Grade van Engfrikaans

  • 8

As ek so om my kyk en luister, is dit duidelik dat daar verskillende grade van Engfrikaans is. Jy kry die mense by wie elke tweede woord wat hulle gebruik as hulle Afrikaans praat, 'n Engelse woord of uitdrukking is. Dan veel verder af op die skaal, kry jy die ou wat net so hier en daar 'n Engelse woord ingooi. Laastens is daar diegene wat baie selde Engels by hul Afrikaans inmeng, en dan gewoonlik net om een of ander punt te illustreer.

Ek dink die eersgenoemde soort kan maar gerus verengels. Beveel dan ook by hulle aan om eerder heeltemal Engels te word, want hul gebrabbel is onaangenaam om na te luister en verwar net die ouens wat darem probeer reg praat. Reik aan hom 'n sertifikaat uit wat hom magtig om te verengels, sou ek sê.

Met die ander moet ons nie te streng wees nie. Help hom eerder subtiel reg, sonder om hom te irriteer. In die wêreld waarin ons woon hier in die RSA, is dit bykans onmoontlik om nie deur Engels beïnvloed te word nie. Seën hom, hy is jou broer, hy probeer darem.

Myns insiens is dit baie belangrik vir ons hier te lande om goeie woordeboeke te hê. 'n Goeie tweetalige woordeboek, 'n Afrikaanse verklarende woordeboek en 'n uitstekende Engelse verklarende woordeboek, met sinonieme. As jy sukkel om uit Engels te vertaal, kan dit juis die Engelse woordeboek wees wat help, omdat dit 'n sinoniem gee wat makliker vertaal, jy sien sommer dadelik wat die Afrikaans moet wees.

Ik heb gesegd.

Varkspek

 

  • 8

Kommentaar

  • Hoeveel 30 jarige Afrkiaanssprekendes kan 'n gesprek volhou in Afrikaans? 30%? Minder? Hoe kan 'n mens van hulle verwag om dit te doen wanneer hulle oorwegend (of somtyds uitsluitlik) in Engels werk, TV kyk, boeke lees ens. Hoeveel van hulle kan 'n e-pos in Afrikaans tik?

    Ek is pro-Afrikaans en probeer goeie Afrikaans te praat en skryf, maar die toekoms lyk donker. Vat 'n taal se praktiese waarde weg en die taal gaan stadig sterf. Verwater boonop nog die institusionele dryfkrag om die taal te ontwikkel - soos 'n koeël in die kop.

    Miskien sal ek Maandag weer positief wees.

  • Die debat/meningsverskil oor suiwer/goeie Afrikaans sal soos die Godsdiensdebat ook tot in lengte van dae uitgeryg word. Dit is vir my persoonlik as Afrikaanssprekende persoon erg irriterend as iemand "swak" Afrikaans praat. Dit is seker deesdae die norm en koel om so te praat.

  • Beste Reusedwerg,
    Swak Nederlands het Afrikaans tot gevolg gehad. Daar is geen taal op aarde wat nie ontstaan het uit ander tale nie.
    Groete,
    Angus

  • Angus, die taalkwessie-debat is om die minste te sê om van katte te skiet. Dit klink net hiperkak as iemand woorde soos "owsum" en ander inwerpsels/tussenwerpsel van Ingels gebruik. Die oorsprong oorlewing en ontstaan van die taal het ek op skool al van geleer en het beter dinge as om derms daaroor te ryg. Soos gesê dit klink partykeer kommin soos gras.

  • Met die ontstaan van Afrikaans het dit net so walglik vir die Nederlander geklink. Dit is uitgeskel as kombuistaal en slawetaal. Nadat hierdie kombuistaal veredel is, is dit die trots van die Afrikaanssprekende.

  • Angus. Ek lees jou kommentaar. Ek wil net weet is jy 'n Afrikaansprekende? Pla dit jou nie dat Afrikaans nie suiwer of reg gepraat word nie? Ek is bly dat ek as Afrikaanssprekende daarop kan roem dat ek 'n moedertaal het. Al is dit nou al wat veredel is, is ek bly dat daar darem iets vir die Afrikaanssprekende veredel kan word, al is dit nou 'n taal wat deur almal en alles verguis word.

  • Hello Varkspek
    Ek soek eintlik na ’n vriendin se gedig, en toe sien ek die pos van jou. My hoogdrawende oom het ook altyd so gekla wanneer ons Engelse woorde gebruik het. Ironies dan dat daar van KOMMUNIKASIE tussen hom en sy vrou geen sprake was nie! Se maar net en wil nie in ’n debat betrokke raak nie. Like OK.

  • Beste Reusedwerg,
    Dit pla my natuurlik as iemand Engelse woorde gebruik as hy Afrikaans praat. Ek het al so bietjie Taal bestudeer, en besef dat my beoordeling subjektief is. Dit pla hulle wat Engelse woorde tussenin gooi, glad nie. Vir hulle is dit goeie kommunikasie. Waar tale naas mekaar gepraat word, sal dit altyd gebeur. Dis die beginpunt van omtrent al die tale waarvan ons weet. Terloops, ek gooi self so af en toe 'n Engelse woord in. Net vanoggend nog het ek 'n belangrike dokument gedownload. Dis nou nadat ek na Windows 10 ge-upgrade het.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top