
Foto: Canva
Graf
sy staan eenkant
onder ’n boom
die son bak warm
deur die takke
iewers is daar ’n hond wat blaf
blaf blaf teen haar kop vas
sy hoor die grawe skep en gooi
ruik die aarde klont vir klont
die ander het reeds omgedraai
sakdoekies gedemp teen die hitte
met blink skoene wat verspot hoog mik
oor die sand en klippe
sy kom los van die boom
gaan staan by sy graf
sien die grawe skep en gooi
ruik die aarde klont vir klont
iewers is daar ’n hond wat blaf
blaf blaf teen haar kop vas
sy streel vir oulaas oor sy hare
vat sag aan sy gesig
soen hom op sy lippe
laat los sy hand
terwyl die grawe skep en gooi
draai om en loop weg
iewers bly daar ’n hond blaf
blaf blaf teen haar kop vas

