word dat die meeste maatskappye wat oor bemarking- en kommunikasieafdelings beskik, deeglik van hierdie voorkomende en regulatoriese omgewingsbeginsels bewus behoort te wees.

Delmas en Burbano (2011) noem verder dat maatskappye daarna behoort te streef om die deursigtigheid van hul omgewingsbetrokkenheid te verhoog. Dit kom op goeie interne maatskappybeleid neer om jaarliks ’n mandaatopenbaring te publiseer met volledige besonderhede oor die organisasie se omgewingsbetrokkenheid en groenprestasies.

Organisasies behoort ook etiese leierskap na te streef, en terselfdertyd is voortdurende opleiding van die personeelkorps oor produkgroenwassery en deursigtige omgewingsaansprake van uiterste belang.

Inligting oor die aard en implikasies van produkgroenwassery behoort op ’n deurlopende en gekoördineerde wyse onder die algemene publiek se aandag gebring te word. Spesifieke voorbeelde en gevallestudies oor produkgroenwassery kan aan die groot klok gehang word (byvoorbeeld deur middel van televisieprogramme, radiogesprekke en digitale platforms). Op dié wyse kan maatskappye wat by groenwassery betrokke is, maar steeds daarmee volhou om positief oor hul omgewingsprestasie te rapporteer, vroegtydig gewaarsku word dat verbruikers goed ingelig is en voortdurend op hoogte van sake gehou word.

Dit is veral aktiviste en omgewingsbewuste groepe wat op hierdie gebied ’n belangrike rol kan speel. Die belangrikheid van monitering en inligtingvoorsiening as ’n teenvoeter vir groenwassery moet nooit onderbeklemtoon word nie.

Jain (2020) wat verbonde is aan die Amerikaanse Ambassade-skool in Nieu-Delhi, Indië stel dit onomwonde dat die meeste organisasies in Indië by een of ander vorm van korporatiewe sosiale verantwoordelikheid betrokke is, maar dat daar besonder min uitgesproke steun te vinde is ten gunste van wetgewing wat korporatiewe sosiale verantwoordelikheid wetlik verpligtend maak. Sosiale aktiviste en omgewingsdrukgroepe, daarenteen, propageer egter sterk dat korporatiewe sosiale verantwoordelikheid binne die staatsbestel verpligtend behoort te wees.

Die teoretiese beginsels of etiese raamwerke wat hier ter sprake is, is die utilitarisme aan die een kant, versus die deontologie aan die anderkant. Hetsy korporatiewe sosiale verantwoordelikheid verpligtend gemaak word (wat deur utilitariste voorgestaan word) of selfregulerend bly (standpunt van die deontoloë), hang van die morele prioriteite van ʼn betrokke land se regering af.

In Suid-Afrika word die beheer en kontrolering van die advertensiewese deur middel van ʼn hibriede stelsel bestuur wat deels selfregulerend en deels staatsgereguleerd is. Die stelsel is ʼn mengsel tussen die gemenereg en wetgewing en die Suid-Afrikaanse Advertensiekode 21, wat deur die genoemde Suid-Afrikaanse Reguleringsraad vir Reklame administreer word (Universiteit van Pretoria, sj).

  1. Enkele navorsingsbevindings

Die resultate en metodologie van enkele studies wat direk met groenwassery en verbruikersgedrag te doen het, word kortliks bespreek.

De Jong, Harkink en Barth (2017) van die Universiteit van Twente, Nederland wys daarop dat navorsing oor die effek van groenwassery op beide makro- en mikromaatskappyvlak uitgevoer word. Eersgenoemde fokus op die invloed wat groenwasserypraktyke uitoefen op die finansiële prestasie van maatskappye. Laasgenoemde handel oor die impak wat groenwassery op verbruikersgedrag het. Wat hierdie artikel betref, word kortliks slegs aan groenwassery en verbruikersgedrag aandag gegee.

Delmas en Gergaud (2021) wys daarop dat die gebruik van eko-etikette in die wynbedryf tot ’n wyd uiteenlopende spektrum reaksies by verbruikers lei. Die doel met die gebruik van eko-etikette is om die groen attribute van produkte onder die aandag van verbruikers te bring. Meer as 463 eko-etiketprogramme bestaan tans wêreldwyd in die wynbedryf. Oormatige gebruik van eko-etikette kan tot inligtingoorlading, verbruikersverwarring en selfs skeptisisme onder verbruikers lei. Indien die effek van teenstrydige boodskappe oor die verwarrende effek van groenwassery met ’n oorlading van inligting gekombineer word, kan die eindproduk presies die teenoorgestelde uitwerking hê as wat die oorspronklike doel van groen-etikettering was.

Brouwer (2016) doen ’n kwalitatiewe studie oor studente se persepsies van groenwassery. Die navorsing word in die pragmatisme begrond; met ander woorde die fokus is op die uitkomste van die studie en nie noodwendig op die oorsake van die verskynsel wat ondersoek word nie. Die fokusgroep het bestaan uit 42 voorgraadse bemarkingstudente tussen die ouderdomme van 19 en 25 jaar aan ’n vooraanstaande Australiese universiteit. Die groep verbruikers was tydens hul leeftyd blootgestel aan ’n gesofistikeerde media- en IT-landskap. Hulle was tegnologies vaardig, op hoogte van globale nuusgebeure en het deurlopende internettoegang gehad.

Drie verskillende advertensies van drie verskillende maatskappye is aan die fokusgroep voorgelê. Die groep moes die betrokke advertensies ontleed in terme van die boodskap wat aan verbruikers oorgedra word, en evalueer in terme van TerraChoice se groen aartssondes.

Ontleding van die resultate dui daarop dat die studente oor die algemeen minder verras was met die aard van die groenwassery as wat verwag is. Hulle was meestal van mening dat groenwassery bloot maar net “nog ’n bemarkingstrategie” is en dat misleidende elemente in die meeste advertensies van die meeste maatskappye aanwesig is. Die response het gewissel van “dit is nie blatante leuens nie, maar kom wel op oordrywing neer” (skelm/onbetroubar – shifty) tot “alle maatskappye maak hierdie soort verdagte groenaansprake.” Die meeste respondente was steeds bereid om die bepaalde produkte te koop wat met groenwassery geassosieer was. Die prys was egter deurslaggewend. Die groenprodukte sou gekoop word slegs indien die prys nie noemenswaardig van die gewone huisproduk (home brand) s’n verskil het nie.

Die groenaankoopintensies van hierdie groep jeugdige Australiese respondente het dus stabiel gebly ten spyte van die blootstelling aan korporatiewe groenwassery. Die logika van korporatiewe groenwassery is op grond van ’n wye spektrum redes gerasionaliseer.

Wang, Walker en Barabanov (2020) doen ’n studie oor die veerkragtigheid van Chinese verbruikers om te bepaal watter rol veerkragtigheid speel in herwinning van verbruikersvertroue na blootstelling aan groenwassery. Verskillende maniere waarop groenwassery in die alledaagse praktyk gepresenteer het, is ondersoek. Die vorme van groenwassery sluit in blatante misleiding, doelbewuste toesmeerdery, dubbele standaarde, lippetaal, beleidinmenging, asook “bewerkstelliging van ’n vals front in die Ooste en val terselfdertyd aan in die Weste”.

Die resultate toon dat die verbruikers met lojaliteit teenoor ’n bepaalde groenproduk of handelsmerk oortuig daarvan is dat spesifieke redes bestaan vir die groenwasserymistappe deur ’n betrokke maatskappy. Die opvatting bestaan ook dat die foute reggestel sal word, en op grond van die verbruikers se veerkragtigheid word vertroue gevolglik in die handelsmerk behou.

Benewens die rol van veerkragtigheid kan die resultate ook interpreteer word in terme van weerstand teen verandering. Dit is ’n betreklik makliker uitweg vir die verbruiker om die status quo te handhaaf wat produkkeuse betref, omdat die sprong na ’n nuwe handelsmerk met onsekerheid en onbekendheid gepaardgaan.

Volgens die enkele studies hier bo blyk dit dat die herstel van verbruikersvertroue na blootstelling aan groenwassery bepaal word deur die optrede van die maatskappy sowel as deur die verbruiker se bereidwilligheid om die misstap(pe) deur die organisasie te aanvaar. Die veerkragtigheidsteorie verklaar hierdie bevindings gedeeltelik en is ’n belangrike raamwerk waardeur verbruikersgedrag en groenwassery beter verstaan kan word.

Volgens die attribusieteorie (De Jong ea 2017) is die aanname dat die verbruiker van oortuiging is dat ’n organisasie wat van groenwassery beskuldig word, se bedoeling was om op ’n omgewingsvriendelike wyse op te tree, en gevolglik word verskillende “aanvaarbare” motiewe deur die verbruiker aan die maatskappy se optrede toegeskryf.

Iets wat verder ondersoek behoort te word, is watter rol waardeoordele, integriteit en etiese beginsels in verbruikersgedrag speel indien verbruikers met moreel-etiese kwessies soos groenwassery gekonfronteer word.

Ten slotte: Walker en Fang (2012) bevind in hul studie wat meer as 100 toppresterende Kanadese firmas insluit, dat groenwassery (waarna hulle as ’n diskrepansie tussen “groen praat” en “groen doen” verwys) beslis ’n negatiewe effek op korporatiewe finansiële prestasie uitoefen.

Studies soos dié waarna hier bo verwys is met die fokus op finansiële implikasies van groenwassery, asook navorsing oor verbruikersgedrag en groenwassery in die algemeen, behoort in Suid-Afrika gedupliseer te word.

  1. Gevolgtrekkings

Groenwassery is ’n verskynsel wat op verskillende maniere in die praktyk na vore kom, en word geaksentueer wanneer sosiale verantwoordelikheid en omgewingsbetrokkenheid en -sensitiwiteit aan maatskappye se winsmotief gekoppel word.

........

Groenwassery is ’n verskynsel wat op verskillende maniere in die praktyk na vore kom, en word geaksentueer wanneer sosiale verantwoordelikheid en omgewingsbetrokkenheid en -sensitiwiteit aan maatskappye se winsmotief gekoppel word.

..........

Veelvuldige oorsake word vir dié verskynsel aangetoon Die konstruk strek normaalweg op ’n deurlopende skaal van groenvaaghede en groenirrelevansie tot blatante pseudo-informasie.

Die onderliggende sielkundige prosesse wat met verbruikersgedrag en groenwassery in verband staan, is kompleks. Daar is belangrike meganismes, soos rasionalisering, weerstand teen verandering, attribusie, kognitiewe dissonansie asook optimisme/pessimisme en geïsoleerde besluitneming wat in die literatuur uitgelig word.

Suid-Afrika beskik oor ’n hibriede stelsel waarmee die voorkoms van groenwassery doeltreffend gekontroleer en gereguleer behoort te word.

Meer navorsing oor die implikasies van groenwassery behoort in Suid-Afrika onderneem te word, beide wat die invloed van groenwassery op verbruikersgedrag en die finansiële prestasie van maatskappye betref.

Eindnota

¹ Die leksikograaf Frikkie Lombard (Woordeboek van die Afrikaanse Taal) en die terminoloog Mariëtta Alberts (Noordwes-Universiteit) word bedank vir hul menings oor die toepaslikheid van die gebruik van Afrikaanse ekwivalente vir greenwashing wat in hierdie artikel gebruik word, naamlik groenwassery en groenmakery.

 

Bibliografie

Arbour, M-E. 2016. Volkswagen: Bugs and outlooks in car industry regulation, governance and liability. European Journal of Risk Regulation, 7(1):4–10. https://heinonline.org/HOL/LandingPage?handle=hein.journals/ejrr2016&div=6&id=&page=.

Brouwer, A. 2016. Revealing greenwashing: A consumer’s perspective. International Association for Development of the Information Society. Referaat gelewer by die International Conferences on Internet Technologies & Society (ITS), Education Technologies (ICEduTECH), and Sustainability, Technology and Education (STE) (Melbourne, Australië, 6–8 Desember 2016) (ED571577). https://files.eric.ed.gov/fulltext/ED571577.pdf.

De Freitas-Netto, SV, MFF Sobral, ARB Ribeiro en GR da Luz-Soares. 2020. Concepts and forms of greenwashing: a systematic review. Environmental Sciences Europe, 32 (19):2–12. https://doi.org/10.1186/s12302-020-0300-3.

De Jong, MDT, KM Harkink en S Barth. 2017. Making green stuff? Effects of corporate greenwashing on consumers. Journal of Business and Technical Communication, 32(1):77–112. https://journals.sagepub.com/doi/full/10.1177/1050651917729863.

Delmas, MA en VC Burbano. 2011. The drivers of greenwashing. California Management Review, 54(1):64–87. https://www0.gsb.columbia.edu/mygsb/faculty/research/pubfiles/14016/cmr5401_04_printversion_delmasburbano.pdf.

Delmas, MA en O Gergaud. 2021. Sustainable practices and product quality: Is there value in eco-label certification? The case of wine. Ecological Economics, 183:106953.https://doi.org/10.1016/j.ecolecon.2021.106953.

Gelles, D. 2015. VW scandal puts greenwashing in the spotlight. Mint, 19 Oktober. https://www.livemint.com/Industry/fEpJY11xlB743YIqBZ55uK/VW-scandal-puts-greenwashing-in-the-spotlight.html.

Ginder,W, WS Kwon en SE Byun. 2021. Effects of internal-external congruence‑based CSR positioning: An attribution theory approach. Journal of Business Ethics, 169:355–69. https://doi.org/10.1007/s10551-019-04282-w.

Jain, H. 2020. Mandatory corporate social responsibility: A utilitarian and deontological perspective. Open Journal of Business and Management, 8:2278–84. https://doi.org/10.4236/ojbm.2020.85139.

TerraChoice. 2007. The “Six Sins of Greenwashing TM”. A study of environmental claims in North American consumer markets. Ottawa (ON): TerraChoice Environmental Marketing Inc. https://sustainability.usask.ca/documents/Six_Sins_of_Greenwashing_nov2007.pdf.

Universiteit van Pretoria. S.j. Chapter II. Regulation of advertising. https://repository.up.ac.za/bitstream/handle/2263/24466/02chapter2.pdf?sequence=3&isAllowed=y#:~:text=The%20legal%20framework%20for%20the,regulated%20and%20partly%20state%2Dregulated.

Walker, K en W Fang. 2012. The harm of symbolic actions and green-washing: Corporate actions and communications on environmental performance and their financial implications. Emerald Management Reviews, 109(2):227–39. https://scholar.uwindsor.ca/odettepub/54.

Wang, D, T Walker en S Barabanov. 2020. A psychological approach to regaining consumer trust after greenwashing: The case of Chinese green consumers. Journal of Consumer Marketing, 37(6):593–603. DOI 10.1108/JCM-06-2019-3257. https://www-emerald-com.ez.sun.ac.za/insight/content/doi/10.1108/JCM-06-2019-3257/full/html.

  • 1

Kommentaar

  • Charl+Cilliers

    Soos altyd, is die outeur se artikel aktueel en relevant, maar hierdie keer is die onderwerp vir my veral baie moeilik om sinvolle kommentaar te kan lewer. Hieronder dus my beskeie bydrae, vir wat dit werd is:

    1] Die rede waarom baie sakeondernemings deesdae dikwels verkies om groenstiltes te handhaaf, is duidelik en selfs verstaanbaar!

    2] Die gevaar van "oordrewe optimisme" in die verband, is egter ook belangrik.

    3] Ek stem dus saam met die outeur dat "aksie" die prakyk van die Reguleringsraad moet wees, met die fokus op navorsing op finansiële implikasies en verbruikersgedrag en groenwassery in die algemeen.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top