Grilgrypers deur De Wet Hugo: Grieselrige goeters wat leesgieriges sal gryp en laat gril

  • 1

Die vloek van Vreesbaai, geskryf deur De Wet Hugo met illustrasies deur Shân Fischer. Human & Rousseau, Kaapstad, 2018, ISBN 9780798176750.

Web van die mummie, geskryf deur De Wet Hugo met illustrasies deur Shân Fischer. Human & Rousseau, Kaapstad, 2018, ISBN 9780798176729.

Kamp vir monsters, geskryf deur De Wet Hugo met illustrasies deur Shân Fischer. Human & Rousseau, Kaapstad, 2018, ISBN 9780798176781.

’n Mens wonder hoekom kinders so gek is oor grillers. ’n Bietjie navorsing hieroor bied gelukkig antwoorde wat ouers sal gerusstel dat dit ’n algemene en normale verskynsel is, en dat die gevolg allesbehalwe ’n generasie bangjanne gaan wees. Volgens kenners stap kinders eerder bemagtig van ’n grillerleeservaring weg. Die meeste van hulle is van nature aangetrokke tot bangmaakdinge, omdat hulle juis op die veiligheid van die werklike lewe, waar spoke en monsters nie bestaan nie, kan staatmaak. Danksy grillers is plekke waar die onmoontlike en dikwels ondenkbare wel bestaan en gebeur, tydelik toeganklik. Boonop word monsters in stories oorwin en ervarings in donker woude hou nie vir ewig aan nie. Skielik is skoolboelies niks teen spoke of zombies nie.

Lesers raak betrokke by die kwesbaarheid van karakters en oorleef oënskynlik onmoontlike situasies en uitdagings saam met boekhelde. Teen boektoemaaktyd is hulle terug in hulle “gewone” lewens en is die Voldemorts en Volturi van die lewe oorwin. Grillerleeservarings kan jong lesers selfs nuwe vaardighede gee om emosies en vrese te hanteer.

Al drie titels in De Wet Hugo se nuwe Grilgryper-reeks voorspel die onheilspellende en ná die lees van die eerste boek, Die vloek van Vreesbaai, is dit duidelik dat Hugo ’n mens kán bang skryf. Aanvanklik voel jy dis fantasie teen ’n realistiese en alombekende agtergrond, maar vinnig begin jy wonder of dit nie dalk werklik kan wees nie en raak jy, al naelkouende, meegesleur. Almal weet tog dat mis baie onheilspellend kan wees en dat jy jou allerhande dinge kan verbeel as jy alles nie mooi kan uitmaak nie. Maar sou jy jou vreesaanjaende honde met rooi oë of ’n pampoenkop-voëlverskrikker of krokodille kon verbeel?

Die hoofkarakter van die tweede titel, Web van die mummie, is die veertienjarige Pippa, en die verhaal speel af op die familieplaas Moordkuil in die Moordenaarskaroo (reeds grillerig) en in haar skoolkoshuis in die Paarl. Pippa het ’n spinnekopfobie en daar word ’n mummie (mooi beskryf as ’n biltongmens) op Moordkuil gevind. Met Pippa se kamermaat Siphokazi wat aan ’n mummieklub behoort, plus ’n twee honderd jaar oue vloek wat met mummies te make het as bykomende bestanddele, spin Hugo nog ’n baie grillerige storie met onverwagse, verrassende wendings wat selfs enige dooierige leser wakker sal hou.

Met die nuutste titel, Kamp vir monsters, draai Hugo die skroewe aan. Hy laat jou dié keer nie net gril nie, maar ook met ander oë na die mense rondom jou kyk. Lyk die man met die kep daar onder die lamppaal nie ’n bietjie na ’n hoender nie? En wat daarvan as jy hom in ’n donker woud sou teëkom nadat jy moontlik voor ’n swerm motte … met haaikoppe ... moes vlug? Clayton, die hoofkarakter, word deur sy pa na ’n kamp vir tienerkriminele gestuur. Hy het ’n vrees vir woude – hy is ’n hilofoob. Die feit dat Kamp Monster in ’n digte woud geleë is, voorspel dus niks goeds nie. Die leser besef wel baie gou dat bome wat lyk of hulle lewend raak, die minste van die kinders in Kamp Monster se bekommernisse gaan wees. Hugo het vrye teuels aan sy verbeelding gegee met die skep van sy monsters, en ’n monsteragtige grilsessie is dus weer jou voorland met die lees van hierdie boek.

Verbeelding het De Wet Hugo oorgenoeg van om kinders met ’n arsenaal rilelemente vasgenael te hou. Een van hierdie rilelemente is die manier waarop hy lesers oor karakters se ware bona fides aan die raai hou. Hoewel die hoofkarakter altyd ’n klein geloofwaardige vriendekring of vriend/vriendin het, is daar genoeg randkarakters wat nie bo verdenking is nie. Kan lesers meneer Swart, die sielkundige op Vreesbaai, vertrou? Lerato is baie hulpvaardig wanneer Clayton snuf in die neus oor Kamp Monster begin kry – of is sy? Daarteenoor word juffrou Botha in Die vloek van Vreesbaai, Weerbeer in Web van die mummie en Rooibaard in Kamp vir monsters negatief en vreesaanjaend voorgestel. Ja, grillers gaan oor die verrassingselement. Lei die leser om een ding te verwag, en gee dan die teenoorgestelde. Goed gedoen, De Wet Hugo.

Vir ekstra trefkrag gebruik Hugo ook ’n kombinasie van rilelemente. Hy spreek nooit net een vrees of fobie of grillerige element aan nie. In Vreesbaai word elke kind, afgesien van die alomteenwoordige mis en ’n vormverwisselaar, deur ’n unieke vrees geteister: in Web van die mummie kombineer hy spinnekoppe, ’n mummie en ’n skynbaar onoorkomelike vloek; en in Kamp vir monsters skep hy ondenkbare monsters teen die agtergrond van karakters wat almal met hulle eie demone worstel. Elke kind het boonop om ’n unieke rede by die rehabilitasiekamp beland.

Met al drie verhale is daar wel op die oog af logiese verklarings vir gebeure. Ontknopings is, soos dit ’n goeie griller of spanningsverhaal betaam, nooit eenvoudig of ooglopend nie. Dit is kenmerkend van spanningsverhale en grillers dat die hoofkarakters hindernisse oorkom eerder as om ’n doelwit te bereik, en die storielyn word deur die “skurke” gedryf.

Teen alle verwagtinge in slaag De Wet Hugo ná slim ontknopings daarin om al drie stories naelbytslotte te gee, wat lesers die boek moontlik sal laat neergóói eerder as neersít (bloot omdat dit die laaste paragraaf is).

Hugo bekonkel slim en goeie stories waarteen bitter min antilesers sou kon staande bly. Kry hulle net op bladsy 2! Hierdie grillers sal seuns én dogters van nege tot twaalf eerder grootoog aan die lees hou as om hulle van boeke en lees af te skrik.

Hier is dit dalk nodig om ’n lansie te breek vir grillers in boekformaat teenoor grillers op skerms. Kinders weet instinktief waar hulle bangmaakgrense lê. Hulle sal ophou lees en ’n boek toemaak as dit vir hulle te veel word. In boeke word grense deur die verbeelding bepaal; op skerms is daar minder wegkomkans.

  • 1

Kommentaar

  • Stephnie Paul

    Vir my as 80-jarige is dit opwindend! Wat gaan 'n meisie van 11 maak? Veilig om vir haar te gee of af te skrik? Boeties is 12 en 14 so hulle is reg. Hoe maak ek om die boeke te bestel? Hier op die Oos-Rand kry ek dit nie. Sal u hulp waardeer. Geniet die skryf!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top