
Agtergrondfoto deur DimiTalen – eie werk, CC BY-SA 3.0.
...
Tannie Maria is soos ’n brug in ’n storm; haar opregtheid en ongekunsteldheid verskaf ’n wyle se ontvlugting van die stortreën wat so gereeld in die werklike lewe woed. ’n Addisionele bonus in haar boeke is natuurlik dat die resepte waarna in die teks verwys word, volledig agterin die boeke gedruk is.
...
Titel: The milktart murders
Skrywer: Sally Andrew
ISBN: 9781415210628
Uitgewer: Umuzi
Frederick (Oupa Frik) du Toit se oudhedewinkel in Ladismith is meer as net ’n snuffelplek vir liefhebbers van antieke meubels en ander aandenkings uit die verlede. Sy privaat teater waarin hy van sy geliefde klassieke rolprente vertoon, maak ’n belangrike deel van die sosiale kalender op hierdie Klein Karoo-dorpie uit. Toe hy tydens ’n vertoning van ’n epiese Marilyn Monroe-fliek sterf, is almal se eerste gedagte dat dit nie onverwags was nie; hy was immers oor die 90 jaar oud en het aan ’n hartkwaal gely. Maar dan tref die skoknuus die gemeenskap: Oupa Frik is vermoor en sy klagtes oor mense wat hom dopgehou en in sy goed gekrap het en hom genoop het om sy messe skerp te maak, klink skielik na meer as blote paranoia.
Tannie Maria, die gourmetkok en troostannie van die Klein Karoo Gazette, en haar geliefde polisieman, Henk, was self tydens die tragiese gebeure in die teater teenwoordig, en tannie Maria en haar vriendin en kollega, Jessie, met die geitjietatoeëermerke en rooi bromponie, is, ten spyte van Henk se misnoeë, vasbeslote om agter die kap van die byl te kom. Gerugte van ’n voorwerp van groot waarde tussen Oupa Frik se rommel veroorsaak onmiddellik familie-onmin. Sy vervreemde dogter, Elzaan, is oomblikke na sy dood reeds in ’n vuisgeveg met sy versorger, Helmina, betrokke; sy seun, Abe, sy skoonsuster, Lettie, en haar seun, Tom, verwag almal om die alleenerfgenaam te wees, maar Oupa Frik het die lastige gewoonte gehad om gereeld sy testament te verander, en sy prokureur en eksekuteur, Simon Tillerman, wie se aanwendsel om sy arms te fladder terwyl hy in ’n oorgroot swaelstertbaadjie geklee is, aan ’n menslike vlermuis herinner, het sy hande vol om vrede tussen die klomp te bewaar.
Dan word nog ’n moord gepleeg en hierdie keer is tannie Maria direk betrokke – die oorledene was immers besig om ’n brief aan haar te skryf toe hy gesterf het. Die raaisels word gekompliseer deur die toetrede van nog karakters: die oorledene se gewese geliefde en haar jaloerse man, Henry die hamer; tannie Betty van die kinderhuis, wat Oupa Frik se woonhuis vir die weeskinders in haar sorg benodig; die geheimsinnige verskyning van ’n baba genaamd Frikkadella; en nog ’n handelaar in antieke voorwerpe, kaptein Ben, na wie, na aanleiding van die ou seekaptein in die Kuifie grafiese romans, gemoedelik verwys word as Blistering Barnacles. Almal het gehoop om baat by sy dood te vind – wat die soektog na die moordenaar aansienlik bemoeilik.
Ten spyte van die feit dat tannie Maria meer probleme as slegs twee tergende moorde het (haar geliefde Henk blyk effens te veel in sy mooie buurvrou belang te stel en sy oorlede vrou se rooifluweelkoekresep laat haar snags wakker lê; haar kos wil haar nie meer troos nie; sy begin aan haar beste vriendin se lojaliteit twyfel; en ’n jakkals beland tussen haar hoenders), bly sy getrou aan die karakter wat lesers in die vorige drie romans waarin sy figureer, leer ken en liefkry het: Sy is gelukkig in haar velskoene, maar trek soms fyner voetdrag aan, omdat haar voete ook met tye mooi wil voel; sy sien die wêreld in skakerings van kos en beskryf ’n oranje Ford as die kleur van marmelade en huiwer nie om resepte vir enigeen wat dit benodig te verskaf nie, al is dit ’n bok genaamd Mildred.
Oudergewoonte is daar ook ’n paar ongewone bewoners van Ladismith wat saam gesels: Tannie Engels se albasters loop los rond en haar sêgoed is klassiek. Oupa Frik was 91 jaar oud, maar het, aldus haar, beweer dat hy 96 jaar oud is, omdat hy so graag 100 jaar oud wou word en te lui was om so lank te wag. En moet ook nie waag om die kerkdeur te sluit nie, want dan skreeu sy uit volle bors: “Jou ma se moer! Maak oop!” (222). Nog ’n karakter neem haar toevlug tot vreemde uitdrukkings wanneer sy geskok is: Op bl 11 roep sy uit: “My sussie se vissie!” Dit was heerlik om die “satanic mechanic”, Ricus, ook weer raak te lees. In hierdie roman is sy fokus nie op PTSV nie, maar wel op verslawing, en hy lewer insiggewende en sinvolle bydraes aangaande gewoontevormende patrone en eetversteurings.
Die ontrafeling van die moordraaisels was baie oorspronklik; dis ’n lekkerte vir enige boekliefhebber as ’n biblioteek vol boeke deel van die leesgenot uitmaak. Pogings om die identiteit van die moordenaar deur middel van ’n Excel-program te probeer bepaal, was ook vars en amusant.
Tannie Maria is soos ’n brug in ’n storm; haar opregtheid en ongekunsteldheid verskaf ’n wyle se ontvlugting van die stortreën wat so gereeld in die werklike lewe woed. ’n Addisionele bonus in haar boeke is natuurlik dat die resepte waarna in die teks verwys word, volledig agterin die boeke gedruk is. Hierdie boek is geen uitsondering nie – die resepte, getoets deur Sophia-Maria Eygelaar, verskyn op ble 349–87. Ek het die voorreg gehad om die fudge te proe … Hemels! Dit laat die leser natuurlik met die aangename dilemma oor waar om die boek te liasseer: fiksie of resepte?
Die roman is die vierde in die reeks (die vorige titels is Recipes for love and murder, The satanic mechanic en Death on the Limpopo) en sy vrystelling het, uiters gepas, so met Nasionale Melktertdag (27 Februarie) saamgeval. Dis ook aangewys as Bargain Books se boek van die maand. Die voorgangers het van tannie Maria ’n legende gemaak: Die boeke is in 14 tale vertaal en word op vyf kontinente gelees, en ’n gelyknamige TV-reeks, Recipes for love and murder, word later vanjaar vrygestel.
The milktart murders is uitgegee deur Umuzi, onder die vaandel van Penguin Random House SA, en is in sagteband (ISBN 978-1-4152-1062-8) en elektroniese formaat (ISBN 978-1-4152-1093-2) beskikbaar.

